Hollandse medisyne is tradisionele geneesmiddels wat al vir meer as 200 jaar in Suid-Afrika gebruik word.

Kissie Elke huishouding in die tyd van die trekboerpionier en die Voortrekkers het oor ‘n medisynekissie beskik. Dit was gewoonlik verdeel in vakkies vir flessies en plekke vir pleisters, salwe en ‘n handleiding wat die simptome van die kwale wat die meeste voorgekom het, aangedui het en aanbeveel het watter geneesmiddels en die dosis daarvan wat aangewend moes word.

Geneesmiddels Tipiese voorbeelde van die Hollandse medisyne in ‘n huisapteek van daardie tyd was: Hoffmanndruppels teen senuwees en kopseer bloedstillende druppels staaldruppels (dr. Stahl se versterkende drupppels) Haarlemmerolie (ook bekend as haarlemensis en harmansdrup) is gebruik teen alle kwale Kajapoetolie teen pyn in die ledemate kasterolie en rabarberpoeier as purgeermiddels soetolie teen ‘n loopmaag kanferolie, doepa-olie, teerolie pampoensalf, krampdruppels witkinapoeier, ‘n middel teen malaria groenamara, ‘n bitter medisyne om maagkwale te besweer Turlingtonbalsem vir nier- en galstene en borsklagtes Monniksbalsem ("Friar’s balsam’") en ruitersalf teen huidsiektes boegoe-essens vir nierkwale en rumatiek aluin om bloeding te stop jamaika-gemmer vir die maag duiwelsdrek, Balsem Kopiva, wonderessens, koorswortel, braakwortel, pynstiller, koljandersaad, oogwater Teen die middel van die 19de eeu het ‘’Croft’s Tincture of Life’’ beskikbaar gekom. Dit was glo doeltrefffend teen perde-, vee- en hondesiektes en selfs slangbyt.

Geskiedenis Hierdie Hollandse medisyne in die volksgeneeskunde van die Afrikaner is ‘n voortsetting van die middels en resepte van dr. Carl August van Madai (1739-1816), die dokter by die weeshuis in Halle, Duitsland. Die Von Madai-familie het beroemd geword deur die medisyne wat hulle oor die wêreld heen ten bate van die weeshuis verkoop het. Reeds laat in die 18de eeu is die geneesmiddels in die Kaapkolonie bekend. Later het Kaapstad se aptekers, en veral dr. C.F. Juritz van die Engel-apteek in Loopstraat, self die medisyne begin vervaardig om die noodhulpkassies op en aan te vul. Ten spyte van die vooruitgang in die mediese wetenskap is sekere van die Hollandese medisyne tans nog in die winkels te koop.

Naam Waarskynlik is na die inhoud van die medisyne-kassie aanvanklik verwys as Halliese medisyne omdat die Von Madai’s in Halle gewoon het. Dit het in die volksmond van die Kaapkolonie se gebruikers Hollandse medisyne geword.

Bibliografie Green, Lawrence G.: In the land of afternoon. Kaapstad: Howard B. Timmins, 1950. Green, Lawrence G.: Tavern of the Seas. Kaapstad: Howard B. Timmins, ongedateerd Pienaar, P. de V. (red.): Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1966. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 7. Kaapstad: Nasou, 1972.

Kategorie:Geneesmiddels Kategorie:Geskiedenis van Suid-Afrika Kategorie:Voortrekkers