Hongkong (Chinees: 香港, Xiānggǎng, Kantonees: Yale: Hē​unggóng, Jyutping: Hoeng1 gong2, Guangdong: Hêng1 gong2, [hœ́ːŋ.kɔ̌ːŋ], ; Engels: Hong Kong; letterlik: "lieflike hawe" of "wierookhawe" ), amptelik die Hongkong Spesiale Administratiewe Streek van die Volksrepubliek China (Engels: Hong Kong Special Administrative Region of the People's Republic of China, Chinees: 中華人民共和國香港特別行政區), is naas Macau een van twee spesiale administratiewe streke van die Volksrepubliek China. Hongkong is oos van die Pêrelrivierdelta en Macau aan die kus van die Suid-Chinese See geleë en grens in die noorde aan die Chinese provinsie Guangdong.

Dit was 155 jaar lank tot 1997 'n Britse oorsese gebied, aanvanklik 'n kroonkolonie (van 1842, kragtens die Verdrag van Nanking, tot 1997). Op 30 Junie 1997 is die beheer egter aan die Volksrepubliek China teruggegee, wat nietemin belowe het dat hy nie sy eie ekonomiese stelsel op Hongkong sou afdwing nie en dat dit die daaropvolgende vyftig jaar ’n hoë mate van outonomie sou geniet. Hongkong se ekonomie word wyd in die pers die vryste ter wêreld genoem, onder meer deur die Engelse tydskrif The Economist.

Sport duimnael|links|Openingseremonie van die Hong Kong Sevens in 2008 Die meeste en gewildste sportsoorte wat in Hongkong beoefen word, het hul oorsprong in die Verenigde Koninkryk en het tydens die Britse koloniale tydperk in Hongkong gevestig. Hongkong se sporttradisies toon min ooreenkomste met dié van die Volksrepubliek China en kom egter ooreen met dié van die Britse Statebond. Hongkong stuur sedert 1952 hul eie aparte span vir elke Olimpiese Somerspele en neem nie onder die Chinese vlag deel nie, dit stem ooreen met die "een land, twee stelsels"-beleid. Van 1934 tot 1994 het Hongkong ook aan die Statebondspele deelgeneem, maar nadat dit in 1997 deur die Verenigde Koninkryk aan die Volksrepubliek China oorhandig is, mag dit nie meer aan dié geleentheid deelneem nie.

Sokker is die gewildste sportsoort in Hongkong en word sedert koloniale tye beoefen. Die Hongkongse nasionale sokkerspan is in 1939 gestig en kon drie keer vir die AFC se Asiatiese Nasiesbeker kwalifiseer met hul beste prestasie in die derde plek in 1956. Hulle kon egter nog nie vir 'n FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi kwalifiseer nie.

Rugby is die tweede gewildste sportsoort in Hongkong en is veral bekend vir die jaarlikse sewesrugbytoernooi, die Hong Kong Sevens. Die Hongkongse nasionale rugbyspan is tans Asië se tweede sterkste span net ná Japan, en ding in die Asiatiese Rugbykampioenskap met ander opkomende rugbyspanne mee. Hulle het dié toernooi reeds ses keer gewen (in 2018, 2019, 2022, 2023, 2024 en 2025), agt keer as naaswenner en 15 keer in die derde plek geëindig. In 2025 het hulle ook vir die eerste keer vir 'n rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer en sal tydens die Rugbywêreldbeker 2027 in Australië debuteer, waarmee hulle die tweede Asiatiese land geword het om daarin te slaag. Die Hongkongse nasionale vrouerugbyspan het ook vir een vrouerugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.

Krieket is op pad na een van die gewildste sportsoorte van Hongkong en sedert 1992 word die Hong Kong Cricket Sixes in 6-per-kant-krieket gehuisves. Die Hongkongse nasionale krieketspan is tans een van Asië se sterkste spanne buite die Internasionale Krieketraad se EDI-lande en in November 2013 is Hongkong saam met Nederland T20I-status toegeken. Hongkong kon tot dusver nog nie vir 'n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie en hulle het twee keer aan 'n T20I-wêreldbekertoernooi deelgeneem (in 2014 en 2016), maar hulle kon nie die tweede rondte haal nie.

Galery

Verwysings

Bronnelys Algemeen

Eksterne skakels

Amptelike webwerf van die Hongkong Spesiale Administratiewe Streek

Kategorie:Kusstede Kategorie:Voormalige Britse kolonies