Naiade (ook bekend as Neptunus III en voorheen S/1989 N 6) is die heel binneste maan van Neptunus, op ’n afstand van 48 224 km van die planeet se middelpunt af. Die maan het ’n sinchroniese rotasie, wat meebring dat sy wentelbaan al hoe kleiner word; eindelik sal dit teen die planeet se atmosfeer bots en ’n nuwe ring van Neptunus word. Die maan is genoem na die naiades van die Griekse mitologie.
Geskiedenis Naiade is die een of ander tyd voor middel September 1989 ontdek op foto's wat die ruimtetuig Voyager 2 geneem het. Dit was die laaste maan wat tydens die verbyvlug ontdek is en het die voorlopige naam S/1989 N 6 gekry. Op 16 September 1991 het hy sy nuwe naam gekry.
Eienskappe thumb|links|210px|’n Rekenaarsimulasie van Naiade se voorkoms. Naiade het ’n onreëlmatige vorm. Dit is waarskynlik saamgestel uit fragmente van Neptunus se oorspronklike mane wat afgesplinter het in botsings teen Triton kort nadat dié maan aangetrek en in sy baie eksentrieke wentelbaan vasgevang is.
Naiade is in ’n baanresonansie van 73:69 met die tweede naaste maan, Talassa, in ’n "dans van vermyding". Terwyl Naiade om Neptunus wentel, beweeg dit twee keer van bo af verby Talassa, wat ’n kleiner baanhelling het, en daarna twee keer van onder af. Dié siklus word elke ~21,5 aarddae herhaal. Die twee mane is omtrent 3 540 km van mekaar af wanneer hulle verby mekaar beweeg. Hoewel hulle wentelradiusse met net 1 850 km verskil, is Naiade ~2 800 km bo of ander Talassa se wentelvlak wanneer dit op sy naaste daaraan is. Dié resonansie, nes baie ander sulke wentelverhoudings, stabiliseer dus die wentelbane. Die rol van baanhellings om hierdie vermyding te veroorsaak in ’n geval waar eksentrisiteite minimaal is, is egter ongewoon.
Verkenning Sedert Voyager 2 se verbyvlug is die Neptunus-stelsel al deeglik deur grondgebaseerde sterrewagte bestudeer, sowel as deur die Hubble-ruimteteleskoop. In 2002-'03 het die Keck-teleskoop die stelsel met behulp van aanpassingsoptiek bestudeer en die grootste vier binnemane maklik waargeneem. Naiade is egter nie gesien nie. Hubble het die vermoë om al die bekende mane waar te neem en moontlik ook mane wat selfs dowwer is as dié wat deur Voyager 2 ontdek is. Op 8 Oktober 2013 het die SETI-instituut aangekondig Naiade is op geargiveerde Hubble-foto's uit 2004 gesien. Die vermoede dat die verlies van die posisionering te wyte was aan aansienlike foute in Naiade se efemeris (berekende posisie) is korrek bewys toe die maan eindelik 80 grade van sy verwagte posisie opgespoor is.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Mane van Neptunus