Sirië (Arabies: سوريا of سورية, Sūriyā of Sūrīyah) is in die sogenaamde Vrugbare Halfmaan geleë, die boogvormige noordelike rand van die Arabiese Skiereiland. Die land grens in die noorde aan Turkye, in die suidweste aan Israel (die strategies belangrike Siriese Golanhoogtes is in 1967 deur Israel beset), in die ooste aan Irak, in die noordweste aan die Middellandse See, in die suide aan Jordanië en in die suidweste aan Libanon.
duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van Sirië duimnael|links|Kaart van Sirië duimnael|links|Sirië, bakermat van beskawings: Sononder oor die antieke ruïnestad Palmyra Die huidige staatsgebied beslaan 187 437 km² met 'n totale bevolking wat in 2024 op sowat 24 miljoen beraam is, onder wie 1,5 miljoen vlugtelinge uit Irak en 'n halfmiljoen Palestyne. Die statistiese bevolkingsdigtheid is meer as 120 inwoners per km², nogtans is die bevolking oneweredig versprei en hoofsaaklik in stedelike gebiede soos Damaskus, Aleppo en Homs saamgetrek. Die woestynagtige steppe van Oos-Sirië, die tradisionele tuisland van nomadiese Bedoeïene wat die Tweestroomland in die ooste van die Mediterreense bergreeks Djabal Sahilija skei, is yl bevolk. As gevolg van die Siriese Burgeroorlog het meer as vier miljoen Siriërs sedert 2011 na die buiteland gevlug. Baie van die vlugtelinge word in aangrensende lande soos Turkye en Jordanië in tentkampe gehuisves. 'n Verdere nege miljoen Siriërs is in hul eie land ontwortel.
Die moderne Siriese staat het sy oorsprong in die tyd ná die Eerste Wêreldoorlog toe die gebied onder die mandaat van Frankryk geplaas is. Sirië was die grootste land wat in die Arabiese Levant ná die verbrokkeling van die Ottomaanse Ryk ontstaan het. In April 1946 het Sirië sy politieke onafhanklikheid as parlementêre republiek verkry.
In die volgende dekades is die land deur interne onrus geskud. So is Sirië in die periode tussen 1949 en 1971 verskeie kere deur staatsgrepe en pogings tot staatsgrepe getref. Tussen 1958 en 1961 het Sirië 'n kortstondige politieke unie met Egipte gevorm, die Verenigde Arabiese Republiek (VAR), wat deur 'n staatsgreep beëindig is. Sirië het vanaf 1963, toe die Pan-Arabiese Baath-party aan die bewind gekom het, tot en met 2011 in 'n noodtoestand verkeer waardeur die meeste burgerregte opgeskort is.
Sirië se binne- en buitelandse beleid is aanvanklik vanaf 1963 deur sosialistiese en anti-Westerse stromings oorheers. As voormalige bondgenoot van die Sowjetunie handhaaf die land steeds noue bande met die Russiese Federasie. Daarnaas is belangrike politieke alliansies met Palestyns-Islamistiese groeperings en die Islamitiese Republiek van Iran gesluit.
Die politieke mag in Sirië is in die hande van 'n klein elite van invloedryke families gekonsentreer. Sy politieke bedeling, waarin Pan-Arabiese ideologie met politieke sekularisme gekombineer word, toon baie ooreenkomste met dié van Irak onder die bewind van Saddam Hoesein. Die Islamitiese godsdiens vorm nogtans 'n sentrale bestanddeel van Sirië se nasionale identiteit en speel 'n belangrike rol in die openbare lewe.
Die Baath-party is naas die Siriese leër 'n beslissende sekulêre element waarin godsdienstige minderhede soos Alawiete, Droese en Grieks-Ortodokse Christene hul invloed kan laat geld in 'n samelewing wat andersins deur Soennitiese Moslems oorheers sou word. Sedert die verkiesing van Hafez al-Assad tot staatspresident in 1971 word die land deur die Alawitiese al-Assad-gesin geregeer. Hafez al-Assad is ná sy afsterwe in 2000 deur sy seun Basjar as staatshoof opgevolg. Basjar al-Assad, 'n geneeskundige wat sy akademiese opleiding in Londen en Parys ontvang het, het verskeie pogings onderneem om die land se ekonomie en regeringstelsel te hervorm en te liberaliseer.
Dit is nie tans vir buitelandse waarnemers duidelik hoe die interne magsverdeling tussen president, regering en geheimediens gereël word nie. Sedert Maart 2011 is die land egter in 'n bloedige burgeroorlog gewikkel wat uit die rewolusionêre politieke ontwikkelings van die sogenaamde Arabiese Lente in ander Arabiese lande soos Libië, Tunisië en Egipte voortgespruit het. Die regering verwys na die opstandelinge as Islamitiese terroriste.
Dit is nie die eerste keer dat opposisiegroepe soos die Moslembroederskap in opstand teen die Siriese regering gekom het nie. So is 'n opstand van die Moslembroederskap in 1982 deur lugaanvalle op sogenaamde "bevryde stede" soos Aleppo en Homs afgeweer.
Klimaat duimnael|Septemberson in 'n berggebied buite Aleppo Die kusgebiede langs die Middellandse See het, net soos die aangrensende westelik bergreekse, 'n Mediterreense klimaat met 'n lang droë seisoen tussen Mei en Oktober. Ligte somerreën is gewoonlik beperk tot die uiterste noordweste.
Die somermaande in die kusstrook is baie warm met 'n gemiddelde daaglikse maksimum van meer as 20 °C, terwyl die kwik in die gematigde winterseisoen nouliks benede 10 °C daal. Net die berggebiede op hoogtes van meer as 1 500 m bo seevlak het redelik koel somers.
Die Siriese binneland word deur 'n meer droë klimaat met baie warm somers en koue winters gekenmerk. Die gemiddelde somertemperature in Damaskus en Aleppo styg tot sowat 35 °C, terwyl die kwik in die wintermaande tot tussen 1 en 4 °C of selfs benede vriespunt kan daal. Sneeuval kom voor in dié gebied.
In Sirië se woestynstreke word hoër somertemperature aangeteken (met gemiddeldes tussen 35 en 40 °C).
Neerslae neem in ooswaartse rigting af. Terwyl die kusgebiede en westelike berggebiede jaarliks tussen 760 en 1 000 mm reënval ontvang, word in die binnelandse steppegebiede slegs tussen 250 en 500 mm, in die Al-Durūz-bergstreek 200 mm en in die woestyngebied van Al-Hamad minder as 130 mm aangeteken. Neerslae varieer baie, veral gedurende die lente en najaar.
Gedurende die wintermaande waai die heersende winde uit die ooste, noorde en weste. Windrigtings verander in die somermaande wanneer die heersende winde óf uit die noorde óf uit die weste waai.
Die kusgebiede is gedurende die somermaande aan winde blootgestel wat bedags van die see af (dus uit die weste) en snags uit die ooste waai. Sanddraende winde, wat in Arabiessprekende lande khamsin genoem word, waai een of twee keer per jaar en verduister die hemel met stofwolke wat tot 1 500 m in die lug opstyg.
Geskiedenis Oorsig duimnael|Die Romeinse bouvalle van Apamea Die huidige Republiek van Sirië het 'n betreklik kort geskiedenis – sy grense is min of meer eers ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog getrek, en eers in 1946 het die land sy volledige onafhanklikheid verkry.
Hierdie kort geskiedenis as moderne staat kontrasteer met 'n lang tradisie van verskillende beskawings wat op sy gebied gehuisves is en onder die oudstes in die menslike geskiedenis gereken word. Die sentrale gedeelte van die Eufraatvallei was reeds omstreeks 10 000 v.C. 'n belangrike landboustreek waar graan verbou en vee geteel is. In die 2de en 3de millennium v.C. het invloedryke stadstate soos Ebla en Mari relatief groot bevolkings gehuisves.
In die 20ste eeu het die bewoners van Sirië dekades lank onder vreemde heerskappy gestaan. Dié ervaring het, net soos die vinnige proses van modernisering en maatskaplike en ekonomiese omwenteling, die vorming van 'n gemeenskaplike nasionale identiteit bemoeilik. Net soos in ander ontwikkelende ekonomieë is die realisering van sosiale geregtigheid en die politieke en ekonomiese bemagtiging van alle etniese en godsdienstige groepe binne die Siriese samelewing sleuteltemas vir die verdere ontwikkeling van die land.
Antieke tydperk Die Griekse benaming Sirië het reeds in die 6de eeu v.C. ingeburger geraak, al het die geografiese gebied, waarna dié naam verwys het, grootliks gevarieer. Eers met die Romeinse verowering deur Pompeius in 64 v.C. het Provincia Syria na 'n vasomlynde administratiewe gebied verwys wat vanaf die Eufraatrivier tot Egipte gestrek het. Teen die begin van die Bisantynse heerskappy in die laat 4de eeu n.C. het Sirië egter slegs na die noordelike streke rondom Antiochië en Apamea verwys.
Arabiese verowering en Islamisering duimnael|'n Nagaansig van die Groot Omajade-moskee in Aleppo Die verowering van Damaskus in 635 was die beginpunt van die geleidelike Arabisering en Islamisering van die gebied. Vanuit die perspektief van die veroweraars, wat vanuit die Arabiese Skiereiland afkomstig was, het die Arabiese benaming al-Sjam gelykgestaan aan "die gebied aan die linkerkant" of "die noordelike gebied". Dié naam verwys in moderne Arabies nog steeds na die stad Damaskus. 'n Tweede benaming, Bilad al-Sjam ("die Siriese land"), het na bewoonde streke tussen die Taurus-gebergte en die Sinai-skiereiland verwys.
Gedurende die heerskappy van die Omajade-dinastie (661 tot 750) het Damaskus aan status gewen om uiteindelik die hoofstad en magsentrum van die Islamitiese Ryk te word. Met die magsoorname van die Abbasiede is die regeringsetel na Bagdad verskuif.
Sirië het in die volgende eeue onder die bewind van wisselende plaaslike heersers en dinastieë gekom, terwyl dele van Noord-Sirië tydelik deur die Bisantyne verower is. Die lang onstuimige tydperk het met die Seldjoeke-invalle in die 11de eeu en die vestiging van Seldjoekse vorstedomme in Aleppo en Damaskus voortgeduur.
Met die vestiging van Christelike Kruisvaarderstate in die Levant tussen 1099 en 1265 het belangrike stede soos Damaskus, Homs, Hama, Aleppo en Baalbek skatpligtig aan Europese heersers geword, al kon hulle hul politieke onafhanklikheid handhaaf. Plaaslike heersers en veldhere soos Noeraddin en Saladin het die uitbreiding van Kruisvaarderstate in bedwang gehou. Dié historiese periode het met die inneming van Akko deur die Arabiese Mameloeke geëindig. Omstreeks 1500 is Aleppo en Damaskus deur Mongoolse invallers onder Timoer verower en geplunder. Die verowering van Sirië deur die Ottomaanse Ryk in 1516 het 'n einde gemaak aan die Mamoeloeke-bewind.
Ottomaanse bewind duimnael|Die fasade van die 18de eeuse Ottomaanse Al-Azem-paleis in Hama weerkaats in 'n waterpoel Die Ottomaanse bewindhebbers het nuwe administratiewe strukture gevestig en Bilad al-Sjam in drie provinsies verdeel – Aleppo, Damaskus en Tripoli. Die provinsie Sidon is in die 17de eeu gevorm. Administratiewe hervormings is nog eens in die laat 19de eeu ingestel toe naas Damaskus, Aleppo en Beiroet ook Jerusalem en die Libanon-bergreeks selfstandige administratiewe eenhede geword het. Die huidige Siriese staatsgebied behels naas die vroeëre Ottomaanse provinsies Damaskus en Aleppo ook die distrik Deir ez-Zor.
Die nuwe absolutistiese regeringstelsel is deur die plaaslike bevolking veral aanvaar omrede die Ottomaanse soeltans naas hulle funksie as politieke heersers ook godsdienstige legitimasie as beskermers en bewaarders van die Islamitiese geloof gekry het. Daarnaas kon hulle op plaaslike elites steun, waaronder Islamitiese geleerdes, wat as 'n soort bemiddelaars tussen die magsentrum en die provinsies opgetree het.
Stedelike nedersettings het besondere funksies as administratiewe setels, handelspilpunte, pelgrimsplekke en godsdienstige sentra vervul. Ekonomiese, politieke en sosiale gesag was in die Ottomaanse tydperk veral in die hande van stedelike elites gekonsentreer.
Die reikwydte van die staatsgesag het nogtans grootliks gevarieer en in die laat 18de eeu 'n laagtepunt bereik. Die politieke gesag van provinsiale politieke akteurs soos die goewerneurs van Damaskus en Aleppo was in dié tyd min of meer beperk tot hul onmiddellike omgewing, terwyl stedelike bevolkings onder die konstante bedreiging van Bedoeïene-aanvalle gestaan het. Baie plaaslike heersers het die onstabiele politieke situasie as 'n kans gesien om onafhanklik van die staatsgesag op te tree.