'n Kewer (of tor) is 'n insek in die Coleoptera orde, en omvat 40% van alle insekte. Sowat 300 000 spesies is reeds beskryf, maar die totale aantal word op 1 miljoen geskat. Van die Suid-Afrikaanse spesies is ongeveer 50 000 reeds beskryf. Kakkerlakke word soms verkeerdelik as kewers beskou.
Kewers het 'n kop, borsstuk, agterlyf en, as volwassenes, ses pote. Hulle verskil van ander insekte in die opsig dat 2 verharde dekskildvlerke (elytra) die agterste paar vliegvlerke beskerm. Kewers wissel in lengte van 1 mm tot meer as 150 mm. Hulle ondergaan 'n volledige metamorfose (gedaantewisseling) en leef in alle klimate en uiteenlopende omgewings, byvoorbeeld in woestyne, op hoë berge, in varswater, na aan die kus en selfs na aan die pole. Die meeste is plantetend, maar sommiges is vleisetend en sekere spesies vreet afvalstowwe, verwerkte produkte en selfs anorganiese materiaal.
Die kewer verdedig homself op verskeie maniere, onder meer met behulp van kleur of met reuk-, smaak- en gifstowwe wat deur die liggaam uitgeskei word. Baie kewers is peste, maar ander hou weer die ekologiese balans in stand en word in die verband deur die mens ingespan vir plaagbestryding. Die talrykste familie is die snuitkewers (Curculionidae), waarvan sowat 35 000 spesies reeds beskryf is (2 500 in Suid-Afrika). Ander belangrike families is die grondkewers (Carabidae), blaarkewers (Chrysomelidae), boktorre (Cerambicidae), miskruiers (Scarabaeidae) en dwaalkewers (Staphylinidae).
Klassifikasie duimnael|Tierkewer Kewers (orde Coleoptera) maak die grootste van die insekteordes uit: sowat 40% van alle insekte is kewers. Die klassifikasie van kewers is gekompliseerd en daar bestaan meningsverskil oor onder meer die indeling van subordes, super- en subfamilies. In die geval word daar hoofsaaklik op families gekonsentreer. 80 van 300 000 spesies (50 000 in Suid-Afrika) is reeds beskryf, maar die totale aantal spesies word op 1 miljoen geraam. Ongeveer 135 families is beskryf, waarvan 120 in die westelike halfrond en meer as 100 in Suid-Afrika voorkom. Die families word in 4 subordes verdeel, naamlik die Archostemata, Myxophaga, Adephaga en Polyphaga.
Die Archostemata sluit die primitiefste kewers in, waarvan sommige spesies 200 miljoen jaar gelede ontstaan het. Myxophaga het net enkele families, Adephaga het 10 (sowat 10% van alle kewers) en die vernaamste, Polyphaga, het 130 families (sowat 90 % van die totaal). Die meeste van die Adephaga is vleisetende grond- en waterkewers. Die Polyphaga-kewers word onderskei op grond van die afwesigheid van dwarsare (in uitsonderlike gevalle kan 1 aanwesig wees) en 'n geslote sel in die agtervlerke. Tot die suborde behoort die snuitkewers (familie Curculionidae), waaronder baskewers (familie Scolytidae) soms geklassifiseer word. Indien dit gedoen word, word snuitkewers en verwante kewers as die grootste familie in die diereryk beskou. Kewers word volgens struktuurverskille of volgens hulle lewenswyse ingedeel.
Subordes en families +FamiliesArchostemata (sowat 22 spesies)MicromalthidaeCupedidaeMyxophaga (enkele spesies)CalyptomeridaeHydroscaphidaeLepiceridaeSphaeriidaeAdephaga (sowat 28 000 spesies)AmphizoidaeCarabidaeDytiscidaeGyrinidaeHaliplidae Hygrobiidae NoteridaePaussidae RhysodidaeTrachypachidaePolyphaga (130 families)
Bou duimnael|Renosterkewer duimnael|Vuurvliegie Ondanks groot verskille tussen die talryke spesies het alle kewers 'n kop, borsstuk (toraks) en agterlyf (abdomen). Volwasse kewers het ook 6 pote. Hul liggaamsgrootte wissel van minder as 1 mm tot sowat 150 mm (die goliatkewer – Goliathus meleagris). Kewers word van ander insekte onderskei op grond van hulle dekskilde (elytra): een paar verharde voorvlerke wat die agterste paar vliegvlerke beskerm. (Kakkerlakke word soms verkeerdelik as kewers beskou; anders as by kewers kom hulle elytra egter nie in 'n reguit lyn bymekaar nie, maar vou bo-oor mekaar).
Die verskillende spesies se bou is aangepas by hul lewenswyse. Lede van een van die grootste kewerfamilies, die grondkewer (Carabidae), is byvoorbeeld sterk en atleties gebou, met voelers en pote van gemiddelde lengte sodat hulle maklik op vaste aarde oor die weg kan kom. Waterkewers (familie Dytiscidae) het vaartbelynde, gladde liggame, en spesies wat in hout boor (familie Bostrychidae), is weer silindries van bou sodat hulle maklik in hul tonnels kan beweeg. Op die kewer se kop is bytende monddele, twee oë en twee voelers. Die monddele is aangepas vir voedselopname, byvoorbeeld om die insek in staat te stel om kos op te suig of sy prooi te byt. Die mond- dele kan vorentoe of afwaarts wys. By die snuitkewer (familie Curculionidae) is die kop verleng tot 'n snoet.
Die kake van 'n ander kewer lyk weer soos 'n hark en stel die insek in staat om sy kos op te raap. By die grootkaakkewer (Lucanus cervus) is die kake uitermate verleng en lyk soos 'n bok se horings. Kewers het saamgestelde oë met verskillende vorme. Roofspesies se oë is goed ontwikkel om prooi raak te sien, terwyl grotspesies en larwes swak sien of glad geen oë het nie. Draaikewers (familie Gyrinidae), wat op die water leef, se oë is selfs tweeledig, sodat hulle met die een gedeelte bo en met die ander onder die water kan sien.
Voor die oë is die voelers (antennes) wat die gevoel- en reuksintuie bevat. Hulle het meestal 11 lidjies en vertak soms by die punte. Die voelers kan etlike kere langer as die kewer self wees, en die mannetjie se voelers is gewoonlik langer as die van die wyfie. Lieweheersbesies (familie Coccinellidae) se voelers is besonder kort – die genus Batocera maak daarteenoor op voelers van tot 230 mm aanspraak. Net die voorste 2 segmente van die borsgedeelte is gewoonlik voor die elytra sigbaar.
By die dwaalkewer (familie Staphylinidae) steek 'n hele aantal segmente van die agterlyf onder die dekskilde uit. Die horingagtige elytra is aan die tweede segment van die borsstuk, die pronotrum, vas en kom in die klein driehoekige scutellum bymekaar. Die elytra is dikwels vol groewe en is die ooglopendste beskerming wat by insekte aangetref word. Dekskilde word nooit in die vlug geklap nie, maar word wel gebruik as balanseerders en draagvlakke. Hulle kan kort wees, soos die van die dwaalkewers (famille Staphyllnidae), of goed ontwikkel, soos by die vuurvliegies (familie Lampyridae). Die wyfies van laasgenoemde familie, die glimwurms, het geen elytra nie. Wanneer 'n kewer vlieg, word die dekskilde skuins boontoe gelig om plek te maak vir die vliesagtige paar agtervlerke, wat soms harig is.
Nie alle kewers kan vlieg nie. Spesies wat kan vlieg, vlieg meestal stadig en die groter kewers maak dikwels 'n hoorbare geluid in die vlug. Van die vlieënde spesies is die tierkewer (subfamilie Cicendilinae) die vinnigste. Die kewer se gelede pote is, net soos sy ander liggaamsdele, by sy lewenswyse aangepas. Waterkewers se pote is plat met baie haartjies en werk soos roeispane. Aktiewe spesies soos die tierkewers het goed ontwikkelde pote, terwyl klimmende spesies soos die lieweheersbesie se pote kort en stewig is om maklik te kan vastrap.
Miskruiers (familie Scarabaeidae) se voorpote lyk soos harke sodat hulle goed kan grawe, en vlooikewers (familie Chrysomelidae) se agterpote het spiere aan die basisse, wat hulle daartoe in staat stel om te spring. Daar word gemeen dat kewers trillings of waterstrominge deur middel van verskeie gevoelspunte op die liggaam kan waarneem. Sommige spesies, bv. die vuurvliegie, het ook die vermoë om lig te maak – 'n seldsame vermoë onder diere. Kewers is dikwels swart of bruin en derhalwe onopvallend. Baie is egter pragtig helder en veelkleurig, soms met 'n metaalagtige glans, byvoorbeeld die metaalgroen lentekewer (familie Scarabaeidae). Die dekskilde en ander liggaamsdele het baie keer interessante patrone, knoppies of uitgroeisels. Die skilpadkewer (familie Chrysomelidae) kan ook van kleur verander.
Lewenswyse Verspreiding Kewers teel in alle klimate en uiteenlopende omgewings, byvoorbeeld in woestyne, op hoë berge, na aan die kus of na aan die pole. Sommige spesies woon saam met bye, miere of termiete, ander onder boomstamme, in grotte, dierkarkasse of voëlneste. Van die grootste families, soos die snuitkewers, is oor die hete wêreld versprei, ander is tot die noordelike halfrond beperk, terwyl sommige, soos pragkewers (familie Buprestidae), meestal in die trope aangetref word.
Sekere spesies kan selfs tot 'n enkele vallei beperk word. Party kewers is alleenlewend, byvoorbeeld die grondkewers en snuitkewers. Ander, soos die lieweheersbesies of die glanskewers (familie Chrysomelidae), is sosiaallewend soms in groepe wat uit verskillende spesies saamgestel is. Baie kewers maak net snags hulle verskyning en word dan deur ligte aangetrek.
Asemhaling Asemhaling geskied deur middel van 'n goed ontwikkelde trageale stelsel met talryke buisies, wat veral by die vlieënde kewers baie vertakkings het. Soms is daar 'n uitgebreide stelsel van lugsakkies in die liggaam waarin lug opgegaar word. Die asemhalingsopeninge, wat die buisstelset met die buitelug verbind, lê langs die borsgedeelte en agterlyf.
Waterkewers is vir suurstof aangewese op die atmosfeer en kom dus gereeld na die oppervlak om asem te skep. Die verbruikte lug word met pompbewegings deur 'n spleet onder die dekskild uitgepers. Die opening lê tussen die opgeligte dekskilde en die agterlyf. Vars lug vloei weer deur dieselfde opening onder die dekskilde na binne. Sommige klein waterroofkewers kan egter maande lank onder water bly voordat hulle boontoe kom. Hulle gebruik naamlik die suurstofborreltjies wat deur waterplante geproduseer word. By ander word borreltjies lug weer in 'n dik laag haartjies vasgehou, wat die kewer in staat stel om suurstof uit die water op te neem. Die soort asemhaling word plastronasemhaling genoem.
Voeding Die meeste kewers en hul larwes is plantetend – daar is spesies wat op alle moontlike plantdele leef: vrugte, sade, hout, skimmels, ensovoorts. Baie kewers eet egter dieremateriaal. Verwerkte produkte soos meel, tee of klere en selfs anorganiese stowwe word ook gevreet. Die snuitkewers is die grootste plantetende familie. In teenstelling met die kieskeurige glanskewers, wat net die sagste dele van die plant uitsoek, vreet snuitkewers alles, van wortels tot blare. Baie kewers leef op verrotte hout, bv. die baskewers (familie Scolytidae). Mierneskewers (familie Paussidae) woon saam met miere en eet sowel die miere as hul larwes. Enkele kewers is ook parasiete, bv. Platypsyllus castoris.
Die meeste spesies wat tot die suborde Adephaga behoort, is vleisetend, bv. tierkewers en waterroofkewers. Sekere spesies eet kewers van ander spesies – die bontroofkewers (familie Cleridae) vreet naamlik baskewers. Kewers wat op hul prooi jag maak, se kos word meestal buite die liggaam verteer. Die vangs word met maagensieme ingespuit, wat die vette en proteïene verteer, waarna dit deur buise aan die binnekant van die voorkake uitgesuig word, bv. die waterroofkewer.
Nie alle vleisetende kewers is jagters nie. Baie leef van karkasse, uitwerpsels of diereprodukte soos vel, hare, vere, bene of diervet. Die verteringstelsel van vleisetende spesies is korter as dié van planteters. 'n Interessante verskynsel is die gewoonte van sommige spesies lieweheersbesies om in 'n groep saam te werk wanneer hulle hul prooi vang. 'n Studie van vier Suid-Afrikaanse spesies het getoon dat die twee groter spesies die prooi gryp en aan sy bene of lyf vashou terwyl die kleiner kewers die bytwerk doen en die gif inspuit wat die prooi verlam. Kewers toon selde tekens van broeisorg. In uitsonderlike gevalle, soos by sekere spesies van die familie Passalidae, sal die ouers tog hul kleintjies voed en beskerm.
Verdediging