Stephanus Jacobus (S.J.) du Toit (9 Oktober 1847, Daljosafat - 28 Mei 1911, Daljosafat) was 'n NG predikant, stigterslid en leier van die Genootskap van Regte Afrikaners, Bybelvertaler, oprigter van die Afrikanerbond, stigter van die Gedenkschool der Hugenoten, superintendent van onderwys in Transvaal en redakteur van verskeie koerante en tydskrifte, waaronder Ons Klyntji. Hy was die skrywer van dramas, romans en verskeie teologiese werke. Die digter Totius was sy seun.

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Stephanus Jacobus du Toit is op 9 Oktober 1847 op die familieplaas Kleinbosch in Daljosafat gebore as die dertiende en jongste kind (ses seuns en sewe dogters) van David Petrus du Toit en Helena Elizabeth du Plessis.Totius. Ds. S.J. du Toit in weg en werk. Versamelde werke 9 Tafelberg-Uitgewers Beperk Eeufees-uitgawe 1977Du Toit, Mione. Man op Nebo. Tafelberg-Uitgewers Kaapstad en Johannesburg Eerste druk 1973Nienaber, P.J. Ds. S.J. du Toit: die eensame Ismael. J.L. van Schaik Beperk Pretoria Eerste uitgawe 1940 Vyf seuns en vier dogters bereik volwasse ouderdom. Twee van sy broers was Daniel François du Toit, later bekend as Oom Lokomotief, en Charles Wijnand du Toit, predikant eers van die NG Kerk en later van die NH Kerk in Potchefstroom. Sy pa was die erfgenaam van die plaas Kleyne Bosch (Kleinbosch) wat in 1692 aan hul stamvader, die Hugenoot François du Toit, uitgegee is. Goewerneur Simon van der Stel het die plaas aan François toegeken ten spyte van die feit dat dit buite die grense van die toenmalige kolonie geleë was, op voorwaarde dat hy ’n duisend gulde betaal en homself teen die aanvalle van die San beskerm. Sy gevegte teen die San het gelei tot die benaming van Du Toitskloof, omdat dit die kloof was waardeur hy die San agtervolg het.

Hy ontvang saam met sy ouer broer D.F. du Toit sy skoolopleiding aan die goewermentskool op Daljosafat. Hulle onderwyser hier is die Engelsman Bart Smith, wat ’n foutiewe uitspraak van sy eie taal gehad het en die leerlinge daardeur beïnvloed. Dit gaan beter wanneer hulle eerwaarde Roth as onderwyser kry. Hy boer tot met sy negentiende jaar op Kleinbosch. Wanneer hy die roeping om predikant te word op sy lewe voel, skryf hy dan vanaf 1866 vir twee jaar in aan die Paarlse Gimnasium, maar ontvang in werklikheid eerder private onderrig van Arnoldus Pannevis en T.S.A. Hoffman. Hierdie onderrig stel hom in staat om die admissie-eksamen tot die Kweekskool op Stellenbosch te slaag.

Studie en begin van loopbaan duimnael|links|240px|Ds. S.J. du Toit, sy eerste vrou, Elizabeth Jacoba Joubert, en hul seuns, onder wie Totius (regs). Die oudste seun is as jong man oorlede. Twee dogters is ook uit dié huwelik gebore. Mev. Du Toit is op 1 November 1882 in Pretoria oorlede.

In 1868 sit hy sy studie voort aan die Kweekskool, waar hy voorsitter word van die studentevereniging. Hy loseer hier aan huis van die weduwee Joubert, wie se dogter Bettie hy dan die hof begin maak. In Augustus 1872 lewer hy sy proefpreek en hy voltooi sy studies aan die einde van hierdie maand.

Hy raak ook in hierdie jaar verloof aan Elizabeth Jacoba (Bettie) Joubert en hulle trou kort daarna. Uit die huwelik word vier kinders gebore, onder wie die digter en teoloog Totius (Jacob Daniël). Die ander kinders is David Petrus, Bettie en Marie. David is as jong man oorlede en sy moeder op 1 November 1882, in Pretoria. Ds. Du Toit se tweede huwelik was op 8 Julie 1887 met Anna Francina Malan (oorlede in 1945). Uit dié huwelik is nog twee seuns en twee dogters gebore, van wie Charles Wynand Markelbach du Toit predikant geword het in Gereformeerde Kerk en die gemeentes Aliwal-Noord (1917–1920), Frankfort (1920–1925) en Bloemfontein (1925–1929) bedien het, voor hy in Oktober 1929 tydens 'n tussenverkiesing onbestrede tot die Unie-Volksraad verkies word vir die Nasionale Party in die kiesafdeling Edenburg). Ná 'n tussenverkiesing in Julie 1932, wat hy net-net teen die Suid-Afrikaanse Party wen, verteenwoordig hy Colesberg, maar kom in die algemene verkiesing van 1938 derde in Krugersdorp teen die Arbeidersparty en Verenigde Party (VP). In Oktober daardie jaar keer hy terug na die Volksraad as LV vir Marico, nadat hy die die VP-kandidaat met net 49 stemme klop.

Ná voltooiing van sy studie word Du Toit as proponent in die NG Kerk deur die professore gestuur om deur Transvaal te reis en oral die Woord te bedien. Dit lei tot ’n beroep na ’n gemeente in Pretoria. Tweespalt in die Transvaalse Kerk tussen diegene wat eerder predikante van Nederland wil invoer en diegene wat aansluiting wil vind by die Kaapse Kerk, lei egter tot ’n lang vertraging voordat die beroep bekragtig word en hy keer derhalwe terug na die Kaap. Intussen aanvaar hy tydelike beroepe in die Kaap en dien so as waarnemer namens ds. Heyns in Kaapstad en namens ds. Andrew Murray in Wellington, waar hy georden word. Hierna neem hy ’n beroep aan om in Kruisvallei (Tulbagh) te bedien. In 1875 aanvaar hy die beroep na die nuut afgestigte gemeente Noorder-Paarl en is hier werksaam tot aan die begin van 1882. Hy word in sy amp bevestig op 28 September 1875. Benewens sy predikantwerk is hy ook betrokke by godsdiensonderrig aan die Paarlse Gimnasium.

Kampvegter vir Afrikaans duimnael|regs|250px|Du Toit en sy tweede vrou, Anna Francina Malan, se portret in die Gereformeerde kerk Strydenburg se konsistorie. Dit was die eerste Kruiskerk wat hy gestig het (1897).

Reeds in 1874 skryf Du Toit as Ware Afrikaander in De Zuid-Afrikaan ’n reeks van drie artikels oor die Afrikaanse taal waarin hy voorbrand doen vir die belangrikheid van die moedertaal en die stelling dat Afrikaans nie ’n taal kan wees nie, weerlê. Onder andere lê hy hier reeds die taalreël neer dat ons skryf soos ons praat.

Intussen is Arnoldus Pannevis as oortuigde Christen entoesiasties oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans sodat die bruin mense van die land vir die evangelie bereik kan word in hulle eie taal. Hy skryf ’n brief hieroor aan De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872, onder die skuilnaam “Een vriend van het nuttige”. Die brief kry verskeie ander briewe as teenreaksie en Pannevis skryf dan ’n tweede brief wat op 21 September 1872 gepubliseer word. Toe hierdie brief nie die gewenste uitwerking het nie, skryf hy direk aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) in ’n private brief van 7 November 1874, ’n gebeurtenis wat indirek lei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Pannevis beveel in hierdie brief vir Du Toit aan as moontlike vertaler, maar noem Afrikaans op taktlose wyse ’n “dialekt, gevormd gedeeltelijk door verwaarloozing van de moedertaal”, wat die BBBG ongeneë stem om ’n brabbeltaal te bestendig. Die BBBG verwys dan hierdie skrywe in ’n brief van 7 Januarie 1875 na hulle plaaslike verteenwoordiger in Kaapstad, ds. George Morgan, wat dit met Du Toit bespreek om uit te vind of die behoefte vir ’n Afrikaanse Bybelvertaling werklik so groot is. Du Toit wil die saak eers met ’n paar voorstaanders van Afrikaans bespreek. Hy belê dan die vergadering van 14 Augustus 1875 in die Paarl met sewe ander persone (August Ahrbeck, C.P. Hoogenhout, Gideon Malherbe, D.F. du Toit (Dokter), D.F. du Toit (Oom Lokomotief), Petrus Malherbe en S.G. du Toit) waar die Genootskap van Regte Afrikaners gestig word. Almal behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was as familie verwant aan mekaar.Kotzé, Dirk. Die Genootskap van Regte Afrikaners. Die Taalgenoot, Augustus 1975

Die aanvanklike hoofdoel van die was om die Bybel in Afrikaans te vertaal, sodat alle mense die Woord in hulle eie taal kan lees, maar die doel verbreed gou om Afrikaans in die algemeen te bevorder. As nie-amptelike leier van die is Du Toit medeskrywer van hierdie organisasie se Manifes en ander pleitstukke, belangrikste skrywer van Die geskiedenis van ons land in 1877 en ook in 1880 die samesteller van Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging. Hy is die eerste redakteur van Di Patriot, die blad van die wat op 15 Januarie 1876 die eerste keer verskyn, maar gee hierdie pos in 1878 aan sy broer Daniël (Oom Lokomotief) oor. In 1880 begin die Kaapse Sinode van die NG Kerk met ’n beweging om Hollands in die Kaapse Parlement as voertaal erken te kry en hulle benoem ’n kommissie met Du Toit as sekretaris. Eindelik word Hollands op 1 Mei 1882 op voorstel van J.H. Hofmeyr (Onze Jan) in die parlement erken.Nienaber, P.J. Ken u die leiers van die Eerste Taalbeweging? Die Taalgenoot, Augustus 1950

In 1877 lewer hy sy bekende twaalf toesprake oor die onvervulde profesieë, wat wye belangstelling wek en waarna mense van naburige gemeentes ook kom luister. Dit trek ook die aandag van ds. Andrew Murray van Wellington, wat dit bywoon. In hierdie jaar ontwikkel hy egter ’n keelkwaal wat algaande versleg en hom strem in sy prediking. Twee mislukte operasies volg. Ten einde hom die kans te gee om te herstel, stel die gemeente in 1879 ’n beurs van £200 tot sy beskikking waarmee hy in staat gestel word om Europa, Egipte en Palestina te besoek. In Londen woon hy ’n preek van die beroemde Charles Spurgeon by en in Nederland maak hy kennis met die invloedryke teoloog en staatsman Abraham Kuyper, wie se denke op teologiese en politieke gebied groot invloed op hom uitoefen. Hierdie ervarings vind uiting in die boeke Op reis en Bijbellanden doorreisd.

Politieke betrokkenheid In 1879 kom ’n versoek van Beaufort-Wes dat Du Toit hom as Volksraadslid vir die Kaapse parlement verkiesbaar moet stel. Hy wys die versoek van die hand omdat sy gemeentewerk dit nie sou toelaat nie.  Vanaf 1879 beywer hy hom egter deur middel van Di Patriot vir die oprigting van die Afrikanerbond, ’n Hollandse politieke party in Kaapland wat hom veral vir die vereniging van Afrikaners regdeur die land en die gelykstelling van Hollands en Engels beywer. Nadat verskeie takke van die Afrikanerbond reeds in 1881 gestig is, word hierdie party formeel by ’n kongres van 1 Maart 1882 in die lewe geroep. Die Afrikanerbond gebruik Di Patriot as amptelike mondstuk en streef duidelike republikeinse doelwitte en vereniging van al die provinsies na. Gedurende Mei 1883 smelt die twee grootste Afrikaner organisasies van die tyd, die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereniging (ZABBV) van J.H. Hofmeyr, wat hom soos die naam aandui veral beywer het vir die bevordering van die belange van boere, en die Afrikanerbond saam. Die amptelike naam van die organisasie is die Afrikanerbond en ZABBBV, maar as party staan die nuwe organisasie bekend as die Afrikaander Nationale Partij. Hierdie organisasie besluit in 1890 op Nederlands as amptelike taalmedium van die organisasie, hoewel Di Patriot tot 1899 as mondstuk behoue bly. In hierdie jaar word Di Patriot as mondstuk onthef weens die politieke rigting wat Du Toit ingeslaan het.

Eerste Afrikaanse skool duimnael|200px|links|Ds. Du Toit as jong predikant.