Helen Suzman (gebore Helen Gavronsky, Germiston, 7 November 1917 – Johannesburg, 1 Januarie 2009) was ’n lid van die Volksraad van 1953 tot 1989.
Veral nadat sy in 1959 uit die Verenigde Party bedank het weens die amptelike opposisie se halfhartige bestryding van afsonderlike ontwikkeling en van 1961 tot 1974 die Progressiewe Party se enigste Volksraadlid was, was Suzman dikwels die enigste teenstem in die Parlement tydens die aanvaarding van die mees drakoniese apartheidswette. Al was haar opvattings oor die regering se rassebeleid vir die meeste Volksraadslede van die Nasionale Party aanstootlik, het hulle genoeg respek vir die Parlement as instelling gehad dat dit vir haar moontlik was om vergrype en onreg deur die apartheidsregering aan die lig te bring. Sy was ook ses jaar lank die enigste vrou in die Unie-Volksraad. 'n Kort biografie op die webtuiste van die Helen Suzman-stigting . URL besoek op 19 Oktober 2015.
Suzman was jare lank een van die bekendste figure in die Suid-Afrikaanse parlement, nie net binnelands nie, maar ook buitelands. By haar uittrede in 1989 was sy die LV met verreweg die langste diens nadat sy die Nasionale Party se apartheidsbeleid 36 jaar lank teengestaan het. As dit nie vir haar volgehoue pogings en sukses by die stembus in haar kiesafdeling, Houghton, was nie, sou die Progressiewe Party, ’n afstammeling van die Suid-Afrikaanse en Verenigde Party (VP) van genls. Louis Botha, Jan Smuts en J.B.M. Hertzog en ’n voorloper van die Demokratiese Alliansie, bes moontlik ten gronde gegaan het, net soos die ses ander partye wat tussen 1953 en 1977 uit die VP ontstaan het. As dit gebeur het, kon die opposisiepolitiek in 'n demokratiese Suid-Afrika heelwat anders daar uitgesien het.
In haar eensame jare van 1961 tot 1974, toe sy die Progge se enigste Volksraadslid was, het selfs VP-lede haar meermale aangeval vir haar onverskrokke geloof in basiese menseregte en die oppergesag van die reg. Met geen geesgenote in die parlement nie, is sy selfs sosiaal uitgesluit en verguis oor onder meer haar sterk standpunt teen aanhouding sonder verhoor en die regering se tuislandbeleid. Al het sy vlymskerp aanvalle op haar teenstanders in die raadsaal geloods, het sy respek by selfs haar vyande afgedwing. Toe sy in 1989 weer haar plek gaan inneem nadat sy haar laaste toespraak in die Volksraad gelewer het, het haar jare lange vriend en medestryder Colin Eglin ’n verkrampte lid van die Konserwatiewe Party teenoor ’n kollega hoor opmerk: "Dié Helen Suzman; sy's darem ’n grand lady." Eglin, Colin in Lee, Robin. 1990. Values Alive. A Tribute to Helen Suzman. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers. Gelukkig het sy altyddeur die speakers se beskerming geniet, wat verseker het dat sy haar standpunt kon stel en dat die goedgesinde Engelse pers dit verder kon uitdra.
Hoewel nie een enkele van haar tientalle mosies in die loop van 36 jaar aanvaar is nie, het sy meer vrae as enige ander LV gestel en so inligting aan die lig gebring oor die regering se toepassing van apartheidswetgewing wat andersins verskuil sou gebly het. Vanaf die tweede helfte van die 1960's het sy gereeld gevangenisse besoek om ’n verbetering in aangehoudenes se omstandighede te bewerkstellig, iets wat deur haar toedoen geleidelik wel gebeur het.
Herkoms en skoolopleiding Albei Suzman se ouers was Litaus-Joodse immigrante. Twee Gavronsky-broers en twee David-susters het op verskillende tye vroeg in die 20ste eeu uit Litaue na Suid-Afrika geëmigreer. Die twee broers is eindelik met elk van die susters getroud. Die Gavronsky-broers het hulle in Transvaal gevestig terwyl die David-susters in Kimberley gaan woon het. Gastrow, Shelagh. 1987. Who's Who in South African Politics. Johannesburg: Ravan Press. Aan die Rand het die Gavronsky-broers hulle besig gehou met die slagterybedryf (vleis, velle, beenmeel, enigiets wat die plaaslike beesbedryf kon oplewer). Mettertyd het hulle vooruit geboer en hul belange uitgebrei na eiendom, en selfs welvarender geword. Samuel (1888–1965) en Frieda (1888–1917) Jewish Women's Archive. URL besoek op 19 Oktober 2015. Gavronsky het twee dogters gehad, naamlik Gertrude en Helen. Met Helen se geboorte op 17 November 1917 op die destyds myndorpie Germiston was Gertrude vier jaar en ses maande oud. Toe die baba skaars twee weke oud was, is haar ma (toe 28) blykbaar aan nageboortelike komplikasies oorlede. Samuel Gavronsky is 10 jaar later weer getroud. Intussen het hy en sy twee dogters by sy kinderlose broer, Oscar, en skoonsuster, Hansa, gaan woon. Sy jongste dogter, Helen, het Samuel, wat in 1965 oorlede is, onthou as ’n gesellige kêrel, gek oor katte en honde, oor perde en kaartspeletjies en net terloops godsdienstig. Waar hy ook al tuisgegaan het, sou hy altyd Vrydagaande seremoniële kerse aansteek, en niemand mag vark in sy woonplek geëet het nie; tog het dit hom nie juis gepla waar die wors by iemand anders se braaivleis vandaan gekom het nie, volgens sy dogter. Kahn, E.J. jr. in Lee, Robin. 1990. Values Alive. A Tribute to Helen Suzman. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.
Soos die geval was met talle ander Joodse meisies destyds aan die Rand, het Suzman haar skoolonderrig ontvang aan ’n Katolieke kloosterskool, die Parktown Convent (die privaat King David- Joodse skole is eers vanaf 1948 in Johannesburg gevestig). Die skole se geskiedenis. URL besoek op 17 Oktober 2015. Sy sou later vertel die leerders het geleer memoriseer, want dit is hoe die nonne hulle onderrig het. Hulle is ook geleer om tot elke prys te wen, want as hulle verloor het, sou ’n senior non hulle pak gee. Suzman het gemeen dit het haar goed op die politiek voorberei; "’n mens is nie veronderstel om in die politiek te verloor nie".
Suzman het nie haar politieke bewustheid in haar ouerhuis gekry nie, want sy kon in later jare nie onthou dat haar vader ooit aan swart mense as enigiets buiten "bediendes" gedink het nie. Nadat sy tot die parlement verkies is, het sy hom twee maal daaraan probeer herinner dat "swart mense in Suid-Afrika aan baie van die beperkings onderwerpe is wat hy in sy vroeë lewe as Jood in die Russiese Ryk moes verduur", maar teen daardie tyd het hy aansienlike eiendomsbelange, onder meer enkele hotelle, gehad en was hy blykbaar min gepla deur haar pleidooi. In haar grootwordjare het Suzman self geen kontak met swart mense gehad nie, buiten met huiswerkers.
Naskoolse opleiding en huwelik duimnael|links|220px|Helen Gavronsky tree op 12 Augustus 1937 in die Groot Sinagoge in Wolmaransstraat, Johannesburg, in die huwelik met dr. Mosie Suzman. duimnael|220px|Helen Suzman en haar kinders, Frances, die oudste, en die baba Patricia. Begin 1934 het die skaars 16-jarige haar aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf vir ’n B.Com. met vakke soos ekonomie, rekeningkunde en later ekonomiese geskiedenis. Aan die einde van haar tweede jaar het sy ’n studentetoer na Londen onderneem, waar haar suster, wat toe reeds met ’n dokter getroud was, gewoon het. Suzman het die vorige jaar ook daar gaan kuier en het dié keer gehoop sy kon aan die London School of Economics inskryf, maar haar vader het daarop aangedring sy kom huis toe. Sy het na Wits teruggekeer, maar in haar derde jaar opgeskop. Later het sy tot die gevolgtrekking gekom sy was te jonk toe sy matrikuleer.
Kort nadat sy haar studie laat vaar het, het sy op ’n dag perd gery by ’n ryskool toe sy langs ’n dokter, 14 jaar ouer as sy, beland. Dr. Moses Meyer (Mosie) Suzman (6 Maart 1904 – 11 Julie 1994) Obituary: Dr Mosie Suzman, Independent, 19 Julie 1994. URL besoek op 19 Oktober 2015. was een van die agt kinders van ’n welgestelde tabakgroothandelaar. Dié twee het mekaar reeds geken, maar nou het hul vriendskap geblom en in 1937 is hulle in die Groot Sinagoge in Wolmaransstraat, Johannesburg, getroud. Dr. Suzman het later ’n internis geword wat gespesialiseer het in siektes van die hart, bloed en senustelsel. Hy het nog tot in sy tagtigerjare in Johannesburg gepraktiseer. Wanneer die parlement in sitting was (sy vrou was Volksraadslid van 1953 tot 1989), het sy al om die ander naweek opgevlieg Johannesburg toe om twee dae saam met haar man deur te bring.
Die egpaar Suzman het twee dogters gehad. Die jongste, Patricia, ’n nefroloog, het in later jare in Boston in die VSA gewoon en gewerk. Frances, die oudste, was ’n kunshistorikus wat met ’n professor in die regte, Jeffrey Jowell, getrou het en in Londen gaan woon het. Dié egpaar het albei aan Harvard afstudeer. Hul eersteling, Joanna, is in Massachusetts gebore en die tweede, Daniel, in Kanada, waar die gesin ’n tyd lank gewoon het.
Kort ná Frances se geboorte het Suzman teruggekeer na Wits en daar haar graad in 1942 verwerf. Teen daardie tyd was die Tweede Wêreldoorlog al goed onderweg. Die latere eerste minister John Vorster, met wie Suzman later baie in die parlement te doen sou kry, en sy politieke geesgenote wat nog nie die Britte vir die lyding van die Boereoorlog vergewe het nie, het aangesluit by die Ossewabrandwag wat daarop uit was om die bewind in die Unie van Suid-Afrika omver te werp en deur ’n Nazi-gesinde regering te vervang. Moses Suzman het vir die Suid-Afrikaanse Mediese Korps gewerk en, terwyl sy vrou hul tweede kind verwag het, as luitenant-kolonel in ’n weermaghospitaal in Egipte diens gaan doen. Hy het byna twee jaar lank op afgeleë poste deurgebring. Sy vrou het intussen tyd afgeknyp van die versorging van haar twee dogters om vir die Goewerneur-Generaal se Oorlogsfonds te werk en daarna as statistikus vir die Raad op Oorlogsvoorrade, waar dit haar taak was om mense uit te snuffel wat onwettig by die oorlogspoging baat gevind het.
Ná die oorlog In 1945 het die Universiteit van die Witwatersrand haar ’n deeltydse betrekking as tutor aangebied en kort voor lank is sy aangestel as dosent in ekonomiese geskiedenis. Hier sou sy agt jaar bly. Mettertyd het sy ál meer in die politiek begin belangstel en betrokke geraak by die veelrassige Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings.