duimnael|'n Chemielaboratorium In 'n chemielaboratorium word navorsing gedoen en ondersoeke uitgevoer in belang van die chemiese nywerheid of die chemiese wetenskap. Daar word reaksies bestudeer, stowwe ontleed om hul samestelling vas te stel, fisiese eienskappe gemeet, materiale getoets en soms ook werk van biologiese aard gedoen, byvoorbeeld met proefdiere. Chemielaboratoriums kan gewoonlik in verskillende groepe ingedeel word, bv. navorsingslaboratoriums, opleidingslaboratoriums en roetinelaboratoriums. In sommige groot laboratoriums word hierdie groepe as verskillende afdelings ingedeel. Baie mense koppel 'n chemielaboratorium aan die beeld van die ou alchemiste wat geheimsinnige stowwe bymekaargegooi, towerwoorde uitgespreek en indrukwekkende chemiese reaksies veroorsaak het.
Alhoewel skeikundiges vandag nog soos die ou alchemiste na nuwe stowwe soek en hul eienskappe bestudeer, het die digthede drasties verander en is die moderne laboratorium 'n plek waar opgeleide mense met gespesialiseerde apparate hul werk doen. In die nywerheid is die chemiese laboratorium vandag 'n belangrike skakel in die gehaltebeheerproses. Monsters word op 'n periodieke basis geneem en na die laboratorium gestuur vir ontleding om vas te stel of die vervaardigde produk nog aan die vereistes voldoen. Nie net die finale produk word dopgehou nie, maar ook die verwante prosesse word gedurig nagegaan om vas te stel of hulle nog reg funksioneer.
Laboratoriums van hierdie aard ontvang omtrent elke uur monsters en daar word nagskofte gewerk, want enige afwyking in ʼn proses moet onmiddellik reggestel word. Daar is ʼn magdom verskillende soorte nywerhede en elke nywerheid sal sy laboratorium volgens sy eie behoeftes aanpas. In die petrochemiese bedryf (byvoorbeeld Sasol) word hoofsaaklik met organiese stowwe gewerk sover dit die finale produk aangaan, en so ʼn roetine laboratorium sal dus meer op die organiese chemie ingestel wees. Verwante bedrywe kan egter met anorganiese of fisiese prosesse doenig wees, en dit is moontlik dat 'n fabriek meer as een laboratorium kan hê.
Die yster- en staalbedryf werk hoofsaaklik met metale, en hier sal 'n roetinelaboratorium meer konsentreer op anorganiese chemie wat die kwaliteit van die finale produk betref. In die farmaseutiese bedryf speel die laboratorium 'n belangrike rol. Daar word gedurig na nuwe en beter medisynes gesoek en dikwels word nuwe verbindings verkry deur geringe veranderings aan te bring. Die werk word dikwels deur heelwat literatuurstudie en teoretiese berekeninge voorafgegaan en dit is nie sommer 'n kwessie van probeer en tref nie. In die navorsingslaboratorium word die eienskappe van chemiese stowwe ondersoek en die atoom- en molekulêre strukture daarvan bestudeer. In die toepassingslaboratorium word na toepassings vir 'n produk gesoek en ook na metodes om 'n produk vir 'n bepaalde toepassing te verbeter. 'n Klein verandering in die samestelling of struktuur, of die byvoeging van 'n sekere stof, kan 'n verbetering teweegbring. 'n Tipiese voorbeeld van so 'n nywerheid is die verfindustrie.
In 'n dienslaboratorium word toegepaste navorsing gedoen om praktiese probleme op te los. Voorbeelde van sulke probleme is: lastige neweprodukte in 'n proses, kwaliteit wat nie konstant bly nie en 'n te lae opbrengs van 'n proses. Soms is dit nodig om die probleem na die navorsingslaboratorium te verwys ten einde meer inligting in te win.
Die rekenaar speel vandag 'n belangrike rol in die chemielaboratorium. Dit word gebruik vir die statistiese verwerking van meetgegewens, die berekening van molekulêre orbitale of molekuuldinamieksimulasies.
Dan is daar ook die opleidingslaboratorium. Dit word by skole, kolleges en universiteite aangetref en word gebruik om bekende chemiese en fisiese wette en verskynsels te demonstreer. Weens finansiële oorwegings word die chemiese en die fisiese laboratorium dikwels geïntegreer en vorm hulle 'n eenheid. Laboratoriumapparatuur het die afgelope paar dekades vinnig ontwikkel. Die glasware het nie veel verander nie, behalwe dat die meetinstrumente akkurater geword het. Die ou tweepanweegskaal moes plek maak vir moderne outomatiese weegskale wat vinnig en akkuraat is. Lugversorging en beter ventilasie het die moderne laboratorium veiliger gemaak vir die mense wat daarin werk.
Bronnelys Wêreldspektrum, 1982, band
Kategorie:Chemie Kategorie:Navorsing Kategorie:Laboratoriums