Inleiding

Om die Bybel werklik te kan verstaan, Nuwe sowel as Ou Testament, is dit belangrik om 'n goeie kennis van die agtergrond van 'n teks te hê. Die leefwêreld waarin die Bybelse skrywers geleef het, is natuurlik iets heeltemal anders as die leefwêreld van vandag. Daarom is dit vir seker so dat daar talle tekste in die Bybel voorkom, hetsy gebruike, vergelykings of gewoontes, wat nie deur die mens van vandag verstaan word nie. Daarvoor is 'n studie van die agtergrond van tekste nodig.

Vervolgens gaan in besonder gekyk word na die agtergrond van tekste wat in Hooglied voorkom. Die fokus sal nie op die hele Hooglied val nie, maar slegs op Hooglied 1 en 8; die eerste en laaste hoofstukke van die boek. Daar sal ook, ter wille van die interessantheid daarvan, verwys word na 'n deel uit Hooglied 7, wat aansluit by die agtergrond van 'n gedeelte uit Hooglied 8.

Daar sal oorsigtelik gekyk word wat die uitleg van die teks volgens komentatore is, maar daar sal nie soseer op die betekenis van die teks self ingegaan word nie. Die ware doelwit wat gestel is, is om iets te probeer verstaan van waar die vergelykings, produkte, gebruike en gewoontes, sowel as die name wat in die teks voorkom, vandaan kom, ten einde 'n breër perspektief te probeer vorm waarom die skrywer juis dié besondere aanhaling in die teks gebruik het.

Hooglied 1

Boodskap In die eerste vers van die Hebreeuse teks, lees ons die woorde “sjir hasjarim”. Hierdie frase kan vertaal word met “lied van die liedere”. Die interessantheid daarvan is egter dat die naamwoord sjir (d.i. lied) 166 keer in die Ou Testament voorkom, veral in Psalms, maar in Hooglied slegs hierdie een keer (Hess et al, 2005-12:37 ). Die vraag kan tereg gevra word: maar hoekom staan hier in Hooglied 1, wat 'n liefdeslied skyn te wees, “lied van die liedere”? Sou mens nie dit eerder in 'n lofpsalm, soos Psalm 91 verwag het nie? Baker se kommentaar stel dit egter duidelik: hierdie lied het 'n baie dieper betekenis as bloot net die liefde tussen man en vrou; dit gaan hier ook om God se liefde vir die mens (Hess et al, 2005-12:37).

Dit is egter ook so dat die woorde “sjir hasjirihm” ook met “beste lied” vertaal kan word. Dis baie interessant hoe die sjin (ש) en die resj (ר‬), die sj en r klank, telkens gebruik word om die belang van die lied aan te dui. Dit vorm 'n “sjr” klank, wat duidelik die belang van die lied poëties wil onderstreep (Hess et al, 2005-12:39). Daar bestaan dus geen twyfel dat die outeur dié lied as “lied van die liedere/die beste lied” wil uitdruk nie.

Dit is egter ook so dat die hele Hooglied, wat eens op 'n tyd nie deel van die Kanonieke boeke was nie, letterlik, sowel as suiwer allegories verklaar kan word. Sy potensiaal as fisiese liefdesgids, sowel as sy sterk allegorie dat God voortdurend die mens in liefde vergewe en sy berou aanvaar, mag nooit onderskat word nie. Dit is dan ook die hoofgedagte van Hooglied 1: man en vrou wat soek na mekaar, sowel as die mens, wat voortdurend toenader tot God (Hess et al, 2005-12:39) Net soos die man en vrou nie sonder mekaar kan leef nie, só kan die mens ook nie sonder God voortbestaan nie.

Agtergrond Nou dat kortliks gekyk is na die boodskap van Hooglied 1, word daar ingegaan op die agtergrond, met die doel om te probeer bepaal waarom die skrywer juis dié woorde vir sy verwoording van die teks gekies het.

Soene In vers 2 staan daar: “Laat hy my soen met soene van sy mond”. (Die 1933 vertaling praat hier van “kus met kusse”). Mens kan dalk wonder (as agtergrond kennis ontbreek), hoekom “van sy mond”? Soene is tog altyd met die mond! Maar die rede vir hierdie verwysing is: Dit was wel so dat 'n soen op die mond as 'n passievolle bewys van liefde gedien het in die Nabye Ooste, maar die Egiptenare het baiemaal eerder die neusvryf-metode verkies. So wanneer die skrywer spesifiek dié woorde gebruik, impliseer hy daarmee dat die bruid se versoek aan haar beminde eerder die soen op die mond as die vryf van neuse is. Mens kan hiervan aflei dat die Jode óf die gebruik van neuse vryf laat vaar het, óf skynbaar nooit gebruik het nie. Laasgenoemde blyk eerder die geval te wees (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:2).

Parfuum In vers 3 word melding gemaak van salf, hoewel die woord “salf” nie heeltemal die korrekte vertaling hier is nie – dit laat mens te veel dink aan salf wat op 'n seerplek gesmeer word. Die korrekte vertaling sou eerder “olie” wees, omdat dit 'n beter konsep van parfuum skep. Olie is ook inderdaad wat vir parfuum gebruik is in daardie dae.

Daar was 'n taamlik groot verskeidenheid olies gebruik, meestal met 'n harsbasis. Nou kan mens dalk die vraag vra: maar wat is hars? Hars word in die HAT as volg beskryf: klewerige, geelbruin, deurskynende stof. Dié stof word deur sekere plante, veral dennebome afgeskei. Die parfuum wat op hierdie stof gebaseerd was, het gedien as reukolie vir die liggaam en is ook gebruik om as wierook te verbrand. Onder dié tipes olies was daar mirre, wierook en bdellium (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:3) (volg Jes. 60:6; Jer. 6:20).

Eersgenoemde, nl. mirre, is 'n soort geurige gomhars wat van 'n struik (Commiphora myrrha), verkry word. Dit het ook 'n bitter smaak en dié struik kom in Arabië en Oos-Afrika voor. Van wierook is dit vandag so dat dit in Rooms-Katolieke eredienste en Oorsterse godsdienste as simbool van aanbidding gebruik word. Die oorsprong daarvan is Arabies. Omdat dit so 'n aangename reuk het, is dit egter in die dae van Hooglied ook gebruik as reukwater. Bdelium is 'n geurige boom wat veral van die geslag Commiphora afkomstig is. Die boom bevat hars wat natuurlik gebruik is om parfuum mee te vervaardig Hierdie was egter nie die enigste olie wat vir parfuum gebruik is nie: kaneel is byvoorbeeld ingevoer van Sri Lanka en safraan, kalmoes en aalwyne van Indië (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:3).

Kedar In Hooglied 1:5 en ook onder andere die 5de vers van Psalm 120, word gepraat van “die tente van Kedar”. Kedar verwys na 'n groep magtige Arabiere wat in die 8ste tot en met de 4de eeu v.C. baie mag gehad het. Volgens Gen 25:13 stam dié groep oorlogvoerende nomade direk van Ismael af; Kedar was sy seun. Soos dieselfde hoofstuk van Genesis dit duidelik stel, was Ismael se kinders sommer manne wat teen al sy broers oorlog gevoer het (vlg Gen. 25:18 ). Die Hebreeuse teks lees leterlik: “teen al sy broers geval”. In hierdie geval het die 1983 vertaling dit nie ver mis om dit met “oorlogmaak” te vertaal nie. Kedar word ook genoem in die Asiriese, sowel as die Neo-Babaliniese annale (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:5).

Hierdie rowwe manne se tente het gewoonlik of bestaan uit diervelle, of uit uitgestrekte weefsel, wat oor pale gespan is om 'n driekantige pawiljoen te vorm. Die swart kleur wat dit vertoon het, was afkomstig van die gebruik van swart bokhare. (Daar word ook van “bokhaargordyne” melding gemaak in Eks. 26:7-13.) (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:5) Dié vergelyking is dus meesterlik gebruik deur die skrywer om aan te dui hoe donker die son die bruid gebrand het. Dit was ook heel gepas om spesifiek die tente van Kedar, wat welbekend was in sy tyd, as vergelyking te gebruik.

Gesluierde vroue Alhoewel die verwysing in vers 7 onseker is, mag dit hier daarop neerkom dat vroue, afhangende van watter sosiale situasie, 'n sluier moes dra. Volgens die middel Asiriese wette, byvoorbeeld, moes alle vroue, die getroudes, die weduwees, sowel as die ongetroude dogters, 'n sluier dra wanneer hul in die openbaar beweeg. Dink maar aan hoe Rebekka haarself gesluier het toe sy Isak daar in Gen. 24;65 ontmoet het. (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:7).

By die huis, of tussen familie en vriende, sou die sluier onnodig wees. Dit mag dus dalk wees dat hier in vers 7, waar die vrou tussen haar beminde se vriende is, sy moontlik met hierdie verwysing bedoel dat sy nie nodig het om nou hier voor haar beminde se vriende, haarself as't ware “weg te steek” nie. Daar is egter nog 'n siening oor sluiers, dié vanuit die Kanaänitiese konteks: let op die sluier wat deur Tamar gedra is in Gen. 38:14-15. In hierdie konteks gesien, mag die sluier daarop dui dat hierdie vrou besig is met geheime prostitusie, of dalk 'n prostituut was wat onder die skaapwagters gewerk het (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:7).

Mens kan ook nie help om, wanneer daar van sluiers gepraat word, te dink aan die streep wat Laban Jakob getrek het toe hy Lea aan hom as vrou gegee het in plaas van Ragel, juis omdat die bruid gesluier moes wees (vlg Gen. 29:23-25). Laban, die geslepe Arameër, het dus dié gebruik fyn uitgebuit, met die verskoning dat die jongste dogter volgens hulle gebruik nie eerste mag trou nie. Mens kan aanvaar dat hy nie die enigste is wat so iets gedoen het nie.

Merrie voor die wa van Farao Hierdie is een van die interessantste vergelykings in die hele Hooglied en beslis iets wat ons in vandag se tyd glad nie kan begryp sonder agtergrondkennis nie. Dit kom in vers 9 voor. Die rede waarom hier bo “merrie” staan en nie “perd” soos die Afrikaanse vertaling dit stel nie, is omdat die Hebreeuse teks baie duidelik lees soesati (letterlik die merrie van my). Hier word dus nie van 'n hings gepraat nie, maar van 'n merrie. Dis interessant om te weet dat die woord soes (perd) 140 maal in die Ou Testament voorkom, maar hierdie status konstruktus van soesah (merrie) slegs hierdie een keer. Die enigste ander plek waar dit wel in Jeremia voorkom, verwys dit na 'n pleknaam (Hess et al, 2005-12:65).

Om verder te staaf dat “merrie” waarskynlik 'n beter vertaling sou wees: hierdie gebruik kom voor in Egiptiese literatuur. Die Egiptenare, manne wat kenners van oorlog was, het 'n slim taktiek gebruik: hulle het 'n merrie losgelaat in die omgewing van hul vyande se waens, sodat dié se perde dan deurmekaar raak en agter die merrie wil aanhol (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:9). Hieruit kan 'n mens aflei dat die Egiptenare dan hul vyande die verkeerde koers laat inslaan het; nie die koers wat hul wou neem nie. Dan sou die Egiptenare natuurlik ook makliker hul vyande kon oorrompel, want 'n rigtinglose weermag, kan net gevaar vir homself inhou.

Nou wonder 'n mens steeds: wat wou die skrywer hier van sy beminde sê? Net die vinnigste en beste merries en perde is veral in Salomo se tyd en vir 'n eeu daarna, vir hierdie soort oorlogvoering gebruik. Hierdie vergelyking weerspieël dus baie duidelik die bruid se beweeglikheid en kosbaarheid. Die feit dat die skrywer sy beminde lys as “voor die wa van Farao” dui verder daarop dat sy beminde tussen die heel beste perde is, aangesien Egipte so ryk aan goud was en met net die beste tevrede was en besit het (Walton et al, 1997, Hoogl. 1:9). Dus kan 'n mens allegories saamvat deur te sê dat hierdie beminde van die bruidegom, die beste onder die beste vroue is, asook die kosbaarste.

Oorbelle van goud met silwer knoppe Soos in Spreuke 25:11, gebruik die Bybelse skrywer die beeld van kosbare, goed ontwerpte juwele om liefkosing, aandag en gehegtheid te demonstreer. Hierdie oorbelle wat in Hooglied 1 beskryf word, het heel waarskynlik silwer knoppe opgehad (Walton et al, 1997, Hoogl. 11). Die feit dat hierdie soort beld ook in Spreuke gebruik word, mag dalk net daarop dui dat Salomo inderdaad die skrywer van Hooglied was. Daar word ook in Jes. 3:18:23 na hierdie soort oorbelle verwys, maar hierdie teks is nie 'n vergelyking met liefde nie. Dis egter tog baie interessant om te lees, aangesien dit baie weier uitbrei oor wat die antieke mense als gedra het; beslis nie net oorbelle nie!

Mirre