Die versamelvoël (Philetairus socius) is 'n sangvoël wat endemies aan die droë en dorre gebiede van suidelike Afrika is. Dit behoort aan die familie van wewervoëls (Ploceidae), en is die enigste spesie wat aan die monotipiese genus Philetairus toegeskryf word. Versamelvoëls word in Suid-Afrika, Namibië en Botswana aangetref, maar die Noord-Kaap is hul bakermat. Soos hul wetenskaplike en volksname suggereer, het hulle 'n sosiale lewenswyse en bou groot saamgestelde gemeenskapsneste, miskien die skouspelagtigste strukture wat deur enige voël gebou word. duimnael|links|'n Versamelvoëlnes op 'n dooie boomstomp duimnael|links|Versamelvoëlneste in 'n kameeldoring in die Kalahari duimnael|links|'n Kuiken bedel kos by die ouer duimnael|links|Ouer met jongvoël in die Kgalagadi

Etimologie Die genusnaam kom uit Grieks; phil- beteken "bemin" óf "voorliefde vir", terwyl etairos 'n gesel is, wat in samehang hul gemeensaamheid beklemtoon. Die spesienaam socius, uit Latyn, beteken "verbonde" of "mededeelsaam" en sinspeel ewenwel op hul sosiale gedrag.

Identifikasie Uiterlik lyk hulle baie soos huismossies. Die voël is 14 cm lank en weeg 24 tot 32 gram. Die snawel is lig gekleurd met 'n swart gesigsmasker en geskubde rugvere. Die geslagte lyk eenders. Die volwasse voël het geskubde swart vere aan die sye.

Gedrag Die voël is 'n groepvoël en koöperatiewe broeier. Hulle maak 'n grasdaknes wat op 'n paal (telefoonpale is gewild), windpomp of boom gebou word. Hulle bou die grootste nes van alle voëls en die nes kan tot 500 kamers hê.

Ander name Ander Afrikaanse naam: Familievoël Engelse naam: Sociable weaver Duitse naam: Siedelweber

Sien ook

Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (gegroepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name

Bron Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde uitgawe 2011.

Verwysings

Eksterne skakel http://avibase.bsc-eoc.org/species.jsp?lang=EN&avibaseid=7799DC8B0CEAA782

Kategorie:Wewervoëls