Die Winteroorlog (Fins: talvisota, Sweeds: vinterkriget, Russies: Зимняя война (transliterasie: Zimnjaja woina); ook bekend as die Sowjet-Finse Oorlog 1939–1940 (Russies: Советско-финская война, Sowjetsko-finskaja woina 1939–1940) ) het uitgebreek toe die Sowjetunie Finland op 30 November 1939 aanval, drie maande na die begin van die Tweede Wêreldoorlog. As gevolg hiervan is die Sowjetunie op 14 Desember uit die Volkebond geskop. Die Sowjetleier, Josef Stalin, het verwag dat die hele land teen die einde van die jaar oorwin sou wees, maar die Finse weerstand was te sterk vir die Sowjetmagte, wat drie keer so groot was. Finland het uitgehou tot in Maart 1940, toe 'n vredesverdrag geteken is waarvolgens omtrent 11% van Finland se grondgebied en 30% van sy ekonomiese bates aan die Sowjetunie afgestaan is.

Die gevolge van die oorlog was gemeng. Alhoewel die Sowjetmagte uiteindelik deur die Finse verdediging kon breek, het nóg die Sowjetunie nóg Finland ongeskaad uit die konflik getree. Sowjetverliese aan die front was geweldig en die land se internasionale aansien het daaronder gely. Erger nog: die vegvermoë van die Rooi Leër is bevraagteken, wat bygedra het tot Hitler se besluit om Operasie Barbarossa van stapel te stuur. Op die ou einde het die Sowjetmagte nie in hulle hoofdoel geslaag om Finland te verower nie, maar hulle het aansienlik grond aan die Ladogameer gewen. Die Finne het hulle soewereiniteit behou en aansienlike internasionale guns gewen.

Die vredesverdrag van 15 Maart het Frans-Britse planne verydel om troepe deur Noord-Skandinawië te stuur om Finland te help. Die Geallieerde planne was ook daarop gemik om Duitse toegang tot Noord-Swede se ystererts te verhoed.

Duitsland se inval in Denemarke en Noorweë op 9 April 1940 (Operasie Weserübung) het daarna die wêreld se aandag afgelei na die stryd vir beheer oor Noorweë.

Die Winteroorlog was 'n militêre ramp vir die Sowjetunie. Stalin het egter uit die fiasko geleer en besef dat politieke beheer oor die Rooi Leër nie meer moontlik was nie. Na die oorlog het die Kremlin 'n proses begin waarvolgens gekwalifiseerde offisiere heraangestel is en die leër se magte gemoderniseer is, 'n besluit wat die Sowjetunie in staat sou stel om die Duitse inval die hoof te bied. Alhoewel dit nie spesifiek beproef is nie, was die leërs van Frankryk, Brittanje en die VSA waarskynlik ook nie gereed vir ’n winteroorlog nie. In die Ardenne-aanval teen die einde van 1944 is duisende Amerikaanse troepe byvoorbeeld gestrand gelaat deur weerstoestande wat matig was in vergelyking met dié van die Skandinawiese winter.

Agtergrond duimnael|links|250px|Noord-Europa in November 1939.Kilin and Raunio (2007), bl. 10 Finland was lank deel van die Sweedse koninkryk toe dit in 1808 deur Rusland oorwin is en in 'n outonome bufferstaat omskep is om die Russiese hoofstad te beskerm. Na die Oktober-rewolusie, wat 'n Sowjetregering in Rusland tot gevolg gehad het, het die Groot Hertogdom van Finland homself op 6 Desember 1917 onafhanklik verklaar. Sterk bande tussen Finland en Duitsland het ontstaan toe die Duitse Keiserryk Finland se ondergrondse onafhanklikheidsbeweging tydens die Eerste Wêreldoorlog ondersteun het. In die burgeroorlog wat daarop gevolg het, het Duitse soldate en Finse Jägertroepe wat in Duitsland opgelei is, 'n deurslaggewende rol gespeel. Slegs Duitsland se nederlaag in die Eerste Wêreldoorlog het die vestiging van 'n Duits-afhanklike monargie in Finland onder Frederick Charles van Hesse as koning verhinder. Na die oorlog het Duits-Finse bande stewig gebly, alhoewel Finse simpatie vir die Nasionaal-Sosialiste maar dun gesaai was.

Die verhouding tussen die Sowjetunie en Finland was gespanne en kil — die twee tydperke van gedwonge Russifisering teen die vorige eeuwisseling en die nalatenskap van die mislukte sosialistiese rebellie in Finland het bygedra tot sterk wedersydse wantroue. Stalin het gevrees dat Nazi-Duitsland uiteindelik sou oorgaan tot aanval, en met die Sowjet-Finse grens slegs 32 km van Leningrad, sou Finse grondgebied 'n uitstekende basis vir 'n aanval wees. In 1932 het die Sowjetunie 'n nieaanvalsverdrag met Finland geteken. Die ooreenkoms is in 1934 vir tien jaar herbevestig.

In April 1938, of moontlik selfs vroeër, begin die Sowjetunie diplomatieke onderhandelinge met Finland in 'n poging om hulle gesamentlike verdedigingsvermoë teen Duitsland te versterk. Die Sowjetunie se grootste bekommernis was dat Duitsland Finland as 'n vastrapplek vir 'n aanval op Leningrad sou gebruik. Meer as 'n jaar verloop sonder noemenswaardige vordering terwyl die politieke toestand in Europa versleg.

duimnael|regs|250px|Die Mannerheimlyn waar van die felste gevegte van die Winteroorlog plaasgevind het

Nazi-Duitsland en die Sowjetunie teken op 23 Augustus 1939 'n nieaanvalsverdrag, die Molotof-Ribbentrop-verdrag. Dit sluit 'n geheime klousule in waarvolgens die lande van Oos-Europa tussen die twee ondertekenaars verdeel sou word. Daar word ook ooreengekom dat Finland in die Sowjet-"invloedsfeer" sal val. Die Duitse aanval op Pole op 1 September word gevolg deur 'n Sowjet-inval uit die ooste. Binne 'n paar weke verdeel hulle die land tussen hulle.

In die herfs van 1939, na Duitsland se aanval op Pole, dring die Sowjetunie finaal daarop aan dat Finland instem om die grens 25 kilometer verder van Leningrad te skuif. Hy dring ook daarop aan dat Finland die Hanko-skiereiland vir 30 jaar aan die USSR verhuur vir die oprig van 'n vlootbasis. In ruil daarvoor bied die Sowjetunie Finland 'n groot deel van Karelië (twee keer so groot, maar minder ontwikkeld) aan.

Die Finse regering weier egter die Sowjet-eise. Op 26 November onderneem Sowjetmagte die bombardering van Mainila, 'n voorval waarin die Sowjetartillerie gebiede naby die Russiese dorpie Mainila beskiet en toe aankondig dat Sowjettroepe in 'n Finse artillerieaanval gesterf het. Die Sowjetunie eis dat die Finne om verskoning vra vir die voorval en hulle magte 20-25 km van die grens moet skuif. Die Finne ontken enige verantwoordelikheid vir die aanval en weier om toe te gee. Die Sowjetunie gebruik dit as 'n verskoning om uit die nieaanvalsverdrag te onttrek. Op 30 November val Sowjetmagte Finland met 23 divisies van altesaam 450 000 man aan en bereik vinnig die Mannerheimlyn.

'n Marionetregering word op 1 Desember 1939 in die besette Finse grensdorp Terijoki (nou Zelenogorsk) geskep onder die beskerming van die Finse Demokratiese Republiek, gelei deur Otto Ville Kuusinen. Dit word gedoen beide ter wille van diplomatieke oorwegings (dit het onmiddellik die enigste regering van Finland geword wat deur die Sowjetunie erken is) en om militêre redes (hulle het gehoop dat dit sosialiste in Finland se leër sou laat oorloop). Die republiek is nie juis suksesvol nie, maar bly bestaan tot 12 Maart 1940 en word later in die Russiese Karelo-Finse SSR ingesluit.

Die Oorlog duimnael|regs|250px|Aanvalrigtings van die Rooi Leër en die belangrikste linies aan albei kante. Aanvanklik kan Finland slegs 'n leër van 180 000 man mobiliseer, maar die troepe blyk verbete teenstanders te wees wat guerrillataktiek, vinnigbewegende ski-troepe in wit kamoefleerpakke en plaaslike kennis inspan. 'n Geïmproviseerde petrolbom, wat aangepas is van een wat in die Spaanse Burgeroorlog gebruik is, word met groot sukses gebruik en raak bekend as die Molotov cocktail.

Toestande tydens die winter van 1939/40 was straf; temperature van -40° was nie ongewoon nie, en die Finne was daartoe in staat om dit tot hulle voordeel te gebruik. Hulle kies gereeld om nie in konvensionele oorlogvoering met die vyand betrokke te raak nie. Hulle val eerder Sowjettroepe aan wat in veldkombuise (wat kritiek vir oorlewing was) om kampvure sit.

Tot die verbasing van beide die Sowjetleierskap en die Finne het die meerderheid van die Finse Sosialiste ook nie die Sowjetinval ondersteun nie maar saam met hulle landgenote teen die gemeenskaplike vyand geveg. Baie Finse kommuniste het in die 1930's na die Sowjetunie getrek om "sosialisme te bou", net om slagoffers van Stalin se Groot Suiwering te word. Dit het gelei tot grootskaalse ontnugtering en selfs openlike haat van die Sowjetregime onder sosialiste in Finland. 'n Verdere faktor was die vooruitgang van die Finse samelewing en wette na die burgeroorlog wat gehelp het om die gaping tussen die verskillende stande in die samelewing te verklein. Daar word steeds na die gedeeltelike genesing van wonde en onenigheid na die Finse Burgeroorlog (1918) en Finland se taalstryd verwys as "die gees van die Winteroorlog". Baie kommuniste is egter nie toegelaat om in Finland se leër te veg nie as gevolg van hulle politieke agtergrond.

Sowjet-verwaandheid en -onbevoegdheid was 'n belangrike faktor in die oorlog. Die aanvallers het nie veel teenstand verwag nie en het selfs die aanval met marsorkeste begin in die verwagting van 'n vinnige oorwinning. Talle historiese verslae vertel van Russiese soldate wat die Finse lyne met arms ingehaak genader het terwyl hulle luidkeels Sowjet-lofsange sing. As gevolg van Stalin se suiwerings het die aanvoerders van die Rooi Leër se getalle met 80% afgeneem. Dié offisiere is gewoonlik vervang met minder bevoegde mense wat meer "lojaal" teenoor hulle hoofde was, aangesien Stalin sy aanvoerders deur middel van politieke offisiere bestuur het. Taktiek wat teen die Tweede Wêreldoorlog uitgedien was, is soms gebruik. Taktiek is slaafs "volgens reëls" toegepas aangesien 'n mislukte inisiatief 'n hoë risiko van teregstelling vir die leierskap daarvan ingehou het. Baie Sowjetverliese was eenvoudig as gevolg van aanvoerders se weiering om terug te trek of omdat hulle nie toegelaat is om dit te doen nie.

Die Sowjetleër was ook swak voorberei vir winteroorlogvoering, veral in woude, en het swaar gesteun op ondoeltreffende gemotoriseerde voertuie. Die voertuie is 24 uur per dag aan die gang gehou om te probeer verhoed dat hulle brandstof vries, maar enjins het steeds geweier en brandstoftekorte het voorgekom. Een van die merkwaardigste nederlae in militêre geskiedenis is die sogenaamde "Raatteentie-voorval" tydens die maand lange Slag van Suomussalmi. Die Sowjetunie se 44ste Infanteriedivisie (ongeveer 25 000 troepe) is geheel en al uitgewis nadat hulle hulle op 'n woudpad reg in 'n hinderlaag van die Finse "Osasto Kontula" ('n eenheid van 300 manskappe) vasgeloop het. Die klein eenheid het die naderende Sowjetdivisie tot stilstand gebring, terwyl die Finse kol. Siilasvuo en sy 9de Divisie (ongeveer 6 000 troepe) die Sowjettroepe se terugvalroete afgesny het, die vyand in kleiner eenhede verdeel en hulle dan een vir een uitgewis het. Die Sowjet-ongevalle het tot 23 000 beloop terwyl die Finne omtrent 800 man verloor het. Verder het die Finse troepe 43 tenks, 71 veld- en lugafweerkannonne, 29 anti-tenkkanonne, trekkers, 260 vragmotors, 1170 perde, infanteriewapens, ammunisie en mediese en kommunikasiemateriaal gebuit.

duimnael|regs|250px|Finse soldate Die Finse toerustingtekort was ook 'n faktor in die oorlog. Aan die begin van die oorlog het slegs die soldate wat basiese opleiding ondergaan het uniforms en wapens gekry. Die res moes hule eie klere dra. Die bont verskeidenheid van "uniforms" het die bynaam "Model Cajander" verwerf na eerste minister Aimo Cajander. Die Finne het egter baie toerusting, wapens en ammunisie van die swakopgeleide Sowjettroepe gebuit. Hulle weermag het nie die kaliber van hulle wapens verander na onafhanklikheid nie en hulle kon dus die Sowjet-ammunisie gebruik.