Delirium tremens (in straattaal DTs genoem) is ’n vinnige toeval van verwarring wat gewoonlik deur onttrekking van alkohol veroorsaak word. Dit kom gewoonlik op sowat die derde dag van onttrekking voor en duur twee tot drie dae. Fisieke simptome kan wees bewing, rillings, ’n onreëlmatige hartklop en sweet. Die persoon kan ook hallusineer.

Soms kan ’n baie hoë liggaamstemperatuur of toevalle tot die dood lei. Alkohol is een van die gevaarlikste dwelmmiddels om van te onttrek.

Tekens en simptome Die belangrikste simptome van delirium tremens is nagmerries, agitasie, verwarring, disoriëntasie, visuele en gehoorhallusinasies, koors, hoë bloeddruk, kwaai sweet en ander tekens van hoë bloeddruk en ’n vinnige hartklop. Hierdie simptome kan vinnig verskyn, maar ontwikkel gewoonlik twee of drie dae nadat die oormatige gebruik van alkohol gestaak is. Dit is gewoonlik die ergste op die vierde of vyfde dag, en ook snags.Gelder et al, 2005 p188 Psychiatry 3de uitg. Oxford: New York.

DTs word oor die algemeen beskou as die ernstigste manifestasie van alkoholonttrekking en kom voor drie tot tien dae ná die laaste drankie. Ander algemene simptome sluit in intense perseptuele stoornisse soos die sien van insekte, slange of rotte. Dit kan hallusinasies wees of illusies wat met die omgewing verband hou, soos patrone op die muurpapier. Dit kan gepaard gaan met ’n gevoel dat iets oor die persoon kruip. Delirium tremens sluit gewoonlik uiters intense gevoelens van "komende onheil" in. Kwaai angs en gevoelens van die naderende dood is ook algemeen.

Delirium tremens word soms verbind met intense, onbeheerbare bewing en sekondêre simptome soos angs, paniekaanvalle en paranoia. Verwarring kan dikwels deur omstanders gesien word as probleme om eenvoudige sinne te maak of basiese berekenings te doen.

Diagnose en behandeling Delirium tremens kom gewoonlik by mense voor wat langer as ’n maand baie alkohol gedrink het. ’n Soortgelyke sindroom kan voorkom met die onttrekking van bensodiasepiene en barbiturate. Die onttrekking van stimulante soos kokaïen het daarteenoor nie groot mediese komplikasies nie. As iemand delirium tremens het, is dit baie belangrik om ander verwante probleme soos elektrolietafwykings, pankreatitis en alkoholhepatitis uit te skakel.

Voorkoming is om onttrekkingsimptome te behandel. As delirium tremens voorkom, verbeter aggressiewe behandeling die uitkoms. Dit sluit behandeling in ’n stil hoësorgeenheid in met voldoende lig. Bensodiasepiene is die middel wat gewoonlik gebruik word om simptome te behandel. Die sterftesyfer onder mense wat nie behandeling kry nie is tussen 15% en 40%.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Dwelms Kategorie:Siektes Kategorie:Alkoholiese drank