Hierdie artikel handel oor die huidige land binne die Verenigde Koninkryk. Vir die historiese prinsdom, sien Prinsdom van Wallis.

Wallis (Engels: Wales, [ˈweɪlz], ; Wallies: Cymru, [ˈkəmri], ) is een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk. Dit lê in die suidweste van Groot-Brittanje en word deur die Engelse graafskappe (counties) Cheshire, Shropshire, Herefordshire en Gloucestershire in die ooste, die Kanaal van Bristol in die suide, die Sint-Georgekanaal (St. George's Channel) in die suidweste en die Ierse See in die weste en noorde begrens.

duimnael|links|Uitsig na die suidooste vanaf Snowdon, die hoogste bergpiek van Wallis en Engeland duimnael|links|Na die vier kastele en versterkings, wat koning Edward I ná die Engelse verowering van Wallis hier laat oprig het, is in die volksmond as die "Ysterring" verwys. Die kastele – Caernarfon, Beaumaris, Conwy en Harlech is as Unesco-wêrelderfenisgebiede aangewys. Die foto wys die Caernarfon-kasteel in Gwynedd teen sononder duimnael|links|Twee meisies in nasionale kleredrag op St David's Day, Wallis se nasionale feesdag wat op 1 Maart gevier word Soms word na Wallis ook as die Vorstedom van Wallis (Engels: Principality of Wales, Wallies: Tywysogaeth Cymru) verwys, alhoewel die Prins van Wallis nie by die regering van die land betrokke is nie en hierdie naam nie deur alle bewoners van Wallis goedgekeur word nie.

Wallis het nooit as 'n soewereine staat bestaan nie, en die Walliese deelkoninkryke is in 1282 deur Engeland geannekseer, nadat die Engelse koning Edward I in die Slag van Cilmeri 'n oorwinning oor die Walliese monarg Llywelyn II behaal het. Die Walliese Reg is egter in sommige plekke tot die afkondiging van die nuwe wetgewing oor regsake in Wallis (Laws in Wales Acts) in die jare 1535 tot 1542 behou.

Cardiff, die grootste stad van Wallis, is in 1955 as sy hoofstad aangewys (voor 1955 was daar geen amptelike Walliese hoofstad nie), terwyl die Prins van Wallis 'n amptelike woning in Caernarfon het. Die plaaslike parlement, die Nasionale Vergadering van Wallis, is in 1999 ná 'n referendum gevorm. Sy bevoegdhede is in 2007 volgens die Wet op die Regering van Wallis uitgebrei.

Wallis word tradisioneel verbind met 'n reeks ikoniese simbole – Walliese manskore, rugby, steenkoolmyne en lang reekse van terrashuise waarin mynbouwerkers gehuisves is, leiklipgroewe, Middeleeuse kastele (soos die "Ysterring" wat ná die Engelse verowering van Wallis ontstaan het), die bergpiek Mount Snowdon en skaapteelt (daar is steeds drie skape vir elke inwoner).

In die laat 20ste en vroeë 21ste eeu is nuwe ikone by dié lys gevoeg: nuwe nasionale museums wat die Walliese geskiedenis aan die nageslagte verduidelik (en, onafhanklik hiervan, as argitektoniese besienswaardighede beskou word), die nuwe parlementsgebou wat die Walliese Senned huisves, die Millennium-stadion en die herontwikkelde dokke van Cardiff asook die nuwe besoekersentrum wat sy deure op Mount Snowdon geopen het.

Etimologie Die woorde "Wallis" en "Wallies" is ontleen aan dieselfde Ou Engelse wortel (enkelvoud Wealh, meervoud Wēalas), 'n afstammeling van die Proto-Germaanse *Walhaz, wat op sy beurt ontleen is aan die naam vir die Galliërs wat deur die Romeine Volcae genoem is. Hierdie term is later gebruik om onoordeelkundig na inwoners van die Wes-Romeinse Ryk te verwys. Hierdie betekenis word nog steeds in name soos Wale en Wallonië (in België), Walagye (in Roemenië) en die einding -wall in Cornwall bewaar. Die Angelsaksers het die term gebruik om veral na die Britone te verwys; die meervoudsvorm Wēalas het die naam van hul gebied Wallis geword. In die historiese gebruik in Brittanje was die woorde nie beperk tot die moderne Wallis of die Walliesers nie; dit is egter gebruik om te verwys na enigiets wat Angelsaksers met Britte geassosieer het, insluitende ander nie-Germaanse gebiede in Brittanje (byvoorbeeld Cornwall) en plekke in die Angelsaksiese gebiede wat met Britone geassosieer is (byvoorbeeld Walworth in Durham en Walton in Wes-Yorkshire).

Die moderne Walliesers noem hulleself Cymry en Cymru is die Walliese naam vir Wallis. Dié woorde (wat albei [ˈkəm.rɨ] uitgespreek woord) is afgelei van die Britoniese woord combrogi wat "volksgenote" beteken, en het waarskynlik voor die 7de eeu gebruiklik geword. Volgens Middeleeuse legendes is dit afgelei van die oorspronklike koning van Cymru, Camber, die seun van Brutus, die eerste koning van Brittanje. In die literatuur kon die woorde gespel word as Kymry of Cymry, ongeag of dit na die volk of hul vaderland verwys het. Die Gelatiniseerde vorme van die name, Cambrian, Cambric en Cambria, het behou gebly in benamings soos Kambriese Berge en die Kambriese Geologiese tydperk. Die naam Cymru is nou verwant met plekname in Noord-Engeland soos Cumberland en Cumbria.

Geografie Fisiese en geografiese kenmerke duimnael|links|Die Brecon Beacons-bergreeks duimnael|links|Die bron van die Severnrivier in die Kambriese Gebergte Wallis lê op 'n skiereiland in die sentrale weste van Groot-Brittanje en beslaan 'n oppervlak van 21 218 vierkante kilometer. Dit is sowat 274 kilometer lank en 97 kilometer wyd. Wales het 'n kuslyn van meer as 1 200 kilometer en sluit 'n aantal eilande in, waarvan Anglesey in die noordweste die grootste is.

Die mees digbevolkte gebiede lê in Suid-Wallis, met die stede Cardiff, Swansea en Newport. Hierdie gebied is ook die nywerheidsentrum van Wallis.

Die grootste deel van Wallis se oppervlakte word deur bergagtige terrein beslaan, veral in die noordelike en sentrale gedeeltes, op hoogtes van meer as 150 m bo seevlak. MetOffice: Wales – Climate. Besoek op 7 Februarie 2016 Die bergreekse is tydens die laaste ystydperk gevorm, met die Snowdon (Wallies: Yr Wyddfa) in Snowdonië, Noord-Wallis as die hoogste bergpiek op 1 085 meter. Die Brecon Beacons in die suide bereik 'n hoogte van 885 m, terwyl die Kambriese Gebergte (Engels: Cambrian Mountains) in die hartland van Wallis uittoring. Die aarde se vroegste geologiese tydperk in die Paleosoïkum, die Kambrium, is na die Kambriese bergreeks genoem.

Walliese riviere ontspring in die bergreekse en dreineer die land straalvormig. Die Severn (Wallies: Hafren) is die langste rivier in Wallis en Engeland wat naby die bergtop Plynlimon in die Kambriese Gebergte ontspring. 'n Aantal hidroëlektriese kragsentrales en opgaardamme voorsien Wallis se groter nedersettings van elektrisiteit en drinkwater.

Die huidige grens tussen Wallis en Engeland is grotendeels in die 16de eeu willekeurig vasgelê en volg hoofsaaklik die Middeleeuse feodale grenslyne. Die grenslyn skei Knighton van sy spoorwegstasie, sny Church Stoke van die res van Wallis af en loop dwarsdeur die dorp Llanymynech.

Geografies word Wallis dikwels onderverdeel in vier substreke: North Wales (Noord-Wallis), Mid Wales (die Walliese Middelland), West Wales (Wes-Wallis) en South Wales (Suid-Wallis).

Noord-Wallis duimnael|The Grand Hotel, Llandudno duimnael|Bevrore turfgrond naby Hay Bluff in die Black Mountains, Powys Noord-Wallis (Wallies: Gogledd Cymru) behels die vroeëre graafskappe Caernarfon en Merioneth, wat as deel van administratiewe hervormings saamgesmelt is tot die nuwe graafskap Gwynedd, en die vroeëre graafskap Denbigh, wat saam met aangrensende dele van ander graafskappe saamgesmelt is tot Clwyd.

Die koninklike Tudor-dinastie het sy oorsprong in Noord-Wallis, terwyl die Britse troonopvolger steeds in die plaaslike Caernarfon-kasteel as "Prins van Wallis" geproklameer word. Die laaste sodanige plegtigheid het in 1969 plaasgevind toe hierdie titel amptelik aan Charles III, die oudste seun van koningin Elizabeth II, verleen is. Die titel is tans vakant.

Ook die nasionale Walliese party Plaid Cymru het sy wortels in dié streek. Vier dekades ná sy stigting in 1925 het die eerste Plaid Cymru-afgevaardigde, Gwynfor Evans (1912–2005), in 1966 'n setel in die Britse Laerhuis verower.

Noord-Wallis was danksy sy strande en berge een van die eerste streke in Groot-Brittanje wat vir toerisme ontsluit is. Die plaaslike kusgebiede word deur 'n groot verskeidenheid landskapsvorme gekenmerk wat van eensame strande tot kranse met klein visserdorpies wissel. Nogtans is dit veral gewilde see- en strandoorde wat met Noord-Wallis as vakansiebestemming verbind word. So word Llandudno onder die mees tradisionele en elegante vakansieoorde in die Verenigde Koninkryk gereken.

Die Walliese Middelland Die Walliese Middelland (Wallies: Canolbarth Cymru of kort Y Canolbarth "Die Middelland") behels die vroeëre graafskappe Montgomery, Radnor en dele van Brecknockshire wat saamgesmelt is tot die nuwe graafskap Powys, die vroeëre graafskap Cardigan (wat tans deel uitmaak van Dyfed) asook dele van Merioneth en Carmarthen.

Wes-Wallis Wes-Wallis (Wallies: Gorllewin Cymru) behels as die mees westelike substreek van Wallis volgens een definisie net Pembrokeshire, Ceredigion en Carmarthenshire, terwyl ander beskrywings ook Swansea en Neath Port Talbot hierby insluit en Ceredigion nie daarby inreken nie.

Die sogenaamde preserved county van Dyfed kom grootliks ooreen met die streek waarna algemeen as Wes-Wallis verwys word. Tussen 1974 en 1996 het West Wales as 'n graafskap bestaan.

Suid-Wallis duimnael|Die bergtop Pen y Fan (886 m) Suid-Wallis (Wallies: De Cymru) behels die historiese graafskappe Glamorgan en Monmouthshire, en soms word met Carmarthenshire en Pembrokeshire ook gebiede wes daarvan by dié substreek gereken. Dit word in die ooste en suide deur Engeland en die Kanaal van Bristol begrens, en in die noorde en weste deur die Walliese Middelland en Wes-Wallis. Sowat 'n derde van sy oppervlakte word deur die Nasionale Brecon Beacons-park beslaan, insluitende Pen y Fan, die hoogste bergtop suid van Snowdonië.

Met 'n bevolking van 2,2 miljoen (byna driekwart van die totale Walliese inwonertal) is Suid-Wallis die mees digbevolkte gebied in die suidweste van die Verenigde Koninkryk. Hier is met die hoofstad Cardiff (350 000 inwoners), Swansea (240 000) en Newport (150 000) ook die drie grootste stedelike nedersettings in Wallis geleë.

Die Sewe Wonders van Wallis Die Sewe Wonders van Wallis is 'n tradisionele lys van sewe geografiese en kulturele bakens in Wallis: Snowdon (die hoogste berg), die klokke van Gresford met hulle kenmerkende gelui in die Middeleeuse Allerheilige-kerk, die Llangollen-brug (wat in 1347 oor die Deerivier opgerig is), die Bron van Sint Winefride ('n pelgrimsoord naby Holywell in Flintshire), die Toring van Wrexham ('n 16de eeuse toring van die Sint Giles-kerk in Wrexham), die Venynbome van Overton (baie oue venynbome op die begraafplaas van St Mary's in Overton-on-Dee) en Pistyll Rhaeadr (met 75 meter die hoogste waterval in Wallis).

Klimaat duimnael|Llangynidr, 'n dorpie in die Uskvallei, onder sneeu duimnael|links|Reënwolke oor Llynnau Mymbyr in die hartland van Snowdonië duimnael|'n Uitsig oor die soutmoeras van Cardigan Bay in Gwynedd, Noord-Wallis, met die dorpie Barmouth in die agtergrond. Die foto is in Desember geneem Wallis het 'n seeklimaat wat deur gematigde temperature, winderige, reënerige en dikwels bewolkte weerstoestande gekenmerk word. Kus- en landskapsvorme het beslissende invloed op plaaslike weerstoestande. So varieer die meer ruwe klimaat van hoër geleë bergstreke met meer gematigde weerstoestande in beskermde kusgebiede. Gebiede in die ooste van die land is eweneens meer gematig, met klimaattoestande wat grootliks ooreenkom met dié van aangrensende Engelse graafskappe.

In laer geleë streke word 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van tussen 9,5 en 11 °C aangeteken, waarby die hoogste temperatuurwaardes in kusgebiede gemeet word. Die gemiddeldes daal met 0,5 °C vir elke 100 m hoogte-toename. So word in gebiede op 400 m bo seevlak byvoorbeeld 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van sowat 7,5 °C aangeteken.