thumb|220px|Percival Lowell, wie se idee Planeet X was. Reeds sedert die ontdekking van Neptunus in 1846 was daar aansienlike spekulasie dat nog ’n planeet ver weg van die Son bestaan, wat Planeet X genoem is, en is daar gesoek na nog planete anderkant Neptunus. Aan die begin van die 20ste eeu het die sterrekundige Percival Lowell na nog ’n planeet begin soek. Hy het dit voorgestel as die rede vir oënskynlike ongerymdhede in die wentelbaan van die reuseplanete, veral Uranus en Neptunus, en het gemeen die swaartekrag van ’n groot, onsigbare planeet kan Uranus genoeg versteur om die ongerymdhede te verduidelik.

Clyde Tombaugh se ontdekking van Pluto in 1930 het skynbaar Lowell se hipotese bewys. In 1978 is ontdek Pluto is heeltemal te klein dat sy swaartekrag die groot planete kan beïnvloed, en dit het gelei tot ’n soeke na nog ’n planeet. Die soeke is in die vroeë 1990's in ’n groot mate afgelas nadat in ’n studie deur die Voyager 2-ruimtetuig bevind is die onreëlmatighede in Uranus se wentelbaan is vanweë ’n effense oorskatting van Neptunus se massa. Ná 1992 het die ontdekking van talle klein ysige voorwerpe met dieselfde of selfs ’n groter wentelbaan as Pluto gelei tot ’n debat oor of Pluto ’n planeet behoort te bly en of hy en sy bure ’n eie klassifikasie moet kry, nes die asteroïdes. Hoewel ’n paar van hierdie groter voorwerpe aanvanklik as planete beskryf is, het die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) Pluto en sy grootste bure in 2006 as dwergplanete herklassifiseer. Neptunus is sedertdien die verste bekende planeet in die Sonnestelsel.

Hoewel die sterrekundegemeenskap in ’n groot mate saamstem dat Planeet X, soos dit aanvanklik voorgestel is, nie bestaan nie, het die idee van ’n groot planeet wat nog nie ontdek is nie herleef deurdat ’n paar sterrekundiges dit gebruik as verduideliking vir ander afwykings wat in die buitenste Sonnestelsel waargeneem is. In Maart 2014 het waarnemings met die WISE-teleskoop die moontlikheid van ’n planeet so groot soos Saturnus (95 aardmassas) tot by 10 000 astronomiese eenhede (AE) en een so groot soos Jupiter (≈318 aardmassas) of groter tot by 26 000 AE uitgeskakel.

Gebaseer op die ooreenkomste tussen die wentelbane van ’n groep onlangs ontdekte verafgeleë trans-Neptunus-voorwerpe het sterrekundiges in 2014 ’n hipotese ontwikkel oor die bestaan van ’n superaarde, met ’n massa van 2 tot 15 keer dié van die Aarde en met ’n moontlike groot baanhelling, by sowat 1 500 AE. In 2016 het verdere werk getoon hierdie onbekende planeet het moontlik ’n eksentrieke wentelbaan met ’n groot helling wat nie nader as 200 AE en nie verder as sowat 1 200 AE van die Son af lê nie. Die wentelbaan lyn waarskynlik nie op met dié van die saamtrossende verafgeleë trans-Neptunus-voorwerpe nie. Omdat die IAU Pluto nie meer as ’n planeet beskou nie, het dié hipotetiese voorwerp die naam Planeet Nege gekry.

Vroeë spekulasies In die 1840's het die Franse wiskundige Urbain Le Verrier klassieke meganika gebruik om versteurings in Uranus se wentelbaan te ontleed en voorgestel dit word veroorsaak deur die swaartekrag van ’n nog onontdekte planeet. Le Verrier het die posisie van die nuwe planeet voorspel en sy berekenings na die Duitse sterrekundige Johann Gottfried Galle gestuur. Op 23 September 1846, die aand nadat hy die brief ontvang het, het Galle en sy student Heinrich d'Arrest Neptunus ontdek, op presies die plek waar Le Verrier voorspel het.Croswell (1997), p. 43 Daar was egter ’n paar ongerymdhede in die reuseplaneet se wentelbaan. Daar is aanvaar dit beteken nog ’n planeet bestaan anderkant Neptunus.

Nog voor Neptunus se ontdekking het sommige sterrekundiges gespekuleer dat een planeet nie genoeg was om Uranus se afwyking te verduidelik nie. Op 17 November 1834 het die Britse amateursterrekundige eerwaarde Thomas John Hussey vir George Biddell Airy, die Britse koninklike sterrekundige, vertel van ’n gesprek wat hy met die Franse sterrekundige Alexis Bouvard gehad het. Hussey het gesê hy het aan Bouvard voorgestel dat die ongewone beweging van Uranus dalk vanweë die swaartekraginvloed van ’n nog onontdekte planeet is, en dat Bouvard geantwoord het hy het ook daaraan gedink en dat hy met Peter Andreas Hansen, direkteur van die Seeberg-sterrewag in Gotha, daaroor gekorrespondeer het. Hansen het egter gemeen ’n enkele liggaam kan nie Uranus se beweging verduidelik nie. Hy het voorgestel daar is twee planete anderkant Uranus.

thumb|links|180px|Jacques Babinet, ’n vroeë ondersteuner van die idee van ’n planeet anderkant Neptunus. In 1848 het Jacques Babinet beswaar aangeteken teen Le Verrier se berekenings en beweer Neptunus se waargenome massa is kleiner en sy wentelbaan groter as wat Le Verrier aanvanklik voorgestel het. Hy het uit Le Verrier se berekings uitgewerk dat ’n planeet van rofweg 12 aardmassas, wat hy "Hyperion" genoem het, anderkant Neptunus lê. Le Verrier het sy idee agter afgeskiet.

In 1879 het Camille Flammarion opgemerk die komete 1862 III en 1889 III het ’n afelium (verste afstand van die Son af) van onderskeidelik 47 en 49 AE, en hy het voorgestel dat hulle die wentelradius van ’n onbekende planeet aandui wat hulle in ’n elliptiese wentelbaan getrek het. George Forbes het van dié berekenings afgelei dat daar twee planete anderkant Neptunus moet lê. Gebaseer op die feit dat vier komete ’n afelium van sowat 100 AE het en nog ses ’n afelium van sowat 300 AE, het hy die wentelelemente van twee hipotetiese trans-Neptunus-planete bereken. Dit het baie ooreengestem met berekenings deur ’n ander sterrekundige, David Peck Todd, en baie het geglo dit moet dus waar wees. Skeptici het egter gemeen die komete se wentelbane is nog te onseker om betekenisvolle afleidings te maak. Sommige beskou Forbes se hipotese as ’n voorloper van die idee van Planeet Nege.

In 1900 en 1901 het die direkteur van die Harvard-kollegesterrewag, William Henry Pickering, twee soektogte na trans-Neptunus-planete gelei. Die eerste een is uitgevoer deur die Deense sterrekundige Hans Emil Lau, wat ná die bestudering van data oor Uranus se wentelbaan van 1690 tot 1895 tot die gevolgtrekking gekom het dat een planeet nie die afwykings in sy wentelbaan kon veroorsaak nie. Hy het geglo daar is twee planete. Die tweede soektog is gedoen deur Gabriel Dallet, wat voorgestel het ’n enkele planeet by 47 AE kan vir Uranus se beweging verantwoordelik wees. In nie een van die gevalle is enige planete ontdek nie.

In 1902 het dr. Theodor Grigull van Duitsland die wentelbaan van komete met ’n afelium van verder as Neptunus bestudeer en beweer daar is ’n planeet so groot soos Uranus by 50 AE met ’n wentelperiode van 360 jaar. Hy het dit "Hades" genoem. In 1921 het Grigull die wentelperiode na 310-330 jaar aangepas om die waargenome afwykings beter te verklaar.

In 1909 het Thomas Jefferson Jackson See gemeen "daar is beslis een, heel waarskynlik twee en moontlik drie planete anderkant Neptunus". Hulle was glo 42, 56 en 72 AE van die Son af. Omdat hy geen verduideliking gegee het oor hoe hy tot dié gevolgtrekking gekom het nie, is nooit na hulle gesoek nie.

Die Indiese sterrekundige Venkatesh P. Ketakar het in 1911 voorgestel daar is twee planete anderkant Neptunus. Hy het hulle Brahma en Vishnu genoem. Hy het dit besluit nadat hy die patrone wat Pierre-Simon Laplace in die mane van Jupiter waargeneem het, herbewerk en op die buitenste planete toegepas het. Jupiter se drie binnemane, Io, Europa en Ganumedes, is gesinchroniseer in ’n ingewikkelde 1:2:4-resonansie bekend as die Laplace-resonansie. Ketakar het voorgestel Uranus, Neptunus en sy hipotetiese trans-Neptunus-planete is in ’n soort Laplace-resonansie vasgevang. Volgens sy berekenings was Brahma gemiddeld 38,95 AE van die Son af en was sy wentelperiode 242,28 aardjare (3:4-resonansie met Neptunus). Toe Pluto 19 jaar later ontdek word, was sy gemiddelde afstand 39,48 AE en sy wentelperiode 248 aardjare, wat baie naby aan Ketakar se voorspelling was (Pluto het dan ook ’n 2:3-resonansie met Neptunus). Ketakar het geen ander besonderhede benewens afstand en wentelperiode bekend gemaak nie. Dit is onbekend hoe hy by dié syfers uitgekom het en sy tweede planeet, Vishnu, is nooit ontdek nie.

Planeet X In 1894 het Percival Lowell, ’n ryk man van Boston, met William Pickering se hulp die Lowell-sterrewag in Flagstaff, Arizona, gestig. In 1906 het hy ’n uitgebreide soektog begin na ’n planeet anderkant Neptunus, oortuig daarvan dat hy die verwarring oor Uranus se wentelbaan kon oplos. Hy het dit "Planeet X" genoem, ’n naam wat voorheen deur Gabriel Dallet gebruik is. Die "X" in die naam staan vir die letter X, wat ’n onbekendheid aandui, en nie vir die Romeinse syfer 10 nie – in dié tyd sou ’n planeet wat ontdek is die negende planeet gewees het. Lowell wou hiermee sy wetenskaplike geloofbaarheid bewys wat hom bly ontwyk het sedert hy verkondig het die kanaalagtige verskynsels op Mars is kanale wat deur buiteaardse wesens gebou is.Croswell (1997), p. 43.

Lowell se eerste soektog het gefokus op die sonnebaan, die vlak wat die wentelbaan van die Aarde om die Son bevat en waar ook die ander planete in die Sonnestelsel geleë is. Met ’n 5-duim-kamera het hy meer as 200 foto's met ’n beligtingstyd van drie uur elk met ’n vergrootglas deursoek, maar kon geen planete kry nie. In dié tyd was Pluto te ver bo die sonnebaan om in die projek opgespoor te word.Tombaugh (1946). Nadat hy sy aanvanklik voorgestelde posisies aangepas het, het Lowell van 1914 tot 1916 ’n tweede soektog uitgevoer. In 1915 het hy Memoir of a Trans-Neptunian Planet gepubliseer waarin hy tot die gevolgtrekking kom dat Planeet X ’n massa het van rofweg sewe keer die Aarde s’n – omtrent die helfte van dié van Neptunus – en ’n gemiddelde afstand van 43 AE van die Son af. Hy het aangeneem Planeet X is ’n groot voorwerp met ’n lae digtheid en ’n groot albedo, soos die reuseplanete. Daarom sou dit as ’n skyf sigbaar wees met ’n deursnee van sowat een boogsekonde en ’n skynbare magnitude van tussen 12 en 13 hê – helder genoeg om te kon sien.Littman (1990), p. 70.

thumb|200px|Clyde William Tombaugh. In 1908 het Pickering onafhanklik aangekondig hy het, deur ongerymdhede in Uranus se wentelbaan te ontleed, bewyse gekry van ’n negende planeet. Sy hipotetiese planeet, wat hy "Planeet O" genoem het (want O volg op N; dus Neptunus), het ’n gemiddelde baanradius van 51,9 AE en ’n wentelperiode van 373,5 jaar gehad. Fotografiese plate wat in sy sterrewag in Peru geneem is, het geen getuienis getoon van die voorspelde planeet nie, en die Britse sterrekundige P.H. Cowell het bewys die onreëlmatighede in Uranus se wentelbaan verdwyn feitlik as die hipotetiese planeet se eienskappe in ag geneem word. Lowell het self Planeet O verwerp, ondanks sy noue verbintenis met Pickering, en gesê: "Hierdie planeet word baie paslik "O" genoem, [want dit] is absoluut niks."Croswell p. 50 Sonder dat Pickering dit geweet het, het vier van die plate wat in sy soeke na "Planeet O" geneem is, beelde van Pluto vasgevang, maar dit is eers jare later ontdek. p. 563. Pickering het voorts, tot in 1932, baie ander moontlike trans-Neptunus-planete voorgestel, wat hy "P", "Q", "R", "S", "T" en "U" genoem het; geen daarvan is opgespoor nie.

Ontdekking van Pluto