duimnael|248px|New Horizons se baan verby Pluto (rooi) en Ultima Thule (wit).

486958 Arrokoth, wat die voorlopige naam gehad het, is ’n trans-Neptunus-voorwerp in die Kuipergordel in die buitenste deel van die Sonnestelsel. Dit is op 26 Junie 2014 deur sterrekundiges met behulp van die Hubble-ruimteteleskoop ontdek en op 1 Januarie 2019 deur die tuig New Horizons besoek. Arrokoth is 31 km lank, en die verskillende lobbe, met die byname "Ultima" en "Thule", is onderskeidelik 19 en 14 km breed. Dit is ’n kontakdubbelvoorwerp waarvan die twee dele met hul hoofasse langs aan mekaar verbind is en bestaan uit 'n groter deel (Ultima) wat drie keer so groot soos die kleiner deel (Thule) is. Dit lyk of Ultima 'n samestelling van agt kleiner voorwerpe, elk sowat 5 km breed, is wat saamgesmelt het voordat Ultima en Thule met mekaar in aanraking gekom het.

Dit het ’n wentelperiode van 298 jaar en ’n klein baanhelling en eksentrisiteit – daarom word dit as ’n klassieke Kuipergordelvoorwerp geklassifiseer. Dit het vermoedelik nie groot versteurings ondergaan nie en is dus een van die primitiefste voorwerpe bekend.

In Augustus 2015 is Arrokoth gekies as die volgende teiken van die ruimtetuig New Horizons ná sy verbyvlug van die dwergplaneet Pluto. Op 13 Maart 2018 het Nasa aangekondig die voorwerp sal die bynaam Ultima Thule hê. Dié besluit is geneem ná ’n openbare stemveldtog.

Arrokoth is die verste voorwerp in die Sonnestelsel wat nog deur ’n ruimtetuig besoek is.

Naam Arrokoth is genoem na ’n woord uit die taal Powhatan van ’n streek in Virginië en Maryland, en beteken vermoedelik "lug". Die uitspraak en betekenis van die woord is egter nie heeltemal seker nie, want die taal het laat in die 18de eeu uitgesterf en min is daarvan opgeteken. Die span van New Horizons het dié naam gekies omdat Arrokoth in 2014 met die Hubble-ruimteteleskoop in Maryland ontdek is. Die nuwe naam is deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) aanvaar en op 12 November 2019 deur die New Horizons-span aangekondig.

Toe Arrokoth die eerste keer waargeneem is, het dit die naam gekry, of sommer "11". Nasa het in Oktober 2014 aangekondig dit is ’n moontlike volgende teiken van New Horizons en dit is nieamptelik "PT1", of "Potential Target 1", genoem. Sy voorlopige naam, , wat aandui dit was die 1 745ste voorwerp wat in die tweede helfte van Junie 2014 ontdek is, is in Maart 2015 deur die Kleinplaneetsentrum daaraan gegee nadat genoeg wenteleienskappe versamel is. Ná nog waarnemings van sy wentelbaan het dit die permanente kleinplaneetnommer (486958) op 12 Maart 2017 gekry.

Hierna het Nasa die publiek genooi om vir ’n bynaam te stem. Op 13 Maart 2018 het Nasa aangekondig die bynaam sal "Ultima Thule" wees. Die naam, wat ’n veraf plek buite die grense van die bekende wêreld beteken, is een van 37 wat uit 34 000 name gekies is en waarvoor gestem kon word. Nadat met sekerheid vasgestel is dit is ’n kontakdubbelvoorwerp, het die New Horizons-span die grootste liggaam op 2 Januarie 2019 Ultima gedoop en die kleiner een Thule.

Ontstaan duimnael|250px|links|Die fases van Ultima Thule se vorming.

Ultima en Thule was vermoedelik eers twee aparte voorwerpe wat sedert die vorming van die Sonnestelsel 4,6 miljard jaar gelede mettertyd uit ’n draaiende wolk van klein ysliggame ontstaan het.

Nadat die twee liggame vermoedelik apart groter geword het, het hulle in ’n wentelbaan om mekaar begin beweeg. Uiteindelik het hulle vanweë die verlies aan momentum, wat ontstaan het omdat hul momentum na ander liggame in die wolk verskuif is, stadigaan nader aan mekaar beweeg totdat hulle aan mekaar geraak en later saamgesmelt het. Daar word geglo die twee liggame het baie stadig versmelt, met ’n spoed van sowat 2 m/s – min of meer so vinnig as wat ’n gemiddelde mens loop. Daar is moontlike aanduidings van skeure op hul oppervlak vanweë die samesmelting.

In die minstens 4 miljard sedert hul samesmelting was daar buitengewoon min impakte op hulle as gevolg van die stadige spoed van die liggaam in die Kuipergordel. Vanweë die gebrek aan gereelde kratervormingsvoorvalle en versteurings in sy wentelbaan het die liggaam se vorm en voorkoms feitlik onveranderd gebly.

Vorm thumb|200px|Stereoskopiese animasie gemaak van twee aparte beelde.

Arrokoth is ’n kontakdubbelvoorwerp wat bestaan uit twee lobbe wat met ’n helder, smal nek aan mekaar verbind is. Die groter lob, met die bynaam Ultima, se langste as is sowat 22 km en die kleiner lob, Thule, s’n sowat 14,2 km. Die hele voorwerp se langste as is 35 km. Die middelpunte van die twee lobbe is sowat 16 km van mekaar af.

Op 2 Januarie 2019, net ná die verbyvlug, het die hoofondersoeker van New Horizons, Alan Stern, Arrokoth se vorm beskryf as ’n “sneeuman”. Op 8 Februarie het Stern aangekondig die voorwerp se vorm blyk uit latere foto’s platter te wees as wat voorheen gedink is; hy het dit toe beskryf as eerder soos ’n groot “pannekoek” (die groter lob) en ’n "okkerneut" (die kleiner lob) as soos twee sfere.

Deur te kyk hoe die twee lobbe sterre op die agtergrond verduister, kon wetenskaplikes die vorms van die lobbe aflei. Die oorsaak van Arrokoth se onverwagte plat vorm is onseker, maar een verduideliking is dat die twee aparte lobbe op ’n tyd baie vinnig roteer het en dat hulle dus plat geword het vanweë middelpuntvliedende kragte.

Die langste asse van die twee lobbe lyn feitlik op met hul gemeenskaplike draaias. Dié oplyning dui daarop dat hulle ’n sinchroniese rotasie gehad het, waarskynlik vanweë getykragte, voordat hulle saamgesmelt het.

Geologie Oppervlak en spektra

Arrokoth se oppervlak is rooi. Sy kleur en spektrum is die eerste keer deur die Hubble-ruimteteleskoop gemeet. Dié kleur stem baie ooreen met die rooierige kleure van ander bekende Kuipergordelvoorwerpe, en is aansienlik rooier as dié van die dwergplaneet Pluto. Die waargenome spektrum van Arrokoth toon ’n sterk rooi spektrale gradiënt wat strek van die rooi sigbare spektrum tot die infrarooi by golflengtes van 1,2 tot 2,5 μm. Spektrale metings deur New Horizons toon die teenwoordigheid van metanol, waterys en organiese molekules op sy oppervlak. Die sentrum toon ooreenkomste met dié van en die sentour 5145 Pholus, want hulle spektra toon ’n sterk rooi spektrale gradiënt van omtrent dieselfde golflengtes, asook tekens van metanol op hul oppervlak.

Arrokoth se rooi kleur word veroorsaak deur ’n mengsel van organiese samestellings wat informeel as toliene bekend is.NASA to Make Historic New Year's Day Flyby of Mysterious Ultima Thule. Here's What to Expect. Nola Taylor Redd, Space.com. 31 Desember 2018.THE COLORS OF 486958 2014 MU69 ("Ultima Thule"): The Role Of Synthetic Organic Solids (Tholins). (PDF) P. Cruikshank, W. M. Grundy2, D. T. Britt3, E. Quirico4, B. Schmitt4, F. Scipioni5, C. M. Dalle Ore, J. C. Cook, L. Gabasova, S. Protopapa, S. A. Stern, H. A. Weaver, A. J. Verbiscer, J. R. Spencer, C. J. A. Howett, R. P. Binzel, A. H. Parker, New Horizons Composition Team. 50th Lunar and Planetary Science Conference 2019 (LPI Contrib. No. 2132). Januarie 2019. Die toliene is vermoedelik die resultaat van ultraviolet-sonstraling wat metaan en ander verbindings prosesseer.The colors of 486958 2014 MU69 ("Ultima Thule"): The role of synthetic organic solids (tholins). (PDF) P. Cruikshank, W. M. Grundy, D. T. Britt, E. Quirico, B. Schmitt, F. Scipioni, C. M. Dalle Ore, J. C. Cook, L. Gabasova, S. Protopapa, S. A. Stern, H. A. Weaver, A. J. Verbiscer, J. R. Spencer, C. J. A. Howett, R. P. Binzel, A. H. Parker, New Horizons Composition Team. 50th Lunar and Planetary Science Conference 2019 (LPI Contrib. No. 2132). Januarie 2019.

Op kleur- en spektrumfoto’s van Arrokoth toon die oppervlak subtiele kleurverskille. Spektrumbeelde wys die nek en liniëringseienskappe is minder rooi, terwyl die sentrale deel van die kleinste lob weer rooier lyk. Die groot lob het ook rooier streke, wat deur die New Horizons-span “duimafdrukke” genoem word.

Die oppervlak se albedo, of weerkaatsingsvermoë, verskil van 6 tot 14 persent vanweë verskeie helder streke. Sy geometriese albedo, die hoeveelheid lig wat in die sigbare spektrum weerkaats word, is 16,5 persent, wat tipies is van ’n Kuipergordelvoorwerp.

Kraters Die oppervlak het ’n paar vlak kraters. Die voorkoms van impakvoorvalle die afgelope miljard jaar blyk ongewoon en min te wees. Die spoed van voorwerpe wat teen Arrokoth bots, is vermoedelik baie laag: sowat 4 km/s. Vanweë die min kraters en lae spoed van die voorwerpe het die oppervlak relatief ongeskonde gebly en kan dit aanduidings gee van Arrokoth se vormingsproses, asook sy akkresiemateriaal.

Talle klein gate op die oppervlak is op hoëresolusiefoto’s deur New Horizons te sien. Die breedte van hierdie gate is sowat 700 m. Die presiese oorsake van die gate is onbekend; daar word gedebatteer of dit deur impakte, die instorting van materiaal, die sublimasie van vlugtige stowwe of die ontsnapping van vlugtige gasse veroorsaak word.

Oppervlakeienskappe thumb|320px|Die geologie van Arrokoth, met die komeet 67P volgens skaal. Noemenswaardige eienskappe word uitgelig. Die agt subeenhede van die groot lob, wat ma tot mh gemerk is, is topografiese eenhede wat “boublokke” van dié lob kan wees.

Die oppervlak van albei Arrokoth se lobbe het streke van wisselende helderheid wat moontlik uit materiaal met ’n beter weerkaatsingsvermoë bestaan. Daarbenewens word verskeie geologiese eienskappe geïdentifiseer, insluitende trôe en heuwels. Hierdie eienskappe het vermoedelik ontstaan deurdat kleiner subeenhede tydens Arrokoth se vorming saamgesmelt het. Die oppervlakswaartekrag op die heuwels is kleiner as by dele nader aan waar die twee lobbe bymekaarkom. Materiaal rol waarskynlik van die heuwels af na laer streke, waar die oppervlakswaartekrag groter is. Dit kan die helder streke op die oppervlak verduidelik, veral helder liniëringseienskappe waar helder materiaal dalk gedeponeer word.

Die kleiner lob, Thule, het ’n groot depressie wat die New Horizons-span "die Marylandkrater" noem. Dit is sowat 7 x 8 km groot en volgens stereografiese ontledings sowat 2 km diep. Dit is vermoedelik ’n impakkrater wat gevorm is deur ’n voorwerp van sowat 700 m breed. Twee groot, helder strepe is aan die kant van die depressie sigbaar en kan verband hou met grondstortings waar helder materiaal tot in die depressie afrol.

Vier trôe is geïdentifiseer al langs die dag-naggrens van die klein lob, asook twee moontlike kilometer breë inpakkraters aan die rand van die groot depressie. Thule se oppervlak toon donker, breë streke (dm gemerk op die beeld regs) wat helderder gevlekte streke skei. Hierdie donker streke is waarskynlik neerslae van vlugtige ys wat deur ’n laag donkerder materiaal bedek word. Nog ’n helder streek (rm gemerk), op die ewenaar van die klein lob, toon ruwe terrein en verskeie eienskappe wat gate, kraters of heuwels kan wees. Anders as Ultima, toon Thule blykbaar nie tekens van subeenhede in sy topografie nie. Dit kan wees vanweë ’n verskuiwing van sy oppervlak wat deur dieselfde impakvoorval veroorsaak is as sy groot depressie.

Die groot lob, Ultima, bestaan vermoedelik uit agt kleiner topografiese subeenhede wat elk sowat 5 km breed is. Dit lyk of elke eenheid deur grensstreke met ’n groot weerkaatsingsvermoë geskei word. Die eenderse grootte van die subeenhede dui daarop dat hulle individuele klein plantesimale was wat saamgesmelt het om die groot lob te vorm. Hulle het waarskynlik baie stadig versmelt (met ’n spoed van ’n paar meter per sekonde). Die sentrale subeenheid van die groot lob het ’n helder, ronde eienskap wat informeel “Die Pad na Nêrens” genoem word. Dit is volgens stereografiese ontledings relatief plat in vergelyking met ander topografiese eenhede op dié lob. Al langs die dag-naggrens van die groot lob is trôe en kettings gate te bespeur.