Emmerson Dambudzo Mnangagwa (gebore 15 September 1942) is 'n Zimbabwiese politikus wat sedert 24 November 2017 die derde president van Zimbabwe is. Hy dien ook sedert November 2017 as die president en eerste-sektretaris van ZANU–PF.

Mnanagagwa was vir lank 'n bondgenoot van voormalige president Robert Mugabe en het talle portefeuljes in Mugabe se kabinet beklee voordat Mugabe hom as die eerste vise-president van Zimbabwe aangestel het. Nadat hy as die eerste vise-president in vroeg-November 2017 afgedank is, het hy aan bewind gekom in 'n staatsgreep wat Mugabe se 37-jaar as Zimbabwiese leier beëindig het. Vroeë lewe Mnangagwa is in 1942 in die destydse Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe) gebore. Sy ouers was boere en hy en sy familie is in 1952 gedwing om na Noord-Rhodesië (vandag Zambië) te trek weens sy vader se politieke aktivisme. Daar het hy betrokke geraak in anti-koloniale politiek, en in 1963 het hy by die nuutgestigte Zimbabwe African National Liberation Army, die militante vleuel van die Zimbabwe African National Union (ZANU), aangesluit. Hy het in 1964 na Rhodesië teruggekeer as leier van die "Krokodilbende", 'n groep wat plase in wit besit in die Oostelike Hooglande aangeval het.

In 1965 het hy 'n trein naby Fort Victoria (nou Masvingo) gebombardeer en was vir tien jaar tronk toe gestuur, waarna hy vrygelaat en na die nou onafhanklike Zambië gedeporteer is. Hy het later regte aan die Universiteit van Zambië gestudeer en vir twee jaar as 'n prokureur gepraktiseer voordat hy na Mosambiek gegaan het om weer by ZANU aan te sluit. In Mosambiek is hy as Robert Mugabe se assistent en lyfwag aangestel, en hy het hom na die Lancaster House-ooreenkoms vergesel wat gelei het tot Zimbabwe se erkende onafhanklikheid in 1980.

Loopbaan in die regering Ná onafhanklikheid het Mnangagwa 'n reeks senior kabinetsposte onder Mugabe beklee. Van 1980 tot 1988 was hy die land se eerste minister van staatsveiligheid, en het toesig gehou oor die Sentrale Intelligensie-organisasie. Sy rol in die Gukurahundi-slagtings, waarin duisende Ndebele-burgers tydens sy ampstermyn vermoor is, is omstrede. Mnangagwa was Minister van Justisie, Regte en Parlementêre Sake van 1989 tot 2000 en daarna Speaker van die Parlement van 2000 tot 2005, toe hy tot Minister van Landelike Behuising aangewys is omdat hy openlik beplan het om die verouderende Mugabe op te volg. Hy het teruggekeer in Mugabe se guns tydens die algemene verkiesing van 2008, waarin hy Mugabe se veldtog gevoer het, wat politieke geweld teen die opposisie Movement for Democratic Change – Tsvangirai, georkestreer het. Mnangagwa het van 2009 tot 2013 as minister van verdediging gedien, toe hy weer minister van justisie geword het. Hy is ook in 2014 as eerste vise-president aangestel en was algemeen beskou as 'n leidende kandidaat om Mugabe op te volg.

Afdanking as vise-president Mnangagwa se opkoms is deur Mugabe se vrou, Grace Mugabe, en haar Generasie 40 politieke faksie teengestaan. Mugabe het Mnangagwa in November 2017 uit sy posisies verwyder, en hy het na Suid-Afrika gevlug. Kort daarna het generaal Constantino Chiwenga, gerugsteun deur elemente van die Zimbabwiese Weermag en lede van Mnangagwa se Lacoste politieke faksie, 'n staatsgreep teen Mugabe geloods. Nadat hy ZANU–PF se steun verloor het, het Mugabe bedank en Mnangagwa het na Zimbabwe teruggekeer om die presidentskap te aanvaar. Presidentskap (2017–hede) Op 24 November 2017 is Mnangagwa as president van Zimbabwe tydens 'n seremonie by die Nasionale Nasionale Sportstadion in Harare ingehuldig. Hy is minder as 'n jaar later vir 'n volle termyn verkies.

Nadat hy in 2023 vir 'n tweede termyn verkies is, het hy sy seun David Kudakwashe asook een van sy neefs, Tongai Mnangagwa, as adjunkministers in sy kabinet aangewys.Zimbabwe's Mnangagwa Appoints Son, Nephew to Deputy Minister Posts

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Zimbabwiese politici Kategorie:Geboortes in 1942 Kategorie:Lewende mense