Netumbo Nandi-Ndaitwah (gebore 29 Oktober 1952) is 'n Namibiese politikus wat sedert 21 Maart 2025 as die vyfde president van Namibië dien. Sy was van Februarie 2024 af tot 21 Maart 2025 adjunkpresident van dié land. Van Maart 2015 tot Februarie 2024 was sy adjunkpremier van Namibië. Sy dien ook sedert 2012 as die minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Sy was al minister vir verskeie portefeuljes: Vrouesake en Kinderwelsyn, Inligting en Tegnologie, en Omgewingsake en Toerisme. In 2017 is sy tot adjunkpresident van SWAPO verkies en het gevolglik die eerste vrou geword om dié amp te beklee. Sy is die party se presidentskandidaat vir die 2024-verkiesing.
Biografie Nandi-Ndaitwah is op 29 Oktober 1952 tot Justina Nekoto Shaduka-Nandi en Petrus Nandi in Onamutai in noordelike Namibië gebore. Sy het by St. Mary's Mission in Odibo skoolgegaan.
Sy het in 1974 in ballingskap gegaan en by SWAPO-lede in Zambië aangesluit. Sy het vanaf 1974 tot 1975 by die SWAPO-hoofkwartier in Lusaka, Zambië gewerk en vanaf 1975 tot 1976 'n kursus by die Lenin Hoër Komsomol Skool in die Sowjetunie bygewoon. Sy het 'n diploma in die werk en praktyk van die kommunistiese jeugbeweging ontvang. In 1987 het sy 'n nagraadse diploma in publieke administrasie en bestuur aan die Glasgow College of Technology in die Verenigde Koninkryk verwerf en in 1988 het sy 'n verdere nagraadse diploma, in internasionale betrekking, van Keele-universiteit, ook in die Verenigde Koninkryk, ontvang. In 1989 het Nandi-Ndaitwah 'n meestersgraad in diplomatieke studies van Keele-universiteit verwerf.
Politieke loopbaan Nandi-Ndaitwah was vanaf 1976 tot 1978 die SWAPO-adjunkverteenwoordiger in Zambië en daarna tussen 1978 en 1980 die hoofverteenwoordiger in Zambië. Vanaf 1980 tot 1986 was sy die SWAPO-hoofverteenwoordiger in Dar es Salaam in Oos-Afrika. Sy was vanaf 1976 tot 1986 'n lid van die SWAPO sentrale komitee en president van die Namibiese Nasionale Vroue-organisasie (NANAWO) vanaf 1991 tot 1994.
Sy is sedert 1990 'n lid van die Nasionale Vergadering van Namibië. Sy was vanaf 1990 tot 1996 adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking en het eers in 1996 ministerstatus verwerf as direkteur-generaal van Vrouesake in die kantoor van die president, waar sy tot 2000 gedien het. In 2000 is sy bevorder tot Minister van Vrouesake en Kinderwelsyn.
Vanaf 2005 tot 2010 was sy die Minister van Inligting en Uitsaaiwese. Sy het daarna as Minister van Omgewing en Toerisme gedien tot 'n groot kabinetskommeling in Desember 2012, waarin sy as Minister van Buitelandse Sake aangestel is. Onder president Hage Geingob is Nandi-Ndaitwah in Maart 2015 as adjunkpremier van Namibië aangestel, en sy is steeds die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking.
Nandi-Ndaitwah is 'n lid van SWAPO se sentrale komitee en die politburo. Sy is ook die party se sekretaris vir inligting en mobilisering en is as sodanig een van SWAPO se hoofwoordvoerders.
In Maart 2023 het president Hage Geingob Netumbo vir Nandi-Ndaitwah as die party se presidentskandidaat vir die 2024 nasionale verkiesings aangewys.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Geboortes in 1952 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Adjunkpresidente van Namibië Kategorie:Adjunkpremiers van Namibië Kategorie:Presidente van Namibië