Meridiana (ook Alpha Coronae Australis of α CrA genoem) is die helderste ster in die sterrebeeld Suidelike Kroon (Corona Australis) en is sowat 125 ligjare van die Son af.
Naam Die ster se Bayer-naam is "Alpha Coronae Australis". Dit is die enigste ster in die sterrebeeld met ’n tradisionele eienaam, "Alphekka Meridiana" (Latyn vir "Alphekka-Suid"), na Alphecca, die helderste ster in die Noordelike Kroon. Die naam "Alphecca" of "Alphekka" is Arabies, kort vir نير الفكّة nayyir al-fakka, "die helder (ster) van die gebroke (ring sterre)". Die naam "Meridiana" is op 5 September 2017 deur die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) vir die ster goedgekeur.
Eienskappe
Meridiana se spektraaltipe is A2 Va en dit is dus ’n A-tipe ster, nes Vega. Nes Vega, het dit ’n oormaat infrarooistraling, wat daarop dui dat dit deur ’n skyf stof omring word. Dit het ’n skynbare magnitude van 4,1 en sy massa en radius is na raming 2,3 keer dié van die Son. Met ’n oppervlaktemperatuur van rofweg 9 100 K is sy ligsterkte 31 keer die Son s'n. Meridiana is rofweg 254 miljoen jaar oud. Dit roteer vinnig, teen amper 200 km/s by die ewenaar, en maak ’n volledige rotasie in sowat 14 uur, naby aan sy opbreekspoed.
Verwysings
Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:A-tipe hoofreekssterre Kategorie:Suidelike Kroon