Delta Capricorni (afgekort as δ Cap) is ’n veelvoudige ster in die sterrebeeld Steenbok (Capricornus) wat sowat 39 ligjare van die Son af is. Die primêre ster in die stelsel is ’n witreus en die gesamentlike lig van hom en sy metgeselle maak dit die helderste ligbron in die sterrebeeld.
Die stelsel bestaan uit ’n dubbelster, Delta Capricorni A, en twee metgeselle, B en C. A se twee sterre word Delta Capricorni Aa (amptelik Deneb Algedi, die tradisionele naam van die stelsel) en Ab genoem.
Omdat dit naby aan die sonnebaan is, kan Delta Capricorni deur die Maan verduister word, en selde ook deur planete.
Name "δ Capricorni" is die stelsel se Bayer-naam. Die onderskeie drie sterre se name is Delta Capricorni A, B en C, en die name van A se komponente is Delta Capricorni Aa en Ab.
Die stelsel het die tradisionele name "Deneb Algedi", wat afgelei is van die Arabiese ذنب الجدي (ðanab al-jady), wat "die bok se stert" beteken, en "Scheddi".
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Deneb Algedi" vir die ster Delta Capricorni Aa goedgekeur omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het eerder as aan stergroepe.
Eienskappe Delta Capricorni A is ’n dubbelster met ’n wentelperiode van 1,022768 dae en ’n baanhelling naby aan die gesigslyn van die Aarde af. Die hoogste skynbare magnitude van die dubbelster is 2,81. Tydens ’n eklips van die primêre ster kan die magnitude daal tot 0,24. Wanneer die sekondêre ster ’n eklips ondergaan, neem die magnitude met 0,09 af.
Die primêre ster se massa en radius is sowat dubbel dié van die Son. Dit roteer vinnig teen sowat 105 km/s-1. Die oppervlaktemperatuur is 7 301 K, wat dit die wit skynsel van ’n A-tipe ster gee. Die sekondêre komponent is ’n G-tipe of K-tipe ster met ’n massa van sowat 90% van dié van die Son.
Daar is twee optiese metgeselle. ’n Ster van magnitude 15 is een boogminuut van die primêre ster af en een van magnitude 13 is meer as twee boogminute van hom af, en dié afstand is aan die toeneem.
Verwysings
Bronne 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Steenbok (sterrebeeld) Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Gliese-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:A-tipe reusesterre