thumb|200px|’n Erotiese illustrasie deur die 18de-eeuse Russiese kunstenaar Konstantin Somof. Seksuele opwekking of seksuele opwinding is die opwekking van die geslagsdrang tydens of in afwagting van seks. ’n Paar fisiologiese reaksies vind in die liggaam en gees plaas as voorbereiding van die seksdaad en duur voort tydens seks. Manlike opwekking sal lei tot ’n ereksie en by vroue lei opwekking tot geswolle weefsel soos in die tepels, vulva, klitoris en vaginale wande, asook tot vaginale smering. Geestelike en liggaamlike prikkelings en die inwendige skommeling van hormone kan seksuele opwekking beïnvloed.
Seksuele opwekking het verskeie stadiums en hoef nie noodwendig tot seksuele aktiwiteit te lei nie. As daar genoeg seksuele prikkeling is, bereik seksuele opwekking sy klimaks tydens ’n orgasme.
Terminologie Daar is verskeie informele terme en frases, sommige plat, wat vir seksuele opwekking gebruik word, soos "katools", "loops", "jags" en "spuls".Dié Roekelose Woordeboek"Jags" en "spuls" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig)."Loops" in die WAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig).
Erotiese prikkelings Na gelang van die situasie, kan iemand seksueel opgewek word deur ’n verskeidenheid faktore, liggaamlik én geestelik. Dit kan ’n ander mens of spesifieke eienskappe van dié mens wees, of niemenslike voorwerpe. Die fisieke stimulasie kan veroorsaak word deur die aanraking van ’n erogene (sensitiewe) sone of voorspel, veral wanneer dit gepaardgaan met die verwagting van eindelike seksuele aktiwiteit. Seksuele opwekking kan aangehelp word deur ’n romantiese opset, musiek of ’n ander strelende situasie. Die moontlike seksuele prikkelings en die vlak van opwekking wissel van persoon tot persoon en van tyd tot tyd.
Prikkelings kan volgens sintuie geklassifiseer word: tas, sig of reuk. Ook gesprekke, lees, rolprente of foto's kan erotiese gedagtes en herinnerings veroorsaak. Sommige mense vind naaktheid seksueel prikkelend; ander pornografie.DeVita-Raeburn, Elizabeth. "Lust For The Long Haul". Psychology Today. 2008-12-26 As seksuele prikkeling veroorsaak word of afhanklik is van die gebruik van voorwerpe, word dit seksuele fetisjisme of soms parafilie genoem.
Daar is ’n algemene siening dat vroue langer as mans neem om seksueel opgewek te raak, maar onlangse wetenskaplike navorsing dui aan daar is nie ’n groot verskil tussen mans en vroue nie. In ’n studie deur die gesondheidsentrum van die McGill-universiteit in Montreal, Kanada, was mans en vroue wat na eksplisiete rolprente en foto's gekyk het, albei ná sowat 10 minute opgewek. Die tyd wat voorspel duur, wissel van mens tot mens en van tyd tot tyd, en hang af van vele omstandighede.
Anders as by baie ander diere het die mens nie ’n "paringseisoen" nie en kan hulle dwarsdeur die jaar seksueel opgewek raak.
Fisiologiese reaksie Seksuele opwekking veroorsaak verskeie fisieke reaksies, waarvan die belangrikstes in die geslagsdele plaasvind. Seksuele opwekking by mans word gewoonlik gekenmerk deur die opswelling en verstywing van die penis wanneer bloed die swelliggaam van die penis vul. In vroue lei seksuele opwekking tot ’n toename in bloedvloei na die klitoris en vulva, sowel as die deursypeling van vog wat as smeermiddel dien deur die vaginale wande.
In mans:In vroue:thumbManlike seksuele opwekking. Links is die manlike geslagsdele in ’n normale toestand; regs is die penis nadat dit opgeswel en styf geword het. Opswelling van tepels Opswelling en verstywing van penis Die are in die penis kan meer uitstaan Same- en terugtrekking van voorhuid; dikwels ontbloting van eikel Vrystelling van preseminale vloeistof Opswelling van testikels Optrekking van testikels Sametrekking en verdikking van skrotum PupilvergrotingthumbVroulike seksuele opwekking. Links is die vroulike geslagsdele in ’n normale toestand. Regs is die vrou seksueel opgewek, die vulva is nat en die skaamlippe effens opgeswel. Opswelling van tepels Vaginale smering Opswelling van vaginale wande Swelling en verstywing van klitoris en skaamlippe Verhoging van serviks en baarmoeder Uitsetting van binneste tweederdes van vagina Verandering in vorm, kleur en grootte van binneste en buitenste skaamlippe Pupilvergroting Verwyding (wyerwording) van areola
Manlike fisieke reaksie
Dit is normaal om ’n ereksie met manlike seksuele opwekking te vereenselwig. Fisieke of sielkundige prikkeling, of albei, lei tot bloedvatverwyding, en die toename in bloedvloei laat die drie sponsagtige dele wat met die lengte van die penis langs loop, opswel: die twee swelliggame (corpora cavernosum penis) en die sponsliggaam (corpus spongiosum). Die penis word groter en stywer, die vel van die skrotum trek stywer en die testikels word nader aan die liggaam opgetrek. Die verhouding tussen ’n ereksie en seksuele opwekking is egter nie altyd een-tot-een nie. Sommige mans sê hulle kry ná hulle middel-40's nie altyd ’n ereksie wanneer hulle seksueel opgewek raak nie. Net so kan ’n ereksie snags plaasvind sonder opsetlike seksuele stimulasie of vanweë meganiese stimulasie (byvoorbeeld die skuur van die penis teen die lakens). ’n Jong man, of een met ’n sterk libido, kan genoeg seksuele opwekking ervaar danksy ’n opwellende gedagte of die sien van ’n verbyganger. Daarna kan sy penis vanweë kontak met die binnekant van sy klere genoeg stimulasie ervaar dat hy sy ereksie ’n tyd lank behou.
Indien seksuele opwekking en stimulasie voortduur, sal die eikel van die penis waarskynlik groter opswel en, namate nog bloed na die geslagsdele vloei, ’n dieper kleur kry, en die testikels kan tot 50% groter word. Terwyl die testikels verder opgetrek word, kan ’n gevoel van warmte om hulle en die perineum (die gebied tussen die anus en skrotum) ontwikkel. Met verdere seksuele prikkeling word die hartklop en asemhaling vinniger en die bloeddruk styg. Soms lei die toename in bloedvloei in die genitale en ander streke in mans na ’n seksgloed.
As seksuele stimulasie steeds voortduur, begin ’n orgasme, wanneer die spiere van die bekkenbodem, die vas deferens (tussen die testikels en die prostaat), die saadblasies en die prostaat self kan laat begin saamtrek op ’n manier wat sperma en semen in die urinebuis in forseer. As dit eers begin het, sal die man waarskynlik ejakuleer en ’n volle orgasme ervaar, met of sonder verdere stimulasie. Dit word ook in Afrikaans die "fyndraai" genoem."Fyndraai" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig)."Fyndraai" in die WAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig).
As seksuele stimulasie voor die fyndraai beëindig word, sal die fisieke uitwerking van die stimulasie, insluitende die opswelling, binne ’n kort tyd afneem. Herhaalde of uitgerekte stimulasie sonder ’n orgasme en ejakulasie kan tot ongemak in die testikels (epididimale hipertensie) lei – of wat in Engelse sleng blue balls genoem word.Weinzimer, S.A. & Thorton, P.S., "Blue balls", " Pediatrics 108(5), 1233-1234", 2001
Ná ’n orgasme en ejakulasie ondervind mans gewoonlik ’n refraktêre tydperk wat gekenmerk word deur ’n verslapping van die penis, ’n afname in die seksgloed, minder belangstelling in seks en ’n gevoel van ontspanning wat toegeskryf kan word aan die neurohormone oksitosien en prolaktien. Die intensiteit en duur van die refraktêre tydperk kan baie kort wees in ’n jong man wat seksueel baie opgewek is, soms selfs sonder ’n merkbare verslapping van die penis. In ouer mans kan dit ’n paar uur of dae duur.
Vroulike fisieke reaksie Die begin van seksuele opwekking by die vrou word gewoonlik gekenmerk deur vaginale smering, die opswelling en vergroting van die eksterne geslagsdele en die inwendige vergroting van die vagina. Daar was al studies om die graad van ooreenkoms te bepaal tussen hierdie fisieke reaksies en die vrou se subjektiewe sensasie dat sy seksueel opgewek is. Die bevinding is dat daar in sommige gevalle ’n groot ooreenkoms is en ander gevalle ’n verbasend klein ooreenkoms.
Verdere stimulasie kan lei tot nog vaginale nattigheid en verdere opswelling en vergroting van die klitoris en skaamlippe, tesame met ’n toenemende rooiheid of verdonkering van die vel in dié streke namate bloedvloei toeneem. Nog veranderings kan in die inwendige organe voorkom, soos die inwendige vorm van die vagina en die posisie van die baarmoeder in die bekken. Ander veranderings sluit in ’n vinniger hartklop en ’n hoër bloeddruk, ’n gevoel van warmte en gloede en dalk ’n ervaring van rillings. ’n Seksgloed kan oor die bors en blyf versprei.
As seksuele stimulasie voortduur, kan die seksuele opwekking oorgaan in ’n orgasme. Ná ’n orgasme wil sommige vroue nie verder gestimuleer word nie en die opwekking verdwyn vinnig. Die mening is al gepubliseer dat die seksuele opwekking kan voortduur en meer as een orgasme bereik kan word. Sommige vroue ervaar sulke veelvoudige orgasmes heel spontaan.
Terwyl jong vroue maklik seksueel opgewek kan raak en relatief gou ’n orgasme kan bereik met die regte stimulasie en in die regte toestande, is daar fisieke en sielkundige veranderings in vroue se seksuele opwekking en reaksie namate hulle ouer word. Ouer vroue produseer minder vaginale smering en studies het al ondersoek ingestel na veranderings in die graad van bevrediging, die frekwensie van seksuele aktiwiteit, begeerte, seksuele gedagtes en fantasieë, seksuele opwekking, menings oor en houdings jeens seks, pyn en die vermoë om ’n orgasme te bereik by vroue in hulle 40's en ná menopouse. Daar is al bevind faktore soos gesondheid, sielkundige veranderlikes, die seksmaat en lewenstylveranderlikes het dikwels ’n groter impak op ’n vrou se seksuele funksionering as hulle menopousestatus. Dit word dus as belangrik beskou om die "konteks van die vrou se lewe" te verstaan wanneer hulle seksualiteit bestudeer word.
Laer estrogeenvlakke kan verbind word met toenemende vaginale droogheid en minder verstywing van die klitoris tydens seksuele opwekking, maar hou nie direk verband met ander aspekte van seksuele belangstelling of opwekking nie. By ouer vroue kan ’n afname in bekkenspiertonus meebring dat dit langer neem voordat seksuele opwekking tot ’n orgasme lei, dat die intensiteit van die orgasme afneem en dat dit dan vinniger tot ’n refraktêre tydperk lei. Die baarmoeder trek gewoonlik saam tydens ’n orgasme en wanneer vroue ouer word, kan hierdie sametrekkings pynlik raak.
Sielkundige reaksie Mans Die verhouding tussen seksdrang en seksuele opwekking by mans is ingewikkeld, met ’n groot reeks faktore wat seksuele opwekking laat toe- of afneem. Fisieke reaksies, soos ’n vinniger hartklop, hoër bloeddruk en ereksie is dikwels teenstrydig met selfervaarde, subjektiewe waarnemings van opwekking.Chivers, M.L., Reiger, G., Latty, E., & Bailey, J.M., "A sex difference in the specificity of sexual arousal", Psychological Science 15(11), 736-744, 2004 Hierdie verskil dui daarop dat sielkundige, of kognitiewe, aspekte ook ’n groot invloed het op seksuele opwekking. Die kognitiewe aspekte van seksuele opwekking by mans is nie goed bekend nie, maar dit behels onder meer die taksasie en beoordeling van ’n prikkel, die kategorisering van ’n prikkel as seksueel en ’n emosionele reaksie. Navorsing dui daarop dat kognitiewe faktore, soos seksuele motivering, waargenome genderrolverwagtings en seksuele houdings, bydra tot geslagsverskille wat waargeneem is in subjektiewe seksuele opwekking. Veral wanneer mans na heteroseksuele erotiese video's kyk, word hulle meer as vroue beïnvloed deur die geslag van die akteurs, en mans is meer geneig om die akteurs te objektifiseer. Daar is verskille in die aktivering van die brein vir seksuele prikkels – mans toon ’n hoër vlak van reaksie in die amigdala (die amandelvormige grysstofkern in die temporale lob van die serebrum) en hipotalamus (die ventrale gedeelte van die voorharsings) as vroue. Dit dui daarop dat die amigdala by mans ’n belangrike rol speel in die prosessering van seksueel-opwekkende visuele prikkels.
Vroue