Die grootflamink (Phoenicopterus roseus) is die mees wydverspreide spesie van die flamink-familie, maar migreer slegs in sommige gevalle en dan slegs oor kort afstande. Die voël is nou verwant aan die rooiflamink en die Chileense flamink en somtyds word na die drie as dieselfde spesie verwys.

Identifikasie duimnael|links|Die kop van 'n grootflamink in die Nehru-dierepark in Hyderabad duimnael|links|Met die kop hangend in die voedingsposisie, Suid-Afrika Soos die naam aandui, is die grootflamink 'n groot voël, met 'n algemene lengte van 120–140 cm. Die meeste van die grootflamink se vere is pienk-wit, maar die binnevlerke is rooi en die primêre en sekondêre vliegvere is swart. Die snawel is pienk met 'n swart punt en die pote is is heeltemal pienk.

Verspreiding Die grootflamink kom voor in verskeie dele van Afrika, Suidwes-Asië (insluitende Turkye), Suidelike-Asië (die kusgebiede van Indië) en Suid-Europa (insluitende Spanje, Siprus, Portugal en die Camargue-gebied van Frankryk).

Voorplanting Grootflaminke is monogaam vir die duurte van die broeiseisoen. In opvolgende jare kan hulle egter met dieselde of 'n nuwe maat afpaar. Die ouers werk saam om die nes te bou en die kuiken groot te maak. Die grootflaminkwyfie lê 'n enkele bordkryt-wit eier op 'n ronde modderhopie. Die eier neem 27 tot 31 dae om uit te broei. Na kwalik 'n week of effe meer verlaat die kuiken die nes en sluit by 'n crèche van jongelinge aan. Daar word hulle deur enkele ouers versorg. Op 10 tot 13 weke ouderdom het hul vlugvere ontwikkel, en leef hulle onafhanklik. Op ouderdom van drie jaar kan hulle geslagsryp wees, maar die eerste broeipoging is meestal van die vierde jaar of later by mannetjies, en van die vyfde jaar of later by wyfies.

Langlewendheid In die natuur word grootflaminke tussen 20 en 30 jaar oud. Hulle kan arende of bobbejane ten prooi val, en kan voedselskaarste beleef. In gevangenskap waar voorgenoemde faktore nie 'n rol speel nie, kan hulle meer as 50 jaar oud word, en 'n rekordouderdom van 83 jaar is by die Adelaide-dieretuin in Australië aangeteken.

Geluid Die geluid van 'n grootflamink is 'n "honk" geluid wat sterk aan 'n gans s'n herinner.

Ander name Ander name sluit in greater flamingo in Engels, en uKholwase of uNondwebu in Zoeloe.

Fotogalery

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Verwysings

Bronnelys Newman se Voëls van Suider-Afrika,

Eksterne skakels

Kategorie:Flaminke