Shailene Woodley (gebore 15 November 1991) is 'n Amerikaanse aktrise en vervaardiger. Sy is bekend vir haar rolle in die rolprente The Descendants (2011), The Fault in Our Stars (2014), Divergent (2014), en Insurgent (2015). Sy is ook 'n omgewingsaktivis en bekend vir haar groen en natuurlike leefstyl.

Biografie Shailene Woodley is op 15 November 1991 in San Bernardino, Kalifornië in die VSA gebore. Haar pa, Lonnie, is van Britse afkoms en was 'n skoolhoof, maar word later 'n sielkundige. Haar ma, Lori, (die dogter van Stephan David Victor en Diana Lynn Fauria) is 'n skooladviseur en ook medestigter van haar en Woodley se nie-winsgewende organisasie, All it Takes. Woodley het 'n jonger broer, Tanner Stephan, en hulle groei op in Simi-vallei, wat minder as 100 km van Los Angeles af geleë is. Die feit dat haar ouers gereeld hulle huis oopgestel het vir slagoffers van huishoudelike geweld, was soms moeilik vir haar. Ten spyte daarvan dat haar ouers geskei is toe sy 'n tienermeisie was, vertel sy in 'n onderhoud dat sy net goeie herinneringe aan haar kindertyd het, want daar was altyd voedsel, ouerliefde en haar ouers het hul bes gedoen om vir haar en haar broer die beste moontlik te gee.

Op vyftienjarige ouderdom word sy met skoliose gediagnoseer, 'n toestand waar die ruggraat 'n sywaartse kurwe het, nadat 'n vriendin langs die swembad opgemerk het dat haar ruggraat vreemd lyk. Sy word genoodsaak om 'n plastiese rugstut wat vanaf haar bors tot by haar heupe strek, vir twee jaar, en agtien ure per dag, te dra.

Eerste rolle Vanaf die ouderdom van vier doen sy modelleerwerk. Toe sy vyf jaar oud is, begin sy klasse in toneelspel neem by Anthony Meindl, nadat 'n vrou haar ma genader het met die voorstel dat die jonge Woodley ingeskryf word vir klasse, omdat sy haar raakgesien het terwyl Woodley en haar ma gewag het dat 'n familielid se oudisie vir 'n handelsflits, afgehandel word. Haar ma het nog geaarsel, maar Woodley was baie opgewonde daaroor.

Sy verskyn vir die eerste keer as agtjarige in 'n klein rolletjie in die televisierolprent, Replacing Dad (1999), waarna talle ander klein televisierolle in onder andere, The District en Crossing Jordan volg. Haar talent besorg haar in 2004 die hoofrol in 'n televisierolprent: A Place Called Home, en sy word genomineer vir die Jong Kunstenaarstoekenning as Beste Jong Hoofrolaktrise in 'n Televisierolprent, Mini-reeks of Spesiale Uitsending.

Haar gewildheid as 'n kinderaktrise neem toe wanneer sy die rol van die jong Kaitlin Cooper in die eerste seisoen (2003) van die tiener-dramareeks, The O.C., vertolk. Sy kry die hoofrol in die televisierolprent, Felicity: An American Girl Adventure (2005) as Felicity Merriman wat haar nog 'n Jong Kunstenaarstoekenning-nominasie, dié keer vir Beste Spel in 'n Televisierolprent, Mini-reeks of Spesiale Uitsending (Komedie of Drama) besorg.

Sy verskyn in talle gasrolle in ander televisie-reekse, onder andere: Everybody Loves Raymond, My Name Is Earl, CSI: NY, Close To Home en Cold Case.

Hierna trek sy aandag met haar hoofrol in die ABC Gesinsreeks: The Secret Life Of The American Teenager (2008-2013) as Amy Juergens. Ken Tucker van 'n maandelikse Amerikaanse vermaaklikheidstydskrif, Entertainment Weekly, prys haar vertolking van Amy, deur te sê dat: "dit 'n goedbedoelde, brawe maar lamlendige reeks 'n hupstoot gee".

The Descendants Dis egter met haar rolprent-debuut in die 2011-rolprent, The Descendants, teenoor onder andere George Clooney waar sy naam begin maak het. Sy speel die rol van Alex, die moeilike tienerdogter van Matt King (gespeel deur Clooney) en word vir meer as twintig toekennings, waaronder 'n Golden Globe vir Beste aktrise in 'n Ondersteunende Rol, genomineer, waarvan sy meer as sewe wen.

Aldus New York Times-resensent, A. O. Scott, lewer sy een van die taaiste, knapste en mees geloofwaardigste jongmens-vertonings in onlangse geskiedenis, terwyl Peter Debruge, van die Variety-tydskrif in New York, sê dat sy haar rol as Alex skerp sowel as met die nodige diepte wat die rol vereis, vertolk. Bekende plaaslike resensent, Leon van Nierop, skryf dat sy die aandag boei onder leiding van regisseur Alexander Payne en in haar rol teenoor Clooney, ook dat sy 'n sukses is wat wag om te gebeur met haar "unieke, pragtige en rustige gesig en hipnotiese oë wat lyk asof sy alles van jou weet".

George Clooney was heel verras deur die bedrewendheid waarmee Woodley die duiktoneel, wat wys waartoe sy as aktrise in staat is om haar karakter geloofwaardig en eg te maak, vertolk het. In 'n onderhoud vertel hy dat hoewel hy saam met sommige wonderlike akteurs en aktrises op die stel van The Descendants gewerk het, Woodley vir hom uitgestaan het as baie professioneel. Tydens die eerste toneel wat hulle saam geskiet het, waar sy karakter aan Woodley se karakter moes vertel dat haar siek ma nie beter gaan word nie, terwyl sy in die swembad was, het sy onder die water ingeduik en begin huil. Clooney vertel dat hy nog nooit so iets beleef het nie en dat hy aan Woodley gesê het dat ongeag hoe die rolprent ontvang gaan word, sy nooit oor haar loopbaan bekommerd hoef te wees nie. Volgens Woodley het haar interpretasie van die teks, wat net aangedui het dat sy onder die water moes induik terwyl haar gesig vertrek, natuurlik gekom omdat dit is wat mens in die werklikheid sal doen as mens sulke nuus ontvang.

The Spectacular Now Vir haar hoofrol in haar volgende rolprent: The Spectacular Now (2013), die rolprent-weergawe van Tim Thorpe se gelyknamige roman, vertolk sy die rol van 'n onskuldige, boekwurm-tiener, Aimee Finecky, wat met die sjarmante en populêre, Sutter Keely (Miles Teller), begin uitgaan en wen sy 'n Cannes Trophée Chopard en word ook genomineer vir 'n Golden Globe Toekenning vir Beste byspeelster in 'n Rolprent.

Haar geloofwaardige en eerlike vertolking van Aimee beïndruk resensente: Die Los Angeles Times se Betsy Sharkey prys haar en Teller, omdat hulle emosies soos onder andere pyn, vriendskap, onverskilligheid en eerste liefde so opreg en geloofwaardig weergee. Aldus Leon van Nierop, kry Woodley en Teller die geleentheid om uit te blink in dié rolprent.

Toe Woodley voorgestel het dat sy Aimee as 'n sterk, selfstandige jong vrou moet uitbeeld, anders voel sy dat sy nie die regte keuse vir die rol is nie, het die regisseur, James Ponsoldt ingestem. Woodley wou ook so min as moontlik van grimering en haarstilering gebruik maak.

White Bird in a Blizzard In die rolprent, 'White Bird in a Blizzard', wat alreeds in 2012 verfilm is, maar eers in Oktober 2014 vrygestel is, speel Woodley 'n tiener, Katrina "Kat" Connors, wie se wêreld in duie stort toe haar ma verdwyn. Hoewel die resensies vir die rolprent meestal negatief is, word sy steeds geloof vir haar vertolking. Volgens Brian Tallerico van die webtuiste, Rogerebert.com, verander sy, soos gewoonlik, die rolprent in 'n werklikheid met haar natuurlike in-die-oomblik persoonlikheid wat die kyker geïnteresseerd hou, hoewel die storielyn verveel.

Divergent-trilogie In die wetenskaps-fiksie trilogie: Divergent (2014), Insurgent (2015) en Allegiant (2016), wat gebaseer is op Veronica Roth se boeke met dieselfde titels, speel Woodley die rol van Beatrice "Tris" Prior, 'n jong meisie wie se persoonlikheid "uiteenlopend" toets en in meer as een van die groepe waarin die samelewing verdeel is in 'n toekomstige Chicago kan pas, en daarom sal haar lewe in gevaar wees as die antagoniste dit sou uitvind omdat sulke mense nie maklik onder verstandelike beheer geplaas kan word nie.

In 'n onderhoud vertel die regisseur van Divergent, Neil Burger, dat hy Woodley in The Descendants gesien het en dadelik aan haar gedink het in die rol van Tris toe hy die draaiboek begin lees het en sy was dan ook die enigste aktrise wat 'n oudisie vir die rol van Tris afgelê het. Sy was egter bang vir die roem en gebrek aan privaatheid wat noodwendig sou volg op so 'n groot projek, die grootste wat sy nog aangepak het. Jennifer Lawrence (wat deel was van soortgelyke projekte) het haar egter aangeraai om die rol te aanvaar as die karakter haar interesseer. In 'n onderhoud vertel Woodley dat dit die verhouding tussen die karakters, Tris en Four (Theo James), was wat haar in die eerste plek aangetrek het: "Een van die hoofaspekte wat my aangetrek het na Divergent was hulle verhouding. Dis nie een van daardie dramatiese tienerverhoudings waar dit liefde met die eerste oogopslag is nie. . . dit voel vir my baie eg en baie persoonlik en realisties soos baie verhoudings is."

Sy het dit aan die begin moeilik gevind om die gevegstoneel in Divergent teenoor Miles Teller te speel, omdat hulle goeie vriende is, maar soos die verfilming gevorder het, het dit makliker geraak om aggressief op te tree. Sy het etlike dae lank wapenopleiding by 'n sekuriteitsgroep ontvang vir haar rol en ook vir 'n paar weke fisiese opleiding saam met die res van die rolverdeling. Sy het ook meeste van haar eie waagtoertjies gedoen, en is só een keer per ongeluk deur 'n trein op die stel van Divergent voortgesleep nadat sy geval het. Waar Tris egter van 'n meer as 20m-hoë gebou moes afspring in dieselfde rolprent het Woodley nie kans gesien nie en 'n dubbelganger, Alicia Vela-Bailey, is gebruik. Laasgenoemde vertel dat dit 'n plesier was om saam met Woodley te werk en dat sy dierbaar en wonderlik is.

Die eerste twee rolprente is redelik goed ontvang, en was beide 'n finansiële sukses maar na die derde rolprent se swak vertoning is die maak van die vierde rolprent opgeskort en daar is oorweeg om dit in 'n televisiereeks te verander, maar Woodley was nie daarin geïnteresseerd nie, hoewel sy geneë is om 'n verdere rolprent te doen aangesien sy geteken het om die volle verhaal van Tris te vertolk. Nadat van die ander rolverdeling ook geweier het om deel te wees van 'n televisiereeks, is die idee laat vaar.

Leon van Nierop loof Divergent as mensliker, meer gekarakteriseerd en makliker om te verstaan as The Hunger Games. Die vervaardiger, Sallas de Jager, voel dat Allegiant met die "stralende" Woodley en "hartebreker" Theo James baie suksesvoller as die gelyknamige roman van Roth is. Sam Allard van Orlando Weekly prys Woodley se vertolking in Divergent deur te sê dat sy 'n rolprent wat 'n volslae mislukking kon gewees het, red en ophef. Susan Wloszczyna van die webwerf RogerEbert.com skryf dat sy dit byna alleen regkry om hierdie rolprente daarvan te weerhou om ook deel te wees van die opgewonde nagmerrie-rolprente. Baie resensente loof onder andere Woodley en James se vertolkings in Insurgent en Daniel M. Kimmel skryf vir New England Movies Weekly dat Woodley soos gewoonlik 'n bestendige vertolking lewer en steeds iemand bly om dop te hou.

Sy is vir 'n paar toekennings benoem en het vir die eerste twee rolprente elk drie toekennings en vir Allegiant een gewen, waarvan sy sommige met mede-akteur, Theo James, deel.

In 'n latere onderhoud onthul sy dat siek was terwyl sy besig was met die trilogie, dat sy gesukkel het met 'n moeilike en vreesaanjaende fisiese toestand en daarom baie geleenthede van die hand gewys het.

The Fault in Our Stars Sy ontvang wye erkenning en meer as vyf toekennings vir haar hoofrol as 'n tiener-kankerpasiënt, Hazel Grace Lancaster, in die romantiese drama, The Fault in Our Stars (2014), wat op John Green se 2012-roman gebaseer is. Sy speel teenoor Ansel Elgort wat in Divergent haar broer gespeel het. Vir haar rol van Hazel Grace het Woodley haar lang hare kort geknip en moes sy die spiere wat sy tydens Divergent gebou het, weer verloor.