duimnael|400px|Territoriale uitbreiding van die Verenigde State volgens toetreding van sy deelstate (1776–1959):

Die Verenigde State van Amerika is op die vasteland van Noord-Amerika geleë. Voordat Christopher Columbus in Amerika geland het, was die vasteland deur verskillende Eerste Nasies (Indiane) bewoon. Gedurende die groot ontdekkingstydperk het Spanje, Frankryk, Engeland, Nederland en Rusland kolonies op die vasteland gevestig. Uiteindelik het die VSA egter onafhanklikheid verkry. 'n Honderd jaar later het daar 'n burgeroorlog tussen die noordelike en suidelike deelstate uitgebreek. Emigrante van baie verskillende lande het deurentyd na die VSA getrek en aan die begin van die 20ste eeu was die VSA een van die wêreldmagte, wat dan ook na die Tweede Wêreldoorlog deel van die Koue Oorlog was.

Die Prekolumbiaanse tydperk

duimnael|links|Taos Pueblo in Nieu-Meksiko, omstreeks 1920 duimnael|Inoeïet-vrou in Alaska (1907) Die geskiedenis van die Indiaanse kolonisasie van die Amerikaanse vasteland bly nog steeds die onderwerp van navorsing. Aangesien daar geen oorblyfsels van hoogs ontwikkelde mensape gevind is nie en die Eerste Nasies (Indiane) tipiese mongoloïede kenmerke het, woord daar vermoed dat die eerste menslike bewoners vanuit Asië gekom en vir hulle immigrasie 'n landbrug gebruik het, wat in die Ystydperke met hulle laer seespieël tussen die Asiatiese en Amerikaanse vastelande bestaan het.

Die etnoloë verdeel die verskillende volke van die Eerste Nasies in twee hoofgroepe: Die vroegste immigrante wys kenmerkende lang skedels op en is later opgevolg deur 'n tweede groep met ronde skedels. Die langskedelgroep is na die westelike en oostelike randgebiede van die vasteland teruggedring, terwyl die rondskedelgroep, die sogenaamde Pueblo-Andiede groep, die sentrale gebiede bewoon het. Die Inoeïet of Eskimo's het as die derde en laaste groep na Amerika gekom.

Die stamme van die oostelike beskawings was hoofsaaklik jagters en versamelaars, maar was gedeeltelik ook akkerboere, wat bone, mielies, pampoene en meloene verbou het. Hulle het in klein gemeenskappe van tussen vyfrig en tweehonderd mense saamgewoon en word vanweë die sakrale aardhope, wat hulle gebou het, in Engels ook mound builders genoem.

Die noordwestelike beskawings was eweneens akkerboere en word vanweë hulle kookgereedskap, wat uit versierde korfskottels bestaan het, ook korfmakers (Engels: basket makers) genoem. Daarnaas het hulle vir kookdoeleindes ook stene verhit en in water geplaas, sodat hulle die tweede bynaam steenkokers (stone boilers). Die noordelike stamme se stapelvoedsel was salm, terwyl die suidelike Indiane veral eikels geëet het.

Die belangrikste groep Indiane was die suidwestelike beskawings, wat in 'n aantal groepe verdeel word en onder meer Hopi, Sjosjone, Yuma, Navajo en Apaches behels. Die sogenaamde Pueblo-akkerboere was die mees ontwikkelde Indiaanse beskawing met 'n georganiseerde landboustelsel as hulle ekonomiese basis. Die Rancheria-beskawing het ook op landbou gesteun en eenvoudige damme in die oorstromingsvlaktes van die groot riviere soos Colorado opgerig, maar daarnaas ook plante in die riviervalleie en op die mesa-plato's versamel. Die Navajo en sommige Apache-stamme was net gedeeltelik akkerboere, terwyl die oostelike Apaches en Ute heeltemaal versamelaars was.

Die behuisings van die jagters verskil volgens die diere, wat hulle oorwegend geëet het. Die visserstamme het eenvoudige hutte van bas gebou, die buffeljagters het huide en velle gebruik wat saamgenaai is. Hulle gereedskappe en voorwerpe was oorwegend van hout, huide, steen en erdewerk gemaak. Net 'n klein aantal stamme het metale soos koper gebruik. Die Cherokee in die huidige deelstate Georgia en Noord-Carolina het al boomstamme as boumateriaal vir hulle hutte gebruik.

Die Pueblo-Indiane het selfs 'n soort stedelike kultuur met kubusvormige huise ontwikkel. Die huise het oor meer as twee verdiepings beskik en was slegs deur middel van lere en vanuit die dakke toeganklik. Hierdie stamme het onder sterk kulturele invloede vanuit Meksiko gekom, van waar hulle ook die katoenvervaardiging aangeleer het. Kalkoene en honde was hulle enigste huisdiere, mielies, maniok, pampoene, tamaties, kakao, coca, sisal en tabak hulle belangrikste landbouprodukte. Die Pueblo-Indiane was bekwame pottebakkers en staan ook bekend vir hulle rituele, waarin gemaskeerde dansers, wat hulle gode versinnebeeld, 'n groot rol speel.

Die noorde en noordooste van die huidige VSA is deur die Algonkin-groep van stamme (waaronder onder meer die Delaware, Mohikaners, Illinois, Ottawa en ander), die Irokese (waaronder onder meer die Seneca en Mohawk) en die Dakota of Sioux (met onder meer die Winnebago, Iowa, Omaha en Kansas) bewoon.

Die belangrikste stamme in die suidooste was die Cherokee en die Seminoles van Florida.

Europese nedersettings Spanje

duimnael|Die Spaanse sendingstasie in die huidige Carmel (Kalifornië) met sy kenmerkende campanile (kloktoring) Spanje was die eerste Europese groot moondheid wat die Noord-Amerikaanse vasteland vanuit die suide begin verken het. Die groot dryfkragte agter die Spaanse ekspedisies was van ekonomiese en godsdienstige aard: Hulle was enersyds op soek na goud en silwer, en andersyds het hulle weens hulle sendingbewussyn daarin belang gestel om die inheemse bevolking te kersten.

Die goewerneur van die eiland Puerto Rico, Juan Ponce de León, het op Paassondag van die jaar 1513 naby die huidige stad St. Augustine voet aan wal gesit en die gebied Pascua florida genoem, waarvan later ook die naam van die deelstaat Florida afgelei is. By sy terugkeer agt jaar later is Ponce de León deur Indiane aangeval en dodelik gewond.

Die eerste Spaanse nedersetting, Fort St. Augustine, is eers in 1565 opgerig en het later die beginpunt van 'n Spaanse sendingpad geword, wat na Pensacola aan die Golfkus en verder weswaarts tot by San Diego aan die weskus geloop het. Ander ekspedisies is in die 1530's en 1540's vanuit Meksiko uitgestuur en het moontlik gebiede tot by die huidige Kansas in die noorde verken, maar alle kragte is tevergeefs ingespan – in teenstelling met hulle Suid-Amerikaanse kolonies het die Spanjaarde in die noorde geen edelmetale ontdek nie. Die grotendeels woestynagtige terrein en Indiaanse aanvalle het verdere ekspedisies verhoed, en die Spanjaarde het liewer by die meer gevorderde Pueblo-Indiaanse beskawings in die suidweste met hulle sendingwerk begin.

'n Aantal huidige Amerikaanse stede is as Spaanse sendingstasies, handelsposte en administratiewe setels gestig: Villa Real de la Santa Fé de San Francisco (later verkort tot Santa Fé) in Nieu-Meksiko (1609), Fort San Carlos (die voorloper van die stad Pensacola in Florida, 1698) en die presidios (versterkte sendingstasies) in die omgewing van El Paso en San Antonio in Texas.

In die uitgestrekte gebied het die Spanjaarde met hulle klein aantal nedersettings voorlopig net 'n swak posisie ingeneem. Eers toe die Britte en Franse hulle Noord-Amerikaanse besittings in die 18de eeu begin uitbrei het, het ook Spanje se aktiwiteite veral in Kalifornië versterk. Die Spanjaarde het op hierdie gebied aanspraak gemaak as deel van Columbus se ontdekkings, en hulle was verontrus toe die Deense seevaarder Vitus Bering die Noord-Pasifiese kusgebiede in 1741 in Russiese opdrag begin verken het.

In 1763 is die Spaanse nedersetting San Diego aan die Pasifiese kus gestig. Die sterk noordoostelike passaatwinde in die gebied het egter die seevervoer van goedere uit Acapulco (Meksiko) na San Diego erg belemmer, en dit het skepe dikwels vyftig dae geneem om die relatief klein seereis te onderneem. Gevolglik is goedere vanuit Laredo op die skiereiland Baja California (Neder-Kalifornië) op paaie vervoer. Die Spanjaarde het strategies geleë plekke gekies om 'n aantal verdere Kaliforniese sendingstasies te stig, en in die tydperk tussen 1769 en 1823 het 25 stasies langs die sogenaamde Camino Real (Engels: Mission Trail) tussen San Diego en San Francisco ontstaan.

In teenstelling met die Pueblo-Indiane van Nieu-Meksiko was die Kaliforniese Eerste Nasies jagters, vissers en versamelaars en was dus nie in staat om die Spaanse stasies met landbouprodukte te voorsien nie. Die stasies was genoodsaak om selfversorgend te wees en het tot klein landbousentrums ontwikkel, wat naas veeteelt op die verbouing van inheemse wynsoorte, olywe, graan, groente en vrugte toegespits het. Droogtes en watertekorte het besproeiing van groente- en vrugtetuine steeds moeilik gemaak, en 'n aantal stasies is selfs na meer geskikte plekke verskuif. Die nomadiese Indiane van die gebied het hulle nouliks in die stasies gevestig, en daar was ook geen noemenswaardige immigrasie van Spaanse setlaars nie. Die stasies was deur half-feodale strukture gekenmerk, en min Indiane het op 'n vrywillige basis vir die Spanjaarde gewerk. Siektes en mishandelings het duisende menselewens geëis, en slegs die helfte van die oorspronklike 600 000 inheemse bewoners het die Spaanse heerskappy oorleef.

Nadat Meksiko ná die Onafhanklikheidsoorlog van Spanje onafhanklik geword het, het die stasies minder belangrik geword, en hulle is in 1836 volkome gesekulariseer. As gevolg van die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog het Meksiko sy gebiede noord van die skiereiland Baja California en die Rio Grande in Texas in 1848 aan die Verenigde State afgestaan. In hierdie periode het met die goudstormloop van Kalifornië die Amerikaanse kolonisasie van die gebied begin.

Frankryk

duimnael|'n Balkon in die Franse buurt van New Orleans Frankryk se koloniale aktiwiteite is steeds deur sy politieke betrokkenhede op die Europese vasteland belemmer, en die godsdienstige verdeeldheid in die 16de eeuse Frankryk is weerspieël deur die stigting van afsonderlike Protestantse en Rooms-Katolieke nedersettings in Noord-Amerika.

Die Italiaanse seevaarder Giovanni da Verrazano het in 1524 in Franse opdrag onder meer die skiereiland Manhattan verken, terwyl Jacques Cartier in 1534 die huidige Quebec bereik het. Die erste Franse nedersettings het egter eers in die tydperk tussen 1562 en 1564 ontstaan, toe Hugenote 'n kolonie noord van die skiereiland Florida gestig het. Hierdie nedersetting is deur die Spanjaarde as 'n bedreiging vir hulle eie gebiede beskou en gevolglik vernietig.

Die eerste permanente nedersettings is dus in die noorde gestig: Port Royal aan die suidoewer van die Fundybaai in die jaar 1605, en drie jaar later Quebecstad. Vanuit Nieu-Brunswick, Nova Scotia, Prins-Edward-eiland en die Sint-Laurensriviergebied het die Franse 'n baie groot gebied in Noord-Amerika verken. Pelshandelaars het tot by die Groot Mere getrek en die sogenaamde portages ontdek – smal strepe land tussen twee rivierlope, waar bote maklik na die ander rivier gedra kon word. Die Franse het vinnig die boloop van die Mississippirivier bereik, en in 1682 het Sieur de la Salle danksy hierdie groot waterweg tot by die Mississippi-rivierdelta gevaar en die gebied ter ere van koning Lodewyk Louisiana genoem. Louisiana het die belangrikste Franse kolonie op die gebied van die huidige Verenigde State geword, en met New Orleans het die Franse hier ook 'n belangrike seehawe gestig. Die res van die kolonie was egter byna onbevolk, en in die volgende dekades het slegs klein ekspedisies vanaf New Orleans vertrek om nedersettings langs die Mississippi tot by die huidige deelstate Illinois en Wisconsin te stig. In die laasgenoemde gebiede is lood ontgin.

Toe Frankryk sy kolonie Louisiana aan die Verenigde State verkoop het, was daar talle parogieë waar Frans as omgangs- en kerktaal gebesig is. In die laaste tweehonderd jaar het die gebruik van Frans egter sterk afgeneem. Maar stede soos Mobile en New Orleans pronk nog steeds met 'n ryk argitektoniese erfenis uit die Franse tydperk, veral in die Vieux carré of Franse kwartier.

Engeland

duimnael|'n Bronsstandbeeld van William Penn op die Raadsaal van Philadelphia (Pennsilvanië)