Dalene Matthee (*13 Oktober 1938, Riversdal – †20 Februarie 2005, Mosselbaai) was ’n internasionaal bekende Afrikaanse skrywer, wie se boeke in verskeie tale vertaal en verfilm is. Sy is veral bekend vir haar reeks bosboeke, wat in en om die Knysnabos afspeel. Die eerste bosverhaal, Kringe in 'n bos (1984) was 'n topverkoper en is met die ATKV-Prosaprys vir goeie gewilde prosa bekroon. Dieselfde eer val ook die bosverhale Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987) te beurt. Sy skryf ook ander suksesvolle werke, soos Pieternella van die Kaap, Susters van Eva, Brug van die esels, Toorbos en die kortverhaalbundel Die Judasbok.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Dalene Scott is op 13 Oktober 1938 op Riversdal gebore as die middelste van vyf kinders, twee seuns en drie dogters. Haar pa, Danie, was ’n bouer en haar ma, Hester, ’n huisvrou. Sy is ’n veraf maar tog direkte afstammeling van sir Walter Scott. Sy word groot op Riversdal en bring vakansietye deur op Stilbaai, waar die gesin ’n vakansiehuis het.
Loopbaan en persoonlike lewe In 1956 matrikuleer sy aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal. Kort nadat sy uit die skool is, trou sy in 1957 met haar skoolvriend Larius Matthee, ’n bankbestuurder. Hulle vestig hulle ná die huwelik in Oudtshoorn, waar hul oudste dogter, Amanda, en tweede oudste dogter, Toni, gebore word. Sy ontvang musiekopleiding aan Van Zyl se Musiekskool op Oudtshoorn. Hierna gee sy op deurlopende basis klavieronderrig aan volwassenes en bestudeer metafisiese geskrifte, totdat sy ernstig begin skryf en dit die meeste van haar tyd opneem. In 1962 trek hulle Darling toe, waar hul jongste dogter, Hilary, gebore word. Vanaf 1967 tot 1971 woon hulle op Graaff-Reinet, waar sy by die Holy Cross Convent op Graaff-Reinet verdere musiekopleiding ontvang. Daarna behaal sy by die Trinity College of Music op Grahamstad ’n diploma. Op Graaff-Reinet is sy op ’n halfdagbasis kurator van die Hester Rupert-kunsmuseum en ook betrokke by Anton Rupert se restourasiespan wat Stretch se hof restoureer. In 1971 word Larius aangestel as bestuurder van Standard Bank op Uniondale in Langkloof. Hier is Annelie Botes een van haar musiekstudente en is sy ook betrokke by die restourasie van die watermeule en die Ou Fort wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer.
Latere jare en sterfte Larius ondervind gesondheidsprobleme en tree in 1978 af. Na sy aftrede verhuis hulle na Hartenbos naby Mosselbaai, waar Larius in Augustus 2000 oorlede is. In 2003 trek Dalene na Mosselbaai. Sy is op 20 Februarie 2005 in die Bayview Clinic op Mosselbaai aan hartversaking oorlede. Haar as word na haar dood by Krisjan-se-nek in die Knysnabos gestrooi.
Skryfwerk Sy was die eerste outeur, en tot dusver die enigste, van wie meer as een miljoen Afrikaanse boeke in Suid-Afrika verkoop is.
Kinderverhale Dalene skryf eers kinderverhale vir die radio (waarvan die eerste een reeds in 1960 uitgesaai word), later tydskrifverhale en toe vervolgverhale. Tydens haar verblyf op Darling skryf sy verskeie kinderverhale vir die radioprogram Siembamba. Haar eerste boek is die kinderverhaal Die twaalfuurstokkie. Doeksie weet nie wat om te doen nie, want haar boetie het gesê sy moet die eende twaalfuur huis toe bring. Sy weet egter nie hoe sy gaan weet wanneer dit twaalfuur is nie. Toe val daar ’n bruin stokkie uit die boom, wat vir haar vertel dat hy ’n twaalfuurstokkie is en dat hy vir haar sal wys hoe om te weet wanneer dit twaalfuur is.
Kortverhale & vervolgverhale Hierna waag sy haar hand aan kortverhale en vir omtrent ’n jaar sukkel sy om een deur ’n tydskrif aanvaar te kry. Sy skryf ook dramas, waarin SATV nie belangstel nie. Die dramas verwerk sy later in romans en ontdek so haar werklike sterkpunt. ’n Huis vir Nadia is eers ’n vervolgverhaal in ’n tydskrif, waarna dit gepubliseer word. Dit vertel van die weggooikind Nadia Hamman, wat deur die welsyn groot gemaak word. In standerd vier word sy en haar broer Kella op verskillende treine gesit, sy na die kinderhuis in die Vrystaat en Kella na ’n plek vir seuns in die Oos-Kaap. Nadia sweer dat sy sal groot word en werk en ’n huis koop sodat sy en haar broer nooit weer met die trein weggestuur kan word nie. Sy bly by die besluit, maar dan vra die persoon rondom wie sy haar lewe gebou het, te veel van haar.
Petronella van Aarde, burgemeester is ook eers voor publikasie ’n vervolgverhaal in ’n tydskrif. Almal weet dat Zerk Raubenheimer burgemeester van Kasselspoort gaan word wanneer oom Neels Meyer aftree. Oom Neels sterf egter wanneer Zerk en sy vrou Freda op ’n lang buitelandse reis is en die weduwee Petronella van Aarde word in sy afwesigheid as burgemeester verkies. Dan begin die poppe dans, want Petronella wil dinge regruk en sy gee nie om hoe sy dit doen of op wie se tone sy moet trap om dit reg te kry nie. Wanneer Zerk terugkeer, wil hy natuurlik ook weer probeer om burgemeester te word. Boonop is daar nie veel liefde verlore tussen die Van Aardes en die Raubenheimers nie, want die jong Dennis Raubenheimer het Petronella se dogter Talia voor die kansel gelos vir ’n ander vrou. Talia het nou terug gekom om op Kasselspoort te kom onderwys gee, terwyl Dennis ook weer terug is om sy pa met die prokureurspraktyk te help.
Dalene is bekend vir die deeglike navorsing wat sy doen voor die skryf van haar boeke en sy spandeer op hierdie manier baie tyd in die buiteland, onder andere in Engeland, Nederland en Mauritius.
Bosboeke Dit is egter eers met haar boeke oor die Knysnabos dat sy werklik bekendheid verwerf. Na ’n staptog deur die Knysnabos begin sy worstel met baie vrae oor die geskiedenis van die bos, wat aanleiding gee tot hierdie bosboeke. In hierdie boeke is die bos meer as net agtergrond en word dit ’n hoofkarakter, wat met sy mistiek, geheime, wonders en wette ’n bepalende invloed het op sy inwoners wat as karakters in die verhale optree. Nadat André P. Brink die Afrikaanse manuskrip van Brink, André P. Rapport, 27 Mei 1984.Kringe in ’n bosRoos, Henriette. Standpunte. Nuwe reeks 179, Oktober 1985. gelees het, beveel hy dit by sy Londense agent aan en Smuts, J.P. Die Burger, 7 Junie 1984. Dalene Matthee vertaal die roman voor publikasie daarvan reeds in Engels.Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1985. Sy is met hierdie vertaling oorsee en binne enkele dae word die manuskrip op ’n veiling vir uitgewers teen ’n hoë prys van die hand gesit.Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 23 no. 2, Mei 1985. Benewens die Engelse regte word ook die Nederlandse, Portugese, Sweedse en Israelse regte verkoop voor publikasie van die boek in Afrikaans. So word die boek oornag ’n internasionale treffer en Dalene Matthee ’n internasionaal bekende figuur. Hierdie is die eerste van die vier boeke in die Knysnabos-reeks. Die verhaal speel af teen die geskiedenis van hoe die boswerkers deur die houthandelaars uitgebuit is om die bos grootliks uit te roei. Die eertydse houtkapper Saul Barnard keer teen die einde van die negentiende eeu weer terug na die bos om die olifant Oupoot wat sy broer se kind doodgemaak het, te jag. Teen die verdere agtergrond van die ontdekking van goud, wat dreig om die bos en die leefwyse van die mense te vernietig, loop hy die kringe op die pad van sy jeug en agter die olifant aan. Die olifant loop volgens sy aard gereeld ’n sirkelpad wat hom op sy eie spoor terugbring sodat hy die jagter van agter af inhaal. Sodoende word die saamlewe van die mens en die natuurkragte boeiend uitgebeeld. Saul ontwikkel in die verhaal vanaf biologiese mens (wat intuïtief by die Bos aansluiting vind en daarbinne oorleef), tot denkende mens (wat ontdek dat stories soos dat die bloubokkie gal in sy brein het nie waar is nie, welke kennis van hom ’n uitgeworpene maak) tot die eindpunt van geestelike mens. Dit is dus ook ’n ontwikkelingsroman. Saul loop in sy lewe verskeie kringe op sy pad na persoonlike bevryding, wat hom eers uit die bos en sy mense se onkunde na die dorp neem en daarvandaan kortliks terug na die bos. Hy gaan terug na die dorp maar besef dat die dorpenaars in hulle bekrompe vooroordeel hom in sy groei sal stuit, waarna hy die groter wêreld aandurf. Eindelik keer hy op sy eie terme terug na die bos. Tekenend van die ryk agtergrond wat in die verhaal ingeweef word, is die feit dat die hele Barnard-gesin Bybelse name het en die gebeure en verwysings gereeld Bybelse beginsels en gebeure oproep, insluitende die feit dat Saul as ’n verlosser beskou kan word. Matthee vertaal self die boek in Engels, ’n rolprent, Circles in a forest, word deur Regardt van den Bergh van die boek gemaak en dit word ook omskep in ’n verhoogdrama. Die ATKV-prys vir gewilde prosa word in 1985 vir Kringe in ’n bos toegeken en hierdie boek is in dieselfde jaar op die kortlys vir die toekenning van die Louis Luyt-prys. Die boek is in sowat veertien tale vertaal, onder andere Nederlands, Engels, Fins, Frans, Hebreeus, Yslands, Italiaans, Noorweegs, Portugees, Spaans en Sweeds. Dit word ook sedert 1986 meermale op hoërskool voorgeskryf.
Die ander drie boeke in die reeks is Fiela se kind, Moerbeibos en Toorbos.Boekkooi, Paul. Rapport, 13 Mei 2007. Fiela se kind speel ook in ongeveer die laaste kwart vanBrink, André P. Rapport, 12 Mei 1985. die negentiende eeu af.Le Roux, André. Die Burger, 18 Augustus 1986. Die wit houtkapperseun Lukas van Rooyen verdwynPretorius, William. Rapport, 14 Februarie 1988. in die Knysnabos en in dieselfde tyd kom ’n wit weggooikind anderkant die berge by die bruinvrou Fiela Komoeti aan, wat hom Benjamin noem en as haar eie kind grootmaak. Hier word hy streng grootgemaak, maar ervaar ook die huislike warmte van egte liefde. Die sensusopnemers ontdek hom daar en die owerheid besluit na sowat nege jaar dat hy die houtkapperseun is en plaas hom by die Van Rooyens in die bos, maar dit is nie waar hy tuis voel nie. Sy sogenaamde vader, armoedig van gees en van materiële dinge, beskou hom slegs as ’n werkesel en sy swak “ma” kan hom nie beskerm of regtig liefde bied nie. Hy ontwikkel ’n spesiale gevoel vir Nina van Rooyen, maar hy onderdruk dit omdat hy tog nie verlief kan raak op sy suster nie. Die vraag oor wie hy dan werklik is, neem beheer oor van sy lewe. Eindelik gee hy hier pad en wend hom na die see, waar hy vanuit hierdie wêreld probeer perspektief kry op sy lewe en identiteit. Dit is veral die magte van buite waaroor die mens nie beheer het nie en wat sy lewe rig en dit op paaie neem wat hy nie wil hê nie, wat in die roman behandel word. Hierdie boek is in Afrikaans verfilm deur Katinka Heyns (’n film waarin Matthee self ’n klein rol vertolk), deur Suzanne van Wijk in ’n verhoogdrama omskep en dit is ook omskep tot die Engelse musiekspel Fiela’s Child, asook ’n opera waarvoor Carl van Wyk die musiek skryf. Fiela se kind ontvang die ATKV-prys vir gewilde prosa in 1986, is in dieselfde jaar op die kortlys vir die toekenning van die Rapportprys en word in 1999 deur biblioteeklesers aangewys as die gewildste Afrikaanse boek van die eeu (Kringe in ’n bos was tweede). Die Engelse musiekspel onder leiding van Ian von Memerty ontvang in 1999 twee Vita-toekennings. Die boek is reeds in onder meer Engels, Duits, Frans, Nederlands, Sweeds, Sloweens en Hebreeus vertaal. Die boek sal eersdaags ook in Arabies vertaal word, 35 jaar na die publikasie daarvan in 1985. "Die feit dat dit 35 jaar ná die eerste publikasie in 'n taal so ver verwyderd van Afrikaans vertaal word, getuig van die lang lewensduur en die breë aantrekkingskrag van die boodskap wat dit oordra." https://maroelamedia.co.za/afrikaans/fiela-komoetie-praat-binnekort-arabies/ Geraadpleeg op 14/09/2020