John Henry Steenhuisen (gebore 25 Maart 1976, Durban) is 'n Suid-Afrikaanse politikus wat sedert 1 Julie 2026 as Adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging dien. Hy was voorheen (van 3 Julie 2024 tot 30 Junie 2026) die Minister van Landbou in die Kabinet van president Cyril Ramaphosa.

Hy het as die twintigste leier van die Opposisie gedien van Oktober 2019 tot Junie 2024 (tot die DA se toetrede tot die regering van nasionale eenheid na die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 2024). Hy is sedert November 2020 die leier van die Demokratiese Alliansie, nadat hy vanaf November 2019 vir een jaar as die tussentydse leier gedien het. Hy was hoofsweep van die amptelike opposisie vanaf Mei 2014 tot Oktober 2019. Op 4 Februarie 2026 het Steenhuisen verklaar dat hy nie vir herverkiesing as die DA se leier in April 2026 sal staan nie. Die DA sal dus ‘n nuwe leier vir die munisipale verkiesing in 2026 verkies, maar hy behou sy pos as minister.

Hy het voorheen as die hoofsweep onder die leierskap van Mmusi Maimane gedien. Steenhuisen het 'n lid van die parlement in Julie 2011 geword. Voor dit was hy betrokke in die politiek van KwaZulu-Natal waar hy as die provinsiale leier van die DA en lid van KwaZulu-Natalse Provinsiale Wetgewer gedien het. Hy was ook 'n stadsraadslid in die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit. Hy is op 2 April 2023 vir nog 'n termyn as partyleier herkies, wat sy laaste sou wees.

Vroeë lewe en opvoeding Steenhuisen is op 25 Maart 1976 in Durban gebore. Hy het in 1993 aan die Northwood Boys High School, 'n Engelsmedium sekondêre skool in Durban, gematrikuleer. Hy het nie by 'n tersiêre instelling studeer nie.

Politieke loopbaan Steenhuisen het by die Demokratiese Party (DP), die voorganger van die DA, as 'n aktivis aangesluit voor hy lid van 'n tak geword het.

Op die ouderdom van 22 in 1999 is hy as 'n lid van die destydse stadsraad van Durban verkies en het gevolglik een van die jongste raadslede geword. Hy het in 2006 die leier van die DA-koukus geword. Hy het in die uitvoerende raad van die stadsraad gedien.

Steenhuisen het in Mei 2009 'n lid van die KwaZulu-Natalse Provinsiale Wetgewer geword en is ook as die party se koukusleier aangestel. In Oktober 2009 word hy tot provinsiale leier van die DA verkies. Hy het die pos van provinsiale leier tot Oktober 2010 gehou toe hy bedank het, te midde die onthulling van ontrouheid in sy huwelik.Changes in KZN DA leadership , News24, 19 Oktober 2010. Besoek 19 Desember 2019 Hy het as 'n lid van die wetgewer gedien totdat hy in Julie 2011 na die Nasionale Vergadering geskuif het. Hy het poste met DA-LP Mark Steele geruil.

In die Nasionale Vergadering was hy 'n lid van die Gesamentlike Staande Komitee vir die Finansiële Bestuur. Hy is tans 'n lid van die Reëlskomitee. Hy het ook as die DA se skaduminister van samewerkende regering en tradisionele sake gedien.

In Mei 2014 is hy as die hoofsweep van die amptelike opposisie aangewys. Hy het die amp tot Oktober 2019 beklee toe Mmusi Maimane uit die DA en die parlement bedank het. Hy het sy kandidatuur as leier van die opposisie aangekondig en hy is op 27 Oktober 2019 onbestrede verkies. Steenhuisen verklaar hierna sy kandidatuur vir die pos van tussentydse leier van die DA. Hy wen die verkiesing vir die leierskap op 17 November 2019 deur Makashule Gana te verslaan.

Op 1 November 2020 is Steenhuisen as die nuwe federale leier van die Demokratiese Alliansie aangewys. Hy het die KwaZulu-Natalse LPW Mbali Ntuli geklop nadat hy sowat 80% van die afgevaardigdes se steun ontvang het. Hy is in 2023 herkies tot 'n tweede termyn as DA-leier.https://www.businesslive.co.za/bd/politics/2023-04-02-breaking-news-da-re-elects-john-steenhuisen-as-federal-leader-by-a-landslide

Minister van Landbou duimnael|Steenhuisen sit langs Susie Wiles, die Withuis stafhoof, tydens Ramaphosa se vergadering met die Amerikaanse president Donald Trump op 21 Mei 2025 Nadat die African National Congress (ANC) hul meerderheid in die Nasionale Vergadering tydens die 2024 algemene verkiesing verloor het, het die DA en ander kleiner partye 'n koalisie genaamd die "Regering van Nasionale Eenheid" met die ANC gevorm.https://www.bbc.com/news/articles/c8007w4vqveo Steenhuisen is toe as minister van landbou deur president Cyril Ramaphosa aangewys.https://www.cnbcafrica.com/2024/south-africas-ramaphosa-appoints-das-steenhuisen-as-agriculture-minister/

In Mei 2025 was Steenhuisen deel van Ramaphosa se afvaardiging wat die Withuis in Washington, D.C. besoek het om die verhouding tussen die Verenigde State en Suid-Afrika te probeer herstel. Nadat die Amerikaanse president Donald Trump 'n video gewys het waarin die Economic Freedom Fighters (EFF)-leier Julius Malema "Skiet die Boer" sing, het Steenhuisen verduidelik dat Malema se party, die EFF, nie deel van die regerende koalisie is nie en die rede hoekom die DA met die ANC 'n koalisie gevorm het, was om die EFF en uMkhonto weSizwe (MK) uit die regering te sluit.https://www.ewn.co.za/2025/05/21/john-steenhuisen-corrects-trump-s-white-genocide-claims

Persoonlike lewe Steenhuisen is vlot in Engels sowel as Afrikaans. Hy woon tans in Umhlanga, KwaZulu-Natal en is 'n ondersteuner van die Sharks-rugbyunie en die AmaZulu FC-sokkerklub.

Hy was tien jaar lank met Julie Steenhuisen getroud voordat hy hul egskeiding in Oktober 2010 aangekondig het, te midde van openbare onthullings van sy voortslepende verhouding met Terry Kass Beaumont, die DA se provinsiale woordvoerder en vrou van Michael Beaumont, die DA se provinsiale direkteur.(in Engels) DA leader quits over sex scandal , News24, 24 Oktober 2010. Besoek 19 Desember 2019.

Steenhuisen het twee dogters uit sy huwelik met Julie. Hy is later met Terry getroud en hulle het saam 'n dogter.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Geboortes in 1976 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie