Epsilon Canis Majoris (afgekort as ε CMa) is ’n dubbelster en, ondanks sy Bayer-aanwysing van epsilon, die tweede helderste ster in die sterrebeeld Groot Hond (Canis Major). Met ’n skynbare magnitude van 1,5 is dit een van die helderste sterre in die naglug. Sowat 4,7 miljoen jaar gelede was dit die helderste ster, met ’n skynbare magnitude van -3,99. Volgens parallaksmetings is dit sowat 430 ligjare van die Son af.

Die twee komponente word ε Canis Majoris A (amptelik bekend as Adhara) en B genoem.

Name Die dubbelster se Bayer-naam is "Epsilon Canis Majoris". Dit het die tradisionele naam "Adhara" gehad, van die Arabiese woord عذارى aðāra, "maagde". In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) dié naam vir Epsilon Canis Majoris A goedgekeur, aangesien hulle eiename eerder aan individuele sterre as aan stelsels toegeken het.

Eienskappe Epsilon Canis Majoris is ’n dubbelster. Die primêre ster, ε Canis Majoris A, het ’n skynbare magnitude van 1,5 en het die sterreklassifikasie B2. Sy kleur is blou of witblou vanweë sy effektiewe temperatuur van 22 200 K. Sy ligsterkte is 38 700 keer dié van die Son en dit is die helderste bekende ultravioletbron in die lug.

Dit het ’n metgeselster, ε Canis Majoris B, sowat 7,5 boogsekondes van hom af. Ongeag die relatief groot hoekafstand kan die komponente net met groot teleskope van mekaar onderskei word omdat die primêre ster sowat 250 keer helderder as sy metgesel is.

Sowat 4,7 miljoen jaar gelede was Adhara 34 ligjare van die Son af en was dit die helderste ster, met ’n magnitude van . Geen ander ster was sedertdien so helder nie, en geen ander ster sal vir die volgende minstens 5 miljoen jaar so helder wees nie.

Kultuuraspek Epsilon Canis Majoris verskyn op die nasionale vlag van Brasilië en verteenwoordig die staat Tocantins.

Verwysings

Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:B-tipe helder reuse Kategorie:Groot Hond