Veneto 70px|Veneto se wapen 100px|Veneto se vlag Algemene gegewens Land: Hoofstad: Venesië Administratiewe verdeling: 6 provinsies Oppervlakte: 18 407,4 vk km Bevolking: 4 905 854 (31 Desember 2018) Bevolkingsdigtheid: 267,4 inwoners per vk km Webtuiste: regione.veneto.it President: Luca Zaia (Lega Nord) Kaart 270px|Die ligging van Veneto in Italië 270px duimnael|links|'n Rare natuurtoneel - sononder oor die bevrore Venesiaanse strandmeer naby Chioggia Veneto (amptelike Italiaanse naam: Regione del Veneto [ˈvɛːneto]; Veneties of Venesiaans: Vèneto [ˈvɛneto]) is 'n administratiewe streek in Noordoos-Italië met 'n oppervlakte van 18 407,4 km² en 'n bevolking van 4,9 miljoen. Die administratiewe setel is Venesië. Veneto is die vyfde grootste administratiewe streek in Italië volgens inwonertal, en die agste grootste volgens sy oppervlakte.European Commission: Growth – Veneto. Besoek op 18 Januarie 2019

Histories het Veneto (naas Friuli-Venezia Giulia) deel uitgemaak van die Terra ferma, Venesië se vastelandse besittings in Noord-Italië wat - as gevolg van die agteruitgang van die Mediterreense seehandel - as vrugbare landboustreke en alternatiewe ekonomiese basis ontwikkel is. Nie net die karakter van Venesië as sy administratiewe setel nie, maar ook dié van sy historiese besittings op die vasteland word deur water bepaal. Veneto is 'n land van strandmere, mere, riviere en kanale wat deur die magtige Po-rivier deurkruis word. Dit strek vanaf die Adriatiese Seekus tot die majestueuse rooi bergmassief van die Dolomiete.Francesco da Mosto: Francesco's Kitchen. An Intimate Guide to the Authentic Flavours of Venice. Herdrukte uitgawe. Random House 2016

Etimologie duimnael|links|Die Canale dei Buranelli met sy booggange in Treviso. Hierdie stad was 'n vesting wat Venesië teen aanvalle uit die noorde sou beskerm, en so het ook sy kanale oorspronklik deel uitgemaak van Treviso se versterkings duimnael|links|'n Skigebied in die Dolomiete Daar is twee gebruiklike benaminge vir die gebied tussen die Gardameer en die Adriatiese Golf – Veneto en Venesië. Albei het hulle oorsprong in die Romeinse gewes wat in Latyn Venetia genoem is, maar verwys eintlik nie na dieselfde streek nie. Veneto is die amptelike Italiaanse naam vir die huidige administratiewe streek wat sewe provinsies bevat – Verona, Vicenza, Padova (Padua), Rovigo, Venesië (Italiaans: Venezia), Treviso en Belluno.

Venesië sluit as historiese streeksbenaming dikwels ook gebiede oos van Veneto in – Frioelië (Friuli), soms ook dele van die provinsie Trento – wat in die antieke tydperk deel uitgemaak het van die Romeinse regio Venetia en later, vanaf die laat Middeleeue, van die Terraferma of vastelandse gebiede van die Republiek Venesië (waarna alternatief as Domino Veneto verwys is).

Die betekenis van die Latynse Venetia het reeds in die tyd ná die groot laat-antieke volksverhuising vernou tot die kus- en strandmeerstreek onder Bisantynse bewind (die sogenaamde See-Venesië) en uiteindelik die nedersetting in die strandmeer, Venesië. Om verwarring met die stad te voorkom, het in Italiaans vanaf die 18de eeu Venezia as benaming vir die nedersetting en Veneto as benaming vir die streek gebruiklik geraak. Die laasgenoemde is 'n afkorting vir Domino Veneto.Klaus Zimmermanns: Venetien. Städte und Villen der Terraferma. Ostfildern: DuMont 2011, bl. 8

Administratiewe verdeling Die huidige administratiewe gewes Veneto word in sewe provinsies onderverdeel: Belluno, Padua, Rovigo, Treviso, Venesië (Venezia), Verona en Vicenza. Hul grense word bepaal deur artikel 131 van die Italiaanse grondwet. Hulle is in die loop van die geskiedenis verskeie kere gewysig.

Veneto het sy historiese oorsprong as administratiewe eenheid onder meer in die Romeinse keiser Augustus se onderverdeling van die Italiese skiereiland in elf geweste – waarvan die tiende (regio X) Venetia et Histria genoem is. Hierdie geweste het in die Hoë Keisertyd geen besondere administratiewe funksies vervul nie, behalwe vir sensusdoeleindes en die amptelike registrasie van grond in staatsbesit. Die belangrikste historiese bron is Plinius die Ouere se Naturalis historia (III, 126-132)Historisches Lexikon der Schweiz: Venetia et Histria. Besoek op 25 Desember 2018

Demografie Tale duimnael|Die Hoogplato van die Sewe Munisipaliteite, 'n historiese Kimbriese taaleiland, strek oor die provinsies Verona (Veneto) en Trento (Trentino-Alto Adige) Naas Standaarditaliaans word in Veneto ook Venesiaans (of Veneties), Duits of Plodaries (in Sappada/Plogn), Frioelies of Frioeliaans (in die Metropolitane Stad Venesië) en Ladinies (in die provinsie Belluno) gebesig.

Omrede Veneto tans nog geen outonomie geniet nie ('n politieke status wat uitsluitlik deur die Italiaanse parlement in Rome aan 'n administratiewe streek toegeken kan word), word minderheidstale van die owerheid se kant af nie beskerm of bevorder nie. Twee Kimbriese taaleilande, die sogenaamde Sewe (Siben Kamoun) en Dertien Munisipaliteite, wat eers in die 19de eeu deur Duitssprekende taalwetenskaplikes herontdek is, het tot in die tyd van die fascistiese bewind bestaan, maar intussen het Kimbries, 'n taal wat regstreeks uit Middeleeuse Beierse dialekte ontwikkel het, as gevolg van die destydse beleid van Italianisering, die uitbou van die vervoerinfrastruktuur en die emigrasie van jonger bewoners op soek na werksgeleenthede elders in die land, byna uitgesterf.Passauer Neue Presse, 30 September 2010: Altbairische Sprachinseln in Norditalien. Besoek op 11 Augustus 2019

Kimbries as benaming vir die taal is afgelei van die Duitse term Zimmerer (Middelhoogduits: Tzimberer "timmermans"), nie die antieke Kimbre nie. Danksy hul vaardighede as timmermans het Beierse setlaars in die Middeleeue moontlik gesogte immigrante geword. Kimbriessprekendes verwys na hulself as Zimbarn of Tzimbar.

Ekonomie Die ekonomiese wonder van die 20ste eeu duimnael|links|Hoofkwartier van die mode-etiket Replay in Asolo, provinsie Treviso Veneto is een van die uitstekende voorbeelde vir 'n ontwikkeling waarna in die 1960's as die "Italiaanse ekonomiese wonder" verwys is. Net soos die aangrensende Frioelië was Veneto nog tot die middel van die 1950's 'n streek wat sterk op landbou gesteun het, maar weens sy betreklik lae inkomstevlakke bevolkingsverliese as gevolg van emigrasie na ander Italiaanse streke en die buiteland gely het. duimnael|In die Fondaco dei Tedeschi langs Venesië se hoofaar Canal Grande is oorspronklik Duitse handelaars gehuisves (en hul aktiwiteite noukeurig deur die Venesiaanse owerheid dopgehou). Die historiese gebou het tot 2010 as Venesië se hoofposkantoor gedien, maar is intussen omgebou tot 'n luukse winkelsentrum (die foto wys die binnehof) duimnael|Die vroeëre graanmeul Molino Stucky is die belangrikste industriële monument in Venesië, geleë op die eiland Giudecca. Die meul, wat tussen 1884 en 1895 in opdrag van die Switserse entrepreneur Giovanni Stucky opgerig is en tydelik as pastafabriek gedien het, is intussen omgebou tot 'n luukse hotel wat deur die Hilton-groep bedryf word Vanaf die 1960's het klein en middelgroot familieondernemings as suksesvolle rolspelers op internasionale markte die voortou geneem om Veneto tot een van Italië se voorste nywerheidstreke te ontwikkel. Tans word Veneto onder die welvarendste streke in die Europese Unie gereken, met 'n nominale bruto binnelandse produk (BBP) van meer as 155 miljard € in 2016 (wat gelykstaan aan 9,25 persent van die totale nasionale BBP van Italië).

Veneto se ekonomie het oorspronklik hoofsaaklik op die tekstiel-, juwele- en voedselbedryf gesteun. Ondernemings uit hierdie sektore het swaar gekry en groot verliese gely gedurende die ekonomiese krisis van 2008 en 2009, en baie van hulle het bankrot gespeel. Vir entrepreneurs in die streek was die resessie 'n aansporing en geleentheid vir vernuwing. So het hulle saamgespan met navorsers om doelgerig aandag te skenk aan nuwe tegnologieë, en Veneto het sy vroeëre rol as een van Italië se mees mededingende streke hervat.Oliver Döhne, GTAI Germany Trade and Invest, 8 November 2018: Venetien erfindet sich neu - Comeback durch Innovation. Besoek op 5 Februarie 2019 Tans is metaalverwerking, masjienbou, voedselverwerking, die tekstiel- en modebedryf en leerverwerking die belangrikste industriële sektore.

Uitvoere het toegeneem (met Duitsland as die belangrikste mark) en in 2017 14 persent van Italië se totaal van €448 miljard beloop, terwyl die groei van die BBP hoër was as die gemiddeld vir Italië. Binnelandse verbruik in Veneto het met 1,5 persent gegroei, onder meer danksy die laagste werkloosheidsyfer van alle Italiaanse streke, en beleggings met 3,9 persent.GTAI (2008) Duitsland was ook die belangrikste handelsvennot wat invoere betref (€50 miljard). Hulle het in 2017 met 11 persent gegroei tot sowat €10 miljard - waaronder motorvoertuie ter waarde van €4,3 miljard, bewerkte metale en ander goedere ter waarde van €1,4 miljard, voedselprodukte (hoofsaaklik suiwelprodukte, €1,1 miljard), chemiese goedere (hoofsaaklik plastiek, €1 miljard) en masjiene (€925 miljoen). Invoere uit Duitsland het ook in die eerste halfjaar van 2018 stewig gegroei met 27,5 persent. Die Duitse aandeel aan Veneto se invoere het sodoende gestyg tot meer as 25 persent.

Landbou Ondanks groeiende industrialisering speel die andbousektor steeds 'n sentrale rol in Veneto se ekonomie. In die uitgestrekte vrugbare riviervlaktes en die omliggende heuwelgebiede word graan, wyn en vrugte verbou. Die riviervlaktes van die Po-delta lewer mielies, koring, aartappels en rys op, terwyl vrugteverbouing, die teel van skaaldiere en vissery 'n lang tradisie in Veneto se kusgebiede het. Die visserybedryf word bedreig deur krimpende visbronne.

Wynbou duimnael|links|220px|Wit Soave-wyn uit Veneto met versnaperings (in Venesiaans cicheti genoem). Om saam met vriende te kuier, 'n glasie wyn en cicheti te geniet word hier omskryf as andar per ombre – "in die skadu wandel". Hierdie segswyse dateer volgens oorlewering uit die tydperk van die Republiek Venesië toe wynhandelaars op die Piazza San Marco (Sint Markusplein) hul kosbare drank per glas aan verbygangers verkoop het. Om hul wyne teen die warm son te beskerm, het die handelaars hul stalletjies in die skadu van die Sint Markus-basiliek opgerig Met byna 75 000 hektaar se wingerde word Veneto onder Italië se drie grootste wynboustreke gereken. Wyn word hier veral in die vlaktes langs die Adriatiese Seekus, langs die Porivier en in die berggebiede rondom die Gardameer verbou. Die gewildste kultivars, wat hier aangeplant word, is Garganega, Glera, Pinot Grigio, Pino Bianco, Trebbiano Soave en Chardonnay vir wit wyne, en Rondinella, Corvina Veronese, Merlot en Cabernet Sauvignon vir rooi wyne. Sowat 'n kwart van alle Italiaanse wyne van oorsprong met DOC- en DOCG-sertifisering word hier in 'n vyftigtal gebiede gekelder, waarvan sommige dig bymekaar geleë is. Veneto lewer sodoende meer wyne van oorsprong op as enige ander wynboustreek in Italië.Wein.com – Das Wein-Magazin: Venetien. Besoek op 13 Desember 2018 Die DOC-sertifisering is in Desember 2010 vir die eerste keer ook aan wyne uit die onmiddellike omgewing van Venesië toegeken (Venezia DOC).wine-searcher.com: Venezia Wine. Besoek op 13 Desember 2018

Die Venetiese wynboubedryf trek voordeel uit die heersende klimaat- en grondtoestande. Die streek se rooi en bruin klipperige en kalkagtige grond is uiters geskik vir wingerd-verbouing, net soos die Venetiese klimaat. Uitlopers van die Alpebergreeks beskerm die streek in die noorde teen koue winde uit Noord-Europa. Veneto het dus 'n relatief gematigde klimaat. Wit kultivars word hoofsaaklik in die koeler gebiede van Veneto verbou, terwyl die warmer vlaktes langs die Adriatiese See besonder geskik is vir rooi wyne.

Boukuns Venetiese villa's duimnael|Riviera del Brenta: Villa Pisani (agterkant) – uitsig oor die tuin en tuinpoel