Wezen (ook bekend as Delta Canis Majoris of δ CMa) is ’n ster in die sterrebeeld Groot Hond (Canis Major). Dit is ’n geelwit F-tipe superreus met ’n skynbare magnitude van 1,83. Sedert 1943 dien die spektrum van die ster as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word.
Eienskappe 240px|thumb|links|200px|’n Kunstenaar se voorstelling van Wezen, ’n geel superreus.
Wezen is die derde helderste ster in die sterrebeeld, naas Sirius en Adhara. Die sterreswerm NGC 2354 is net 1,3 grade oos van hom geleë.http://www.angelfire.com/ky/astronomers/Canis.html Nes die res van die Groot Hond is die ster in die winter in die Suidelike Halfrond sigbaar en in die somer in die Noordelike Halfrond.
Dit is ’n superreus met ’n sterreklassifikasie van F8 en ’n radius van omtrent 215 keer dié van die Son. Die effektiewe temperatuur op sy oppervlak is sowat 5 818 K en sy massa is 17 keer die Son s'n.
Wezen se absolute magnitude is -6,87 en dit is omtrent 1 600 ligjare ver. Dit is net sowat 10 miljoen jaar oud en het reeds die waterstof in sy kern opgebruik en weg van die hoofreeks geëvolueer. Dit sal binne die volgende 100 000 jaar ’n rooisuperreus word terwyl sy kern al hoe swaarder elemente verbrand. Sodra dit ’n kern van yster het, sal dié instort en die ster sal as ’n supernova ontplof.
As Wezen so naby aan die Aarde was as Sirius, sou dit so helder soos ’n halfmaan gewees het.
Name Die ster se Bayer-naam is "Delta Canis Majoris". Die tradisionele naam, "Wezen" (ook "Wesen" of "Wezea"), kom van die Arabiese وزن al-wazn, "gewig". Die naam was vir ’n sterpaar, waarvan die ander een "Hadar" was, wat nou as Beta Centauri bekend is. Dit is onduidelik of die sterpaar oorspronklik Alpha en Beta Centauri of Alpha en Beta Columbae was. Op die een of ander manier is die naam egter vir beide Delta Canis Majoris en Beta Columbae gebruik.
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam Wezen vir Delta Canis Majoris goedgekeur.
Kultuuraspek Wezen verskyn op die vlag van Brasilië en simboliseer die staat Roraima.
Verwysings
Bronne 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:F-tipe superreuse Kategorie:Groot Hond