Nederduits is 'n skoolvak in die Noord-Duitse deelstate Hamburg, Sleeswyk-Holstein, Mecklenburg-Voorpommere en Bremen. In Bremen maak Nederduits deel van 'n proefprojek uit; in die res van die deelstate is dit 'n keusevak. In Nedersakse word Nederduits deels as voertaal gebruik, maar is op sigself nie 'n skoolvak nie. In die drie noordelike deelstate wat in die Nederduitse taalgebied geleë is (naamlik Noordryn-Wesfale, Brandenburg en Sakse-Anhalt), word die taal vrywillig in klubformaat aangebied. Nederduits is in der waarheid 'n orgideevak wat ook slegs in enkele skole in die Noord-Duitse deelstate aangebied word; in geen ander deelstaat nie.
Omrede die taal deur die jare heen sy prestige verloor het en nou uitsterwing in die gesig staar, word Nederduits eers onlangs weer as skoolvak aangebied. Aangesien die leerlinge nie meer van huis uit Nederduits praat nie, is die skool een van die laaste bastions waar hierdie taal nog aangeleer kan word. Die deurslaggewende faktor vir die invoer van Nederduits as skoolvak is die Europese Handves vir Streeks- of Minderheidstale wat in 1998 deur Duitsland onderteken en in 1999 bekragtig is. Luidens hierdie handves nestel Nederduits hom gemaklik as beskermde streekstaal langs beskermde minderheidstale soos Deens, Sorbies, Fries en Romani. Die taalhandves dien as regsraamwerk wat die taalpolitiek in Duitsland vorm, beïnvloed en reguleer. Die onderskeie state verbind hulle daartoe om die streeks- en minderheidstale te beskerm en te bevorder. Onder andere behels hierdie maatreëls om die onderrig en universitêre/hoër onderwys van die taal moontlik te maak. Die beskerming en bevordering van Nederduits het reeds vanaf 1993 en 1998 in Mecklenburg-Voorpommere en in Sleeswyk-Holstein onderskeidelik grondwetlike status verkry. Ook die Nederduitsonderrig in openbare skole in die deelstaat Sleeswyk-Holstein is grondwetlik veranker.
Hamburg is die eerste deelstaat wat Nederduits as gewone skoolvak by enkele laerskole ingevoer het. Daarna volg Sleeswyk-Holstein en Bremen in 2014 en Mecklenburg-Voorpommere in 2016. Sedert 2017 word Nederduits deur die Kultuurministerie van Duitsland as mondelinge en skriftelike Abitur-eksamenvak erken. Tot dusver is Mecklenburg-Voorpommere die enigste deelstaat wat Nederduits ook op middelbare skole (Sekundarstufe II) bevorder het.
Agtergrond Verspreiding en status van Nederduits duimnael|regs|250px|Verspreiding en indeling van die gesproke Nederduitse dialekte.
Sedert die 16de eeu het Vroegnieuhoogduits geleidelik Nederduits as skool-, onderrig-, kerk-, kantoor- en skryftaal in Noord-Duitsland verdring. Hierdie tendens het uit die stede na die platteland uitgekring. Teen die 17de eeu is hierdie proses grotendeels afgehandel. Die Hoogduits word daarna toenemend ook die openbare en amptelike mondelingse voertaal, terwyl Nederduits die gesproke volks- en omgangstaal bly. So kom 'n diglossie tot stand, waar die sprekers tussen Nederduits en Hoogduits sou oorslaan soos dit nodig geag word.Renate Herrmann-Winter: Niederdeutsch als Sprache des Unterrichts und der Unterrichtsmittel in pommerschen Schulen vom 16. bis 20. Jahrhundert, in: Kindheit und Jugend in der Neuzeit 1500–1900, Stuttgart 2000, S. 55. Die oorgang of selfs die uitbou van die dialek tot standaardtaal (soos dit vir baie dialekte doodgewoon is) het as't ware nooit plaasgevind nie. Inteendeel, daar het eerder sosiolekte (wat maatskaplike verskille uitlig) ontstaan wat Nederduits sou stel teenoor die Hoogduits: hierdie Hoogduits het 'n veel groter aansien geniet.
Die verdringingsproses neem in die 19de en 20ste eeu sterk toe. In die 1970's en 1980's verdwyn die diglossie in Noord-Duitsland so te sê heeltemal uit alle sosiale terreine. Die taalverskuiwing onder die opkomende geslagte is voltooi, onder die ouer garde bestaan die diglossie deels nog.
Nederduits is tans oor die Noord-Duitse deelstate Sleeswyk-Holstein, Hamburg, Mecklenburg-Voorpommere, Bremen en Nedersakse asook in die etlike noordelike dele van die deelstate Noordryn-Wesfale, Saksen-Anhalt en Brandenburg versprei. Aan die Noord-Duitse kus en in klein (afgeleë) plekkies word daar nog dikwels "Platt" gepraat, net soos in die stede en in die suide van die verspreidingsgebied.Wolfgang Wildgen: Niederdeutsch in Schule und Gesellschaft, Studien zur Regionalsprache und Regionalkultur Heft 1, 2000, S. 72.
Volgens 'n meningspeiling voer byna die helfte van die lewende persone wat in die verspreidingsgebied woonagtig is aan hulle verstaan Nederduits goed of baie goed; nog maar 15% sê hulle kan die taal goed of vlot praat.Status und Gebrauch des Niederdeutschen 2016 , herausgegeben vom Institut für Deutsche Sprache und dem Institut für niederdeutsche Sprache, Redaktion: Astrid Adler, Christiane Ehlers, Reinhard Goltz, Andrea Kleene, Albrecht Plewnia, Mannheim 2016, S. 10, Abb. 2; S. 14, Abb. 8. In 1984 was die syfers in die Noordwes-Duitse deelstate nog 66% en 35% onderskeidelik.Status und Gebrauch des Niederdeutschen 2016 , herausgegeben vom Institut für Deutsche Sprache und dem Institut für niederdeutsche Sprache, Redaktion: Astrid Adler, Christiane Ehlers, Reinhard Goltz, Andrea Kleene, Albrecht Plewnia, Mannheim 2016, S. 11, Abb. 3; S. 15, Abb. 9. In Sleeswyk-Holstein kan 24,5% van die respondente vandag nog goed of baie goed Nederduits praat, in Mecklenburg-Voorpommere 20,7%, in Bremen 17,6%, in Nedersakse 17,4% en in Hamburg 9,5%.Status und Gebrauch des Niederdeutschen 2016 , herausgegeben vom Institut für Deutsche Sprache und dem Institut für niederdeutsche Sprache, Redaktion: Astrid Adler, Christiane Ehlers, Reinhard Goltz, Andrea Kleene, Albrecht Plewnia, Mannheim 2016, S. 15, Abb. 10.
Meer as die helfte van die respondente ouer as 80 jaar kan Nederduits nog goed of baie goed praat; daarteenoor minder as 1% onder diegene jonger as 20 jaar oud.Status und Gebrauch des Niederdeutschen 2016 , herausgegeben vom Institut für Deutsche Sprache und dem Institut für niederdeutsche Sprache, Redaktion: Astrid Adler, Christiane Ehlers, Reinhard Goltz, Andrea Kleene, Albrecht Plewnia, Mannheim 2016, S. 16, Abb. 11. 44% van die aktiewe sprekers voer aan hulle het Nederduits by hul ouers geleer; 41% by hul grootouers.Status und Gebrauch des Niederdeutschen 2016 , herausgegeben vom Institut für Deutsche Sprache und dem Institut für niederdeutsche Sprache, Redaktion: Astrid Adler, Christiane Ehlers, Reinhard Goltz, Andrea Kleene, Albrecht Plewnia, Mannheim 2016, S. 18, Abb. 14. Die huidige geslag ouers is nie meer daartoe in staat om die taal oor te dra nie: slegs 4% van die respondente in die ouderdomsgroep tussen 30 tot 39 jaar sê hulle kan Nederduits goed of baie goed praat. Slegs 5,5% van die Nederduitssprekendes noem die skool as die plek waar hulle Nederduits aangeleer het.
Hoewel die getal aktiewe sprekers nog meer as tweemiljoen sterk staan, bly Nederduits gesien sy ouderdomstruktuur, sy verwaarlosing in die ouerhuis en sy lang afwesigheid as skoolvak en onderrigmedium, die mees gedreigde taal onder die erkende en beskermde minderheids- en streekstale in Duitsland.Hartmut Koschyk: Tätigkeitsbericht Tätigkeitsbericht 2017 (Januar bis Oktober 2017) als damaliger Beauftragter der Bundesregierung für Aussiedlerfragen und nationale Minderheiten, o. O., 2018, S. 50.
Die Europese Handves vir Streeks- of Minderheidstale Die deurslaggewende faktor vir die invoer van Nederduits as skoolvak is die Europese Handves vir Streeks- of Minderheidstale wat in 1998 deur Duitsland onderteken in 1999 bekragtig is. Luidens hierdie handves nestel Nederduits hom gemaklik as beskermde streekstaal langs beskermde minderheidstale soos Deens, Sorbies, Fries en Romani. Nederduits onderskei hom egter van die minderheidstale in die opsig dat sy sprekers nie 'n nasionale minderheid is nie.
Die taalhandves dien as regsraamwerk wat die taalpolitiek in Duitsland vorm, beïnvloed en reguleer. Dit het die rang van 'n grondwetlike bepaling.Bundesministerium des Innern: Sechster Bericht der Bundesrepublik Deutschland gemäß Artikel 15 Absatz 1 der Europäischen Charta der Regional- oder Minderheitensprachen, 2017, S. 93. Die Europese Handves vir Streeks- of Minderheidstale alleen is nie voldoende om aanklagtes van taalregskendings by die Europese Menseregtehof of die Hof van Justisie van die Europese Unie in te dien nie. Die inhoud van die handves moet eerder omgesit en uitgeleef word in die wetgewing van die betrokke lidlande self. In Duitsland is hierdie wetgewing rakende die onderwys- en taalpolitiek onderhewig aan die kulturele soewereiniteit van die Duitse deelstate.
In die manifes word daar uiteengesit op welke wyse en met watter maatreëls die tale gesteun moet word. Bremen, Hamburg, Sleeswyk-Holstein, Mecklenburg-Voorpommere en Nedersakse beskerm die taal ingevolge Deel III van die handves, wat in wese omvangryker is as Deel II wat Brandenburg, Noordryn-Wesfale en Sakse-Anhalt onderteken het. Die komitee van ministers van die Raad van Europa het aanbeveel dat Nederduits 'n gewone skoolvak word, leerplanne opgestel moet word, dat die onderrig daarvan uitgebrei moet word met die oog op die voorskoolse fase tot skoolverlatersvlak, en dat 'n voldoende aantal leerkragte opgelei moet word. Die juris, Stefan Oeter, voorsitter van die komitee van deskundiges van die Raad van Europa insake die Europese taalmanifes, benadruk die verpligting wat met hierdie handves gepaardgaan, waarby elke beskermde streeks- of minderheidstaal as afsonderlike vak onderrig sal word.Aus europäischer Sicht: Die Regional- und Minderheitensprachen und ihr Platz in den deutschen Schulsystemen, in: Mit den Regional- und Minderheitensprachen auf dem Weg nach Europa, Schriften des Instituts für niederdeutsche Sprache 43, herausgegeben von Reinhard Goltz, Ulf-Thomas Lesle und Frerk Möller, Verlag Schuster, Leer 2009, S. 52. Hierdie verbintenis word uiteengesit in Deel III, artikel 8, paragraaf 1(b).Europäische Charta der Regional- oder Minderheitensprachen III, Art 8 Abs. 1 b.
Die doen en late van die Raad van Europa en die Europese Unie beïnvloed die kultuur- en taaldiversiteit op so 'n wyse dat 'n Europese dimensie aan die streeks- en minderheidstale verleen word. Die manifes is tot dusver deur 26 lidlande van die Raad van Europa onderteken.Unterschriften und Ratifikationsstand des Vertrags 148. Europäische Charta der Regional- oder Minderheitensprachen (Stand: 26. März 2018) 21 Lidlande van die Raad van Europa, waaronder hoofsaaklik EU-lande soos Frankryk, België, Italië, Portugal en Griekeland, het nog nie toegetree nie.
In Nederland word onder Nedersaksies gewoonlik verstaan "Noord-Nedersaksies", wat op sy beurt deel uitmaak van die Nederduitse dialekkontinuum. Nedersaksies word egter ingevolge Deel II van die taalmanifes beskerm. In ander lande word byvoorbeeld Asturies, Katalaans, Baskies, Galicies, Skots en Wallies as streekstale beskerm. Die status en gebruik van hierdie tale op skool verskil soos dag en nag. Katalaans is byvoorbeeld die voertaal op skool en universiteit in die Spaanse deel van Katalonië, net soos Wesfries ook sy vastrapplek in Friese skole gekry het. Maar Nedersaksies self is geen skoolvak in eie reg nie.
Nederduits binne die deelstaatgrondwet Die beskerming en die bevordering van Nederduits geniet in twee deelstate grondwetlike status. Reeds sedert 1993 staan daar in Artikel 16(2) van die Grondwet van die Deelstaat Mecklenburg-Voorpommere: Die deelstaat beskerm en bevorder die uitbou van die Nederduitse taal.landesrecht-mv.de: Verfassung des Landes Mecklenburg-Vorpommern vom 23. Mai 1993 In 1998 word hierdie bepaling net so oorgeneem in die Grondwet van die Deelstaat Sleeswyk-Holstein, Artikel 13 (2).gesetze-rechtsprechung.sh.juris.de: Verfassung des Landes Schleswig-Holstein in der Fassung vom 2. Dezember 2014 Luidens Artikel 12 (6): Die deelstaat beskerm en bevorder Friesonderrig en Nederduitsonderrig in openbare skole.
Toesighouers en belangegroepe