Die antieke geskiedenis van Israel was vol geweld, oorloë, ballingskap, die verdwyning van die Tien Stamme van Israel en uiteindelik die Diaspora of verstrooiing van die Joodse volk na verskillende lande in Asië, Afrika en Europa.

Joodse geskiedskrywers beskou die jaar 538 v.C. as die keerpunt in die geskiedenis van die streek omdat dit van daardie tyd af opeenvolgend regeer is deur verskillende vreemde magte, insluitende die Perse, die Hellenistiese Grieke, die Romeine, die Bisantyne, die Moslems, die Christen-kruisvaarders en die Ottomaanse en Britse Ryke. Die tweede artikel het oor die eerste vier heersers gegaan. In hierdie artikel word die oorblywende vyf ryke bespreek. In vele opsigte is die moderne geskiedenis van Israel 'n herhaling van die gebeure wat in antieke tye plaasgevind het.

Romeinse heerskappy (63 v.C. - 313 n.C.)

Die Diaspora het op klein skaal in 597 v.C. begin met die wegvoering van Jode na Babilon, maar het ná 70 nC momentum gekry toe die Romeine eers Jerusalem met die grond gelyk gemaak en daarna die Joodse revolusionêre by die bergvesting Masada verslaan het. Ná die Diaspora het Bar Kochba in 132 nC 'n opstand teen Romeinse oorheersing gelei. Tydens dié opstand is Jerusalem en Juda tydelik herower totdat Bar Kochba drie jaar later in 'n geveg naby Bethar in die heuwels van Judea gesterf het. As straf vir hierdie vergryp het die Romeine Jerusalem herdoop na Aelia Capitolina en Judea het as Palestina bekend gestaan. Dit is gedoen om Joodse identifikasie met die Land van Israel uit te wis. Die oorblywende Joodse gemeenskap het na noordelike dorpe in Galilea uitgewyk. Die verwoesting van Jerusalem en die Tempel was katastrofaal vir die Joodse volk. Honderde duisende Jode het in die beleg van Jerusalem en elders in die land omgekom en duisende meer is as slawe verkoop. In ongeveer 200 nC is die Sanhedrin, die opperste wetgewende en regsplegende liggaam van die Joodse volk, na Tiberias verskuif. Gedurende hierdie tydperk het die hoof van die Sanhedrin, rabbi Jehuda (Juda die Prins) die Joodse mondelinge wette wat as Misjna bekend staan, opgestel en die klein oorblywende Joodse gemeenskap het geleidelik hul gemeenskapslewe begin hervat.

Bisantynse heerskappy (313-636 n.C.)

Die Bisantynse Ryk is aan die einde van die vierde eeu gestig toe keiser Konstantyn tot die Christendom bekeer is. Gedurende sy regering het Israel oorwegend Christelik geword en kerke is op Christelike heilige plekke in Jerusalem, Betlehem en Galilea gebou. Christen-kloosters is ook in dele van die land opgerig. Hoewel vorige heersers die Jode toegelaat het om hulself te regeer, is die reg om openbare poste te beklee gedurende die Bisantynse heerskappy ingetrek. Hulle is ook verbied om Jerusalem binne te gaan, behalwe op Tisj'a be'Aw om oor die verwoesting van die Tempel te treur. Die Persiese inval van 614 nC het 'n verposing van Bisantynse oorheersing gebied, maar was van korte duur. In 629 het die Bisantynse leër daarin geslaag om Jerusalem te herower en die Joodse bevolking is weer uitgedryf.

Arabiese heerskappy (636-1099 n.C.) Die stigter van die Islamitiese geloof, die profeet Mohammed, het sy nuwe geloof - 'n kombinasie van Christelike, Joodse en heidense Arabiese teologieë en konsepte - aan sy Joodse bure in Mekka probeer bekendstel. Hulle het sy teologie verwerp en sodoende die aggressie tussen sy volgelinge, Judaïsme en die Christendom aan die gang gesit wat tot vandag toe voortduur. In 634 nC het die Moslems 'n driepunt-aanval teen Judea geloods en die Bisantynse leër by die Beit Guvrin- en Jarmuk-riviere verslaan. Dit het aan hulle beheer oor die grootste deel van Judea gegee. Hulle het verder gegaan en Sirië, Noord-Afrika en 'n groot deel van Babilonië verower. Nòg Jerusalem nòg Caesarea is met geweld ingeneem, maar ná 'n lang beleg het hulle oorgegee sonder dat hulle verower is. Teen 637 nC is die Bisantynse heerskappy in Judea beëindig. Die Moslem-ryk in Juda is onder die heerskappy van die Oemajjad-dinastie gevestig. Dié dinastie is in drie dele verdeel en elk is deur 'n prins - 'n kalief genoem - beheer. Die eerste kalief wat in Judea regeer het, was Omar. Hy het oorspronklik vanuit die hoofstad van Oemajjad, Damaskus, regeer. Toe hy uiteindelik in Jerusalem aankom, was hy geskok oor die hoeveelheid rommel wat op die Tempelberg ophoop het en het onmiddellik die Berg begin opruim. Hy het selfs planne begin maak om 'n altaar op die terrein van die groot rots te bou wat volgens Joodse oorlewering die rots is waarop Abraham amper vir Isak geoffer het. Volgens Moslemse oorlewering is die rots ook heilig omdat dit die plek is waar Mohammed - nadat hy sy perd Boerak vasgemaak het - na die hemel gespring het om by die engel Gabriël te wees. Omar het nie die geleentheid gekry om sy altaar te bou nie, maar toekomstige kaliefs het wel en in 691 nC is die Rotskoepel voltooi. Gedurende dieselfde tydperk is 'n moskee op die Tempelberg gebou. Dit staan bekend as die el-Aksa-moskee (die Moskee van Aksa).

Hoewel die Oemajjads die Jode geduld het, is hulle nie toegelaat om deel te hê aan die regering nie. Die Moslems het ook nie die Jode se ekonomiese potensiaal benut nie. Dit het egter in die agtste eeu verander toe die Oemajjad-dinastie deur die Abbasiede-dinastie omvergewerp is. Die Oemajjad-oorlewendes het na Spanje gevlug en die Abbasiede het Bagdad in Babilon hul hoofstad gemaak.

Hoewel die Abbasiede die vreemdelinge verwelkom het en hulle toegelaat het om deel aan hul regering te hê, is Jode en Christene as tweedeklas-burgers beskou. Hulle is verbied om die Koran te lees, huise hoër as 'n moskee te bou, openbare rituele te beoefen, perd te ry of met Moslem-vroue te trou. Hulle moes ook 'n spesiale serp en 'n geel lapwapen dra. Nie-gelowiges moes ook bykomende belasting betaal. Ondanks hierdie beperkings was die Joodse bestaan onder die Abbasiede-heerskappy 'n groot verbetering op die Oemajjad-heerskappy. Gedurende hierdie tyd is die finale redigering van die Talmoed gekodifiseer.

Kruisvaarders (1099-1291 n.C.)

Intussen, in Europa, het pous Urbanus II in 1095 'n heilige oorlog of Kruistog teen die Moslems verklaar. Die doel was om die Heilige Land te herower en dit aan die Christendom terug te besorg. Duisende dorpenaars het op sy oproep gereageer, aangesien die feodale stelsel in Europa begin verbrokkel het en die grondbaronne en die Kerk miljoene dollar aan die Joodse geldskieters geskuld het wat die geld vir die bou van groot katedrale in Europa verskaf het. Die mense het honger gely as gevolg van droogtes en hongersnood in die streek en Urbanus se oproep was 'n geleentheid om uiting aan hul frustrasie en haat te gee. Die horde, onder leiding van opruiers, het 'n meer tradisionele vyand van Christus gevind, baie nader as die Heilige Land - naamlik die Jode in die Rynland. Voordat die ridders van Europa nog hul leërs begin organiseer het, is 'n "Kruistog" van Christene verklaar. Die horde se haat is aangevuur deur die woorde van 'n gerespekteerde ridder, Godfried van Boeljon, wat verklaar het dat hy nie uit sy land na die Heilige Land sou vertrek voordat hy die kruisiging van Christus gewreek het deur Joodse bloed met sy eie hande te laat vloei nie. Die "Kruisvaarders" het in April 1096 naby die welvarende Joodse gemeenskappe in die Rynland bymekaargekom, maar eers op 3 Mei aangeval. Die aanvalle het tot in Junie voortgeduur. Hoewel van die edellui die Jode probeer beskerm het, het die ontstoke horde meer as 1 000 Jode by Worms afgemaai. In Mainz is meer as 1 300 Jode doodgemaak. Voordat die Kruisvaarders Europa verlaat het, is meer as 10 000 Jode vermoor.

Kiddoesj HaSjem

Die aanvalle op die Jode in die Rynland het tot die stigting van Kiddoesj HaSjem as 'n beginsel in die Joodse samelewing gelei. Kiddush HaShem beteken letterlik die 'Heiligmaking van die Naam' (van God). In die Talmoed word dit verstaan as die bereidheid om as 'n Joodse martelaar te sterf. Die Kruisvaarders het, in hul ywerige pogings om hul onderskeie lande van ongelowiges te suiwer, dikwels Jode probeer dwing om hulle tot die Christendom te bekeer. Hoewel sommige toegegee het, het die meeste Jode, wat bekering as afgodediens beskou, verkies om te sterf, wat Kiddoesj HaSjem 'n geskiedkundige werklikheid gemaak het. Kruisvaarders verower Jerusalem. Teen 1099 was die ridders uiteindelik georganiseer. Hulle het per boot in Libanon aangekom en voorbereidings getref om met die kus langs na Jerusalem te marsjeer. Ná vele bittere gevegte en ontberings het die Kruisvaarders tot by die mure van Jerusalem voortgeploeter. Hulle het die stad op 15 Julie 1099 verower. Toe hulle eers binne die mure was, het die Kruisvaarders nog 'n bloedbad ontketen en meer as 20 000 mans, vroue en kinders vermoor - die meeste van hulle Jode. Ná die val van Jerusalem het hulle stelselmatig voortgegaan om ander groot stede in die streek te verower, insluitende Caesarea, Jaffa, Akko, Haifa en Beiroet. In elkeen van hierdie stede het hulle groot Kruisvaarder-forte gebou om hulle teen teenaanvalle deur die Moslems te beskerm. In 1110 het hulle oos gedraai en forte by Montfort, Yehi Am, Tiberias, Nimrod, Belvoir en ander strategiese plekke gebou. Daarna het hulle suid beweeg en Jerigo, Betlehem, Askelon, Ramleh en Eilat verower. Teen 1120 was die hele gebied wat eens koning Dawid se koninkryk was, in die hande van die Kruisvaarders. Naas die forte het hulle ook groot altare in die Kerk van die Heilige Graf (die amptelike plek waar Jesus doodgemaak, gesalf en begrawe is), die Kerk van die Kruis (die amptelike plek van die boom wat vir Jesus se kruis gebruik is), koning Dawid se graf en Jesus se amptelike geboorteplek in Betlehem opgerig. Hulle het ook groot Tempeliersale in Akko, Ramleh en Jerusalem gebou.

Tweede Kruistog

In 1146 het die Moslems, onder aanvoering van 'n briljante jong generaal met die naam Saladin, die land begin herower. Dit het tot die Tweede Kruistog gelei wat deur pous Eugenius III uitgeroep is. Die skare, reeds daaraan gewoond om Jode dood te maak, het hulle outomaties tot die Joodse kwartiere gewend om nog 'n bloedbad te begin.

Hierdie keer het die Jode beskerming uit 'n onverwagse oord ontvang. 'n Uiters gerespekteerde Christen, Bernardus van Clairvaux, het 'n reeks briewe aan die Christen-gemeenskappe geskryf en hulle aangesê om nie die Jode leed aan te doen nie. Daarbenewens was die meeste Jode in Frankryk en Duitsland gereed om die horde teen te staan. Hulle het groot bedrae aan omkoopgeld aan verskeie biskoppe en edelmanne betaal om hulle te beskerm en tot almal se verbasing het dit gewerk. Minder as 200 Jode is in Europa doodgemaak voordat die Kruisvaarders op hul tog na die Heilige Land vertrek het. Die Tweede Kruistog het aan die begin nogal welslae behaal en die Kruisvaarders het daarin geslaag om Askelon, Tiberias en verskeie kusdorpe te herower. Nadat verskeie gevegte gewen is, het hulle egter die oorlog verloor, geheel en al as gevolg van Saladin se briljante krygsvernuf. Saladin het die land beter as hulle geken en geveg op 'n manier wat aan hulle onbekend was. In plaas daarvan om uit te marsjeer en soos ware ridders groot swaarde rond te swaai, het die Moslems stormtaktiek gebruik, gevolg deur dubbele aanvalle deur versterkings - 'n konsep wat vir die Kruisvaarders heeltemal nuut was.

Nederlaag van die Kruisvaarders

In 1187 is die Kruisvaarders verslaan in 'n beslissende geveg net wes van die See van Kinneret, by 'n plek met die naam Hattin. Die Kruisvaarders het hulle sonder water bevind en wyslik besluit om oor te gee. Die ander stede na die ooste, weste en suide het ook oorgegee, wat Judea in Moslem-hande gelaat het. Die Kruisvaarders het hulle noord tot by Tirus teruggetrek, waar hulle op versterkings uit Europa gewag het. Toe Europese Christene van die Kruisvaarders se nederlaag hoor, was hulle woedend. Al wat Europese Jode van 'n grootskaalse slagting gered het, was die ingryping van keiser Frederik I van Pruise, wat beveel het dat Jode nie doodgemaak mag word nie.