Barraba is 'n dorp in die Nieu-Engelandstreek van noordelike Nieu-Suid-Wallis, Australië. Dit was voorheen die sentrum van Barraba Plaaslike Munisipaliteit, nietemin is beide die meeste van die plaaslike munisipaliteit en die dorp self in 2004 in die Tamworth Streeksmunisipaliteit verenig. Die dorp is in die Bundarra-Barraba Belangrike Voëlarea wat die habitat van die bedreigde regentheuningvreter (Anthochaera phrygia) bewaar. Die Manillarivier vloei langs die dorp verby.

Barraba is 477 km noordwes van Sydney, 548 km suidwes van Brisbane, en 90 km noord van Tamworth, wat die naaste stad is. Barraba is op die Prospekteerdersweg en die dorp lê in die Nandewarbergreeks.

duimnael|links|Regentheuningvreter (Anthochaera phrygia)

Geskiedenis

Die inheemse Kamilaroi-mense het in die distrik gewoon voordat Europeërs hul daar gevestig het. Die eerste Europeër in die distrik was in 1827 die ontdekkingsreisiger en plantkundige Allan Cunningham. Die eerste plaas in die distrik, Barraba Station, is in 1837 of 1838 opgerig. Die toekomstige dorp is in 1852 opgemeet.

Goudstormlope het in die 1850's die groei van die nedersetting 'n hupstoot gegee. Die eerste poskantoor is in 1856 geopen en die eerste skool is in 1861 geopen. Die eerste Anglikaanse kerk is in 1876 gebou en die eerste bank is ook in 1876 geopen. Die eerste hotel, die Commercial Hotel, is in 1878 gebou en die gereghof is in 1881 gebou. In 1885 is Barraba as 'n dorp geproklameer. Die hospitaal is in 1891 geopen en die Wesleyaanse kerk is in 1898 gebou.

Die plaaslike koerant, die Barraba Gazette, is in 1900 die eerste keer uitgegee. Die Katolieke kerk is in 1906 gebou. Die Barraba-takspoorlyn het in 1908 tot by Barraba gestrek. Die laaste passasierstrein het in 1983 na Barraba geloop en die takspoorlyn is in 1987 gesluit. In 1933 is die Connorsspruitdam gebou om die watervoorraad van die dorp te verbeter.

duimnael|200px|Allan Cunningham

Mynbou

Koper

In 1889 is koper by Gulf Creek ontdek. Gulf Creek is 22 km noordoos van Barraba. Die myn is in 1892 opgerig. 'n Dorpie is gestig waarin 'n poskantoor, 'n hotel en 'n skool gebou is. In 1901 was dit die grootste kopermyn in Nieu-Suid-Wallis en die dorpie het 300 inwoners gehad. Die kopermyn is in die 1930s toegemaak. Die skool is in 1957 toegemaak en die poskantoor is in 1965 toegemaak. Die dorpie is verlate.

Asbes

Asbes is van 1919 tot 1983 by Woodsreef gemyn. Woodsreef was 'n dorpie 15 km oos van Barraba. Die myn is in 1974 uitgebrei, nietemin is die myn in 1983 gesluit. Die myn het 500 000 ton wit asbes geproduseer. 75 megaton afvalrots en 25 megaton asbes bly steeds hier agter. Die asbesstapel beslaan 43 hektaar en is tot 70 m hoog.Woodsreef Asbestos Mine Site Rehabilitation Private Members Statement, 29 August 2008. Die dorpie is verlate.

'n Televisieveslag het in 2008 die groeiende angs oor die verlate asbes beskryf.Abandoned asbestos mine causes community outrage Die asbes sou 'n gesondheidsgevaar vir inwoners en toeriste wees. Die Asbessiektestigting van Australië (The Asbestos Diseases Foundation of Australia) het versoek dat die myn gerehabiliteer moet word. Die Stigting het ook gevra dat die publiek van die myn af weggehou word. 'n Openbare grondpad het deur die myn se gronde geloop totdat dit in 2013 gesluit is.

Die Hunter-Nieu-Engelandse Gesondheidsdiens (Hunter New England Health) het 'n dringende studie oor die gesondheidsgevolge vir die Barrabagemeenskap onderneem. Die studie is volledig maar dit word nog nie openbaar gemaak nie.Woodsreef health report under wraps

Die NSW Ombudsman het in 2010 gesê hierdie myn is die enigste asbesmyn in NSW wat nog nie gerehabiliteer is nie.Responding to the asbestos problem: The need for significant reform in NSW

Prospekteerdery

Die diatomeëaardemyn is in 1982 opgerig. Piriet, jaspis, granaatsteen, zeoliet, en rooi-, bruin-, en geelkwarts is ook in die distrik gevind. 'n Mens kan ook fossiele hier vind.

Landbou Vleisbeeste, Merinoskape, en koring word in die distrik mee geboer.

Klimaat

Barraba het warm vogtige somers en koel droë winters. Die hoogste opgetekende temperatuur is 41,8°C en die laagste opgetekende temperatuur is -9,4°C. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 688,7 mm en die hoogste daaglikse opgetekende reënval is 194,3 mm wat op 25 Februarie 1955 geval het.

Watervoorraad

Barraba het water uit die Manillarivier, Barrabaspruit en die Connorspruitdam getrek voordat die Gesplete-rotsdam gebou is.Barraba Water Supply Hierdie dam is in 1988 gebou en 'n pyplyn van hierdie dam tot Barraba is in 2015 gebou. Die dorp kan water uit noodboorgate trek wanneer hierdie bronne sou verminder.Barraba's water supply critical

Fotogalery

Verwysings

Eksterne skakels

plaaslike webwerf

Barraba se Facebook webwerf

"Frost over Barraba" kunsfees

Die Barrabafees

van die Tamworth Streeksmunisipaliteit webwerf

Tamworth Streeksmunisipaliteit amptelike webwerf

van die Prospekteerdersweg (Fossickers Way) webwerf

Prospekteerdersweg (Fossickers Way) webwerf

Video: Connorspruitdam

Video: Die asbesmyn by Woodsreef

Video: Gesplete-rotsdam

Gesplete-rotsdam

Die Asbessiektestigting van Australië

Hunter-Nieu-Engelandse Gesondheidsdiens (Hunter New England Health)

Barraba by Wikivoyage

Kategorie:Nedersettings in Nieu-Suid-Wallis Kategorie:Nedersettings in Australië