Atria (ook bekend as Alpha Trianguli Australis of α TrA) is die helderste ster van die sterrebeeld Suidelike Driehoek (Triangulum Australe). Dit is die een punt van ’n driehoek wat dit vorm saam met die sterre Beta en Gamma Trianguli Australis, waarvan die sterrebeeld se naam afgelei is.
Name Die ster se Bayer-naam is "Alpha Trianguli Australis". Die historiese naam, "Atria", is ’n verkorting daarvan. In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) dié naam vir die ster goedgekeur.
Eienskappe Atria is ’n helder reus met ’n skynbare magnitude van 1,91. Volgens parallaksmetings is dit rofweg 391 ligjare van die Son af. Die geraamde ouderdom daarvan is 48 miljoen jaar; oud genoeg dat dit weg van die hoofreeks geëvolueer en ’n reusester geword het. Sy massa is sowat sewe keer dié van die Son, maar sy ligsterkte 5 500 keer die Son s’n. Die effektiewe temperatuur van sy buitenste laag is 4 150 K, wat dit die tipiese oranje kleur van ’n K-tipe ster gee. Met ’n deursnee van 130 keer die Son s’n sou dit amper tot by Venus se wentelbaan gestrek het as dit in die middel van die Sonnestelsel geplaas sou word.
Daar is bewyse dat Atria ’n dubbelster is. Dit toon ongewone eienskappe vir ’n ster van sy klas, insluitende stervlamme en ’n groter as gewone uitstraling van X-strale. Dit kan verduidelik word aan die hand van ’n jong, magneties aktiewe metgeselster met ’n klassifikasie van sowat G0 V. So ’n ster sal omtrent dieselfde massa as die Son hê en ’n wentelperiode van minstens 130 jaar. Jong G-tipe sterre het ’n korona met ’n hoë temperatuur en stel gereeld vlamme vry wat ’n skielike toename in helderheid tot gevolg het. Die twee sterre kan sowat 50 AE van mekaar af lê.
Kultuuraspek Atria verskyn op die vlag van Brasilië en simboleer die staat Rio Grande do Sul.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:K-tipe helder reuse Kategorie:Suidelike Driehoek