thumb|Paula Slier
Paula Slier (gebore op 26 Maart 1973) is 'n Suid-Afrikaanse televisie-, radio- en gedrukte media joernalis, asook nuusredakteur en oorlogskorrespondent, wat in die Midde-Ooste gebaseer is. Sy dien as die Hoof van die Midde-Oosterse Buro vir RT. Sy is ook die stigter en hoof van Newshound Media International.
Vroeë lewe, familie en loopbaan Slier is gebore in Johannesburg, Suid-Afrika uit 'n Joodse gesin, en is die oudste van drie, met 'n jonger broer en suster. Sy het aan die Hoër Meisieskool Waverley gematrikuleer, waarna sy aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf het en haar studies in Internasionale verhoudinge en Filosofie voltooi het.
Slier is Joods en het in 2015 'n dokumentêr gemaak met die titel 119 Lives Unlived oor haar Nederlandse familielede wat tydens die Holocaust vermoor is. Die dokumentêr is op die internasionale TV-fees in Moskou met 'n derde plek bekroon in die kategorie "Beste dokumentêre rolprent".
Sy het tydens die konflik in die Ooste van die Oekraïne 'n pro-Russiese standpunt ingeneem en die gebeure vanuit die oogpunt van pro-Russiese separatiste gedek as korrespondent vir Russia Today. In 2014 het sy, verstommend genoeg, geglimlag terwyl sy besig was met 'n verfilming toe 'n Grad-missiel agter haar afgevuur is. In 2015 is sy gedwing om Kiëf te verlaat nadat 'n plaaslike joernalis, Denis Kazansky, veiligheidsdienste aangemoedig het om haar in hegtenis te neem. Kazansky het beweer dat sy 'n "'n werknemer van die Kremlin-propagandakanaal Russia Today (RT) is, wat grynsend berig het oor selfverdedigingsmagte wat Oekraïense soldate met Grad-missiele aanval." 'n Ander Oekraïense joernalis, Anatoly Sharii, het 'n YouTube-video geplaas waarin hy Kazansky beskuldig het van leuens en verdraaiing van feite.
In Junie 2018 het Slier na Kiëf gereis om 'n konferensie by te woon oor vryheid van spraak, wat deur die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa gereël is. Na haar aankoms op die Boryspil-lughawe is sy by doeane voorgekeer. Haar paspoort is weggeneem nadat dit gemerk is. Slier is toegang tot die Oekraïne (waar sy vroeër oor die konflik berig het) geweier "kragtens Oekraïense wetgewing oor grensbeheer", en is vir 8 ure by die lughawe opgehou. Slier en haar mede-joernalis, Yevgeny Primakov van die Rossiya 24-kanaal, is vir 'n termyn van vyf jaar verbied om terug te keer na die Oekraïne.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse joernaliste Kategorie:Geboortes in 1973 Kategorie:Lewende mense