Die Confessio Fraternitatis word beskou as een van die brondokumente van die oorspronklike Orde van die Rosekruis.
Die Belydenis van die Rosekruisbroederbond, aan die geleerdes van Europa Die Confessio Fraternitatis volg na die Fama Fraternitatis. Die dokument is in 1615 gepubliseer saam met twee ander brondokumente van die Orde van die Rosekruis. Al drie dokumente het die oogmerk gehad om die Europese landskap voor te berei vir 'n intellektuele revolusie en is verskeie kere in verskeie tale vertaal. Die dokumente is anoniem gepubliseer. Die outeurskap van die dokument is aan verskeie historiese figure toegeken, insluitende Francis Bacon (wetenskaplike, 1561) Francis Bacon. Johann Valentin Andrea het later in sy lewe beweer dat hy die Rosekruis dokumente as 'n grap geskryf het.
Die "Confessio Fraternitatis" het verskyn in die jaar 1615 in Latyns in 'n dokument getiteld: "Secretioris Philosophiæ Consideratio Brevio à Philippo à Gabella, Philosophiæ studioso, conscripta; et nunc primum unà cum Confessione Fraternitatis R. C.," in lucem edita, Cassellis, excudebat G. Wesselius, a 1615, Quarto." Dit was voorafgegaan deur die volgende advertensie:
"Geagte sagmoedige leser, in hierdie getuienis sal jy sewe en dertig redes vind vir ons doel en oogmerke wat jy na willekeur kan ondersoek en vergelyk met inagneming van jouself om te bepaal of dit jou persoonlik aanspreek. Toegegee, dit is geensins maklik om iemand van iets te oortuig wat nog nie sigbaar is nie. Ek neem egter aan dat ons in skaamte sal staan oor ons eie bevraagtekening wanneer alles ten volle openbaar sal word. Ons sal nou verseker die Pous as Antichris uitwys alhoewel dit voorheen oral ’n strafbare oortreding sou gewees het. Ons weet netso met sekerheid dat ons geheime van vandag in die toekoms uitgebulder sal word met ’n donderende stem. Dit, liewer leser, hoop ons van harte sal gou gebeur"
Hier volg 'n vertaling van die Confessio Fraternatis soos weergegee deur Arthur Edward Waite, 1887
HOOFSTUK I: Die agtergrond Wat julle sterflinge ook al gehoor het deur die getrompetter van die FAMA R.C. (Fama Fraternitatis) aangaande ons Broederbond, moet dit nie oorhaastig glo of moedswillig betwyfel nie. Dit is Jehovah wie, siedende hoe die wêreld besig is om te verval en ’n einde nader, dit verhaas na ’n nuwe begin, deur ’n omkeer te bewerk in die natuurlike gang van gebeure, om sodoende die ondenkbare wat gesoek word met duidelike leiding en daaglikse arbeid bloot te lê. Die openbaring word aangebied aan die gewilliges en toevertrou aan die wat huiwer, sodat die oplossing vir die probleme van die menslike lewe uitkom by die goeie. Sodoende word die geweld van die onverwagte slae van Fortuna gebreek. Vir die goddeloses sal dit egter ’n bydrae wees tot hul sondes en straf.
Ons glo dat ons voldoende die aard van ons orde geopenbaar het in die Fama volgens die wil van ons geagte vader. Ons kan hiervolgens nie beskuldig word van kettery of dat ons ’n poging maak teen die gemenebes nie. Hiermee veroordeel ons beide die Ooste en die Weste (bedoelende die Pous asook Mahomet) vir hulle godslastering teen onse Heer Jesus Christus en bied ons aan die hoof van die Romeinse Ryk ons gebede, geheime en magdom skatte van goud. Tog ag ons dit nodig om ter wille van die geleerdes uit te brei, ingeval enige iets te diep, verborge of onseker is in die Fama, of indien iets vir ’n spesifieke rede weggelaat was. Ons hoop om hiermee die geleerdes verknog te maak aan ons en om dit makliker te maak om by ons toenadering te soek.
HOOFSTUK II: 'n Nuwe filosofie is nodig Aangaande die veranderinge in filosofie het ons (sover as wat tans nodig is) verklaar dat dit ongegrond en misleidend is. Meer nog is ons oortuig daarvan dat die huidige filosofieë besig is om ’n laaste asem uit te blaas te midde daarvan dat baie (ek weet nie hoe nie) beweer dat die filosofieë sterk en gesond is.
Maar soos wat daar gewoonlik ’n oplossing verskyn vir ’n siekte in dieselfde plek waar dit uitgebreek het, net so het daar ten midde van die ongerymdhede in filosofie die regte benadering na vore gekom. Die antwoord is voldoende aan ons Vaderland aangebied, sodat die land weer tot sy reg sal kom en vernuwing kan lei tot herstel van die wêreld.
Daar is geen ander filosofie wat alle leerareas, wetenskappe en kundigheid insluit en wat (ongeag ons ouderdom) so baie Teologie en Geneeskunde insluit met min regsgeleerdheid nie. Geen filosofie ondersoek die hemel en die aarde met so ’n deeglike analise nie, of om kortom dit te stel, wat die menslike mikrokosmos so volledig verteenwoordig nie. As die meer formele aantal geleerdes reageer op die uitnodiging van ons broederbond, dan sal hulle tussen ons meer wonders vind as wat hulle ooit gedink het, is moontlik.
HOOFSTUK III: Die rede vir stelselmatige openbaring Dus, om kortliks die betekenis hiervan te verklaar, dit is nodig dat ons versigtig te werk gaan om nie die verassing van ons uitdaging nie te bederf nie. Ons wil dit duidelik stel dat ons nie hierdie geheime ligtelik opneem nie. Ons wil ook nie ’n mening oordra aan die vulgêre, dat die storie handel oor hulle gekkigheid nie. Dit is geensins verspot om te aanvaar dat baie oorweldig gaan word met verstandelike konflik nie. Innerlike konflik gaan soms onvermydelik gepaard met ons mededeelsaamheid. Veral hulle, aan wie die wonders van die sesde era onbekend is of wat volgens die wêreld se opinie die toekoms dieselfde ag as die huidige en wat verhinder word deur die struikelblokke van hul tyd en soos blinde mense in die wêreld lewe, kan teen skemer niks onderskei op gevoel nie.
HOOFSTUK IV: Die filosofie is volledig Nou ten opsigte van die eerste gedeelte: Ons stel dit dat die meditasie van ons Christelike vader, ten opsigte van alle onderwerpe, wat van die begin van die wêreld af ontwikkel is, voortgebring deur en bevorder deur menslike verstand, deur God se openbaring, of deur die dienste van die Engele en geeste, of deur die skerpsinnigheid van verstand, of deur die ervaring van langsame waarnemings, so groot is, dat al sal alle boeke tot niet gaan en deur God se almagtige weemoed alle geskrifte en leringe verlore gaan, voorspoed meegebring kan word daarmee deur ’n nuwe fondasie te lê vir die wetenskap en sodoende sal ’n nuwe baken van waarheid tot staan kom. Om van nuus af te begin sal dalk makliker wees as wat dit gaan neem om ’n ou ruïne af te breek en te vernietig, ten einde ’n nuwe voorportaal te bou en lig in die private kamers te laat skyn deur al die deure, pilare en om alle ander dinge in lyn te bring met die doelwit van die gebou.
Ons moet aanvaar word dat nuwelinge nie onmiddellik al ons gewigtige geheime sal begryp nie. Hulle sal stap vir stap moet vorder van die eenvoudige tot die meer komplekse en hulle sal hulle nie moet laat stuit deur moeilikhede nie.
Sal ons, nie ons vrylik berus in die enigste waarheid eerder as om deur baie paaie en labirinte te soek nie, veral as dit God behaag het om vir ons lig te werp op die sesde kroonkandelaar nie? Was dit nie voldoende vir ons om nie honger, armoede siekte of ouderdom te vrees nie? Was dit nie ’n uitstekende ding om te lewe asof jy van die begin van die wêreld af geleef het nie en steeds tot die einde daarvan sal lewe nie? Om te lewe op een plek sodat nie eens die mense wat anderkant die Ganges waag om enige iets weg te steek nie, of die wat in Peru hulle insigte van julle kan geheim hou nie? Om slegs in een enkele boek te onderskei, te verstaan en te onthou wat in alle ander boeke is ( alles wat was, nou is en nog hierna sal kom) en om vanuit die boek te leer nie? Om so te sing en speel dat in stede van klippe, jy pêrels kry, in stede van die geeste van wilde gediertes en in stede van Pluto, jy magtige prinse in die wêreld kan sag maak? O sterflinge, die raad van God en julle gemak is divers. Die het, het aangebreek om die getal van ons broederbond te vermeerder en dit wat ons met soveel vreugde onderneem het te deel, asof ons hierdie groot skat sonder meriete bekom het en sonder enige hoop of verwagting. Ons is getrou aan ons doelwit om hierdie mededeelsaamheid in werking te stel sodat nie eens weemoed of bejammering vir ons eie kinders (wat sommige in ons broederbond wel het) ons hiervan sal laat afsien nie, aangesien ons weet dat hierdie onverwagte goeie dinge nie geërf kan word nie en ook nie deur promiskuïteit oorgedra kan word nie.
HOOFSTUK V: Toegang tot die broederbond As daar nou enige iemand is wat aan die ander kant wil kla oor ons diskresie, dat ons, ons skatte vrylik uitdeel sonder oordeel en nie die meer goddelike, wyse en adellike persone meer in ag neem as die gewone mense nie, dan het ons geen argument met so ’n persoon nie (want sodanige aandikking is nie sonder meriete nie). Maar als gegewe, bevestig ons dat ons op geen manier ons geheime algemene besit maak nie, alhoewel dit in vyf tale weerklink in die ore van die vulgêre. Ons weet goed dat hulle nie growwe slimmighede in beweging kan bring nie en ook omdat die waarde van die wat in ons broederbond opgeneem word nie aan hul nuuskierigheid gemeet sal word nie. Hulle sal opgeneem word volgens die reëls en beginsels van ons openbaring. Al sal die wat onwaardig is ’n duisend maal probeer en ’n duisend maal aansoek doen, tog het God ons opdrag gegee dat ons nie een te woord sal staan nie. Sodoende is ons gerig deur sy beskerming dat geen geweld ons, sy dienaars, kan benadeel nie en waarvolgens ons nie meer gesien kan word deur menslike oë nie, al het hulle ook die skerpte van ’n arend sin geleen.
Vir die res was dit nodig dat die Fama in hul moedertaal uiteengesit word sodat hulle nie beroof kan word van die kennis daarin nie. God sluit niemand (alhoewel hulle ongeleerd mag wees) uit van die geluk van die Broederbond nie. Die Broederbond is in graderings opgedeel soos die wat in Damcar is en wat ’n baie anderse politieke stelsel het as die ander Arabiere. Daar regeer slegs mense met verstand, wie, volgens die koning se toestemming, bepaalde wette maak, waarvolgens daar volgens hulle voorbeeld ’n regering ingestel sal word in Europa (volgens die beskrywing wat neergepen is deur ons Christelike Vader). Wanneer dit ten einde kom wat voorafgegaan moet word, dan sal ons trompet ten volle weerklink sonder enige ondubbelsinnigheid in betekenis. Die dinge, waaroor slegs ’n paar nou fluister en wat nou verborge is in raaisels, sal openlik die aarde vul na die vroom mense se oorvloed bespotting van die pous se tirannie en na ’n bedeesde teregwysing. Hy sal tot ’n val gebring word met geweld en geheel en al vertrap word. Sy finale val is bepaal in ’n tyd wanneer hy in stukke geskeur sal word met naels en met 'n finale kreun sal hy sy agterent sien. Hierdie is reeds ’n voldonge feit vir baie geleerdes in Duitsland, soos wat hulle bekentenis en geheime gelukwense reeds getuig.
HOOFSTUK VI: Geloofwaardigheid van die broederbond