Bongani Mawethu Mayosi (28 Januarie 1967 – 27 Julie 2018) was'n Suid-Afrikaanse professor in kardiologie aan wie sy land se hoogste eerbewys, die Orde van Mapungubwe (silwer), in 2009 toegeken is.H3AFRICA, South Africa. "Dr. Bongani Mayosi" , Human Heredity & Health Africa, 2013. Besoek op 26 Augustus 2014. Hy was die dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad en 'n A-gegradeerde Nasionale Navorsingstigtingnavorser. Hy was voorheen hoof van die Departement Geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad en die Groote Schuur-Hospitaal. Sy vader was 'n dokter en so ook sy vrou; sy navorsing het rumatiekkoors, tuberkuleuse perikarditis en kardiomiopatie ingesluit. Hy was 'n lid van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika en 'n voormalige president van die Kollege van Geneeskunde van Suid-Afrika.ASSAf. "MEMBERS LIST" , ACADEMY OF SCIENCE OF SOUTH AFRICA, unknown. Retrieved on 26 August 2014. Loopbaan In 2017 is hy verkies tot die Amerikaanse Nasionale Akademie vir Geneeskunde. Professor Mayosi het meer as 300 eweknie-geëvalueerde akademiese artikels individueel en gesamentlik gepubliseer. Hy was deel van die span wat een van die gene ontdek het wat  die lewensbedreigende hartsiekte, aritmiogeniese regterventrikulêre displasie, veroorsaak. Hierdie ontdekking word beskou as een van die belangrikste mediese deurbrake in Suid-Afrika sedert die eerste mensehartoorplanting.

Mayosi was voorsitter van die span wat deur die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, aangewys is om onreëlmatighede en wanadministrasie te ondersoek in die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA), die organisasie wat gesondheidswerkers registreer, reguleer en van riglyne voorsien.

Dood Mayosi is op 27 Julie 2018 weens selfdood oorlede nadat hy vir twee jaar aan kliniese depressie gely het."Family devastated by death of Prof Bongani Mayosi, says he struggled with depression", news24.com 28 Julie 2018 . Besoek 30 Julie 2018. Agt maande voor sy dood het hy sy bedanking ingedien, maar dit is oënskynlik van die hand gewys. Hy was geoormerk vir 'n alternatiewe pos, naamlik die hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sodat hy sy "baie stresvolle" huidige werk kon verlaat. Die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, het sy meegevoel met Mayosi se afsterwe betuig.

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici Kategorie:Suid-Afrikaanse geneeskundiges Kategorie:Suid-Afrikaanse dade van selfmoord Kategorie:Geboortes in 1967 Kategorie:Sterftes in 2018