Die Brenta is 'n rivier in Noord-Italië met 'n lengte van 174 kilometer. Dit ontspring suidoos van Trento in Trentino-Suid-Tirol en word gevoed deur water uit twee mere, Caldonazzo en Levico. Hul wateraflope verenig naby Levico Terme. Die Brenta vloei deur die vallei Valsugano, aanvanklik in oostelike rigting, vervolgens suidwaarts. Naby Bassano del Grappa verlaat die rivier die Suidelike Kalkalpe en vloei verder deur die Venesiaanse vlakte (wat deel uitmaak van die groter Po-riviervlakte). Venesië se hoofkanaal en -waterweg Canal Grande vorm die laaste gedeelte van die rivierloop voordat die Brenta suid van die Venesiaanse strandmeer in die Adriatiese See uitmond.

Drie eeue lank het 'n vloot van bote op 13 Junie, die amptelike begin van somer, vanuit die Canal Grande op die Brenta gevaar om adellike en welvarende Venesiane na hul somerpaleise langs die rivieroewers te neem waar hulle tot November gebly het. Sowat tagtig villa's het langs die Brenta tussen Venesië en die elegante universiteitstad Padua bewaar gebly waarvan ses hul deure vir die algemene publiek open.

Galery

Eksterne skakels

Inligting VenetoInside.com: Riviera del Brenta padovanavigazione.it: From Padua to the Venetian Villas along the Brenta Riviera Media YouTube.com: Boottoere op die Brentarivier tussen Padua en Venesië

Kategorie:Riviere in Italië