As 'n mens kyk na wat die Skrif leer uit Jesus se eie mond, is dit duidelik dat sy opdrag aan sy volgellinge is om sy voorbeeld te volg. Trouens sê Luk. 14:27: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aankom nie, kan My dissipel nie wees nie.” Dieselfde opdrag word in Mat. 10:38 herhaal. En wanneer 'n mens die lewe en werke, asook die houding van Polukarpus, die opsiener van Smirna bestudeer, blyk een feit nie vir 'n sekonde te betwyfel nie: hierdie man het uit-en-uit Jesus se voorbeeld gevolg en sy kruis enduit gedra.
Die doel van die referaat is om 'n reis te onderneem oor wat ware Christenskap is, aan die hand van die optrede van Polukarpus, asook om kontroversie en feite rondom hom bekend te maak. Sy lewe en werke is beslis van groot belang vir die student van die kerkvaders en vir seker baie bruikbaar vir enige iemand wat in die bediening staan. Ongelukkig is daar net een volledige werk van hom wat behoue gebly het, maar dis 'n kort en kragtige werkstuk, waarvan beslis kennis geneem moet word. Daar sal ook beslis na sy martelaarskap verwys word, aangesien dit seker die belangrikste afdeling met betrekking tot 'n nabootser van Christus is. Ons het dus eintlik meer met fisiese werke (optrede) te doen as geskrewe briewe uit Polukarpus se eie pen.
Kontroversie rondom Polukarpus se geboortedatum en sterfte Daar kan nie met sekerheid verklaar word presies wanneer Polukarpus gebore is nie. Sy martelaarskap se presiese datum word ook betwyfel. Die algemene konsensus is dat sy martelaarskap óf in 155, óf 156 nC plaasgevind het (Lightfoot 1912:185). Maar die kontroversie strek veel weier as dit: daar word onder meer gevra waarom die frase “Katolieke kerk” dan gebruik is. Om hierdie rede voer sommige geleerdes, omdat hulle meen dit verwys letterlik na die Katolieke sekte, aan dat dit 'n later datum as 155 nC moes wees (Jackson, 1898:20). Hierdie argument val egter plat as mens in ag neem dat die woord Katholikos in Grieks verwys het na die “algemene” kerk en nie na die latere Katolieke sekte nie. Jackson staaf ook dat Polukarpus in die teks na verwys word as “Opsiener van die Katolieke kerk in Smirna” en dat daar reeds baie sektes in sy tyd was (Jackson, 1898:20). Dit is onmoontlik om vanuit hierdie standpunt 'n datum te probeer bepaal, want dit bots met al die ander inligting rondom Polukarpus. Daar word tradisioneel aanvaar dat hy 'n direkte leerling van Johannes was (Jackson, 1898:22). Hierdie standpunt oor 'n later datum ontneem hom van 'n Apostoliese kerkvader, aangesien die Katolieke kerk soos ons dit vandag ken, eers baie later ontstaan het.
Iets wat wel aandag kan geniet en daarop kan dui dat die teks later geskryf is, is die insident van die duif wat uit sy liggaam gegaan het toe hy gesterf het (Jackson, 1898:20), (Lightfoot, 1912:186). Dit is egter ook nie onmoontlik dat dit eerder bloot 'n latere toevoeging tot die teks van die Martelaarskap van Polukarpus was nie. Dus kan 'n mens aanvaar dat Polukarpus inderdaad tussen 155 en 156 nC as martelaar gesterf het.
Nou moet daar ook gevra word wanneer Polukarpus dan gebore is. As die konsensus is dat hy 155, of 156 nC gesterf het (Lightfoot, 1912:185), dan sou dit, as mens kyk na wat die teks te sê het oor sy ouderdom van 86 (Mpolu 9.2), moes hy tussen 69 en 70 nC gebore gewees het.
Maar uiteindelik is dit nie so belangrik om te weet wanneer Polukarpus gebore is en gesterf het nie; die belangrikheid lê daarin dat hy wel geleef het en wel gemartel is én enduit volhard het; die bewyse daarvan is onmisbaar. So vroeg as 165 nC was Lucianus bekend met die dokument van Polykarpus se martelaarskap. Sowat 'n kwart-eeu na die gebeure plaasgevind het, het Irenaeus en 'n bietjie later Polkartes, duidelike getuienis oor die dokument gelewer (Lightfoot, 1912:185). Daar is dus voldoende bewyse dat Polukarpus wel 'n marteldood gesterf het en dit is dus voor-die-hand-liggend dat hy geleef het.
Oor Polukarpus se lewe
Vroeë lewe
Daar is ongelukkig bitter min oor Polukarpus se lewe bekend. Sy naam is Grieks en beteken letterlik “baie vrugte”. Die sogenaamde Pionian “lewe,” is totaal onbetroubaar in meeste opsigte: dit bevat ongewone bonatuurlike gebeure, aanhalings uit dokumente wat nie bestaan nie, ens (Jackson,, 1898:22), (Lightfoot,, 1912:187). Daar is egter wel sekere elemente waarin daar wel waarheid steek (Jackson,, 1898:22). Hierdie elemente sal vervolgens bespreek word.
Daar word tradisioneel aanvaar dat hy as klein seuntjie as 'n slaaf verkoop is aan 'n vooraanstaande, ryk weduwee met die naam Callisto wat hom as haar eie seun grootgemaak het (Jackson, 1898:22). Min is bekend oor sy bekering, maar daar kan aanvaar word dat hy sy lewe lank 'n Christenskap was as hy verklaar dat hy Christus al 86 jaar lank dien (Mpolu. 9.2) Soos vroeër vermeld, was hy direk in kontak met die Apostel Johannes en het hy onder hom geleer. Johannes was waarskynlik ook die man wat hom as opsiener van Smirna aangestel het en het hom as sy eie seun liefgehad (Jackson, 1898:22). Smirna is vandag in die moderme tyd Izmir, Turkye.
Was Polukarpus 'n eienaar van eiendom?
Dat Polukarpus 'n man was wat eiendom besit het, is nie te betwyfeld nie, veral omdat die slawe genoem word in die brief oor sy martelaarskap. Daar word ook aanvaar dat die huis waarin hy vir die soldate gewag het om hom te kom arresteer, waar hy ook offsiere hospitaliseer het, sy eie was (Jackson,, 1898:22-23). Volgens Wake het Callisto na haar dood alles aan hom agtergelaat. Sy was goed gevestig en Polukarpus sou beslis ook goed gevestig gewees het indien sy alles aan hom nagelaat het. Wake brei egter verder uit deur te sê dat polukarpus nie hierdie eiendomme tot voordeel van homself gebruik het nie, maar gesorg het dat hy die help wat in nood verkeer (Wake, Internet).
Het polukarpus werklik so baie geskryf?
Daar word beweer dat Polukarpus “baie” briewe, seremonies ens geskryf het en dat al hierdie werke deur sy volgers vernietig was tydens sy martelaarskap. Hieroor is daar egter twyfel; dit blyk onwaarskynlik. Die rede wat Jackson hiervoor aanvoer is dat daar geen bewyse binne die teks van Polukarpus se bestaande brief aan die Filippense is dat hy wel 'n goeie kennis van literatuur gehad het nie. Sy konstruksie was ook nie juis diê van 'n begaafte literatuurkundige nie. Maar, sê Jackson, dis ook nie onmoontlik dat die bestaande brief wel een uit 'n hele paar briewe kon gewees het nie (Jackson,, 1898:23).
Waarvan 'n mens egter wel doodsekerheid kan hê is dat Polukarpus die Bybel baie goed geken het: hy haal in sy bestaande kort brief keer op keer byna direk uit die Nuwe Testament aan en gebruik sy kennis van die Skrif om sy menings te staaf. Miskien is dit juis 'n bewys dat hy nie baie geskryf het nie, maar wel baie die Woord gelees en gehoor het en dit sy eie gemaak het. Al die kerkvaders moes gewoonlik die tekste uit hul koppe leer en het nie toegang tot Google en Internet bronne gehad om gou iets te gaan nalees as hul nie self die tekste besit het nie. Mens kan vir seker aanvaar dat Polukarpus baie van sy kennis oor die Woord van Johannes verkry het.
Was Polukarpus getroud?
Oor hierdie vraag is daar gelyke, dog karige bewyse van ontkenning én bevestiging. 'n Stelling in Ignatius se brief aan Polukarpus word deur geleerdes verskillend interpreteer: die een groep meen dat Ignatius daarop sinspeel dat Polukarpus ongetroud was; die ander groep meen dat die betrokke lesing nie na Polukarpus self verwys nie (Jackson,, 1898:23).
Die feit dat die vrou Ale in Ignatius se brief aan Polukarpus (viii), asook sy brief aan die mense van Smirna (xiii) gegroet word, maak 'n deur op 'n klein skrefie oop dat sy dalk Polukarpus se vrou was. Dit was in die twede eeu nC nog glad nie vreemd vir 'n opsiener om getroud te wees nie en dus skyn daar geen rede te wees waarom Polukarpus hom nie in die huwelik sou verbind het nie (Jackson,, 1898:23).
Soos vroeër gemeld is, is die bewyse na beide kante toe egter só karig dat daar nie met sekerheid na enige kant toe gegaan kan word nie. Dit blyk dus 'n onopgeloste vraagstuk te wees . Dis ook nie so belangrik om te weet nie, maar tog baie interessant dat daar soveel onsekerheid hieroor bestaan.
Vriendskappe met ander kerkvaders
Oor vriendskappe met ander kerkvaders is daar maar min te sê. Die drie beroemde Apostoliese kerkvaders waarmee Polukarpus wel bevriend en bekend was, was Klemens van Rome, Ignatius van Antiogië en Papias van Hierapolis (Jackson, 1898:24)
Eersgenoemde is lank voor Polukarpus se besoek aan Rome oorlede en daarom is dit onwaarskynlik dat hierdie twee groot vaders mekaar persoonlik geken en ontmoet het. Daar bestaan egter geen twyfel dat Polukarpus wel vertroud was met Klemens se brief aan die Korintiërs nie (Jackson, 1898:24). Soos reeds vroeër vermeld, het Ignatius ook aan Polukarpus geskryf en die feit dat hy bekend was met ander mense by Polukarpus, mag dalk 'n aanduiding wees dat hy Polukarpus wel persoonlik geken het (Jackson, 1898:23). Nog 'n aanduiding dat Ignatius en Polukarpus mekaar moontlik goed geken het, is die feit dat Ignatius in sy brief Polukarpus aanmoedig tot volharding en sy vroomheid bewonder (Jackson, 1898:7).
Papias, volgens Irenaeus ook 'n leerling van Johannes, het net 241 km (150 myl), van Polukarpus af gebly. Dit is dus baie onwaarskynlik dat dië twee Apostoliese Kerkvaders nie met mekaar in kontak gekom en mekaar goed geken het nie (Jackson, 1898:24).
Wat Polukarpus geleer en voorgestaan het
Dit is ongetwyfeld baie duidelik dat Polukarpus, as leerling van Johannes en op grond van sy brief aan die Fillippense, 'n groot voorstaander van die Woord was en dat hy daarvolgens geleer het. Soos reeds vroeër vermeld, is hierdie enigste brief wat ons van Polukarpus het, kort maar kragtig. Enigie iemand wat hierdie brief sou lees, sal onmiddellik die Nuwe Testament daarin raaksien. Soveel so dat Thiel aanvoer dat, hoewel daar verskille onder geleerdes bestaan oor hoeveel boeke van die Nuwe Testament Polukarpus aanhaal, hy in hierdie klein briefie van slegs 14 kort hoofstukke, al 27 boeke van die Nuwe Testament aanhaal, hetsy direk, of anders verwoord (Thiel, Internet).
Thiel voer verder aan dat, volgens Ibid en Irenaeus (Adversus boek III) daar aanvaar word dat Polukarpus die eerste Christenleier was wat Rome besoek het juis met die oog op die verkeerde pad en valse leerstellings, wat daar begin kop uitsteek het. Die groot kwaadstokers was onder meer die opsiener van Rome, Marcion en Valentianus. Polukarpus het ten doel gehad om hulle te konfronteer en die mense terug te bring na die ware Christenleer. Selfs in sy eie brief – dié aan die Fillippense – is dit baie duidelik dat hy min tyd gehad het vir mense wat openlik die Evangelie ontken en die bestaan van Christus, sy opstanding en die kruis. In sy eie woorde noem Polukarpus hierdie mense “die eersgeborenes van Satan” ( Polu. 7.2) (vergelyk 1 Joh. 3:8). Hy het dus baie sterk klem gelê op net één pad, die pad wat deur die Bybel vanuit die mond van Christus aangewys is. Soos mens hieruit kan aflei, het hy hom daarvoor beywer om nie net heidene nie, maar ook valse profete vas te vat en hul dissipels na die regte pad toe te lei.
Die belang van Polukarpus se werke
Daar kan sekerlik met reg gevra word: waarom staan hier “werke” as daar slegs een volledige werkstuk van Polukarpus oorgebly het? Soos vroeër gesê, mag daar net een werk wees, maar kan elke Christen vir seker baie leer uit die optrede van Polukarpus, wat wel bekend is. Daar moet egter onthou word dat hierdie een brief van onskatbare waarde vir die Christendom is en vir seker nie misgekyk kan word nie. Vervolgens sal daar op die martelaarskap van Polukarpus ingegaan word om 'n breër prentjie te vorm van hoe hy 'n ware nabootser van Christus was. Soos in die begin gesê, is sy werke meer op optrede gebasseer as skryfmateriaal. Daarom sal sy martelaarskap nie apart van die belang van sy werke staan nie, maar as 'n onderafdeling daarvan dien.