Nadat Rome, oorspronklik 'n Italiese stadjie wat lank onder die politieke en kulturele beheer van die Etruskers was, in 500 v.C. onafhanklik geword het, het die Romeine in die eerste eeue daarna meer tyd en aandag bestee aan die handhawing en uitbouing van hulle nuwe selfstandigheid as aan die ontwikkeling van die beeldende kuns.

Die toestand het egter in die loop van die 3de eeu v.C. verander, eers deur die onderwerping van die Griekse kolonies in Suid-Italië (Magna Graecia), en later vanweë die magsuitbreiding ooswaarts na die Hellenistiese wêreld: Griekeland self, Klein-Asië en Egipte. Dit in ag genome is die Romeinse kuns vroeër bloot as 'n uitloper of nabloei van die Hellenisme beskou. Dit is egter beslis te simplisties gestel, want hoewel die Griekse invloed sterk was en baie van die kunstenaars in die Romeinse tyd Grieke was, het die Romeine daarin geslaag om die Grieks-Hellenistiese elemente met hulle inheemse Italo-Etruskiese kern te vermeng.

In die proses het die Romeine nuwe aspekte beklemtoon en nuwe moontlikhede ontdek en uitgebou. Die boukuns verteenwoordig die Romeine se belangrikste prestasies op kunsgebied.

Griekse invloed Rome het egter gegroei en mettertyd al hoe meer in aanraking met die Grieke gekom. Die Romeine se houding jeens die Grieke het dus ook begin verander. 'n Romeinse digter het op 'n keer gesê dat die Grieke na hul verowering hul veroweraars verower het; wat hy hiermee bedoel het, was dat die Griekse idees 'n groot invloed op die Romeine gebad het, en dit was veral waar op die gebied van die kuns. Hierdie proses het gedurende die Tweede Puniese Oorlog begin.

In 212 v.C. het Claudius Marcellus Sirakuse, een van die belangrikste Griekse kolonies op Sicilië, verower en 'n groot aantal pragtige standbeelde en ander kunswerke na Rome teruggestuur. Die opwinding en belangstelling wat die standbeelde by hul aankoms in Rome gewek het, was so groot dat Fabius Maximus, toe hy Tarentum drie jaar later verower, die Tarentyne toegelaat het om hul eie standbeelde van hul gode te behou - hulle het in elk geval weinig artistieke waarde gebad - maar talle groot Griekse meesterstukke, onder meer 'n uitstekende bronsbeeld deur die beroemde Griekse beeldhouer Lusippos, na Rome laat bring het.

In die Senaat het Cato, beroemd vir sy verdediging van die ou sedes en die voorvaderlike leefwyse, 'n bitter aanval gedoen op hierdie versiersels, wat dan die strenge karakter van die stad sou vernietig. Maar die Romeine het nie eens na hom geluister nie. Soldate was aan die terugkeer van die oorlog in Griekeland, en hulle het talle verhale te vertel gehad van al die wondere wat hulle in die beroemde stede van Griekeland gesien het - Athene, Olumpia en Korinthe: marmergeboue versier met standbeelde, bronsbeelde, geverfde vase, gegraveerde drinkbekers van silwer, ens. 'n Liefde vir mooi dinge het by die Romeine begin posvat.

Boukuns duimnael|regs|250px|Uitsig oor die Forum Romanum in 2021 Die Romeinse boukuns word op grond van die monumentaliteit, ʼn sterker aksent op die interieur van geboue en die belangrike aandeel van utiliteitsdienste (brûe, akwadukte en so meer) van die Griekse en Etruskiese boukuns onderskei. Die uitvinding van beton in die 2de eeu v.C. was 'n belangrike tegniese ontwikkeling wat die konstruksie van boë en gewelwe moontlik gemaak het. Bak- en tufsteen is as boumateriaal gebruik; soms is dit met stuccowerk en marmerblaaie beklee en soms nie.

Die tempel het die basiese eienskappe van die Etruskiese tempel behou: Dit was reghoekig, het op 'n hoë podium gestaan en kon net van voor af binnegegaan word ('n Griekse tempel kon van alle kante betree word). Dit het beteken dat die Romeine meer aandag aan die gewel, wat op suile gerus het, gegee het. Oorspronklik was die suile van die Toskaanse bouorde, 'n vereenvoudigde weergawe van die Grieks-Doriese suile, met 'n voetstuk en sonder kannelures (oorlangse groewe).

Later is Ioniese en Korinthiese elemente oorgeneem en het daar selfs 'n kombinasie van die twee ontstaan: 'n kapiteel met Ioniese volute (krulle) en Korinthiese akantblare. Die tempel van Fortuna Virilis (of Portunus) in Rome en die Maison Carrée (Nîmes), wat albei uit die 1ste eeu v.C. dateer, is goed bewaarde vroeë voorbeelde van Romeinse tempels. Naas die soort tempels is daar ook ronde tempels gebou, onder meer die tempel van Vesta (ca. 200 n.C.) en die beroemde Panteon in Rome (27/5 v.C., ca. 120 n.C. herbou).

Laasgenoemde is van buite af ʼn onopvallende grys gebou. Aan die voorkant is daar 'n driehoekige timpaan (gewelveld) wat op Korinthiese suile rus; daaragter is daar 'n ronde gebou met 'n deursnee van 43 m en 'n hoogte van ook 43 m. Die binnekant is ryklik met suile en marmer versier, en die lig val deur ʼn opening in die middel van die koepel na binne. Die gewelf bestaan uit reghoekige blokke wat in die middel dieper uitgesny is ('n kofferplafon).

In die Renaissance het dit vir onder andere Brunelleschi, Bramante en Michelangelo as voorbeeld gedien (St. Pieterskerk, Rome). Die gevoel van monumentaliteit kom veral sterk na vore in die thermae, die openbare badhuise, wat 'n belangrike sosiale funksie as ontmoetingsplek vervul het. Die badhuise het uit talle afsonderlike ruimtes bestaan, wat aanvanklik taamlik willekeurig (Pompeji), maar later meer simmetries georden is: ʼn swembad (natatio), baddens vir koue, lou en warm water (onderskeidelik frigidarium, tepidarium en caldarium), sweetbad (laconicum), kleedkamers (apodyterium), masseer- en sportvertrekke, asook allerlei bykomende geboue en ʼn wandelpark.

Al die ruimtes is ryklik versier met motiewe wat aan die Griekse kuns ontleen is, maar wat egter hul oorspronklike funksie (by suile byvoorbeeld as stut van die dak) verloor het. Die thermae van Caracalla in Rome en die van Diocletianus is veral bekend. Die bouwerk aan eersgenoemde is in 211 n.C. begin, terwyl laasgenoemde in die 3de eeu gebou is. Die Kaiserthermae in Trier (begin van die 4e eeu n.C.) is 'n goed bewaarde kompleks uit die provinsies.

Die Romeine se voorkeur vir simmetrie kom ook na vore in die forum, die openbare plein van ʼn Romeinse stad. In Rome was die Forum Romanum nog 'n onreëlmatige plein waaraan daar met verloop van tyd steeds meer geboue verrys het: tempels, suilehalle, basilikas, eresuile, standbeelde en die verhoog of platform (die rostrum), waarvandaan toesprake gemaak is. Die onreëlmatigheid van die forum herinner 'n mens nog aan die Griekse agora (markplein).

Die sogenaamde keiserforum wat noord hiervan geleë is, is in groter mate volgens 'n vaste bouplan opgerig. Die grootste van die forums is die Forum Trajani of Forum Ulpium, wat in 114 n.C. deur die boumeester Apollodorus van Damaskus voltooi is. 'n Poortgebou verleen toegang tot 'n reghoekige plein met ʼn suilegang rondom en 'n tempel aan die oorkant. Aan die een kant van die forum was daar dikwels ʼn basilika, 'n oordekte, reghoekige hal met suile rondom waar regspraak gelewer is, handel gedryf is en so meer.

Die oudste basilikas in Rome dateer reeds uit die 2de eeu v.C. (Basilika Porcia), maar is in werklikheid nie veel meer as oordekte marksale nie. Hieruit het monumentale geboue soos die Basilika Ulpia op die Forum Trajani met halfronde uitgeboude stukke (absis) aan albei die kort kante, en die Basilika Constantini in Rome, met 'n middelskip van 35 m hoog, ontwikkel. Die vorm van die basilika het 'n belangrike rol gespeel in die latere Christelike kerke.

Die Romeinse teaters het oor die algemeen die Griekse tradisie gevolg en bestaan uit 'n halfronde ruimte vir die toeskouers, afgesluit deur die scenae frans, 'n vaste, versierde agtermuur wat as dekor gedien het. In teenstelling met die Griekse teater was die Romeinse teater nie meer 'n opeluggebou nie, maar 'n ruimte wat heeltemal afgesluit was en in die reël met ʼn hout- of seildak oordek was. Die orchestra, wat oorspronklik vir dansers en musikante bedoel was, is toe ook van sitplekke voorsien.

In Orange, Frankryk, is daar 'n goed bewaarde teater uit die tyd van keiser Augustus. Die amfiteater is 'n eie Romeinse bouvorm. Dit bestaan uit 'n ovaalvormige arena met sitplekke wat skuins na onder loop, waar daar gladiatorspele gehou is. Die oudste bewaarde amfiteater is in Pompeji (kort na 80 v.C.) en die grootste is die Amphiteatrum Flavium (Colosseum), wat tussen 70 en 100 n.C. gebou is. Dit is 188 m lank, 156 m breed en 48 m hoog (4 verdiepings).

Daar was plek vir 50 000 toeskouers, wat deur middel van 'n goed beplande stelsel van plekaanwysing vlot in en uit kon beweeg. Onder die arena was daar hokke vir die wilde diere, asook allerlei tegniese apparatuur waarmee die arena byvoorbeeld met water gevul kon word ten einde seegevegte na te boots. Ook die gebou is met seile oordek, wat selfs aangekondig is as "vela erunt" (die seile sal gespan word). Die sirkus vir die wa-wedrenne was ook ovaalvormig met oplopende rye sitplekke vir toeskouers.

'n "Ruggraat" (spina), met 'n keerpunt (meta) aan elke punt, het 'n renbaan in die arena afgebaken. Hier het die vierspan, wat deur middel van kleure in 2 groepe (rooi en wit) verdeel is, onder die fanatieke aanmoediging van die publiek teen mekaar meegeding; later het die groep of "partystryd" dikwels 'n politieke betekenis gehad. In Rome was daar verskeie sirkusse. Die oudste is die Circus Maximus, wat nog uit die koningstyd dateer. Wat suiwer dekoratiewe monumente betref, was die triomfboog, wat opgerig is as ereteken vir seevierende veldhere en keisers, iets nuuts waarmee die Romeine vorendag gekom het.

Die triomfboë het meestal een deurgang gehad en was versier met reliëfs wat die roemryke dade van die vereerdes uitgebeeld het. Op die reghoekige bostuk (attica) is daar 'n inskripsie aangebring wat ook op die vereerdes betrekking gehad het. Bo-op was daar dikwels beelde of ʼn segewa. Die bes bewaarde voorbeelde in Rome is die boog van Titus (81 n.C.) ter ere van die oorname van Jerusalem, en die Boog van Konstantyn (312- 315 n.C.). Die spiraalvormige eresuile wat met reliëfs versier was en waarop 'n beeld van die keiser (in die Christelike tyd 'n beeld van ʼn heilige) was, is ook opvallend.

Die suil van Trajanus (ca. 114 n.C.) en die suil van Marcus Aurelius (einde van die 2de eeu n.C.) in Rome is albei 35 m hoog en bestaan geheel en al uit marmer. Monumente en gebouekomplekse soos hierbo beskryf, is ook op groter of kleiner skaal in die provinsies gebou. Waar dit in Rome as manifestasie van die keiser se mag gedien het of 'n teken van sy milddadigheid teenoor die volk was, het dit in die provinsies aan plaaslike hoëlui die geleentheid gebied om hulle rykdom ten toon te stel.

Die oorblyfsels wat bewaar gebly het, gee 'n mens 'n goeie idee van die tegniese prestasies waartoe die Romeinse boumeesters, wat merendeels anoniem gebly het, in staat was en hoe hulle dit kon toepas in indrukwekkende bouwerke.

Stad- en woningbou duimnael|regs|250px|Atrium met impluvium in die Huis van die Gewonde Beer, Pompeji. 'n Mosaïekfontein is sigbaar op die agtergrond. Uit voorbeelde soos Ostia, die hawestad van Rome 1ste eeu v.C.), en Leptis Magna uit die tyd van Augustus (die huidige Misurata aan die Libiese kus) blyk dat die Romeine in die aanleg van stede hulle gehou het by die Grieks-Hellenistiese skaakbordpatroon van reghoekige blokke en strate wat mekaar loodreg kruis.

Die Romeine het dit egter gekombineer met die indeling van hulle leërkamp, wat van poort tot poort deur twee hoofstrate, die cardo (noord-suid) en die decumanus (oos-wes), in vier dele verdeel is. Waar die tent van die kommandant op die kruispunt in die kamp gestaan het, het die forum in die stad op die kruispunt gestaan. Die strate was geplavei en daar was "oorsteekplekke" wat van stapstene voorsien was, sodat voetgangers se voete skoon kon bly. Die welgesteldes het in atriumtipe huise gewoon.