Die Cor Caroli-stelsel is ’n dubbelster met die Bayer-naam Alpha Canum Venaticorum (afgekort as α CVn). Die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) gebruik die naam "Cor Caroli" spesifiek vir die helderste van die twee sterre. Alpha Canum Venaticorum is die helderste ligpunt in die noordelike sterrebeeld Jaghonde (Canes Venatici).

Naam "Alpha Canum Venaticorum" is die stelsel se Bayer-naam. Die helderste ster word "α2 Canum Venaticorum" genoem en die dofste een "α1 Canum Venaticorum".Cor Caroli , Stars, Jim Kaler. Besoek op 15 September 2008.

Alpha Canum Venaticorum het die naam "Cor Caroli" in die 17de eeu gekry; dit beteken "Karel se Hart". Daar is onsekerheid oor na wie die ster genoem is: koning Karel I van Engeland, wat in 1649 tereggestel is tydens die Engelse Burgeroorlog, of sy seun, koning Karel II, wat die Britse monargie in 1660 herstel het.

Eienskappe thumb|links|Cor Caroli, soos op 1 Maart 2011 van Noord-Engeland af gesien. Alpha Canum Venaticorum is ’n dubbelster met ’n gesamentlike skynbare magnitude van 2,81. Die twee sterre is 19,6 boogsekondes van mekaar af en kan maklik met ’n klein teleskoop uit mekaar geken word. Die stelsel is sowat 110 ligjare van die Son af.

α2 CVn α2 CVn is van spektraaltipe A0 en het ’n skynbare magnitude wat wissel tussen 2,84 en 2,98, met ’n tydperk van 5,47 dae. Dit is ’n uitsonderlike ster met ’n sterk magneetveld, wat sowat 5 000 keer so sterk soos die Aarde s’n is, en word geklassifiseer as ’n Ap/Bp-ster."Cor Caroli", bl. 49, The hundred greatest stars, James B. Kaler, Springer, 2002, . Sy atmosfeer het ’n oorvloed van sekere elemente soos silikon, kwik en europium. Dit is vermoedelik omdat sekere elemente in die ster afsak onder die invloed van sy swaartekrag, terwyl ander na die oppervlak styg vanweë stralingsdruk. Die ster is die prototipe van ’n klas veranderlike sterre wat Alpha2 Canum Venaticorum-veranderlikes genoem word. Daar word geglo dié sterre se sterk magneetveld veroorsaak enorme stervlekke. Vanweë dié stervlekke wissel die helderheid van Alpha2 Canum Venaticorum-sterre aansienlik gedurende hulle rotasie.

α1 Canum Venaticorum α1 Canum Venaticorum is ’n F-tipe hoofreeksster. Dit is aansienlik dowwer as sy metgesel en het ’n skynbare magnitude van sowat 5,6.

Verwysings

Eksterne skakels 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Jaghonde (sterrebeeld) Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Veranderlike sterre Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:A-tipe hoofreekssterre Kategorie:F-tipe hoofreekssterre