duimnael|Een van die simbole van feminisme regs|duimnael|Internasionale Vrouedag betoging in Egipte regs|duimnael|Vroueregte in die wêreld.
Feminisme is 'n reeks sosio-politieke bewegings en ideologieë wat daarop gemik is om die politieke, ekonomiese, persoonlike en sosiale geslagsgelykheid te definieer en te vestig. Feminisme huldig die standpunt dat samelewings die manlike standpunt prioritiseer en dat vroue in hierdie samelewings onregverdig behandel word. Pogings om dit te verander, sluit in die stryd teen geslagstereotipes en die verbetering van opvoedkundige, professionele en interpersoonlike geleenthede en uitkomste vir vroue.
Die term feminisme word sedert die einde van die negentiende eeu verbind met politieke bewegings vir die regte van vroue, en veral om vroue gelyk te stel aan mans in die openbare sfeer. Dit beteken egter nie dat vroue voor die einde van die negentiende eeu geen aanspraak op gelykheid met mans gemaak het nie. In die agttiende eeu het Mary Wollstonecraft van Engeland reeds 'n boek getiteld The vindication of the rights of women geskryf. In hierdie geskrif maak sy daarop aanspraak dat vroue dieselfde opvoeding as mans moet ontvang, en indien dit sou gebeur, dat hulle op gelyke voet met mans hul plek in die samelewing sou kon volstaan. Dus, alhoewel sy nie die term feminisme gebruik nie, staan die argument reeds voluit in die teken van wat meer as 'n eeu later die feminisme genoem sou word, naamlik 'n politieke beweging vir vroueregte. 'n Mens sou dus heel vrugbaar die betekenis van die term feminisme kon verbreed om nie net te verwys na 'n Europees-Amerikaanse historiese beweging vir vroueregte (veral aan die begin tydens die suffragette-beweging vir vrouestemreg) nie. Dit kan breër dui op enige teks of argument geskryf of beredeneer vanuit die oogpunt van vroue se regte, belange of belewenisse, en wat dus vrougesentreerd is. Indien hierdie breër betekenis aanvaar word, is daar talle geskrifte wat ouer as die agttiende eeu is (dus voor Mary Wollstonecraft) wat ook as feministies beskou kan word. Een voorbeeld hiervan is die boek Hooglied in die Bybel, wat deesdae deur Bybel-historici beskou word as geskryf deur 'n vrou en ook vanuit die oogpunt van 'n vrou. Die twee geliefdes in Hooglied word as gelykes uitgebeeld, en die seksuele genot van sowel vrou as man word erken en selfs gevier. Kortom, sou 'n mens kon sê dat die sentiment of oortuiging ten grondslag van die feminisme veel ouer is as die term self, wat 'n heel konkrete, lokale en geskiedkundig beperkte betekenis het.
Etimologie Die term feminisme is afgelei van vrou en vroulik (femina (Latyn) en "feminine", "female" (Engels)).
Waarom feminisme? Dit mag dalk vandag moeilik wees om te verstaan waarom die feministiese beweging ooit nodig was. Die meeste mense aanvaar dit as vanselfsprekend dat vroue en mans gelyke behandeling moet ontvang, dieselfde opvoeding moet geniet en gelyke geleenthede moet hê - byvoorbeeld as dit kom by aanstellings, salarisskale en bevorderings. Maar juis omdat dit vandag so vanselfsprekend is, staan 'n mens verstom wanneer jy agterkom presies hoe ongelyk vroue tot onlangs nog was. Suid-Afrika het eers in 1994 'n demokratiese grondwet en regering gekry. Saam met die bevryding en gelykmaking van mense van alle rasse het die gelykmaking van die geslagte ook 'n groot hupstoot gekry. Onder die ou, ondemokratiese en rassistiese wette wat in 1994 uitgegooi is, tel daar ook verskeie seksistiese wette, dit wil sê wette wat ongelyke, diskriminerende of asimmetriese behandeling gebaseer op geslag; stelsel of persoon of teks onderskryf of toelaat. Omdat die skrywers van die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet baie bewus was van die land se geskiedenis van diskriminasie (nie net op grond van ras nie, maar ook op grond van geslag) is daar 'n duidelike verbod op diskriminasie van enige aard vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, omskryf in artikel 9(1)-(5). Alhoewel blanke mans al vir eeue in die meeste Westerse lande van die wêreld universele stemreg geniet het, moes blanke vroue wag tot die begin van die twintigste eeu om stemreg te kry, met ander woorde om inspraak te kry in wie hulle regeer op nasionale en streekvlak. In Suid-Afrika het blanke vroue eers in 1936 stemreg verkry. Alhoewel daar vandag geglo word dat daar in elke era minstens net soveel talentvolle vroue as mans was, het baie min van hulle ooit die erkenning gekry wat hulle verdien het. Die geskiedenisboeke en oorgrote meerderheid tekste wat uit die antieke en latere geskiedenisse behoue gebly het, word oorheers deur mans as skrywers, akteurs en beoordelaars van die geskiedenis. Vroue is, geskiedkundig gesproke, grootliks onsigbaar en onhoorbaar. Uit die oudste tekste wat behoue gebly het vanoor die hele wêreld lyk dit asof vroue altyd en oral ondergeskik gestel is aan mans. Patriargale of minstens seksistiese samelewings blyk byna universeel te wees. Vanuit vandag se perspektief lyk dit verbasend en mens wil outomaties graag weet waarom die wêreldgeskiedenis so skeef is ten gunste van mans.
Natuur- en kultuur-debat oor geslagsverskille Vandat die feminisme as 'n denkskool op dreef gekom het, word die antwoord op hierdie vraag in hoofsaaklik twee rigtings gesoek. Dit word die 'natuur-kultuur-' (of "nature-nurture") debat genoem. Dit beteken basies dat sommige mense die verskynsel van vroulike ongelykheid veral vanuit 'n natuurlike of biologiese beginsel wil verklaar, terwyl ander mense verkies om dit vanuit 'n kulturele of samelewingsbeginsel te verklaar. Een denkrigting op 'n slag word vervolgens beskou:
Natuurkonsep Volgens hierdie konsep kan die verdeling van arbeid volgens geslag wat wêreldwyd aangetref word, aan die hand van die biologiese verskille tussen man en vrou verklaar word. Wêreldwyd versorg vroue eerder as mans die kinders, hoewel vroue en mans tesame hulle ouers is. Waarom hierdie verskil? Wêreldwyd is vroue meer as mans verantwoordelik vir die versamel en kook van kos, die versorging van die huishouding en die algemene instandhouding van menslike lewe op 'n fisieke vlak, insluitend veral die versorging van siekes, ou mense en klein kinders. Mens sou ook kon sê dat vroue die materiële onderbou of basis van samelewings verskaf. Omdat vroue in hierdie basiese, universeel menslike behoeftes voorsien, word mans vrygestel om betalende werk buite die huis te doen, aan die politiek deel te neem, oorloë te voer, en so meer. Die voorstanders van die natuurlike verklaring vir hierdie verskynsel redeneer dat vroue nou eenmaal in staat is om swanger te raak en babas te borsvoed en mans nie. Vroue is dus op 'n onmiddellike en natuurlike manier meer betrokke by babas en kinders en met die versorging van weerloses, terwyl mans van nature van hierdie prosesse verwyder is. Die verskille tussen mans en vroue se rolle in die samelewing moet dus veral verstaan word vanuit die biologiese verskil tussen die geslagte - mans en vroue word verskillend gebore en vervul natuurlik verskillende rolle. Voorstanders van hierdie teorie wys ook daarop dat die moontlikheid van veilige en betroubare voorbehoeding 'n onlangse verskynsel in die menslike geskiedenis is (minder as honderd jaar oud). Ons eie oumagrootjies kon nog nie eens veilig en betroubaar voorbehoeding toepas nie. Verder het oorbevolking ook eers die laaste honderd jaar of wat 'n probleem begin word. Dus, vir die oorgrote deel van die menslike bestaan op aarde het vroue nie 'n keuse gehad of en wanneer hulle wou swanger raak nie, en is die vermeerdering van mense deur voortplanting buitendien gesien as 'n ondubbelsinnig positiewe saak. Wat meer is, swangerskap en geboorte was vir die grootste deel van die menslike geskiedenis uiters gevaarlike prosesse - en die grootste oorsaak van sterftes by vroue. Vroue het dus meestal relatief jonk gesterf weens die eise van voortplanting en het betreklik min beheer oor hul lewens gehad, om dieselfde rede. As mans dus die geskiedenis oorheers, is dit om natuurlike redes. Mans het langer geleef as vroue en was nie opgeneem in die eise van voortplanting nie. Daarom het mans van nature meer bewegingsvryheid as vroue en is dit net logies dat hulle die gang van die geskiedenis sou bepaal. As dit vandag verbasend is, dan is dit omdat mense gou gewoond geraak het aan vroue se relatiewe vryheid ten opsigte van mans. Maar daardie vryheid is 'n onlangse ontwikkeling, moontlik gemaak deur ongeëwenaarde tegnologiese vooruitgang.
Kultuurkonsep Hierteenoor staan die 'kultuur'-argument om die geskiedkundige ongelykheid van vroue en mans te verklaar. Volgens hierdie argument moet die ongelyke posisie van vroue verstaan word vanuit 'n baie ou en oënskynlik universele vooroordeel of wrewel van mans teenoor vroue. Die mees algemene verhaal wat vertel word om hierdie mannehaat te verklaar, het te make met vroue se sentrale rol in voortplanting. Volgens hierdie verhaal is mans nie net jaloers op vroue se vermoë om nuwe lewe voort te bring nie, maar hulle voel ook grootliks bedreig daardeur. Volgens hierdie verhaal is dit vir mans ondenkbaar dat hulle self lewe danksy 'n vrou wat aan hulle die lewe geskenk het - is dit dus vir 'n man byna onmoontlik om sy eie geboorte te bedink. Mans se grondige en onbetaalbare skuld teenoor hul moeders wat aan hulle lewe geskenk het en wat hulle grootgemaak het, plaas 'n sielkundige las op hulle wat maak dat hulle daardie kennis tot elke prys onderdruk. Dus, om hul skuld en vrees en gevoel van eie onvermoë te onderdruk, wat hulle met vroue (en veral met hul eie moeders) assosieer, onderdruk mans vroue in die algemeen. Hierdie onderdrukking van vroue deur mans wat in feitlik alle samelewings voorkom, spruit derhalwe uit 'n minderwaardigheidsgevoel van mans en manifesteer daarin dat mans hul skuldlas op vroue verplaas. Vandaar dan die antieke en funderingsmites van die groot godsdienste waar die vrou (byvoorbeeld Eva) die skuld kry vir alles wat op aarde skeefloop. Alhoewel die natuur- en kultuur-verklarings vir seksisme dus redelik uiteenlopend is en die klem verskillend plaas, oorvleuel hierdie twee verduidelikings in die sentrale rol wat hulle toeken aan vroue se betrokkenheid in die voortplantingsproses. Dit is dus nie vreemd nie dat sommige teoretici redeneer dat gelykheid tussen die geslagte eers bereik sal word wanneer vroue se liggame nie meer noodsaaklik is vir voortplanting nie, naamlik wanneer die mens die hele proses van voortplanting suksesvol buite die vroulike liggaam sal kan voltrek. In hierdie argument lê daar egter 'n verdere problematiese aanname verskuil, wat saamhang met drie groot denkrigtings binne die feministiese teorie.
Gelykheid en eendersheid Indien mens redeneer dat die geslagte eers gelyk sal wees wanneer vroue (soos mans) nie (meer) kinders baar nie, mag dit lyk asof gelykheid gelyk gestel word aan eendersheid. Vir baie feministiese teoretici kom dít egter neer op 'n denkfout. Mens kan rofweg onderskei tussen drie fases in die geskiedenis van die feminisme (hieronder uiteengesit). Hierdie fases of golwe in feministiese besinning het min of meer 'n chronologies verloop, maar geeneen van dié fases is al heeltemal verby nie. 'n Mens sou hulle dus ook as gelyklopende strome kan beskou. Een prominente feminis, Julia Kristewa, het voorgestel dat die strome beskou kan word as drie balle wat soos deur 'n goëlaar gelyktydig in die lug gehou kan word sonder dat mens tussen hulle hoef te kies. Verskillende benaderings kan vir verskillende situasies vrugbaar wees. Hier volg nou 'n kort bespreking van dié drie fases, strome of balle.
Liberale feminisme In die eerste fase van die feminisme, wat ook die liberale feminisme genoem kan word, is die verskille tussen vroue en mans onderbeklemtoon om die argument vir gelyke behandeling te versterk. Soos Wollstonecraft, het die feministe van hierdie eerste, liberale beweging geredeneer dat vroue nie wesentlik van mans verskil nie.