duimnael|upright=1.5|Psyche Revived by Cupid's Kiss deur Antonio Canova; 1787; marmer; 155 cm × 168 cm; Louvre Die belangstelling in die Klassieke kuns het gedurende die tweede helfte van die 18e eeu weer opgevlam na die argeologiese vondste by Pompeii en Herculaneum en die teoretiese geskrifte van die Duitse argeoloog Johann Joachim Winckelmann. Die Neo-Klassisisme, wat 'n regstreekse uitvloeisel van hierdie hernieude belangstelling in die Klassieke was, was 'n koel, streng styl wat van Rome deur Europa en van daar na die VSA versprei het. Die Neo-Klassisisme het eers 20 tot 25 jaar later aan die Kaap posgevat. Hoewel die belangstelling in die Neo-Klassisisme na 1800 begin afneem en die Romantiek meer op die voorgrond getree het, het die styl gedurende die hele 19e eeu die amptelike styl van baie akademiese instellings gebly.

Algemeen Die Neo-Klassisisme het gedurende die tweede helfte van die 18e eeu ontstaan as reaksie teen die bombastiese, melodramatiese Barok en die "speelse" Rococo. Die beweging is deur die Klassieke kuns geïnspireer en het die middelpunt van belangstelling geword na die opgrawings by Pompeii, Herculaneum, Paestum en Rome (van 1738 tot 1756). Die 17e-eeuse Klassisisme is ook deur die Klassieke Oudheid geïnspireer, maar was hoofsaaklik gegrond op geskrifte uit die Renaissance wat inligting oor die Klassieke kuns bevat het.

Hoewel die Neo-Klassisisme, wat tot in ongeveer 1800 die toonaangewende styl was, en die Romantiek as twee heeltemal afsonderlike kunsstyle beskou word, bevat die Neo-Klassisisme tog 'n vergelykbare romantiese element. Na 1800 het die belangstelling in die Neo-Klassisisme afgeneem, maar die styl het vir nag 'n paar dekades daarna as dekoratiewe kuns bly voortleef en selfs weer 'n kort bloeityd beleef, die sogenaamde Empire-styl (1799- 1815), wat deur Napoleon aangemoedig is.

Daarna het die Romantiek die toonaangewende styl geword, hoewel die Neo-Klassisistiese vormtaal gedurende die hele 19e eeu deur akademiese inrigtings as die enigste amptelike kunsstyl erken en onderrig is. Die geesdrif vir die "ware styl". soos die aanhangers van die Klassieke kuns dit genoem het, was oorweldigend en die herlewing daarvan in die vorm van die Neo-Klassisisme het vinnig van Rome na Frankryk, die res van Europa en daarna na die VSA versprei.

Skilders en beeldhouers het in hulle werk gestreef na 'n akademiese skoonheidsideaal, wat soms die natuur oortref het: die menslike figuur mag geen tekortkoming of gebrek gehad het nie. Die indrukwekkende Neo-Klassisistiese bou kuns was by uitstek geskik vir staatsgeboue en talle museums, uitstal lokale en monumente is in die styl opgerig. Kenmerkend vir die stadsuitleg in die tyd was die lang wandelstrate wat op groot pleine uitgeloop het.

Die uitleg het 'n geheelbeeld van strak, geometriese vorme geskep. Die dryfkrag agter die ontstaan van die Neo-Klassisisme was die Duitse argeoloog Johann Joachim Winckelmann (1717-1768). Die invloed van sy boeke oor die teorie van die Klassieke kuns, Gedanken über die Nachahnung der griechischen Werke (1755) en Geschichte der Kunst des Altertums (1764), het van Rome af na die noorde versprei. Winckelmann het veral die Griekse kuns, soos dit in Romeinse geskrifte uiteengesit is, as toonbeeld van volmaaktheid beskou en dit hoog aangeprys op grond van die "stille Einfalt und edle Grösse" ("stille eenvoud en edele krag").

Giambattista Piranesi (1720-1778) was een van die belangrikste verkondigers van die Neo-Klassisisme. Twee van sy geskrifte met sketse van antieke oorblyfsels, die Vedute di Roma (1745) en die Antichità Romane (1756), was baie gewild, veral onder Engelse besoekers aan Rome, en het 'n belangrike bydrae gelewer tot die formulering van 'n romantiese ideaal vir Rome wat lank daarna bly voortleef het. Piranesi het in sy omstrede Della magnificenza ad architettura de Romani (1761) beweer dat die Romeinse en Etruskiese argitektuur van 'n hoër gehalte was as die Griekse boukuns.

Boukuns Die argitekte het so ver moontlik hulle besieling vir Neo-Klassisistiese boukuns uit die antieke bouwerke self geput, veral uit die Parthenon (Athene) en die Pantheon (Rome). Die afmetings van die geboue is bestudeer sodat die detail, veral van die suile, so noukeurig moontlik in nuwe konstruksies herhaal kon word. In die ontwerp van geboue is ook gestreef na Klassieke eenvoud en suiwerheid ten opsigte van die toepassing van primêre vorme soos die reghoek, die kubus en die sirkel.

Die vorme is sterk omlyn met ongebroke lyne om sterk kontraswerking te bewerkstellig. Die strewe na strukturele helderheid het ʼn invloed gehad op die moderne boukuns omdat die pioniers daarvan in die Neo-Klassisistiese tradisie onderrig was. Die Neo-Klassisistiese boukuns het hom uitstekend geleen tot ʼn amptelike kunsvorm wat die gesag van die owerheid kon uitbeeld. (Die Nazi- regering het byvoorbeeld ʼn eeu later weer dieselfde stylmiddele in sy boukuns toegepas.)

Die feit blyk duidelik uit die groot aantal openbare geboue wat in die Neo-Klassisistiese styl gebou is, byvoorbeeld uitstallokale, museums en monumente, waaronder die Arc de Triomphe (Parys; 1806-1836) deur Jean Francois Thérèse Chalgrin (1739-1811), die British Museum (Londen; 1823-1847) deur Robert Smirke (1781-1867), die Altes Museum (Berlyn; 1822-1828) deur Karl Friedrich Schinkel (1781-1841), en die Thorvaldsen-Museum (Kopenhagen) deur Gottlieb Bindesboll (1800- 1856).

Leo von Klenze (1784- 1864) het die Glyptothek (München; 1816-1830) ontwerp, een van die oudste museums wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog verwoes is, asook die Neue Pinakothek (München; begin in 1826) en die Hermitage (Leningrad; voltooi in 1852). Charles Percier (1764- 1838) en Pierre-Francois Fontaine (1762- 1853) het die Rue de Rivoli (Parys; 1802-1855) ontwerp; die Piazza del Populo in Rome is deur Giuseppe Valadier (1762-1839) ontwerp; die Ludwigstrasse (München) deur Leo von Klenze, en die uitleg van Capitol Hill (Washington; 1817-1826) deur Pierre Charles l'Enfant (1754- 1825).

In Engeland - en 'n bietjie later ook in die VSA - het 'n variasie van die Neo-Klassisistiese boukuns ontstaan na die verskyning van geïllustreerde publikasies oor die Griekse argitektuur. Hierdie variasie was bekend as die Griekse Herlewing, waarin die vorm van die Doriese suil dikwels gebruik is. ʼn Vroeë voorbeeld van die styl is die Doriese Paviljoen in Hagley (1785), na die ontwerp van James Stuart (1713-1788), wat veral bekend was vir sy publikasies oor die Atheense oudhede. Die Griekse Herlewing is in Engeland tussen 1820 en 1840 onder andere deur Robert Smirke en William Wilkins (1778-1839) tot 'n hoogtepunt gevoer. In die VSA, wat kultureel baie van Europa afhanklik was, het die Griekse Herlewing weerklank gevind in die Koloniale styl.

Die leke-argitek Thomas Jefferson (1743-1826: derde president van die VSA) het tussen 1784 en 1789 'n reis na Europa onderneem en 'n nuwe fase met sy ontwerpe (onder meer vir die Universiteit van Virginië in Charlottesville, 1817-1826) ingelui. Die Franse immigrant Benjamin Latrobe (1764- 1820), wat onder meer die katedraal van Baltimore (1806- 1818) ontwerp het, sy leerling Robert Mills (1781 - 1855) en William Strickland (1788- 1854) het in die styl gewerk.

Nie net openbare geboue en private wonings is in die Neo-Klassisistiese styl ontwerp nie, maar ook fabrieke en stasies. In Engeland is die Neo-Klassisistiese boustyl vryer toegepas. Een van die eerste argitekte wat die styl toegepas het, was Robert Adam (1728- 1792), wat sy reiservaringe in Rome te boek gestel en die kennis wat hy daar opgedoen het. in die fantasieryke dekorasiemotiewe van sy lugtige en ruim interieurs verwerk het (onder meer Syon House, Middlesex; 1762- 1770).

Die werk van John Soane (1753- 1837) was weer heeltemal anders. Hoewel hy ook die Klassieke boukuns van Rome bestudeer het, was sy ontwerpe meer abstrak. Hy het in 1788 opdrag ontvang om die gebou vir die Bank of England te ontwerp. Sy ontwerp was sober en strak en die geboue was almal variasies op die koepelbou-tema. Die sterk omlynde, wit interieurs is gekenmerk deur sterk geprofileerde boë, baie eenvoudige binneargitektuur en heelwat aandag is aan die inlaat van lig geskenk.

Sy tydgenoot John Nash (1752- 1835) was 'n bietjie meer "gewaagd"; hy het sy inspirasie nie net uit die Klassieke Oudheid geput nie, maar ook uit die Gotiek en die Oosterse kuns. Hy het onder meer die straatplan vir Regentstraat en Regent Park (1812) in Londen ontwerp. Die boukuns in Frankryk en Italië is ook deur sowel die Renaissance as die Barok beïnvloed. In die lande was die styl heeltemal anders. Dit was vryer van komposisie en konstruksies is met beeldhouwerke en versierings opgetooi, byvoorbeeld die Opéra (Parys: 1861 - 1874) in die Neo-Barokstyl deur Charles Garnier (1825- 1898) en die Paleis van Justisie in Brussel (1866- 1883) deur Joseph Poelaert (1817- 1879).

Die nuwe instituut vir argitekte in Parys, die École Poly technique, het al hoe meer aandag aan konstruksie geskenk, 'n neiging wat veral in Duitsland posgevat het en waar daar reeds 'n voorkeur bestaan het vir reguit lyne en strak fasades. ʼn Paar voorbeelde is die Branden-burger Tor (Berlyn): 1788- 1791) deur Carl Gotthard Langhans (1732- 1808) en die Walhalla by Regensburg (1830-1842), 'n Griekse tempel wat deur Leo von Klenze ontwerp is om beelde van beroemde Duitsers te huisves.

Die Neo-Klassisisme het reeds in omstreeks 1760 in Frankryk posgevat, maar het Suid-Afrika eers sowat 20 jaar later uit die land bereik na die bondgenootskap wat gedurende die tagtigerjare met Frankryk gesluit is en die teenwoordigheid van Franse troepe in die land. Die grootste verandering wat deur die Neo-Klassisisme teweeggebring is, was in die vorm van die gewels. Die vroeëre Barokkroonlys se gekartelde rande het reguit geword en klein frontons is in die middel van die kroonlys aangebring.

Die risaliet is dikwels deur pilasters vervang: 2 langes wat die fronton dra en 2 kortes aan die sykante waarop die haakvolute geplaas is. Vase is dikwels bo-op die fronton geplaas. Die Neo-Klassieke gewelvorm is later ook in platdakhuise gebruik: 'n kamer is op die dak en gelyk met die fasade gebou en omlys met 'n fronton bo en volute aan die sykante. In Nederland en in België is die Neo-Klassisisme selde in die ontwerp van openbare geboue gebruik. Een van 'n paar voorbeelde van geboue wat in die styl opgerig is, is die Moses-en-Aäron-kerk (Amsterdam: 1837- 1841) deur Tieleman Suys (1783- 1861). Baie woonhuise is egter in die Neo-Klassisistiese styl gebou.

In Rusland het die tsare baie geboue in die Neo-Klassisistiese styl laat bou, byvoorbeeld die St.lsaäk-katedraal (Leningrad; 1817-1857) deur Auguste Ricard de Montferrand (1786- 1858) en die Mitsjailof-paleis (Leningrad; 1819- 1823) deur Carlo Rossi (1775- 1849). Die Mitsjailof-paleis huisves tans die Russiese Museum.

Beeldende kunste

Beeldhoukuns Die Neo-Klassisistiese beeldhoukuns het sy inspirasie geput uit die laat-Hellenistiese beelde, veral die Romeinse voorbeelde daarvan. Die belangrikste beeldhouer was Antonio Canova (1757- 1822), wie se wit marmerbeelde, met onderwerpe wat hoofsaaklik aan die Klassieke mitologie ontleen is, 'n geïdealiseerde, bomenslike karakter het. Die Deen Bertel Thorvaldsen (1768- 1844) het in 1797 na Rome verhuis, waar hy 'n sentrale figuur in die Neo-Klassisistiese beeldhoukuns geword het.