Die Boedapest Strykkwartet was 'n strykkwartet wat vanaf 1917 tot 1967 bestaan het. Dit het oorspronklik uit drie Hongare en 'n Nederlander bestaan. Teen die einde van die bestaan daarvan het die kwartet uit vier Russe bestaan. 'n Groot aantal opnames was vir HMV/Victor (later EMI) tot 1938 gemaak; vanaf 1940 tot 1967 het dit opnames vir Columbia Records gemaak. Bykomend hiertoe, was verskeie van die kwartet se uitvoerings lewendig opgeneem by die Biblioteek van die VSA Kongres en ander liggings.

Lede

1ste Viool: Emil Hauser (1893–1978) (van 1917 tot 1932) Josef Roisman (Joe) (1900–1974) (van 1932 tot 1967)

2de Viool: Alfred Indig (1892–?)(van 1917 tot 1920) Imre Pogany (1893–1975) (van 1920 tot 1927) Josef Roisman (Joe) (1900–1974) (van 1927 tot 1932) Alexander Schneider (Sasha) (1908–1993) (van 1932 tot 1944 en van 1955 tot 1967) Edgar Ortenberg (1900–1996) (van 1944 tot 1949) Jac Gorodetzky (1913–1955) (van 1949 tot 1955)

Altviool: István Ipolyi (1886–1955) (van 1917 tot 1936) Boris Kroyt (1897–1969) (van 1936 tot 1967)

Tjello: Harry Son (gebore Henri Mozes Son) (1880–1942) (van 1917 tot 1930) Mischa Schneider (1904–1985) (van 1930 tot 1967)

Geskiedenis van die kwartet

Stigting

Die Boedapest Strykkwartet was in 1917 deur vier vriende gestig wat almal lede van opera-orkeste was wat na die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ophou speel het. Die lede was almal leerlinge van Jenő Hubay (viool), 'n Hongaarse leerling van Joseph Joachim; en David Popper, 'n Boheemse tjellis. Hubay en Popper het daartoe bygedra om van Boedapest 'n belangrike sentra vir musikale opvoeding te maak, wat bekende studente soos Joseph Szigeti aangetrek het. Hubay en Popper was, wat betref die formasie van twee ander kwartette wat hul name gedra het, ondersteuners van Sándor Végh en Feri Roth, en was self deel van 'n vroeëre Boedapest Kwartet uit 1886, met die nuwe kwartet wat ter ere van dié eertydse kwartet 'n gelyke benaming ontvang het. Die debuut uitvoering van die nuwe Boedapest Kwartet (in Hongaars: Budapesti Vonósnégyes) het in Desember 1917 in Kolozsvár (toe in Hongarye, nou bekend as Cluj-Napoca, en geleë in die teenswoordige Roemenië) plaasgevind.Brandt (1993) pp 32–38

Die kwartet is op die been gebring met die volgende reëls:

Alle dispute, van musikale- of sake-aard, moes deur 'n stemming opgelos word. In die geval van 'n staking van stemme, sou daar geen verandering wees nie. Spelers sou nie toegelaat word om betrekkinge buite die kwartet aan te neem nie. Spelers sou gelyke soldy ontvang, insluitende Eerste Viool, wat nie op meer geregtig sou wees nie. Geen vroue/gades of vriendinne sou gedurende repetisies of gesprekke toegelaat word nie.

Geen vorige kwartet het gepoog om geheel en al van hul opbrengste te leef nie. Dit was derhalwe 'n brawe besluit vir daardie era gewees. Veel later, in Julie 1930, het die lede 'n verdere reël bygevoeg ten einde die kwessie van gelykop-stemme aan te spreek: Een speler, by wyse van 'n lootjie gekies, sou 'n beslissende stem hê. Sy voorletters sou geskryf word op die musiek, en hy sou altyd die ekstra stem vir daardie spesifieke stuk hê. Indien hy vervang is, sou sy opvolger sy stemregte erf.Brandt bl. 50

Die oorspronklike lede was Emil Hauser, 24 jaar oud, van Boedapest; Alfred Indig, 25, van Hongarye; István Ipolyi, 31-jarig, van Újvidék in Hongarye; en laastens Harry Son van Rotterdam in Nederland.

Indig het in 1920 ter najaging van beter vooruitsigte bedank. Hy is deur Imre Pogany vervang, 'n boorling van Boedapest wat onder Hubay en Zoltán Kodály studeer het. Nadat hy bedank het, het Indig 'n solis by die Amsterdamse Concertgebouw-orkes geword; en in 1931 het hy die konsertmeester van die Berliner Philharmoniker geword. Toe die Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het, het Indig na Parys gevlug waar hy vir 'n rukkie 'n ander kwartet gelei het. Het het in 1951 na Amsterdam getrek, en daarna na Parys teruggekeer. Die datum en plek van sy dood is onbekend.Brandt pp 62–63

Die skuif na Berlyn

In omstreeks 1921 of 1922 het die kwartet as gevolg van politieke onrus in Boedapest na Berlyn verhuis waar die groep 'n groot repertorium ontwikkel het maar slegs gemengde welslae behaal het en gemengde resensies ontvang het. Die kwartet het in 1925 sy buiging in Londen gemaak en 'n opname-kontrak aangegaan met His Master's Voice (nou EMI). Die kwartet het opnames gemaak by HMV se Ateljee B by Hayes en die Queen's Hall.Alan Kelly: The Gramophone Company Limited His Master's Voice Matrix Series prefixed Bb/Cc Recorded by Various Experts for Head Office 15 March 1921 to 31 December 1930. August, 2000.

Pogany het in Mei 1927, sonder om die ander kwartetlede daarvan te verwittig, na Cincinnati gereis om sy vriend, die dirigent Fritz Reiner toe te spreek betreffende 'n geleentheid in sy simfonie-orkes. Gevolglik was hy die pos van prinsipiële tweede viool aangebied, wat hy egter op daardie tydstip afgekeer het. Die ander lede van die kwartet was woedend, want indien hy wel sou besluit om die kwartet te verlaat sou hulle dit uiters uitdagend gevind het om betyds repetisies te hou en 'n speler vir die nuwe seisoen te vind. In die gevolglike rusie wat daaruit voortgespruit het, het Pogany bedank.Brandt pp 38–40 Hy het toe na Amerika geëmigreer en hierdie keer besluit om by die Cincinnati Simfonieorkes aan te sluit en by die plaaslike konservatoria klas te gee. Hy het in 1929 na die New York Filharmoniese Orkes onder Arturo Toscanini aanbeweeg waar hy tot sy aftrede in 1958 sou bly.

Josef Roisman – tweede viool

Die aanbevole persoon om Pogany te vervang was Josef Roisman, ook bekend as Joe. Roisman is op 25 Julie 1900 in Odessa gebore, en het op die ouderdom ses die viool onder Pyotr Stolyarsky bemeester, wie ook die eerste leermeester van David Oistrakh en Nathan Milstein was. Na die tragiese vroeë afsterwe van Joe se vader, het 'n welgestelde dame van Odessa dit moontlik gemaak vir Roisman, sy suster en sy moeder, om na Berlyn te verhuis en daar onder Alexander Fiedemann te studeer. Roisman het daar bevriend geraak met Boris Kroyt, te wete nog 'n persoon van Odessa wat onder Fiedemann studeer het. Die gesin het teen die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Odessa teruggekeer waar Roisman voortgegaan het met sy studies onder Naoam Blinder, nog 'n persoon van Odessa wat sopas van Engeland af teruggekeer het.Brandt pp 27–31

Na die Russiese rewolusie moes Roisman op plase en by fabrieke gespeel. Hy het in 1923 daarin geslaag om te ontsnap terwyl hy naby Pole werksaam was. Hy het na Praag en daarna na Berlyn gereis. In Berlyn het hy weer vir Kroyt gesien, wat vir hom werk in 'n rolprentorkes gekry het. Dit was gedurende die tyd dat die aanbod van die kwartet aan hom gerig is. Roisman was gemaklik en gevestig in die orkes, maar sy eerste liefde was kamermusiek. Op die einde het sy vrou Polo hom oorreed om die finansiële risiko en opofferings te neem wat daarmee gepaard sou gaan.

Hy het dit egter onmiddellik berou. Hauser en Son was konstant aan't stry. Verder meer het Roisman sy eie kwessies gehad om te verwerk, vernaam wat Hauser en Ipolyi se onvermoë om in spiccato (Duits: Springbogen, of met 'n "springende" strykstok) te speel, sodat die kwartet geforseer was om dit nie te gebruik nie. Die res van die kwartet moes deskundiges op die gebruik van 'n ander stryktegniek (Duits: Spitzen of staccato, by die punt van die strykstok) aanleer om te vergoede vir Hauser en Ipolyi se gebrek aan spiccato-tegniek. Roisman het dit besonders moeilik en uitdagend gevind om sy styl dienooreenkomstig aan te pas. Hy moes baie ure daaraan spandeer, en was ongelukkig met die resultaat. In Duitsland was die kwartet das Spitzenquartett (nie 'n kompliment nie) genoem omdat dit Springbogen (spiccato) met Spitzen (staccato) vervang het.Brandt pp 41–42

Son kon uiteindelik in 1930/31 nie meer die aanhoudende argumente verduur nie, en het bedank. Hy het na die Palestynse mandaatgebied getrek en in konserte daar en oorsee gespeel. Kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hy die noodlottige besluit geneem om na Rotterdam terug te keer. Nadat die Duitsers Nederland ingeval het is hy en sy vrou Marianne in Amsterdam gearresteer. Hulle het in 1942 in die berugte Auschwitz-Monowitz konsentrasiekamp gesterf.Nat Brandt maak melding van Son se dood in Auschwitz in "Con Brio"; dit was die eerste keer ontdek en ingeskryf op Joods Community Monument en die Duitse Wikipedia in 2012; Sien die inskrywing vir Henri Son by Joods Community Monument welke 'n afskrif insluit van sy Amsterdamse polisieregistrasiekaart.

Mischa Schneider – tjellis

Die nuwe tjellis se naam was oorspronklik Mojzesz Sznejder, was later verduits is as 'Mischa Schneider'. Hy is in 1904 in Vilna, Rusland gebore (alhoewel sommige dit in Pole plaas in daardie tyd) (nou Vilnius, Litaue), waar die gevierde vioolvirtuoos Jascha Heifetz in 1901 gebore is, en het 'n moeilike jeug beleef. Dit het maar boomskraap gegaan, en sy vader was 'n tiran. Mischa het dikwels sy jonger broer teen hul vader verdedig. In 1920 het Mischa as sestienjarige sy ouerhuis verlaat om in Leipzig onder Julius Klengel, te wete sy onderwyser se beroemde leermeester, te studeer. Medestudente het Emanuel Feuermann, Gregor Piatigorski en Jascha Heifetz se broer Benar Heifetz ingesluit. Nadat hy gegradueer het, het hy na Frankfurt getrek waar hy by die Hoch Konservatoria klas gegee het. Hy het gevind dat hy aan verhoog-skuheid ly indien hy solo speel; maar nie 'n probleem was wanneer hy in 'n strykkwartet gespeel het nie. Hy het by die Prisca Kwartet aangesluit, maar na 'n wyle bedank as gevolg van 'n persoonlikheidsbotsing met twee ander lede. Die Prisca het dikwels in Keulen gespeel, en dit is daar wat hy die Reifenbergs leer ken het, wie se dogter Eva getroud was met Emanuel Feuermann. Dit was Frau Reifenberg wat Schneider aan die Boedapest Kwartet bekendgestel het.Brandt pp 42–53

Amerikaanse buiging

In Januarie en Februarie 1931 het die kwartet hul eerste toer in die Verenigde State meegemaak. Die resensies was redelik goed, maar vanuit 'n finansiele oogpunt gesien was die toer nie bevredigend nie. Argumente oor Spitzen vs. Springbogen strykwerk en ander aangeleenthede het bly kop uitsteek, en verhoudinge het moeilik begin word. Hauser wou toe in 1932 'n paar konserte saam met Alice Ehlers speel. Die kwartet het egter geweier om hierdie afwyking van die reëls toe te laat. Na die gevolglike argument het Hauser bedank.Brandt pp 50–53 Hy het na Jerusalem geëmigreer en 'n kwartet gevorm. Hy het ook die vooraanstaande Pools-Joodse konserviolis Bronisław Huberman gehelp om Jode uit Oostenryk, Tsjeggo-Slowakye en Duitsland te red. Hy het in 1940 na die VSA getrek waar hy aanvanklik by Bard Kollege in bo-New York staat klas gegee het en later by die Juilliard Skool van Musiek. Hauser het in 1948 na Israel teruggekeer, waar hy in 1978 op die ouderdom van vier-en-tagtig jaar beswyk het.

Roisman word die leier en Alexander Schneider die tweede violis

Nadat die kwartet vir Hauser verloor het, het dit 'n nuwe leier benodig. Om 'n onbekende speler as eerste viool aan te stel is 'n riskante stap vir 'n kwartet, en as gevolg van die gevestigde verhoudinge en 'gemaklikheidsvlak', is 'n oorskakeling van tweede na eerste viool veiliger. Om hierdie rede was Roisman uiteindelik oortuig om die oorskakeling van tweede na eerste viool te maak.Brandt pp 52–53