Avior (ook bekend as Epsilon Carinae of ε Car) is ’n dubbelster in die suidelike sterrebeeld Kiel (Carina). Met ’n skynbare magnitude van 1,86 is dit een van die helderste sterre in die naglug. Die Vals Kruis is ’n asterisme wat gevorm word deur Delta Velorum, Kappa Velorum, Iota Carinae en Avior. Dit word so genoem omdat dit soms vir die ware Suiderkruis aangesien word en dit tot navigasiefoute kan lei.

Eienskappe links|thumb|240px|’n Voorstelling van die ε Carinae-stelsel. Avior is rofweg 560 tot 660 ligjare van die Son af. Volgens metings tydens die Hipparcos-sending is die sterre 0,46 boogsekondes van mekaar af en verskil hulle magnitude met 2.

Die primêre komponent het ’n skynbare magnitude van 2,2 en sou dus op sigself die sterrebeeld se derde helderste ster gewees het. Dit is ’n geëvolueerde reusester met ’n sterreklassifikasie van K0 III. Die dowwer metgesel het ’n skynbare magnitude van 4,1. Dit is ’n warm B-tipe hoofreeksster van spektraalklas B2 Vp. Die metgesel kan self ’n F8-metgesel hê wat om hom wentel. Hulle kan ’n verduisterende dubbelster wees met ’n periode van 785 dae (2,15 jaar) wat tydens ’n verduistering ’n wisseling van 0,12 magnitudes kan ondergaan.

Name Die ster se Bayer-naam is "Epsilon Carinae". Die naam "Avior" is nie van klassieke herkoms nie. Dit is in die laat 1930's deur Her Majesty's Nautical Almanac Office daaraan gegee tydens die samestelling van die Air Almanac, ’n navigasie-almanak vir die Britse Lugmag (RAF). Van die 57 sterre wat in die nuwe almanak ingesluit is, het twee geen klassieke name gehad nie: Epsilon Carinae en Alpha Pavonis. Die RAF het daarop aangedring dat al die sterre name moet hê en nuwe name is dus geskep. Epsilon Carinae is "Avior" genoem en Alpha Pavonis is "Peacock" genoem.

In Julie 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die amptelike naam "Avior" vir die ster goedgekeur.

Verwysings

Bronne 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:K-tipe reusesterre Kategorie:B-tipe hoofreekssterre Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Kiel (sterrebeeld)