Die Leeugamkadam is ‘n besproeiingsdam in die Leeurivier in die Karoo.
Ligging Die dam lê net noord van die Koup, in die voetheuwels van die Nuweveldberge, noord van die dorpie Leeu-Gamka op die N2-hoofpad en suidwes van Beaufort-Wes, ‘n 20 km voor die samevloeiing van die Leeu- met die Gamkarivier (‘n boloop van die Gouritsrivier). Dit is by die koördinate 32° 36′ 35″ suid en 22° 00′ 25.2″ oos.
Vorige dam Reeds in 1920 is ‘n dam in die Leeurivier gebou ‘n 16 km bo die samevloeiing daarvan met die Gamkarivier. Dit kon 9¾ miljoen m³ water opgaar, het ‘n stumeer van 2½ km² geskep en kon ‘n area van 17 km² besproei. Met ‘n vloed in 1928 het die dam gebreek. Dit is wel herstel, maar die toeslikking was so erg dat ‘n nuwe dam gebou moes word.
Nuwe dam Tussen 1957 en 1959 is die nuwe dam 3 km stroomop van die vorige dam gebou. Die huidige grondwal bestaan uit drie dele. Na die verhoging van die damwal in 1966 was die bakmaat 9½ miljoen m³. Hierdie dam ly so erg onder toeslikking dat sy uitloop in later jare met ‘n anderhalwe meter verhoog is. Aanvanklik was die kapasiteit 42 miljoen m³. Dit het egter stadig afgeneem en staan tans op ‘n derde van die oorspronklike bakmaat. ‘n Stumeer van net oor die 4 km² word gevorm en ‘n 6,37 km² word besproei.
Let op Hierdie dam moet nie verwar word met die Gamkadam, die Gamkapoortdam en die Springfonteindam nie.
Sien ook Lys van grootste damme in Suid-Afrika
Bibliografie Ensiklopedie van die Wêreld, deel 6. Stellenbosch: C.F. Albertyn, 1991. Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 6. Kaapstad: Nasou, 1972.
Kategorie:Damme van Suid-Afrika Kategorie:Wes-Kaap