Jodium is ’n chemiese element met die simbool I en ’n atoomgetal van 53. Jodium, wat natuurlik voorkom, bestaan uit ’n enkele isotoop met 74 neutrone. Jodium is die halogeen met die laagste reaktiwiteit en is ook die elektropositiefste halogeen naas astaat. Die element kom egter nie in sy ongebinde vorm in die natuur voor nie. Soos al die ander halogene (groep VII-elemente) vorm jodium diatomiese molekules in sy suiwer vorm (I2).
Jodium en sy verbindings word hoofsaaklik vir medisinale redes, fotografie en in kleurstowwe gebruik. Jodium is hoogs oplosbaar in water en kom in seewater voor. Dit kan moontlik help om te verduidelik hoe dit gebeur het dat alle diere, en sommige plante, jodium in spoorhoeveelhede in hulle diëte vereis. Die hoë atoomgetal maak dit ’n relatief seldsame element. Die element is die swaarste noodsaaklike element wat deur lewende organismes gebruik word.
Eienskappe Onder standaardtoestande is jodium ’n donkerpers/donkerbruin vastestof. Hierdie halogeen vorm verbindings met baie elemente, maar is minder reaktief as ander lede van die groep VII-elemente en het ’n effense metaalglans.
Elementêre jodium los maklik op in chloroform en koolstoftetrachloried. Die oplosbaarheid van elementêre jodium in water kan baie verhoog word deur kaliumjodied by te voeg. Die molekulêre jodium reageer omkeerbaar met die negatiewe ioon wat die trijodiedanioon vorm, I3, wat goed in water oplos. Hierdie vorm ook die basis vir die formulerings van sommige medisinale (antiseptiese) jodium. Die diepblou kleur van stysel-jodium-komplekse word slegs deur die vrye element gevorm.
Geskiedenis Jodium is in 1811 deur Bernard Courtois ontdek. Sy vader was ’n vervaardiger van salpeter (’n belangrike komponent van buskruit). Met die uitbreek van die Napoleontiese Oorloë, was salpeter in aanvraag gewees. Op daardie tydstip in Frankryk is natriumkarbonaat in die vervaardiging daarvan gebruik wat verkry is deur seewier te verbrand en die as met water te was. Die oorblywende afval is vernietig deur swaelsuur by te voeg. Courtois het op ’n dag te veel swaelsuur bygevoeg en ’n pers damp het ontstaan. Courtois het toe opgemerk dat die damp op koue oppervlaktes gekristalliseer het om donker kristalle te vorm. Courtois het vermoed dat dit ’n nuwe element was, maar het nie die hulpbronne gehad om sy waarnemings verder te ondersoek nie.
Hy het egter van sy monsters aan sy vriende, Charles Bernard Desormes (1777–1862) en Nicolas Clément (1779–1841) gegee om die navorsing te doen. Hy het ook van die stof vir Joseph Louis Gay-Lussac (1778–1850), ’n bekende chemikus van daardie tyd, en aan die fisikus, André-Marie Ampère (1775–1836) gegee. Op 29 November 1813, het Desormes en Clément Courtois se ontdekking openbaar gemaak. Hulle het die stof beskryf by ’n vergadering van die Koninklike Instituut van Frankryk. Op 6 Desember het Gay-Lussac aangekondig dat die stof óf ’n element was, óf ’n verbinding van suurstof. Ampère het van sy monster aan Humphry Davy (1778–1829) gegee. Davy het eksperimente op die stof gedoen en die ooreenkomste met chloor opgemerk. Davy het op 10 Desember ’n brief aan die Koninklike Vereniging van London gestuur waarin hy aangekondig het dat hy ’n nuwe element geïdentifiseer het. ’n Argument het toe tussen Davy en Lussac ontstaan oor wie die eerste was om jodium as ’n element te identifiseer, maar beide het egter erken dat Courtois die eerste was om die element te isoleer.
Gebruike Jodium word gebruik in farmaseutiese produkte, antiseptikums, medisyne, voedselbymiddels, kleurstowwe, kataliste, halogeenligte, fotografie, watersuiwering en vir die identifisering van stysel.
Jodiumtinktuur, met ’n konsentrasie van 10% in etanol, word gebruik om wonde te ontsmet en ook om water te suiwer. Alkoholvrye jodiumoplossings word ook vir hierdie doeleinde aangewend. Jodium-verbindings is belangrik in organiese chemie. Jodium is ’n swaar element en is nie baie radiogolfdeursigtig nie. Organiese verbindings van ’n sekere soort (tipies jodiumverplaasde-benseenafgeleides) word dus in geneeskunde gebruik as radiokontrasmiddels tydens x-straalondersoeke. Dit word dikwels met gevorderde x-straaltegnieke soos angiografie en rekenaartomografieskandering gebruik. Silwerjodied word in fotografie gebruik. Wolframjodied word gebruik om filamente in gloeilampe te stabiliseer. Jodiumkristalle word ook gebruik in die vervaardiging van NI3, oftewel stikstoftrijodied. Hierdie verbinding is ’n skoksensitiewe plofstof in sy droë vorm. Dit word dikwels gebruik as speelding om poetse te bak. Die stof het egter nie kommersiële nut nie aangesien dit hoogs sensitief is.
Natuurlike verspreiding Jodium kom hoofsaaklik in die natuur voor in die vorm van ’n opgeloste jodied in seewater. Dit kan egter ook in sommige minerale en grondsoorte aangetref word. Die element kan in sy suiwer vorm verkry word deur kaliumjodied met kopersulfaat te laat reageer. Daar is ook verskeie ander metodes om die element in die laboratorium te isoleer – onder andere die metode om byvoorbeeld halogene te isoleer deur die oksidasie van die jodied in jodiumsuur deur middel van mangaandioksied. Alhoewel die element in der waarheid uiters seldsaam is, het kelp en sekere algesoorte die vermoë om jodium te konsentreer, wat help om die element in die voedselketting vry te stel.
Bronne Jodium word aangetref in die mineraal genaamd caliche wat in Chili tussen die Andes en die see aangetref word. Dit word ook in sommige seewiere aangetref en kan ook vanuit seewater onttrek word.
Die onttrekking van jodium uit seewater word deur middel van elektrolise vermag. Die soutwater word eers gesuiwer en aangesuur met die byvoeging van swaelsuur en word dan met chloor gereageer. ’n Jodium-oplossing word sodoende vervaardig wat dan nog té verdun is en daarom gekonsentreer moet word. Om dit te vermag, word lug deur die oplossing geborrel wat veroorsaak dat die jodium verdamp. Hierná word deur in ’n absorpsietoring gestuur wat suur bevat met swaeldioksied daarby gevoeg sodat die jodium gereduseer kan word. Die oplossing word dan weer met chloor behandel om die oplossing verder te konsentreer en sodoende ’n finale oplossing van ongeveer 99% suiwerheid te lewer.
’n Ander bron is kelp. Hierdie bron is in die 18de en 19de eeue gebruik, maar is nie meer ekonomies lewensvatbaar nie.
In 2005 was Chili die top produsent van jodium met ongeveer twee derdes van die wêreldaandeel, gevolg deur Japan en die VSA aldus die British Geological Survey.
Beskrywende chemie
Elementêre jodium is nie baie oplosbaar in water nie, met slegs een gram wat in 3 450 ml teen 20 °C en 1 280 ml teen 50 °C sal oplos. In teenstelling met chloor, is die vorming van die hipohalietioon (IO–) van jodium in neutrale wateroplossings nalaatbaar klein.
I2+ H2O ↔ H+ + I− + HIO (K = 2,0×10−13)Advanced Inorganic Chemistry by Cotton and Wilkinson, 2nd ed.
Oplosbaarheid in water word baie verhoog as die oplossing opgeloste jodiumsoute soos jodiumsuur, kaliumjodied of natriumjodied bevat; hierdie verhoging in oplosbaarheid is die resultaat van die hoë oplosbaarheid van die I3- ioon. Opgelosde bromiede verhoog ook die oplosbaarheid van jodium in water. Jodium is oplosbaar in ’n verskeidenheid organiese oplosmiddels, insluitende etanol (20,5 g/100 ml teen 15 °C, 21,43 g/100 ml teen 25 °C), diëtieleter (20,6 g/100 ml teen 17 °C, 25,20 g/100 ml teen 25 °C), chloroform, asynsuur, gliserol, benseen (14,09 g/100 ml teen 25 °C), koolstoftetrachloried (2,603 g/100 ml teen 35 °C) en koolstofdisulfied (16,47 g/100 ml teen 25 °C).Merck Index of Chemicals and Drugs, 9th ed.
Water- en etanoloplossings van jodium is bruin. Oplossings in chloroform, koolstoftetrachloried en koolstofdisulfied is pers.
Elementêre jodium kan vervaardig word deur jodiede met chloor te oksideer:
2I− + Cl2 → I2 + 2Cl−
of deur middel van mangaandioksied in ’n suuroplossing:
2I− + 4H+ + MnO2 → I2 + 2H2O + Mn2+
Jodium word gereduseer na jodiumsuur deur middel van waterstofsulfied:General Chemistry (volume 2) by N.L. Glinka, Mir Publishing 1981
I2 + H2S → 2HI + S↓
of deur middel van hidrasien:
2I2 + N2H4 → 4HI + N2
Jodium word geoksideer na jodaat deur middel van salpetersuur:General Chemistry by Linus Pauling, 1947 ed.
I2 + 10HNO3 → 2HIO3 + 10NO2 + 4H2O
of deur middel van chlorate:
I2 + 2ClO3− → 2IO3− + Cl2
Jodium word in ’n tweestap-reaksie in oplossings van alkaliese hidroksiede (soos natriumhidroksied) na jodied en jodaat omgeskakel:
|I2 + 2OH− → I− + IO− + H2O | | (K = 30) |- |3IO− → 2I− + IO3− | | (K = 1020)
Jodium se biologiese rol Jodium is ’n noodsaaklike spoorelement, die swaarste element bekend wat deur lewende organismes benodig word. Die hoofrol van jodium in dierbiologie is as bestanddeel van die skildklierhormone, tiroksien (T4) en trijodiumtironien (T3). Hierdie hormone word gevorm deur die byvoegingskondensasieproduk van die aminosuur, tirosien, en word vóór vrystelling in ’n jodiumbevattende ensiem, wat as tiroglobulien bekend staan, verander. T4 en T3 bevat onderskeidelik vier en drie atome jodium per molekule. Die skildklier absorbeer jodium aktief uit die bloed om hierdie hormone te vervaardig en weer in die bloedstroom vry te stel. Hierdie werking word beheer deur ’n tweede hormoon, TSH vanuit die skildklier. Hormone wat deur die skildklier afgeskei word, is filogeneties baie ou molekules wat deur die meeste veelsellige organismes gesintetiseer word en ook ’n effek sommige eensellige organismes het.
Die hormone van die skildklier speel ’n belangrike rol in biologie en het ’n impak op geenskrywing om die basale metaboliese tempo te beheer. Die totale gebrek aan skildklierhormone kan die basale metaboliese tempo tot soveel as 50% verlaag terwyl ’n oormaat skildklierhormone die basale metaboliese tempo met soveel as 100% kan verhoog. T4 is grootliks ’n voorganger van T3, wat die biologies aktiewe hormoon is.
Jodium maak 65% van die molekulêre massa van T4 uit en 59% van T3. 15–20 mg-jodium word in die skildklierweefsel en hormone gekonsentreer, maar 70% van die liggaam se jodium is in ander weefsels versprei, insluitende die melkkliere, oog-, maagslymvlies-, nek- en speekselkliere. Die rol van jodium in die melkkliere hou verband met die ontwikkeling van die fetus en pasgebore babas, maar die rol daarvan in ander weefsels is nog onbekend. Daar is bevestig dat dit ’n anti-oksidantwerking in hierdie weefsels het. Sommige wetenskaplikes is van mening dat die huidige daaglikse aanbevole minimum inname bykans ’n 100 keer te laag is.Miller, Donald W. Extrathyroidal Benefits of Iodine . Journal of American Physicians and Surgeons.
Jodium se werking kan moontlik verband hou met seleen en jodiumbyvoegings in populasies met ’n seleengebrek kan moontlik ’n risiko inhou vir die werking van die skildklier.
Jodium in die mens se dieet In die VSA is die aanbevole daaglikse inname van jodium 150 mikrogram per dag (μg/dag) vir beide mans en vrouens met ’n toelaatbare maksimum van 1 100 μg/dag (1,1 mg/dag).National Research Council. (2000). Dietary Reference Intakes for Vitamin A, Vitamin K, Arsenic, Boron, Chromium, Copper, Iodine, Iron, Manganese, Molybdenum, Nickel, Silicon, Vanadium, and Zinc, pp. 258-259. National Acadamies Press. Free full-text available online. Die aanvaarbare maksimum perk vir jodium-inname is bepaal deur die impak te meet wat jodium-byvoedings het op die hormoon wat die skildklier stimuleer.
Natuurlike bronne van jodium is seelewe soos kelp en sekere seekosse en ook plante wat in jodiumryke grond verbou word.International Council for the Control of Iodine Definiciency Disorders Sources of iodine In ontwikkelde lande word jodium algemeen by tafelsout gevoeg om die risiko van ’n jodiumtekort teë te werk.MedlinePlus Medical Encyclopedia: Iodine in diet
Isotope Daar bestaan 37 isotope van jodium, maar slegs een, 127I, is stabiel.