Leopold Anthony Stokowski (18 April 1882–13 September 1977) was 'n Engelse dirigent. Hy was een van die leidende dirigente van die vroeë en middel 20ste eeu, en is die beste bekend om sy lang assosiasie met die Philadelphia Simfonieorkes en sy verskyning in die Disneyrolprent Fantasia. Hy was veral bekend vir sy vryhandige styl van dirigeer (die verwerping van die dirigeerstok) en vir die verkryging van 'n kenmerkend weelderige klank vanuit die orkeste wat hy gedirigeer het.
Stokowski was musikale direkteur van die Cincinnati Simfonieorkes, die Philadelphia Simfonieorkes, die NBC Simfonieorkes, New York Filharmoniese Orkes, die Houston Simfonieorkes, die Symphony of the Air en vele ander. Hy was ook die stigter van die All-American Youth Orchestra), die New York Stad Simfonieorkes, die Hollywood Bowl Simfonieorkes en die Amerikaanse Simfonieorkes.
Stokowski het die musiek gedirigeer vir, en verskyn, in verskeie Hollywood rolprente, mees noemenswaardig Walt Disney-prente se Fantasia. Hy was 'n lewenslange voorstander van hedendaagse komponiste, en het baie eerste opvoerings gegee van nuwe musiek gedurende sy 60-jaar dirigent-loopbaan. Stokowski, wat sy amptelike dirigeerbuiging in 1909 gemaak het, het in 1975 vir die laaste keer in die openbaar verskyn maar het voortgegaan om tot Junie 1977 opnames te maak, wel 'n paar maande voor sy dood op die ouderdom van 95 jaar.
Biografie Vroeë lewe Stokowski is as die seun van 'n Engelsgebore kabinetmaker van Poolse afkoms, Kopernik Joseph Boleslaw Stokowski, en sy Northampton-gebore vrou Annie-Marion (née Moore), gebore. Stokowski is gedoop as Leopold Anthony Stokowski, alhoewel hy in sy latere lewe sy middelnaam verander het na Antoni, soos per die Poolse spelling. Daar bestaan ietwat van 'n misterie betreffende sy vroeë lewe. Hy het byvoorbeeld met 'n ongewone, nie-Britse aksent gepraat, alhoewel hy gebore is en grootgeword het in Londen. Stokowski het ook by geleentheid sy geboortedatum as 1887 pleks van 1882 aangegee, soos bv. in 'n brief aan die Hugo Riemann Musiklexicon in 1950, wat ook verkeerdelik sy geboorteplek vermeld as Krakau, Pole. Nicolas Slonimsky, die redakteur van Baker's Biographical Dictionary of Musicians, het 'n brief van 'n Finse ensiklopedie-redakteur ontvang wat gekonstateer het, "Die Maestro self, het my vertel dat hy in 1889 in Pomerania, Duitsland gebore was." In Duitsland was daar 'n ooreenstemmende gerug dat sy oorspronklike naam bloot eenvoudig "Stock" (Duits vir "stok") was. Stokowski se geboortesertifikaat (geteken deur J. Claxton, die registrateur by die Algemene Kantoor, Somerset House, Londen, in die wyk van All Souls, Middlesex) gee egter sy geboortedatum en -plek aan as 18 April 1882, by Upper Marylebone Straat 13 (nou New Cavendish Straat), in die Marylebone Distrik van Londen. Stokowski was vernoem na sy Pools-gebore oupa Leopold, wat op 13 Januarie 1879 op die ouderdom van nege-en-veertig in die Engelse county van Surrey oorlede is.Abram Chasins, Leopold Stokowski, a profile, pp. 1-3 (New York: Da Capo Press, 1979)
Die "geheim" betreffende sy oorsprong en aksent word uitgeklaar in Oliver Daniel se 1000-bladsy biografie Stokowski – A Counterpoint of View (1982), waarin Daniel (in Hoofstuk 12) onthul dat Stokowski onder die invloed van sy eerste vrou, die pianis Olga Samaroff, gekom het. Samaroff, gebore as Lucy Mary Agnes Hickenlooper, was afkomstig van Galveston, Texas, en het 'n meer eksoties-klinkende naam aangeneem ten einde haar loopbaan te bevorder. Sy het Stokowski vir professionele – en loopbaanredes aangespoor om slegs die Poolse aspek van sy agtergrond te benadruk toe hy 'n inwoner van die Verenigde State geword het. Hy het gestudeer by die Koninklike Kollege van Musiek, waar hy die eerste keer op die ouderdom van slegs 13 jaar in 1896 ingeskryf het, welke hom een van die jongste studente gemaak het om so te doen.
Stokowski sou in sy latere lewe in die Verenigde State ses van die nege simfonieë wat deur sy mede orrelstudent, Ralph Vaughan Williams, geskryf is, opvoer. Stokowski het in die koor van die St Marylebone Parish Church gesing, en hy het later die assistent orrelis tot Sir Walford Davies by die Temple Church geword. Teen die ouderdom van sestien was Stokowski verkies tot lidmaatskap van die Koninklike Kollege van Orreliste. In 1900 het hy die koor van Sint Mary's Kerk, Charing Cross Weg, gevorm, waar hy koorseuns opgelei het en die orrel gespeel het. In 1902 was hy aangestel as die orrelis en koordirekteur van Sint James Kerk, Piccadilly. Hy het ook The Queen's College, Oxford bygewoon, waar hy 'n B.A.-graad in Musiek in 1903 behaal het.
New York, Parys en Cincinnati In 1905 het Stokowski in New York Stad as die orrelis en koordirekteur van die Sint Bartholomeus Kerk begin werk. Hy was baie gewild onder die gemeentelede, welke lede van die Vanderbilt familie ingesluit het. Hy het egter met verloop van tyd uit sy pos bedank ten einde 'n loopbaan na te jaag as 'n dirigent. Stokowski het derhalwe na Parys getrek ten einde bykomende studies in dirigeerskap te kan bywoon. Hy het aldaar verneem dat die Cincinnati Simfonieorkes 'n nuwe dirigent sou benodig wanneer dit teruggekeer van 'n lang sabbatsverlof. In 1908 het Stokowski 'n aanvang geneem met 'n veldtog om die posisie te wen. Hy het briewe aan mev. Christian R. Holmes, die simfonieorkes se president, geskryf, en al die pad na Cincinnati, Ohio gereis vir 'n persoonlike onderhoud.
Stokowski was bo die ander applikante verkies, en het aan die einde van 1909 sy pligte opgeneem. Dit was ook die jaar van sy amptelike dirigeer-buiging in Parys saam met die Colonne Orkes op 12 Mei 1909, toe Stokowski sy voorgenome bruid, die pianis Olga Samaroff, tydens 'n opvoering van Pjotr Tsjaikofski se Klavierconcerto No. 1 begelei het. Stokowski se dirigeer-buiging in Londen het die volgende week op 18 Mei plaasgevind saam met die New Symphony Orchestra by Queen's Hall. Sy betrokkenheid as die nuwe permanente dirigent in Cincinnati was 'n reuse sukses. Hy het die begrip van "popkonserte" bekendgestel en sedert sy eerste seisoen, het hy opgetree as voorstander van die werke van lewende komponiste. Sy konserte het opvoerings van die werke van Richard Strauss, Sibelius, Rachmaninoff, Debussy, Glazoenof, Saint-Saëns en baie ander ingesluit. Hy het opgetree as dirigent tydens die Amerikaanse buigings van nuwe werke deur komponiste soos Elgar, wie se 2de Simfonie die eerste keer daar opgevoer is op 24 November 1911. Hy sou regdeur sy loopbaan volhou met die bevordering van kontemporêre musiek. Stokowski het egter vroeg in 1912 gefrustreerd geraak met die politiekery van die orkes se Raad van Direkteure, en sy bedanking ingedien. Daar was 'n twispunt betreffende of die bedanking aanvaar moet word of nie; maar op 12 April 1912 het die raad besluit om dit te aanvaar.
Philadelphia Simfonieorkes Stokowski was twee maande later aangestel as die direkteur van die Philadelphia Simfonieorkes, en hy het op 11 Oktober 1912 sy buiging in Philadelphia gemaak. Die pos sou hom van sy grootse prestasies en erkenning besorg. Dit is al voorgestel dat Stokowski op abrupte wyse by Cincinnati bedank het met die heimlike kennis dat die pos in Philadelphia syne sou wees wanneer hy dit gesoek het, of soos Oscar Levant dit gestel het in sy boek, A Smattering of Ignorance; "hy het die kontrak in sy broeksak gehad." Voordat Stokowski hom gevestig het in sy pos in Philadelphia het hy egter eers terug geseil na Engeland ten einde twee konserte by die Queen's Hall in Londen te dirigeer. Op 22 Mei 1912 het Stokowski die Londen Simfonieorkes gedirigeer in 'n konsert wat hy sestig jaar later op die ouderdom van negentig jaar volledig sou herhaal, en op 14 Junie 1912 het hy 'n konsert gedirigeer wat geheel en al bestaan het uit werke van Wagner, waarin die gerekende sopraan Lillian Nordica opgetree het. Terwyl hy direkteur was van die Philadelphia Simfonieorkes was hy grootliks verantwoordelik daarvoor om Mary Louise Curtis Bok te oortuig om die Curtis Institute of Music (13 Oktober 1924) in Philadelphia te stig. Hy het ook hand bygesit met die werwing van fakulteitslede, en het baie van hul gegradueerdes aangestel.
Stokowski het vinnig 'n reputasie as 'n windmaker verkry. Sy flair vir die teatrale aspek het grootse gebare ingesluit, soos die neerwerp van die partituur op die vloer ten einde te wys dat hy nie nodig het om vanaf 'n partituur te dirigeer nie. Hy het ook geëksperimenteer met nuwe beligting in die konsertsaal, en op een punt in 'n donker saal gedirigeer met slegs sy hoof en hande wat belig is. By ander geleenthede het hy die ligte so rangskik dat dit teatrale skadu's op sy hoof en hande gelaat het. Laat in die 1929-1930 simfonie seisoen, het Stokowski sonder 'n dirigeerstaf begin dirigeer. Sy vrye-hand manier van dirigeer het gou een van sy kenmerke geword. Aan die musikale kant het Stokowski die orkes gekoester en die "Stokowski" klank gevorm, of wat weldra bekend sou staan as die "Philadelphia klank". Hy "vye bestryking" deur die strykinstrument afdeling aangemoedig, asook "free breathing" van die koperblaasinstrument seksie. Hy het ook aanhoudend die sitreëlings van die orkes se afdelings verander, sowel as die akoestiek van die saal, ter bevrediging van sy drang om 'n beter, suiwerder klank voort te bring. Stokowski word daarmee gekrediteer dat hy die eerste dirigent was om die sit reëling aan te neem wat vandag deur die meeste orkeste gebruik word, met die eerste en tweede viole saam aan die dirigent se linkerkant, en die altviole en tjellos aan sy regterkant.Preben Opperby, Leopold Stokowski, Great Performers, Tunbridge Wells, Kent: Midas / New York: Hippocrene, 1982, , p. 127, reproduces four of Stokowski's seating plans, of which illustration No. 2 shows the string sections as here described. duimnael|250px|Stokowski en die Philadelphia Simfonieorkes by die 2 Maart 1916 Amerikaanse premier van Gustav Mahler se Simfonie van 'n Duisend/Agste Simfonie Stokowski het ook bekend geword daarvoor dat hy die orkestrasie van sommige van die werke wat hy gedirigeer het gewysig het, synde 'n standaardpraktyk van dirigente voor die tweede helfte van die 20ste eeu. Hy het onder andere die orkestrasie van Beethoven, Pjotr Tsjaikofski, Sibelius, Johann Sebastian Bach, en Brahms verander. Stokowski het bv. die einde van die Romeo en Juliet Ouverture deur Tsjaikofski gewysig sodat dit rustig sou eindig. Hy het dié idee van Modest Tsjaikofski se Life and Letters of Peter Ilych Tchaikovsky (vertaal deur Rosa Newmarch: 1906) ; naamlik dat die komponis 'n rustige einde van sy eie voorsien het op Mily Balakiref se voorstel; gekry. Stokowski het sy eie orkestrasie van Moessorgski se Nag Op 'n Kaal Berg gemaak deur Rimski-Korsakof se orkestrasie aan te pas en deur dit by sommige plekke soortgelyk aan Moessorgski se oorspronklike te laat klink. In die rolprent Fantasia, ten einde te bly by die Disney kunstenaars se storielyn, wat die geveg tussen die goeie en die bose uitbeeld, is die einde van Nag Op 'n Kaal Berg versmelt in die begin van Schubert se Ave Maria.
Baie musiekkritici het al eksepsie geneem teen die vryhede wat Stokowski homself toegeëien het – vryhede wat in die neëntiende eeu 'n algemene verskynsel was, maar meestal in die twintigste eeu uitgesterf het, toe getroue nakoming aan die komponis se wense meer algemeen begin raak het.