duimnael|250px|Die patentplaat van 'n Martin-uitskietstoel van die gelyknamige militêre vliegtuig wys dat die ontwerp deur verskeie patente gedek word Brittanje, Suid-Afrika, Kanada en ander lande. 'n Patent is 'n stel uitsluitlike regte wat deur die staat aan 'n persoon toegeken word vir 'n vaste tydperk in ruil vir die beheerde, openbare bekendmaking van sekere besonderhede van 'n toestel, tegniek, proses of samestelling van materiale (wat as 'n uitvinding bekend staan) wat nuut is, innoverend en nie voor-die-hand-liggend is nie en bruikbaar is of nywerheidstoepassings het.

Die uitsluitlike regte wat aan die patenthouer gegee word is die reg om ander te verhoed om die patent waarop aanspraak gemaak word te maak, gebruik, te verkoop, aanbiedinge tot die verkoop daarvan te maak of dit in te voer. Die regte wat aan die patenthouer toegeken word sluit nie noodwendig die reg in om die uitvinding self te maak, te verkoop of te gebruik nie. Die patenthouer mag byvoorbeeld eers aan ander wette en regulasies voldoen alvorens hy kan gebruik maak van die uitvinding. 'n Farmaseutiese maatskappy mag byvoorbeeld 'n patent op 'n nuwe medikasie verkry maar sal dit nie aan die mark kan bekendstel sonder die nodige wetlike toestemming soos deur 'n betrokke land se wette voorgeskryf word nie. 'n Uitvinder kan ook byvoorbeeld moontlik 'n patent verkry vir 'n verbetering tot 'n spesifieke soort laser, maar nie die nuwe ontwerp kan verkoop of vervaardig sonder 'n lisensie (toestemming) van die eienaar van 'n vroeëre breër patent wat alle lasers van die soort dek nie.

Die term "patent" vind sy oorsprong in die Latynse woord patere wat beteken om te "oop te maak" (d.w.s. openbaar te maak).

Ekonomiese grondrede

Daar bestaan drie hoofregverdiginge vir die toekenning van patente. Eerstens, ooreenkomstig die oorspronklike definisie van die term "patent", word daar geredeneer dat patente die openbaarmaking van innovasies bevorder en aanmoedig en sodoende in die openbare belang is. As uitvinders nie die wetlike beskerming van patente geniet het nie, sou hul moontlik verkies het om hul uitvindings geheim te hou. Die toekenning van patente maak die besonderhede van nuwe tegnologie aan die publiek beskikbaar sodat dit uitgebuit kan word deur enigeen nadat die patent se beskermingstydperk verstryk het of vir verdere verbetering deur uitvinders (wat hierdie verbeteringe op hulle beurt kan patenteer). Verder verseker die openbare rekord dat die patenthouer se idee nie aan die mensdom verlore gaan wanneer die patent se termyn verstryk nie.

Tweedens word daar algemeen geglo dat patente mense aanspoor tot ekonomies doeltreffende navorsing en ontwikkeling (N&O of R&D). Baie groot moderne korporasies het jaarlikse begrotings van honderde- of selfs biljoene Rande. Sonder patentbeskerming sou die spandering op N&O betekenisvol minder gewees het of dalk selfs glad nie eers bestaan het nie, wat die moontlikhede vir tegnologiese vooruitgang of -deurbrake ernstig sou kortwiek. Korporasies sou minder geneë wees om geld op N&O te spandeer as derde party vry sou wees om enige gevolglike ontwikkelinge uit te buit. Hierdie tweede regverdiging is nou verwant aan die basiese beginsels wat die grondslag vorm van eiendomsreg (waarom 'n huis bou as iemand anders vry is om daar in te trek?).

Derdens glo baie dat patentregte ander maatskappye of indiwidue aanspoor om alternatiewe te ontwikkel om gepatenteerde uitvindings te omseil en sodoende word nuwe alternatiewe tegnologieë ontwikkel wat anders nooit ontwikkel sou word nie.

Kritiek

Daar is egter argumente wat patentregte teenstaan. Die toeken van 'n patent gee aan die patenteienaar 'n "negatiewe reg" omdat hy of sy ander mededingers wettig kan verhoed om die uitvinding te gebruik, selfs al het die mededinger dieselfde uitvinding onafhanklik ontwikkel. Sommige mense glo dat die aansporing wat patente bied nie noodsaaklik is vir die skep van nuwe uitvindings nie en dat die aansporings wat die markkragte bied meer as voldoende is. In die geskiedenis is daar vele voorbeelde waar patente deur heersers aan partye toegeken het wat nie vir uitvindings verantwoordelik was nie met die uitsluitlike doel om voordeel daaruit te trek. Ander glo dat patente mededinging onderdruk en lei tot hoër pryse, laer kwaliteit en tekorte.

Die geskiedenis leer dat lande met doeltreffende patentstelsels 'n groter ekonomiese groei en tegnologiese vorderinge beleef het as lande waar intellektuele eiendom nie deur die wet beskerm word nie. Daar is egter verskille ten opsigte van spesifieke nywerhede. Die kleurstofnywerheid in Brittanje waar patentbeskerming van krag was het byvoorbeeld in die middel van die 19de eeu geweifel terwyl dit in Duitsland gefloreer het ten spyte van die afwesigheid van sulke wetlike beskerming.

'n Meer subtiele probleem met patentregte is deur die regsgeleerdes Professors Michael Heller en Rebecca Eisenberg voorgestel in 'n artikel wat hulle in 1998 in die tydskrif Science geskryf het. Die professore het gepostuleer dat nuttige uitvindings wat op vroeëre gepatenteerde uitvindings bou ontmoedig kan word deur die hoë transaksiekostes voortvloeiend uit die onderhandelinge met sulke patenthouers. Volgens Heller en Eisenberg, kan intellektuele eiendomsregte so breedweg gefragmenteerd raak dat niemand dit effektief kan benut nie. As 'n moontlike voorbeeld identifiseer die professore terapeutiese proteïene en genetiese diagnostiese toetse wat verskeie gepatenteerde geenfragmente vereis. Om dit met tradisionele eiendomsreg te vergelyk kom dit daarop neer dat ses verskillende partye byvoorbeeld 'n huis se twee slaapkamers, sy sitkamer, kombuis, eetkamer en badkamers besit — die nut van die huis sou dus vermors wees tensy die partye 'n ooreenkoms kan bereik waar óf elkeen toegelaat word om die ander se area in die huis te kan gebruik óf dat een van die partye die eienaarskap van die huis in sy geheel oorneem.

Omdat dit baie moeilik is om die voordele en nadele van patentregte te balanseer is daar 'n voortdurende debat oor die mate waartoe patentregte toegestaan behoort te word. Hierdie omstredenheid kan gesien word in die verskillende maniere waarop verskillende regsgebiede besluit om patente toe te ken. Die afgelope tyd kan 'n wêreldwye aanvaarding en aanvulling tot die bestek van patentregte waargeneem word, soos blyk uit die WHO se Ooreenkoms oor die Handelsverwante Aspekte van Intellektuele Eiendomsregte.

'n Interessante nagevolg van die moderne gebruik van patentregte is dat die klein uitvinder sy monopolie status kan gebruik om 'n lisensiehouer te word. Dit laat die uitvinder toe om kapitaal vinnig te versamel deur die uitvinding te lisensieer en kan dit moontlik maak vir innovering om vinnig plaas te vind aangesien hy/sy kan kies om nie self die vervaardiging vir die uitvinding te bestuur nie. Hy kan dus sy tyd en energie spandeer op suiwer innoverende aktiwiteite en ander toelaat om op die vervaardigbaarheid daarvan te konsentreer.

Wetlike implementering

'n Moderne patent verskaf die reg om ander uit te sluit van die maak, gebruik, verkoop, aanbied vir verkoop of die invoer van die gepatenteerde uitvinding. Oor die algemeen kan patente slegs afgedwing word deur burgerlike regsgedinge. Lisensie-ooreenkomste rondom patente is uiteraard kontrakte waarin die eienaar van die patent (lisensieverskaffer) toestem dat die lisensiehouer van die uitvinding gebruik kan maak sonder dat 'n regsgeding teen hom aanhangig gemaak word deur die eienaar vir inbreuk op sy patenteregte. Party regerings behou die reg voor om patente op te skort of te kanselleer soos hulle goed dink.

'n Patentaansoek vir 'n nutspatent in die Verenigde State (teenoor 'n ontwerp-patent), moet na behore beskryf hoe 'n uitvinding gemaak en gebruik word en moet ook die aanspraak beskryf op so 'n wyse dat die besonderhede van die uitvinding uitgewys word en die bestek van die onderwerp waarvoor eksklusiewe regte gevra word definieer. Die eksklusiewe regte word dan beperk tot die bestek soos in die patentaansoek uiteengesit is. Patentaansprake neem tipies die vorm aan van 'n lang selfstandige naamwoordfrase, bv:

"n Toestel vir die vang van muise, wat bestaan uit 'n basisdeel vir die plasing op 'n plat oppervlak, 'n veertoestel...." "'''n Chemikalieë vir die skoonmaak van vensters, bestaande uit ongeveer 10–15% ammoniak, ..." "n Metode vir die berekening van toekomstige lewensverwagting, wat die insameling van persoonlike data X, Y, Z, behels ..."

Elke woord in 'n aanspraak word beskou as 'n "element" of "beperking" van die aanspraak. Ten einde iemand in die hof te kan uitsluit van die gebruik van die gepatenteerde uitvindsel, moet die patenthouer aan die hof bewys dat dit wat die ander persoon gebruik by die bestek van ten minste een van die aansprake in die patent val.

Om hierdie rede is dit meer betekenisvol om 'n patentaanspraak te verkry wat die absolute minimum stel beperkinge insluit wat die nuwe uitvinding onderskei van dit wat voorafgegaan het. Die ander kant van die saak is dat hoe minder beperkinge op die aanspraak aangedui is, hoe waarskynliker gaan dit wees dat die aanspraak as 'n voor-die-hand-liggende uitbreiding van die voorafbestaande kennis vertolk gaan word en daarom tydens die patentoorsig of op 'n latere tydstip as ongeldig verwerp gaan word.

Die reg tot uitsluiting—'n voorbeeld As 'n uitvinder 'n bestaande gepatenteerde ontwerp vir 'n muisval neem en 'n nuwe eienskap daarby voeg om 'n verbeterde muisval te skep en 'n patent op die verbetering verkry, kan hy of sy slegs die verbeterde muisval wettiglik vervaardig met toestemming van die oorspronklike patenthouer, met die aanname dat daardie oorspronklike patent nog geldig is.

Aan die ander kant, kan die eienaar van die verbeterde muisval die oorspronklike patenthouer verhoed om van die verbetering gebruik te maak. In hierdie geval gaan patenteienaars dikwels kruislisensiëringooreenkomste aan.

Geen reg tot gebruik 'n Kwessie wat dikwels verkeerd verstaan word is dat 'n patent 'n reg aan die patenthouer verleen om die beskermde uitvinding te gebruik nie (ten minste nie outomaties nie). Daar kan byvoorbeeld een of meer voorafgaande patenthindernisse bestaan wat die gebruik daarvan verhoed (Dit is dikwels die geval, waar 'n nuwe uitvinding 'n verbetering is van 'n bestaande breër gedefinieerde gepatenteerde tegnologie). 'n Patent kan dus as 'n negatiewe reg gesien word wat die eienaar kan gebruik om te verhoed dat mededingers 'n betrokke uitvinding gebruik, maar nie noodwendig die reg verleen om die patent self te gebruik nie.

Regeringswette Alhoewel patente uit hul aard gebiedsgebonde is, bestaan daar tans verskeie betekenisvolle internasionale verdrae wat van die belangrike aspekte van patentereg bepaal.

Die belangrikste hiervan is die Wêreldhandelsorganisasie se TRIPS-ooreenkoms, asook die Oktrooisamewerkingsverdrag (PCT) wat deur die Wêreldorganisasie vir Intellektuele Eiendom (WOIE/WIPO) bestuur word, en waaraan bykans alle lande deelneem om internasionale beskerming te soek. Die Verenigde State, die lande van die Europese Unie en Japan is lede van al die belangrikste ooreenkomste. Dit het daartoe aanleiding gegee dat patentreg wêreldwyd geharmoniseer is, veral in die laaste dekade van die 20ste eeu tot op hede.

Ten spyte van hierdie harmonisering is die patentreg in die V.S.A. steeds in baie opsigte uniek in verskeie belangrike opsigte. Die grootste verskil is dat, as twee mense aansoek doen vir dieselfde uitvinding, ken die V.S.A. se stelsel dit toe aan die eerste persoon wat dit uitvind, terwyl in die res van die wêreld dit toegeken word aan die eerste aansoeker. 'n Ander unieke aspek van die V.S.A. se patentreg is dat 'n uitvinder 'n een jaar grasieperiode het na verkoop of publikasie van die uitvinding om 'n aansoek om 'n patent in te dien, terwyl patentregte in die meeste ander lande verloor word as 'n aansoek nie op lêer is ten tye van die eerste openbaarmaking, publikasie of verkoop van die uitvinding nie.