Hierdie artikel handel oor die Franse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Franse nasionale vrouerugbyspan.

Die Franse nasionale rugbyspan (Frans: Équipe de France de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Frankryk in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Frankryk deur die Franse Rugbyfederasie (Fédération française de rugby, FFR) geadministreer. Frankryk neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Frankryk het die kampioenskap reeds 20 keer gewen, insluitende tien Grand Slams, en het nog agt ander kere die titel gedeel.

Frankryk se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het Frankryk by elke toernooi tot die uitklopfase gevorder. Frankryk het die eindstryd drie keer gehaal, waar hulle in 1987 en 2011 teen die All Blacks en in 1999 teen Australië verloor het. Frankryk het die Rugbywêreldbeker 2007 aangebied, maar hulle is soos tydens die Rugbywêreldbeker 2003 deur Engeland in die halfeindrondte uitgeskakel. Frankryk het as gasheer van die Rugbywêreldbeker 2023 opgetree. Al is Frankryk telkens een van die gunstelingspanne om die rugbywêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie.

Franse rugby dateer terug na 1872 toe dié sport deur Britse setlaars na Frankryk gebring is. Op Nuwejaarsdag 1906 het Frankryk sy eerste toetswedstryd teen Nieu-Seeland in Parys gespeel. Frankryk het toe sporadies teen die Tuisnasies begin speel, totdat die Franse in 1910 by die Tuisuniekampioenskap aangesluit het om die Vyfnasies (die huidige Sesnasies) te vorm. Frankryk het ook aan die rugbytoernooie van vroeë Olimpiese Somerspele deelgeneem, en die goue medalje in 1900 asook twee silwermedaljes in die 1920’s gewen. Die nasionale rugbyspan het in die 1950’s en 1960’s nog suksesse behaal en die Vyfnasies in 1959 vir die eerste keer gewen. Frankryk het hul eerste Grand Slam in 1968 ingepalm.

Frankryk speel tradisioneel in blou truie met wit broeke en rooi sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Frankryk ontleen is. Naas hul kortnaam XV de France (XV of quinze verwys na die 15 spelers) dra die span dus die byname les tricolores of les bleus. Die Franse embleem is ’n goue Galliese hoenderhaan op ’n rooi skild. Hul alternatiewe kleure bestaan uit ’n wit trui met donkerblou broeke en sokkies. Frankryk se internasionale wedstryde word op verskeie plekke dwarsdeur die land gespeel; die Stade de France in die Paryse voorstad Saint-Denis word tydens die Sesnasies-toernooi gebruik, en Frankryk het ’n indrukwekkende tuisrekord op die Stade Vélodrome in Marseille waar hulle slegs twee keer verloor het: teen Argentinië in 2004 en Nieu-Seeland in 2009. In 2002 is Frankryk deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 13 voormalige Franse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Frankryk is tans (Maart 2026) vierde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.

Beheerliggaam

duimnael|Ligging van al die spanne, wat reeds aan die Franse Top 14 deelgeneem het (rooi punte); binne die rooi lyn is Oksitanië, die tradisionele sentrum van Franse rugby Die beheerliggaam vir rugby in Frankryk is die Franse Rugbyfederasie (Fédération française de rugby, FFR). Die FFR is op 13 Mei 1919 gestig en het die sportkommissie van die polisportiewe beheerliggaam, die Unie van Franse atletiese sportverenigings (Union des sociétés françaises de sports athlétiques, USFSA), vervang. Die FFR het op sy beurt in 1934 Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa, RE) as ’n mededinger vir die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig; hulle het eers in 1978 ’n lid van laasgenoemde geword. As gevolg van die baie groter gewildheid van rugby in Suid-Frankryk was dié sport veral in Oksitanië oor dekades heen deur ’n kleinskaalse strukturering gekenmerk. In die noorde van die land het elke plaaslike beheerliggaam toesig gehou oor ’n groter geografiese gebied. As deel van ’n fundamentele strukturele hervorming van die FFR in 2018 het die destydse 26 plaaslike beheerliggame 13 nuwes gevorm, wat nou amper met die geografiese uitbreiding van dié van die Franse geweste ooreenstem.

Drie plaaslike beheerliggame is oorgrens: Aan die Ligue régionale Auvergne-Rhône-Alpes de rugby behoort ook ’n Switserse span, terwyl Andorra en Monaco onderskeidelik onder toesig van die Ligue régionale Occitanie de rugby en die Ligue régionale Provence Alpes Côte d'Azur de rugby is. Die Ligue nationale de rugby reël die professionele spelbedryf in Frankryk; hulle hou toesig oor die twee belangrikste Franse rugbytoernooie, die Top 14 met 14 spanne en die Pro D2 met 16 spanne. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Ierland, Italië, Skotland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugby-uitdaagbeker beslis.

Naas die amptelike nasionale span roep die FFR ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Frankryk oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Sedert die 2017/18-seisoen is die Franse Barbarians die tweede nasionale span van Frankryk.

Geskiedenis Vroeë jare duimnael|Die Franse keurspan in hul eerste trui (wit met die USFSA se twee ringe), voordat hulle tydens die Olimpiese Somerspele 1900 teen Groot-Brittanje speel duimnael|Die eerste Franse span wat op 1 Januarie 1906 in Parys in die eerste toetswedstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom het Britse handelaars en studente wat in die Le Havre-streek van Frankryk gewoon het, het die rugbysport na Frankryk geneem en in 1872 die eerste Franse rugbyklub, Le Havre AC, gestig. Kort daarna het die Britte die spel ook aan die Franse hoofstad Parys bekend gestel. Van dié stad het dit deur skole en universiteite oor die hele land begin versprei. Alhoewel rugby oorspronklik in Noord-Frankryk ingevoer is, is dit in Suid-Frankryk meer gewild. In Parys is rugby – net soos in Engeland – deur die hoër klas en die elitistiese bourgeoisie beoefen. In Suid-Frankryk het dit veral boere en landbouwerkers van wingerde betrek. Rugby is hier as ’n soort weerstand teen die kulturele oorheersing van die hoofstad Parys beskou. Veral laïsisties-gesinde plaaslike politici het die sport ondersteun, omdat die Rooms-Katolieke Kerk dit as ’n gewelddadige en sondige sport bestempel het. Die plaaslike bevolking het dit ook as ’n middel vir die handhawing van hul eeue oue wedywering tussen enkele valleie, dorpe en nedersettings gebruik.

Die beheerliggaam Unie van Franse atletiese sportverenigings (Union des sociétés françaises de sports athlétiques, USFSA), wat in 1890 gestig is en verskeie sportsoorte in Frankryk bestuur het, het in 1892 die eerste Rugbytoernooi aangebied (sonder spanne van buite die hoofstadgebied Île-de-France, wat eers van 1898 af kon deelneem). Die volgende jaar het die USFSA uit spelers van die Paryse klubs Racing Club de France en Stade Français ’n nasionale keurspan saamgestel, wat wedstryde teen Engelse klubs gespeel het. Tydens die Olimpiese Somerspele 1900 in Parys is ook ’n rugbytoernooi aangebied en die USFSA het weer ’n keurspan saamgestel. Ná oorwinnings oor Groot-Brittanje (met 27–8; verteenwoordig deur die Moseley Wanderers) en Duitsland (met 27–17; verteenwoordig deur die SC Frankfurt 1880) het Frankryk die goue medalje ingepalm. Die destydse Franse span word egter nie as ’n amptelike nasionale span erken nie.

Op 1 Januarie 1906 is voor ’n skare van 3 000 toeskouers op die Paryse Parc des Princes die eerste toetswedstryd gespeel. Frankryk is deur die Nieu-Seelandse All Blacks tydens hul Europatoer met 38–8 verslaan. Later het die Nieu-Seelandse spelers Dave Gallaher en Billy Stead in die tydskrif The Complete Rugby Footballer die volgende skynbaar profetiese sin oor die Franse rugby geskryf:

Op 22 Maart dieselfde jaar het Frankryk, weer in Parys, vir die eerste keer teen Engeland gespeel, en dié keer met 8–35 verloor. Frankryk het op 5 Januarie 1907 sy eerste oorsese toetswedstryd op Athletic Ground in Richmond gespeel, maar hulle is deur Engeland met 13–41 geklop. Dié wedstryd was die eerste tussen albei spanne in Engeland en is enkele dae voor die afskop van die Tuisnasies-toernooi 1907 gespeel, waarby die Franse drie jaar later sou aansluit. Twee dae vroeër het ’n ander Franse span op die Paryse Parc des Princes teen die Suid-Afrikaanse Springbokke te staan gekom. Die Franse span het uitsluitlik uit spelers van die twee Paryse klubs Stade Français en Racing Club de France bestaan. Aangesien die beste Franse spelers destyds in Engeland was, het hierdie wedstryd geen toetsstatus geniet nie. Net twee van die span wat teen die All Blacks gespeel het, het teen Suid-Afrika uitgedraf – die vleuel Paul Sagot en die flank Georges Jérôme – en geen uit die span teen Engeland nie. Die heelwat meer ervare Springbokke het 13 drieë gedruk en Frankryk met 55–6 verslaan.

Vyfnasies en Olimpiese Spele duimnael|links|Roemenië teen Frankryk tydens die Inter-Geallieerde Spele in 1919 duimnael|Die Franse nasionale rugbyspan voor die wedstryd teen Engeland in 1914 duimnael|links|Rugbywedstryd tussen Frankryk en die Verenigde State tydens die Olimpiese Somerspele 1924 duimnael|Die nasionale rugbyspan wat Frankryk tydens die Olimpiese Somerspele 1924 verteenwoordig het Frankryk het op 2 Maart 1908 vir die eerste keer Wallis ontmoet, maar hulle is met 14–36 verslaan, en op 20 Maart 1909 het Frankryk vir die eerste keer teen Ierland gespeel en met 8–19 verloor. Daarna het die beheerliggame van die Britse Tuisnasies die Franse vir hul jaarlikse toernooi genooi, waardeur die destydse Tuisnasies- die Vyfnasies-toernooi (vandag die Sesnasies-toernooi) geword het. Kort voor hul vertrek vir die eerste wedstryd tydens die Vyfnasies-toernooi 1910 teen Wallis het slegs 14 spelers by die treinstasie Parys-Saint-Lazare byeengekom, een man te min vir ’n volledige rugbyspan. Die spanbestuurder kon net betyds in ’n nabygeleë skilderyversameling ’n aan hom bekende plaasvervanger kry en hom van die saamgaan na Swansea oortuig. Gedurende die toernooi het Frankryk vir die eerste keer teen Skotland te staan gekom. Sy eerste Vyfnasies-oorwinning het Frankryk in 1911 teen Skotland aangeteken (’n naelskraapse 16–15), andersins het die Franse tydens die eerste ses toernooie slegs nederlae gely. Op 11 Januarie 1913 het die Springbokke tydens hul Europatoer Frankryk besoek; die eerste toetswedstryd tussen albei spanne het in ’n 38–5-oorwinning vir Suid-Afrika geëindig. Dié wedstryd het in ’n tydperk van 1911 tot 1920 geval, waarin Frankryk 18 agtereenvolgende wedstryde verloor het.

Die Eerste Wêreldoorlog het die internasionale spelbedryf vir vyf jaar stopgesit. Ses maande ná die wapenstilstand het die Franse op 11 Mei 1919 in ’n nieamptelike wedstryd teen die keurspan van die in Europa gestasioneerde Nieu-Seelandse Weermag te staan gekom en naelskraap met 13–14 verloor. Twee dae later het die rugbykommissie van die USFSA afgestig en met die Franse Rugbyfederasie (FFR) sy eie beheerliggaam gestig. Tydens die Vyfnasies 1920 het Frankryk vir die eerste keer Ierland verslaan. Tydens die Olimpiese Somerspele 1920 in Antwerpen, België, se rugbytoernooi was Frankryk saam met die Verenigde State die enigste deelnemers. In die enigste wedstryd van dié toernooi is die Franse verrassend met 8–0 verslaan, waarvolgens hulle net die silwermedalje gewen het. In hul laaste wedstryd tydens die Vyfnasies 1921 het Frankryk teikens van ’n nuwe sterkte getoon en Ierland met 20–10 geklop. Alhoewel Frankryk in die volgende jaar nie een wedstryd gewen het nie, het hulle teen beide Skotland en Engeland gelykop gespeel.