Die Britse Mandaat van Palestina, soms na verwys as die Mandaat van Palestina (Arabies: الانتداب البريطاني على فلسطين, Engels: Mandatory Palestine, Hebreeus: המנדט הבריטי), was 'n Volkebondmandaat wat na die Eerste Wêreldoorlog ontstaan het toe die Ottomaanse Ryk volgens die Verdrag van Sèvres verdeel is. Die Britse Mandaat van Palestina het bestaan uit die gebied van die hedendaagse Jordanië, Israel, die Wesoewer en die Gasastrook. Die grense van die Mandaat van Palestina het gestrek van die Middellandse See tot die weste van die Franse Mandaat van Libanon, Franse Mandaat van Sirië, en die Britse Mandaat van Mesopotamië in die Noorde, die Koninkryk van Saoedi Arabië aan die ooste en suide, en die Koninkryk van Egipte aan die suidweste.
Die Britse Mandaat het gefunksioneer van 1923 tot met die onafhanklikheid van Transjordanië in 1946 en van Israel in 1948. Die oogmerk van die Volkebondmandaat was om die disfunksionele Ottomaanse Ryk, wat sedert die 16de eeu in beheer van die Middeooste was, te administreer, "tot op 'n stadium wat hulle op hulle eie sou kon staan.""Mandate for Palestine," Encyclopedia Judaica, Vol. 11, p. 862, Keter Publishing House, Jerusalem, 1972
Britse Bewind (1918–1948)
Die Joodse leierskap wat in Konstantinopel opgelei is en hul mede-burgers in die Turkse parlement verteenwoordig het, moes kies om hulle òf by die Britte aan te sluit in die hoop dat Brittanje uit dankbaarheid vir hul ondersteuning hulle sou toelaat om 'n tuisland te vestig, òf by die Turke om te verseker dat 'n grondwet deurgevoer sou word wat Joodse immigrasie na Israel sou wettig.
Twee van die Jisjoew-leiers, David Ben-Gurion en Yitzchak Ben Zvi, was ten gunste van samewerking met die Turke, terwyl die meerderheid neutraal wou bly om sodoende die woede van beide die Turke en die Britte vry te spring. Die besluit is egter vir hulle geneem deurdat die Turke die setlaars van die Tweede Alijah uitgekryt het as vreemdelinge en meer as 12 000 Jode uit die land verban het. Die meeste van hierdie bannelinge het per boot na Egipte gevlug en hulle by die Britse magte aangesluit wat in dié land gestasioneer was.
Die Jode in Egipte het probeer om die Britse magte te oortuig om hulle toe te laat om te veg. Die Britte was egter skepties en agterdogtig; hulle het nie geglo nie dat die Jode in staat was om te veg nie. Josef Trumpeldor het hulle egter van die teendeel oortuig.
Joodse gevegsmag Trumpeldor het in Rusland grootgeword en hom by die Russiese Weermag aangesluit. Hy het in die Russies-Japannese Oorlog (1904–1905) geveg en hom beskikbaar gestel vir gevaarlike sendings. Tydens een van hierdie sendings is hy gewond en moes sy arm geamputeer word. Dit het hom egter nie verhinder om verdere sendings aan te pak nie. Hy is uiteindelik gevang.
Nadat hy vrygelaat is, het hy na Palestina geëmigreer. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is hy na Egipte toe gedeporteer. Hier het hy die Britte oortuig om die Jode die geleentheid te bied om diens te doen in die Britse weermag.
Op 23 Maart 1915 het die Britte die Jode toegelaat om 'n die Sion-muilkorps, bestaande uit 500 man, op die been te bring. Hul taak was om lewensmiddele na die soldate te vervoer. Deur hul heldhaftige optrede tydens die slag van Gallipoli in Turkye het die Muilkorps die Britte oortuig dat hulle Jode moet toelaat om wapens te dra. Zeev Jabotinski was die eerste om aan die Britte voor te stel dat 'n Joodse gevegsmag gestig moet word. Hy was 'n skrywer en het 'n charismatiese persoonlikheid gehad. Die Britte is beïndruk deur die Sion-muilkorps en het ingestem dat 'n Joodse regiment gestig kon word. Jabotinski het onmiddellik begin om vrywilligers te werf en in 1917 is die Joodse Legioen onder twee verskillende vaandels in die lewe geroep. Sommiges het geveg onder die vlag van die Yishuv (die blou Ster van Dawid) en ander onder die kenteken van die menorah. Die Joodse Legioen was die eerste Joodse gevegsmag in meer as 2 000 jaar.
Terug in Palestina het die Turke die meer as 56 000 Jode wat agtergebly het, vervolg. Onder leiding van Aaron Aaronson het die Jode 'n spioenasienetwerk op die been gebring om die Britte te help. Hulle het bekend gestaan as die NILI, 'n afkorting vir die Hebreeuse uitdrukking "Die trots van Israel sal nie geblus word nie".
Ondanks hul dapper pogings is sommige van dié Jode gevang, gemartel en doodgemaak. Die Turke het aangeneem dat alle Jode betrokke was by spioenasie en het verdere beperkinge op die Jisjoew geplaas. Tel Aviv is ook onder dwang ontruim.
Verdeling van die Midde-Ooste Brittanje wou beheer oor die Midde-Ooste gehad het en in 'n poging om dit te kon bekom, het die Britse departement van buitelandse sake 'n reeks geheime verdrae met verskillende bondgenote aangegaan. Hierdie verdrae het mekaar weerspreek. In 1915 is die Anglo-Hedzjaz-verdrag gesluit, waarvolgens Brittanje aan die Arabiese Nasionaliste beloof het dat die Midde-Ooste 'n Arabiese staat sou word.
In 1916 het Brittanje die sogenaamde Sykes-Picot-ooreenkoms met Frankryk gesluit. Ingevolge hierdie ooreenkoms is die Midde-Ooste verdeel tussen Frankryk en Engeland. Engeland wou Egipte, asook die nuut gestigte Saoedi-Arabië, hê; Frankryk die Staat van Sirië-Libanon. Palestina sou 'n internasionale gebied wees.
Dr. Chaim Weizmann, 'n senior lektor in chemie aan die Universiteit van Manchester van Russies-Joodse afkoms, het 'n waardevolle bydrae tot die Britse stryd gemaak deur die ontdekking dat sintetiese asetoon (die bestanddele om TNT te vervaardig) gebruik kon word om onder gekontroleerde omstandighede te ontplof. As erkenning vir sy waardevolle bydrae tot die Britte se oorlogpogings het hulle ingestem om te luister na sy pleidooi vir 'n Joodse-staat in Palestina.
Brittanje het ook gevrees dat die meer as 56 000 Jode wat in Palestina agtergebly het, 'n samewerkingsooreenkoms met die Duitsers (nieteenstaande vervolging deur die Turke, 'n bondgenoot van Duitsland) sou aangaan. In 1917 het Brittanje onderneem om die vestiging van 'n Joodse staat in Palestina te bepleit.
Op 2 November 1917 het lord Lionel Rothschild 'n brief van die verteenwoordiger van die Britse regering, Arthur Balfour, ontvang. In dié brief het Engeland sy steun aan die vestiging van 'n Joodse staat in Palestina toegesê, mits die godsdienstige en etniese regte van alle sektes en groepe in ag geneem sou word. Hierdie drie paragrawe het bekend gestaan as die Balfour-verklaring.
Britse verraad In 1917 het generaal Edmund Allenby die seëvierende Britse Weermag (insluitende die Joodse Legioen) in Jerusalem ingelei. In 1918 het hy daarin geslaag om die Duits-Turkse magte uit Palestina te verdryf. Intussen het T. E. Lawrence (Lawrence van Arabië) en sy Arabiese magte Damaskus binnegekom. Dit was tyd om die buit te verdeel en Brittanje se verraad is ontbloot.
Brittanje het die hele gebied geannekseer – soos uiteengesit in die Sykes-Picot-ooreenkoms. Die Britte het ingestem dat Frankryk beheer sou hê oor die nuut gestigte Arabiese state in Sirië en Libanon. Weizmann en Emir Faisal, die leier van die Arabiese nasionaliste, het saamgestem dat die Jode en Arabiere vreedsaam sou kon saamleef.
Die meerderheid Arabiese nasionaliste het egter dié uitspraak verwerp. Hulle het verwag om 'n eie Midde-Oosterse staat te ontvang en het die ooreenkomste wat tussen Brittanje en Frankryk aangegaan is, beskou as verraad. Hulle het nou die Jisjoew kwalik geneem vir die politieke gemors waarin hulle hulle bevind het.
Sowel die Jisjoew as die Arabiese nasionaliste het verwag dat hulle Palestina as staat van die Britte sou ontvang. Frankryk het druk op Brittanje geplaas om Palestina tot internasionale gebied te verkaar. Brittanje het ingestem en hom onttrek aan oostelike Galilea. Die vier Joodse nedersettings in dié gebied het hulle skielik in niemandsland bevind. Beide Frankryk en Engeland het hulle aan hul eie genade oorgelaat en geen beskerming meer gebied nie.
Derde Immigrasie
In 1919 het die Arabiere verenig in 'n poging om die Franse uit die Midde-Ooste te verdryf en Palestina met geweld oor te neem. Hulle het beweer dat Franse soldate in die vier Joodse nedersettings skuil en het begin om dié gebied aan te val. Tussen 1919 en 1924 het meer as 50 000 Jode uit Pole, Rusland en selfs die Verenigde State van Amerika (VSA) in Palestina aangekom. Hierdie massa-immigrasie staan bekend as die Derde Alijah.
In 1920 het die Arabiere die Tel Chai-nedersetting aangeval. Die Joodse verdedigers het daarin geslaag om die aanval af te weer, maar die Arabiere het hul aanvalle voortgesit. Op 1 Maart 1920 het hulle uiteindelik die nedersetting beset en agt setlaars vermoor. Een van die slagoffers was Josef Trumpeldor, die stigter van die Sion-muilkorps. Die oorblywende groep verdedigers van Tel Chai het teruggeval en hulle aangesluit by nedersettings in die suide wat beter bewaak was.
Twee maande later het die Franse beheer van dié gebied oorgeneem en die setlaars kon terugkeer. Hulle het 'n bloedbevlekte vlag saam met hulle teruggebring wat oor Tel Chai gewapper het. Die beeld van 'n brullende leeu is by die grafte van die agt slagoffers opgerig. Op die leeu is die volgende woorde aangebring: "Dit is goed om vir ons land te sterf".
In dieselfde jaar het die Arabiere hul tradisionele pelgrimstog na Nebi Moesa, waar Moses volgens die Moslem-tradisie begrawe is, onderneem. Daar aangekom, het die Moslems se godsdienstige leier, die Moefti, hulle aangehits om die Jode aan te val. Aangevuur deur slagspreuke soos "Moor die Jode", het die Arabiese skare 'n moordtog wat drie dae geduur het, deur die strate van Jerusalem onderneem. Die Britse owerheid het niks gedoen om dit te verhinder nie.
Zeev Jabotinski het veterane wat in die Joodse Legioen en HaShomer diens gedoen het, herorganiseer en dié twee groepe het begin terugveg. Die Britte het hulle egter in hegtenis geneem op aanklag dat hulle onwettige wapens in hul besit gehad het. Jabotinski het trots erken dat hy verantwoordelik was vir hierdie poging. Hy het dié groep die Haganah of Verdediging genoem. Jabotinski is uiteindelik tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis. Sy vonnis is egter opgeskort, maar hy moes die land verlaat en het nooit weer daarheen teruggekeer nie.
Die Jisjoew het Jabotinski se voorbeeld gevolg. Hulle het besef dat die daarstelling van 'n weermag noodsaaklik was – selfs al het die Britte dit onwettig verklaar. Onder leiding van die Israeliese vakbond Histadroet het hulle 'n ondergrondse weermag op die been gebring wat die Haganah gedoop is.
Vierde immigrasie
Die Volkebond het uiteindelik bymekaargekom om oor die lot van Palestina te besluit. 'n Groep Amerikaanse Jode het 'n afvaardiging na Versailles gestuur om Joodse belange te bevorder. Dié afvaardiging het bekend gestaan as die Amerikaans-Joodse Kongres. In 1920 het die Volkebond 'n verklaring uitgereik waarvolgens Brittanje gevolmagtige beheer oor Palestina verkry het totdat die Arabiere en die Jode kon bewys dat hulle vreedsaam kon saamleef. Brittanje het presies gekry wat hy begeer het: beheer oor die gebied.
In Julie 1922 het die Britse premier, Winston Churchill, 'n Witskrif uitgereik wat voorsiening gemaak het vir die afstigting van Transjordanië van die gebied waarin 'n Joodse staat gevestig sou word. Die Witskrif het ook bepaal dat Joodse immigrasie voortaan gekoppel sou word aan die "ekonomiese kapasiteit" van die land. Tussen 1924 en 1928 het meer as 35 000 Jode vanuit Pole en Duitsland die gebied binnegestroom en in 1928 het die Vierde Alijah plaasgevind toe meer as 62 000 Jode Palestina binnegekom het. Die feit dat die VSA vanaf 1924 strenger immigrasiebeheer toegepas het, was een van die redes vir hierdie massa-instroming.
Vyfde immigrasie