Die waterdikkop (Burhinus vermiculatus) is 'n lid van die dikkopfamilie en 'n nagvoël, net soos ander lede van die familie, maar meer aktief oordag as die ander dikkoppe. Dit kan bedags naby die oewers van riviere en mere gesien word, waar die voëls se natuurlike kamoeflering hulle byna onsigbaar maak tussen die rotse.

Subspesies Daar is twee erkende subspesies: Burhinus vermiculatus vermiculatus — Demokratiese Republiek van die Kongo tot Somalië en Suid-Afrika Burhinus vermiculatus buettikoferi (Reichenow, 1898) — Liberië tot Gaboen

Identifikasie Hierdie voël is kleiner as die gewone dikkop. 'n Volwasse waterdikkop het 'n lengte van 41 cm en weeg 270 g. Die voël het 'n bruin kop met geel oë, 'n swart snawel en wit keel. Sy rug is ook bruin en sy bene grys van kleur. Die voël het 'n gehurkte postuur.

Verspreiding Waterdikkoppe kom algemeen in Afrika voor, suid van 5°N van Liberië, Suid-Somalië tot by Suid-Afrika. Hulle kom egter nie voor in die suidwestelike woestyngebiede van hierdie area nie.

Habitat Die voëls word oor die algemeen in moerasagtige gebiede en naby mere en riviere aangetref. Hulle word selde alleen aangetref en kom in pare of in 'n swerm voor.

Voortplanting Waterdikkoppe is monogaam, maar indien die maat van 'n waterdikkop sterf, sal hy of sy 'n nuwe maat soek. Hul neste word in die grond gebou waarin die wyfie tipies 1 tot 3 roomkleurige eiers lê.

Dieet Waterdikkoppe vreet meestal insekte en ander ongewerweldes, asook klein watergoggas.

Geluid Die klaende, fluitende roep van die waterdikkop kan snags gehoor word.

Ander name Engelse name: Water thick-knee, Water dikkop Wetenskaplike naam: Burhinus vermiculatus

Fotogalery

Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Verwysings

Bronnelys Newman se Voëls van Suider-Afrika. . Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde uitgawe 2011. Water Thick-Knee , by die webwerf van Kenya Birds. Laaste besoek op 30 Mei 2007. Water Thick-knee , by The Kruger.com. Laaste besoek op 30 Mei 2007. The Nature Trail , by Mbweni Ruins Hotel in Zanzibar . Laaste besoek op 30 Mei 2007.

Eksterne skakels YouTube-video van 'n dagbesigting van 'n waterdikkop.

Kategorie:Dikkoppe